Ons liefdesverhaalkompetisie is afgehandel en volgens die terugvoer voel die meer as 160 deelnemers dat dit nie net pret was nie, maar dat hulle ook baie uit die hele proses geleer het. En glo my, dit was die idee!
'n Groot dankie aan die keurderspaneel wat uit sowat 65 deelnemers bestaan het. Talle het my laat weet dat die keuring uitdagend was, maar dat hulle die lesery baie geniet het. En wie sou nie? Die verhale is uiteenlopend, vermaaklik, prettig, by tye nogal stout en ongemaklik na aan die waarheid, selfs grensverskuiwend. Lees HIER wat skryf van die keurders.
Die langlys bestaan uit hierdie innoverende groepie skrywers, alfabeties geplaas: Christine Stoman (Skynduiwel), DeWet Bisschoff (Die reisiger), Elsabé Fouché (Kissie van onthou), Esther Fourie (Koffieman), Helene Pretorius (Skoene met strikke), Johan de Nysschen (Tussen Note), Kuki Botha (Prins Albert - vir altyd), Louis Lategan (Gemmerkoekie), Marinda van Niekerk (Franse vlegsel), Rachelle Best (Haar nommer was 73), Riata Nel (Onrus van die hart), Rika Wolfaardt (Eva se kleed), Tosca de Villiers (Dinsdag; Die hart se snare).
Die keurders het soos volg gestem: In die eerste plek Elsabé Fouché (links bo op foto) met "Kissie van onthou", in die tweede plek Helene Pretorius (regs bo) met "Skoene met strikke", en in die gesamentlike derde plek, met presies ewe veel stemme: Christine Stoman (links onder) met "Skynduiwel", Louis Lategan (middel onder) met "Gemmerkoekie" en Tosca de Villiers (regs onder) met "Die hart se snare".
Hierdie vyf skrywers sal binnekort 'n volledige redigering van hul stories ontvang en kan dit dan na goeddunke aan enige geskikte wedstryd of tydskrif stuur. Hierdie vyf verhale sal ook vir 'n kort tydjie op die Skryfgeheime-webblad verskyn.
Nogmaals geluk aan die vyf wenners, die mense op die langlys en elke ander deelnemer vir die uiteenlopende verhale wat sulke heerlike ligpunte in my dag was. Glo my, ek weet hoeveel werk dit is om 'n storie uit niks te skep en dan oor en oor te hersien tot dit (hopelik) op elke vlak werk. Ek weet ook hoe moeilik dit is om dan daardie "baba" vir keuring in te stuur. Dankie vir julle groot harte en die uitstekende samewerking, dit het aan hierdie kompetisie sy eie persoonlikheid gegee.
Hierdie kompetisie is nou afgehandel. Kom loer gerus op 'n gereelde basis by Skryfgeheime in
... daar sal vorentoe nog talle prettige skryfkompetisies wees.
NUUSBRIEF:
Kompetisies
Skryfkanse
Promosies
Maandeliks
Dankie vir die terugvoering en hoe jy dit gee. Ek vind die kursus interessant, motiverend en uitdagend, en wens net ek het al hierdie inligting al jare terug gehad. Om in te skryf vir jou kursus was een van my beste besluite ooit.
Yvette Bester
Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp.
Judy de Bruin
Ek geniet die kreatiewe skryfkursus baie en sien dat dit totaal anders is as om feitelike beriggewing vir die koerant te skryf. Baie dankie vir die goeie kommentaar op die vorige werkstuk. Gert Kruger
Baie dankie vir jou kommentaar, dis in die kol ... ek is oopkop in die ding in, en doen dit absoluut vir die pret en om myself te ontwikkel, en neem nie kritiek persoonlik op nie.
