Skryfgeheime- aanlyn skryfskool

Van idee tot publikasie

Beste, billikste, meeste gepubliseerde studente by gerekende uitgewers en tydskrifte


Stories geskryf deur Skryfgeheime-skrywers

Lees en geniet gerus hierdie groeiende versameling skryfstukke wat hoofsaaklik uit werkstukke deur Skryfgeheime-skrywers ontstaan het. Onthou dat daar 'n hardwerkende, passievolle mens agter elke verhaal is, respekteer asseblief hulle kopiereg en noem die skrywer se naam en van indien jy 'n storie iewers sou voorlees. 


Skoenlapperkind

Jo-Mari Haarhoff

 

Die wind waai haar by die agterdeur in. Fluitend om die hoeke van die groot dubbelverdiepinghuis. Te groot, dink sy altyd. Hoë houtraamvensters. Te hoog. Onpersoonlik. Dreigend amper.

     Sy leun ’n oomblik teen die groot, swaar deur.

     Net betyds. Donderend waarsku die wolke toe die eerste druppels val.

     “Kyk dan hoe waai so ’n wind vir jou in,” sê Lettie laggend vanuit die kombuis. “Hierso,” en sy hou 'n glas vars lemoensap na haar uit. “ Nou net vir jou uitgedruk.”

     Sy loop agter Lettie aan. Blinkskoon kombuis. “Dankie, Lettie, jy bederf my.”

     “Lang dag, kyk hoe laat kom jy hier aan. Los jou drafskoene hier, sal skoonmaak vir jou. Sal môre nog reën, sê ek jou. Nou eers Maart, die reën is vroeg.

     “Jou skoene!” roep Lettie toe sy wegstap.

     “Dankie, Lettie, wat maak ek tog sonder jou?”

     Die voordeurklokkie lui. Lank. Dringend.

     “Ek sal oopmaak!” roep sy, vir wie ook al mag hoor.

     Kaalvoet stap sy deur die eetkamer en die groot sitkamer en gly ampertjies op die los mat in die portaal. Ma moes lankal iets onder daardie mat gesit het, iemand gaan nog seerkry. Die koperknop moet sy met albei hande vashou om die swaar houtdeur oop te maak.

     Alzar staan voor die drumpel. Die Libanees. Blas vel, donker oë. Sy militêre reënjas netjies om sy lang lyf geslaan. Hy kyk haar in die oë en loop dan verby haar. Hang sy reënjas aan die kapstok.

     Is twee maande sowaar verby? Elke tweede maand is hy hier. Generaal Alzar. Te jonk om ’n generaal te wees, dink sy altyd. Die ewige lang gesprekke tussen hom en Pa. Met hom word daar meer gepraat as met haar. Die studeerkamer is nie vir hom verbode nie. Uitverkorene.

      “Hallo,” sê hy, sy rug op haar terwyl hy die sitkamer instap. “Ek voel geëerd.”

      Uit die hoogte soos altyd, dink sy en ignoreer hom toe hy vra: “Hoe gaan dit, Klara?”

      “Ek roep my pa.”

      Sy is reeds halfpad teen die trappe op terwyl hy homself tuismaak op die imposante antieke geelhoutrusbank in hulle sitkamer.

     Sy lig nog haar hand om te klop, toe die studeerkamerdeur oopgaan. Hy groet nie. Stroewe gesig. Pas by sy uniform en die rye medaljes op sy baadjie. Generaal Gerhard Joubert. Militêre strateeg. Streng. Gedissiplineerd.

     Sy is amper bo by die laaste trap toe hy roep: “Laat Lettie koffie bring! Sê sy moet seker maak Alzar se kamer is reg!”

     Weer af met die trappe en met die sygang langs die kombuis binne.

     “Ek het hom gehoor.”

     “Dankie, Lettie.”

     Uiteindelik is sy in haar kamer en maak die deur verlig toe. Gaan sit op die mat teen die deur. Haar kamer. Haar skuiling. Vars rose op haar lessenaar en spieëltafel. Lettie pluk die mooistes vir haar, glo sy. Spierwit handdoeke op die bed. Die swaar sagte pienk deken hang tot op die grond. By die voetenent is ’n ekstra kombers opgerol. Lettie het seker gereken dat die nagte gaan begin koeler word.

      Sy staan op. Halfdonker buite nou. Sy trek die gordyne toe. Los 'n skrefie oop, want sy wil na die reën kyk. Sy val agteroor op die bed en staar deur die ruit. Druppels sleep mekaar teen die ruit af. Mooi patrone.

      Sy is moeg. Lang dag gewees. Na skool eers vir Alda gehelp met wiskunde, toe prefekvergadering, klavierles, netbaloefening en biblioteek toe vir die biologietaak.

      Die koel wind was 'n lafenis toe sy huis toe gedraf het. Dit waai die dag weg, so het dit vir haar gevoel. Dankie tog vir Freek Tuinman. Hy laai elke middag haar skooltas op as hy melkery toe gaan. Anders sou elke dag se draffie nie moontlik wees nie.

      Opstaan, sê sy amper hardop vir haarself. Die staanhorlosie op haar lessenaar dui ses-uur aan. Sewe-uur is aandete. Stiptelik. Gou ’n bietjie lees. Die boek is nou spannend, sy wil dit klaarmaak en môre terugneem biblioteek toe.

      Die etensklokkie roep haar terug na die werklikheid en sy waag dit teen die trappe af, netbalklere, kaalvoet.

     Pa en Alzar sit reeds. Hy in die middel oorkant haar. Sy skuif haar stoel vinnig in, kyk af. Ma is besig met die opskepbakke sien sy perifiraal. Het sy my gegroet, wonder sy toe haar ma op die ander punt van die tafel gaan sit.

      Hoë opgestopte rugleunings, die stoele op die punte van die tafel met rooshoutinlegsels. Groot embuiabuffet agter haar. Goueraamspieël teen die oorkantste muur. Luuks.

     “Jou huiswerk is hopelik klaar,” sê Ma. “Jy mag nie jou skoolwerk afskeep nie. Jy is immers generaal Joubert se dogter.”

     Onnodig kwaai. Vernederend.

     Hulle praat met mekaar asof sy nie daar is nie.

     Toe Alzar die derde keer na haar kyk en daar ’n skelm glimlag om sy mond skuil, vra sy om verskoon te word.

     Pa knik net.

     Dankie tog, dink sy toe sy onder die stort staan. Verlig. Moeg. Sy klim in die bed. Lees die laaste hoofstuk van haar boek. Biologie kan wag. Dis halftien toe sy haar bedliggie afskakel. Warm kombers tot bo by haar nek opgetrek. Die slaap kom onmiddellik.

     Die wakkerword ook.

     Was dit die reën wat nou baie hard teen haar kamervenster dreun wat haar wakker gemaak het?

      Nee.

      Dis haar kamerdeur wat toeklik.

      Sy sit regop. Helder wakker. 'n Weerligstraal verlig die vertrek. Die lig val op die lang mansfiguur digby haar bed. Sy hoor hom asemhaal. Haastig. Haar lyf raak lam. Haar stem stom.

      Dis Alzar.


Gifpyltjies in ’n Opel Kadett

Madelein du Toit

 

Vandag is Ma Bunny lus vir ’n sigaret. Sy soek naarstigtelik na die pakkie Rothmans wat sy kwansuis nou net hier op die bank langs haar neergesit het. Die lus maak haar doof vir Ansa se besware dat sy dertig jaar terug die laaste gifpyltjie opgesuig het en dat daar lank reeds geen sigarette in die huis is nie.

     Haar gesig kry ’n hardkoppige trek. Sy het nie opgehou rook nie, waar kom Ansa daaraan? Los maar, sy sal self kafee toe ry, sy kry net gou haar sleutels.

     Die Opel Kadet behoort lankal aan iemand anders. Jy kry floutes, onthou jy, Ma? Jy is ’n gevaar op die pad, vir jouself en ander.