Sanél Hopkins
Dis amper soos om 'n nuwe taal aan te leer. Elke konsep wat jy snap, maak skielik tien deure oop! As ek nou die opdrag moes oordoen, sou ek reeds baie dinge verander het. Ek sal 'n paar dae lank rustig deur alles gaan en aan die storie skaaf. Daarna sal ek wegspring met module 2. Sien reeds uit daarna. Molly Lubbinge
Die kinderboekkursus is regtig opwindend en dis my plan om teen die einde ’n volledige manuskrip te hê. Albert Short
Baie dankie vir jou terugvoer, ek het al baie soorte kursusse gevolg en joune staan kop en skouers bo die res uit. Plus, jou terugvoer beantwoord elke keer alles waaroor ek gesit en wonder het terwyl ek skryf. Die enigste probleem is ek wil nie hê die kursus moet ooit ophou nie, ek geniet dit te veel. Melanie Pienaar
Jou terugvoer het my van vooraf geïnspireer. Dankie vir die moeite wat jy doen en die tyd wat jy spandeer aan my probeerslae. Jou wenke is die vuurhoutjies wat die kers aan die brand hou. Celia du Plessis
Ek waardeer jou kursus en al die moeite wat jy doen. Dit bring die realiteit na vore sonder om my op moedverloor se vlakte te laat sit, dit laat my vars en anders dink. Beslis die koste deur en deur werd. Elizma Coetzee
My woorde lyk nie meer soos 'n vervelige rytjie wasgoed aan 'n lang draad nie. Elsabé Bester
Lees vir ontspanning ontaard nou in 'n kritiese ontrafeling van teks, karakters en skryfstyl. Ek geniet dit terdeë. Johan Nel
Ek het deur jou terugvoer op my werkstuk gegaan. Dis absoluut wonderlik! Ek is al moedeloos met vriende en familie wat nie objektiewe terugvoer kan gee nie. Ek leer geweldig baie by jou. Erica Pretorius
As stokperdjieskrywer wil ek dankie sê vir al die hulp. Vandag, jare na ek vir die kursus ingeskryf het, blaai ek steeds deur die modules en terugvoer en kry sonder uitsondering nog iets wat my skryfwerk verryk. Dit sluit wenke sowel as motivering in. Jan Bonthuys
Jou kursus, en die storie wat jy vir my geredigeer het, was van onskatbare waarde, dis ongelooflik hoe baie 'n mens leer wanneer jy deur 'n geredigeerde weergawe van jou eie storie werk. Antoinette Venter
Die kursusse het vir my oneindig baie beteken. Ek gebruik elke dag in my werk van die dinge wat ek geleer het. Dit het ook vir my die moed gegee om te waag en te skep. Ek het so baie oor myself geleer. Henriëtte Louw
Almal wat wonder of hulle kan skryf, moet hierdie kursusse volg. Ek het ongelooflik baie selfvertroue gekry en ek kon met elke module sien hoe my skryfwerk verbeter. Suretha Brits
Ek merk dat die meeste van jou studente melding maak van jou positiewe houding en aanmoediging - dis waar. Marinda van Niekerk
Ek voel dat ek met 'n doel werk en dat elke werkopdrag op 'n gehalteproduk afstuur. Melodie Veldhuizen
Jy verdien 'n pronkveer vir jou skryfkursus. Daar is 'n logiese opbou van module tot module sodat selfs 'n leek soos ek in staat is om die legkaartstukke bymekaar te sit.
Rita Hofmeyr
Skryfgeheime voel vir my soos die deurgang na 'n nuwe lewenswyse. Dankie vir jou kommentaar op my werkstukke en vir jou aanmoediging. Willem Fourie
Ek het nog nooit 'n skrywer ontmoet wat my so effektief help nie.
Elna Nieuwoudt
Alles wat jy uitgelig het, was presies dit waarmee ek gesukkel het. Dit het heeltyd vir my gevoel daar kort iets, 'n "twist". Ek het ook gevoel my storie benodig ’n opwindende verandering, dit was net te "veilig". Ek is so opgewonde en sien uit daarna om verder daaraan te werk. Yolandi Odendaal
'n Mens is huiwerig om te sien wat iemand anders van jou werk dink, maar nou kan ek nie wag om al die wenke toe te pas nie. Alta van Niekerk
Jy groei baie as mens. In jouself en
ook in jou interaksie met mense. Jy leer besef die impak van woorde.
Elmarie Schultz
Ek was so verras toe ek die terugvoer
kry en sien jy kraak nie 'n ou se werk af nie. Marieta Thünemann
Ek gaan dit geniet om ou breinpatrone uit te vee en nuwes te maak. Ek voel glad nie meer afgetree nie.
Troula Goosen
Ek het verskriklik baie geleer oor myself, ander mense én die skryfambag. Jou verbeeldingryke prikkelvrae en praktiese skryftegnieke is die perfekte kombinasie. Riëtte Botma
Die kursus was so insiggewend en verrykend, ek het ongelooflik baie geleer. Myself dikwels bevraagteken en gewonder of ek ooit die ding onder die knie gaan kry. Maar ek is nie iemand wat maklik moed opgee nie en ook nie bang om te waag nie. Dankie vir al die handvashou. Adelle von Ronge Kotze
Die kursus het ander wêrelde en deure oopgemaak. Hoop om binnekort met die kinderboekkursus of joernalistiek te begin. Monja Beyers