     Die verwarring op die klein gesiggie sny kepe in Ansa se hart. Haar kar was (naas haar oorlede man) haar grootste liefde. Ansa probeer haar aandag deflekteer. Is Ma lus vir ’n lekker koppie koffie by die nuwe koffiehuis? Kom ry gou saam, ek het A4-papier nodig vir die drukker. Enigiets. Weet Ma, ek het gesien die orgidee maak ’n blom.

     Dit werk. Sy sukkel op uit die stoel en saam skuifel hulle kombuis toe. Ek het jou gesê hy gaan blom. Sy is nors en neukerig. Maar ten minste is die sigarette nou net ’n walm uit die verlede.

     ’n Selfoon lui. ’n Warrelwind van opswiepbewegings volg om die ding aan die gang te kry. Toe alles faal, druk sy die foon onder Ansa se neus. Hy wil nie werk nie. Haar vingers is te knopperig en die knoppies te klein.

     Ansa antwoord namens haar en gou gesels Ma Bunny en tannie Joey oor Violet se vergeetagtigheid en Fanie se ore wat nie werk nie. En natuurlik oor haar intrekkery by haar dogter en skoonseun (twintig jaar gelede) en al die ongerief wat daarmee gepaardgaan. Die gesprek is hard en herhalend. Ansa sal weer dae lank moet help disekteer aan dié nuus.

     Die selfoon. In die hande van ’n vyf-en-tagtigjarige kry die instrument sy eie demoniese lewe. Jy moet nou help, my kind, dié het sommer net opgekom. Ek het niks gedoen nie.

     Google probeer vergeefs sin maak van vele vreemde versoeke. Kunsmatige inteligensie spoeg rye moontlikhede uit op die skerm. En FaceBook, nee kyk, sonder veel moeite het haar vriendekring uitgebrei na Madagaskar, Australië en Boekarest. Elke familielid kry ’n beurt om vreemdelinge te verwyder van haar profiel. Totdat ’n nare virus die dag die Facebook-toep onherstelbaar agterlaat. Tot al die familielede se ewige spyt.

     Sypaadjiefotografie was gewild in die 1950’s. Daardie klein wit-en-swart foto’s kry Ma Bunny aan die klets. Treine en trems was die hoofvervoermiddel en sy moes stap van Johannesburgstasie af na haar kantoor in Eloffstraat. Dis hier waar fotograwe opportunistiese aksiefoto’s geneem en hul visitekaartjies uitgedeel het. Onwetend het hulle hiermee vir latere geslagte ’n kykie gegee in die lewe van hul geliefdes.

     Ansa kyk na die beeld van haar ma as ’n jong vrou geklee in ’n wye polkadotromp wat sorgvry en glimlaggend aanstap na haar werk. Haar pa met sy netjiese bruin pak en blink gepoetste skoene, ’n sorgvuldig toegedraaide toebroodjie in ’n kardoes in die hand. Twee sorgvrye jongmense op pad om hul toekomstige lewe uit te kerf.

     Nog ’n foto, hierdie keer op die strand in Margate, Natal, die gewildste uithangplek van die 1950’s. Modieus in kort broeke, somerhempies en leersandale. Ma vertel hulle was op wittebrood, die begin van hul lewe saam. ’n Spontane oomblik wat in haar goue jare mooi herinneringe oproep.

     Die foto’s herinner Ansa aan haar ma se skoonheidsroetine. Sy het oral geld afgeknyp vir velversorging. Die hoeveelheid potjies Violet Kuny-room was presies uitgewerk om dertig dae lank te hou (miskien selfs ’n ekstra dag of twee). Haar grimering is met sorg aangewend, sy was geen statement mens nie, maar tog altyd ’n toonbeeld van versorging. Deesdae is dit ’n angstige gekrap in haar handsak vir ’n vinnige (soms skewe) aansmeer van haar rooi “lippestiffie” (háár woord).

     Danksy die gene het die meeste van ons dik krulhare nes Ma Bunny. Fiela se kind-tipe hare. Sou haar broer nog steeds slaap met ’n lemoensakkie oor sy kop in ’n poging om die ongetemde krulle mak te maak? Hulle pa het meestal hul dik bosse hare gestileer. Hy het geweet hoe om weerbarstige krulle te hanteer. Na sy afsterwe moes hulle op ander staatmaak.

     Bewerige hande en knaende vergeetagtigheid het Ma Bunny se heilige roetines in familie se hande geplaas. Die verrimpelde gesiggie in die spieël verskil drasties van die onthouprentjie en sit nie lekker in haar kop nie. Sy is selde tevrede met die famile se probeerslae. Maar die litte van haar lomp vingers haak alewig vas sodat die een hand moet help om ’n vinger of duim van die ander hand reguit te maak. Sonder hulp kan sy nie meer nie.

     Ai, my ou Moeder, ek voel jou frustrasie. Jy wil doen soos wat jý dit wil doen. ’n Ander man se genade is ’n helse genade. Dis ’n bittersoet lewe. Elke dag is ’n gelukspakkie van herinneringe en emosie. Jou krimpende brein spoeg onwillekeurig en herhaaldelik episodes van ’n verbygaande lewe uit en jy het geen beheer daaroor nie. Hoe moet dit voel? Die wete dat jou heengaan die laaste sal wees van sewe broers en susters?

     Ansa wil haar vashou en haar verseker dat sy die beste ma ooit was, dat sy hard probeer het, dat haar kinders en kleinkinders en agterkleinkinders die bewys is van haar oneindige probeerslae en opofferings. Jy het goed gedoen, my ma.

     Maar vind dit neerslag? Wat beteken daardie klein glimlaggie tog wat so kortstondig op die verrimpelde gesiggie dans?


Soete verleiding

Renette Denysschen

 

Sandra kyk met ’n sug na die Tiramisu-poeding wat trots op die Noritake-bord in die yskas staan. Herman het bevordering gekry en het gevoel hy moet sy baas en sy vrou oornooi om dankie te sê vir die vertroue wat in hom gestel is.

     Sy het vroegoggend al winkel toe gegaan om net die beste, varsste bestanddele te kry, nadat sy al wat ’n resepteboek is deurgeblaai het op soek na wenke om elke gereg besonders te maak. En nou is sy uiteindelik klaar gekook en is haar tafel gedek. Dis ’n elegante treffer – al het sy dit volgens ’n foto op Pinterest gedoen.

     Geen modebaas sal kan fout vind met haar voorkoms nie. Die rooi rok sit net styf genoeg om haar aan al die sake-etes en skemerkelkies te herinner wat hulle ná die bevordering moes bywoon. Dit ten spyte van die nuwe dieet waarmee sy onlangs begin het. Die onderklere, wat veronderstel is om die oortollige rolletjies in bedwang te hou, dien op die oog af hulle doel, maar dit laat voel haar soos ’n styf gestopte wors.

     

Soos altyd is Sandra die perfekte gasvrou en alles verloop volgens plan. Tot meneer Benadie ’n oproep kry wat hy net eenvoudig moet neem. Aan sy gesig kan Sandra sien hy wens hy kon dit eerder ignoreer.

    “Verskoon my.” Hy gaan staan buite en gesels. Sy stem word harder en meer kortaf hoe verder die gesprek vorder.

     Mevrou Benadie raak duidelik ongemaklik en lyk of sy ’n doodstyding verwag.

     “Julle sal ons asseblief moet verskoon,” kondig meneer Benadie aan terwyl hy die vertrek binnestap. “Daar is ongelukkig ’n persoonlike saak wat ons aandag vereis.”

     “Dankie vir die lekker … um … heerlike kos,” kry Mev. Benadie dit darem uit voor Mnr. Benadie haar aan die arm byna na die motor sleep.

     Herman maak die voordeur toe en help Sandra om af te dek. “Sjoe, ek wonder waaroor het dít gegaan,” sê hy.

     Sandra, wat met ’n bak oorskietkos voor die yskas staan, hoor hom skaars, haar oë is vasgenael op die pragtige poeding wat net so effens beweeg het toe sy die yskasdeur oopmaak. Dit voel of dit vir haar glimlag. Erger. Sy proe selfs hoe ’n happie romerig in haar mond wegsmelt.

     Die onderklere knyp haar terug na die werklikheid toe sy vooroor buk om die oorskietkos te bêre. Haar maag maak ’n patetiese gromgeluid om haar te herinner dat sy vir haarself net ’n klein porsie van elke gereg ingeskep het. Ergerlik klap sy die yskasdeur toe en stap kamer toe om haar lyf te verlos van die beklemmende vormdrag.

     Nadat sy haar nagklere aangetrek het, besluit sy ’n glas suurlemoenwater is nou nodig. Terug in die kombuis probeer sy baie hard om haar oë op die boonste rak van die yskas te hou en die wiegende Tiramisu te ignoreer en sy klap die yskas toe.

     Met groot teue en harde slukke drink sy die suurlemoenwater en probeer haar verbeel dat dit soos Tiramisu proe. Die suurheid laat haar speekselkliere op ’n knop trek.

     In die agtergrond is Herman besig om die vuil skottelgoed in die skottelgoedwasser te pak. Hy keer haar voor toe sy reguit kamer toe wil gaan. “Alles reg? Jy is maar stil sedert die Benadies huis toe is.”

     “Ja, ek het ’n hoofpyn en wil in die bed kom. Dit was ’n lang dag. Los hier, ek sal more verder opruim.”

     Sy klim dadelik in die bed en skakel die bedliggie af. Sy hop op haar sy en maak haar oë doelgerig toe, maar in plaas van Klaasvakie is dit die poeding wat vir haar wink.

    

’n Nag-merrie genaamd Tiramisu galop daardie nag met Sandra. Dit kry kleintjies in die yskas en jaag haar skeeuend deur die huis. Sy vang een en prop dit in haar mond, maar dit smaak soos suurlemoenwater. Dan sit en eet sy die een babapoeding na die ander terwyl sy al hoe vetter word, tot haar pragtige rooi rok oopbars en Mnr Benadie en sy vrou laggend na haar wys.

     Natgesweet en depressief word sy wakker. Dis halfvyf.

     Sandra staan op om koffie reg te kry. Toe sy die yskas oopmaak en die melk uithaal, val haar oog op die poeding. Dit lyk nie meer heeltemal so regop en verleidelik nie – ’n beduidende stuk is weg. Sy verbeel haar dat dit beskuldigend na haar kant toe oorleun en sy probeer paniekerig onthou of sy dalk tog in die nag opgestaan het om daarvan te kom eet. As teenmiddel gooi sy ’n ekstra versoeter in haar koffie en vat gulsig ’n sluk.

     Herman kom die kombuis binne en gee Sandra ’n piksoentjie op die wang. “More, voel jou kop beter? Ek wou nog saam met jou oor ’n bakkie van daardie heerlike poeding wonder watter persoonlike krisis die Benadies kan hê. Ek hoop jy gee nie om dat ek daarvan geëet het nie. Dit het sooo lekker gelyk ...”

     Sandra wil vir hom skree dat hy die hele ding moes opgevreet het, maar sy glimlag net floutjies en trek haar skouers liggies op. Sy neem haar voor om die yskas die hele dag lank soos die spreekwoordelike gif te vermy.

     “Nou ja, ek moet waai.”

     Herman is al sterk op pad werk toe, toe sit sy steeds by die kombuistafel. Van gisteraand se oorblywende skottelgoed loer uit die wasbak vir haar. Waarom het sy tog gesê dat Herman dit moet los? Die laaste slukkie koffie proe soos louwarm Tiramisu en sy staan beslis op om te gaan stort.

     ’n Gemaklike broek en hemp later en Sandra vergeet van die vorige aand se stywe rok en korset. Sy pak die skottelgoedwasser uit met ’n lied op haar tong en tap warm seepwater in die wasbak om die potte te laat week.

     Maar die yskas is steeds daar, trou op sy pos. Dit prikkel haar oë en haar smaakkliere.

     Sy haal ’n bakkie uit die kas, huiwer ’n oomblik en sit dit dan weer terug.

     Dan, skielik op ’n missie, stap sy doelgerig na die yskas en pluk die deur oop. Sy haal die poeding uit sonder om haar te steur aan sy bedremmelde voorkoms nadat Herman hom met ’n vurk bygekom het. ’n Lepel uit die kombuislaai word háár wapen.

     “Jy kyk my verniet so beskuldigend aan. Dis net ek en jy hier. En raai wat? Oor ’n paar minute is ek die enigste oorlewende.” Dit lyk of die poeding wil terugpraat met sy skewe mond.

     Sy onderdruk enige onaangename gedagtes of aanmanings wat moontlik mag opkom en vat ’n groot skep. Met toe oë rol sy die poeding behaaglik in haar mond rond. Kan dit sowaar nog lekkerder smaak as wat sy onthou het?

     Sy vat ’n tweede hap.

     Hemels!

     Sy eet al hoe vinniger.

     Nadat sy die laaste bietjie met haar vinger uitgelek het, staan sy op, sit die bak met mening in die skottelgoedwasser en skakel dit aan. Enige skuldgevoelentjies word met ’n kopskud verdryf.

     Sy vat die sponsie en begin ’n pot was. Haar hande brand effens van die te warm water. Langs haar maak die skottelgoedwasser swoesj … swoesj. Sandra glimlag. Daardie poeding was nou vir jou lekker.

     Sy skuur ’n bietjie aan die pot se bodem.

     Dit is die eerste keer dat sy ’n bietjie verneuk met haar dieet. Ongelooflik dat sy nou soveel beter voel oor haarself.

     Sy neurie ’n deuntjie terwyl sy die oorblywende potte was.

     Die res van die dag is Sandra amper uitgelate van opgewektheid. Sy besluit om Herman met ’n heerlike, gesonde aandete te verras. Buitendien, as die perd jou afgooi, moet jy mos dadelik weer opklim, of hoe? Kalorieë ten spyt.

     Sommer omdat sy goed voel, besluit sy om ekstra moeite met haarself te doen. Haar nuwe stywe swart jeans is net die ding. Verbeel sy haar of sit die langbroek en bloes tog ’n bietjie gemakliker?

     Herman kom by die voordeur in en sy loop hom tegemoet.

     Hy gee ’n waarderende fluit. “Jene, my vrou, jy sal dat ek uitgaan en weer inkom. Jy lyk pragtig!”

     Sandra glimlag. “Kom sit, ek het vir ons ’n lekker gesonde ete gemaak … sonder poeding.” Sy laat hom wonder of sy dit weggegooi of opgeëet het, en wonderlike man wat hy is, vra hy nie uit nie.

     In haar noppies met die lewe trek sy haar skouers agteroor. Die dieet gaan voort. Sy sal daar kom. Selfs die vraterigste skilpad kom mos ook in die kraal. Of hoe lui die ou spreekwoord nou weer? 


Vertrekpunt

Karien Nortjé

 

Dis skaars eerste pouse en Louise is gedaan. Geen nagraadse kwalifikasie of selfs haar jare lange ondervinding in die onderwys kon haar op hierdie uitdagende groep leerders voorberei nie.

          Sy staar deur die personeelkamervenster terwyl sy wag vir die ketel om te kook. Die oggend in die klaskamer se gebeure speel weer voor haar af: Daniel, wat benoude geluide maak om haar aandag op die deur te vestig. Alex, wat reeds met die een voet oor die balkonreling in sy superherostans poseer, gedrapeer in 'n vadoek, gereed om te vlieg.

          Al wat sy van die daaropvolgende paar sekondes kan onthou, is die eienaardige klank wat uit haar eie mond ontsnap, die ratse beweging wat haar tot by Alex kry, die pluk aan sy arm en toe die agteroorsteier met die kind bo-op haar.

          “Jufflou, kom! Nou! Alex, badkamel!”

          Daniel se gebroke boodskap dring tot haar deur. Sy los alles en volg hom. In die badkamer staan Alex in sy adamsgewaad op die toilet se spoelbak, sy kop deur die venstertralies gedruk. Louise is nie seker of hy vassit nie, maar sy skree solank dat een van die ouer (verbale) leerders vir meneer Frikkie moet gaan roep. Hopelik onthou sy om later vir die kind asseblief en dankie te sê.

          Alex lag skril toe sy naderkom. Frikkie kom aangehardloop, som die situasie op en klouter rats op die toilet se deksel om Alex te red.

          “Liewe hemel, Louisa!” uiter hy van skok terwyl hy die seun se kop versigtig uit die tralies wikkel. “Hierdie mannetjie het geen perke nie. Hy is totaal onbewus van die gevaarlike situasies waarin hy homself laat beland! Ons sal hom elke sekonde moet dophou!” Hy gee die kaal, laggende mensie vir haar aan om te bedek, want die gebeure het reeds toeskouers gelok.

          Pouse gaan weer te vinnig verby. Alex is net betyds aangetrek voordat die res van die graad een outistiese leerders perkeloos by die deur inborrel. Louisa kry hulle met moeite op hul stoele en boei hul belangstelling met ‘n “Simple Simon”-ysbreker wat hulle gewoonlik baie geniet. Carmen, haar assistent, sit geduldig elke kind wat wegloop of van sy stoel afklim, weer terug op sy plek.

          “Jufflou, Alex stout! Alex stout!” hou Daniel vol.

          Met “Dis nou alles verby, Daniel, kom ons loer watter klankie Manie Muis vandag vir ons wil leer,” probeer Louisa hom rustig en gefokus kry sodat sy met die aanbieding van haar les kan voortgaan. Alex sit ewe onskuldig eenkant met sy vingers in sy mond.

          Nie een van hulle kyk direk na haar of maak oogkontak nie. Abigail kyk plafon toe terwyl sy oor en oor “Manie Muis” prewel. Die ander se ogies dwaal ook rond, terwyl hul hande en voete bly vroetel. Alex se hande fladder nou wild voor sy gesig terwyl hy die skaduwee gefassineerd dophou. Louisa gewaar die tekens van angs by hom. Hy gly van sy stoel af en skuifel op sy rug in die rigting van die leeshoekie. Hy kyk nie vir ‘n oomblik weg van sy fladderende vingers nie.

          Sy laat hom maar begaan, want dit is wat hy gedurende klastyd doen. Al lyk dit of hy nie ’n woord hoor wat sy sê nie, weet sy dat hy alles inneem.

          Louisa haal die Manie Muis-karakter en die nuwe flitskaarte uit die klankboks en slaag daarin om ten minste die helfte van die leerders daarin te interesseer. Die klasassistent kry die werkskaarte by hul onderskeie werkstasies gereed terwyl Louisa vinnig die klaskamer bespied op soek na Alex, wat net ’n paar sekondes gelede nog op die naat van sy rug in die leeshoekie gelê het.

           Die leeshoekie is leeg.

          “Carmen, waar is Alex?” vra sy, en beide ondersoek vlugtig al die versteekte hoeke in die klas.

           Die veiligheidshek wat nie gesluit was nie, is ’n entjie oopgeskuif. Louisa skrik en vlieg op. Sy gee die teken aan Carmen om met die les voort te gaan en verlaat die klas op ’n drafstap terwyl sy die noodsein aan haar kollegas stuur: “Alex is op soek!”

Beskikbare personeel help om die terrein te fynkam. Hulle soek in elke moontlike wegkruipplek waar daar al leerders gevind is: binne-in die dromswaai, onder die springmatte, in die Wendy-huisie, die sandgat ...

Alex is nêrens.

Hulle deursoek die geboue: die leë klaskamers en gange, agter die verhoog, in die terapiesentrum.

Louisa gaan staan ’n oomblik om asem te skep terwyl haar keel toetrek.

Alex is weg. Wat nou? Wat is die vertrekpunt? 


Die wenverhaal van die 2021- distopiese skryfkompetisie:

Tot die laaste druppel

 Neandra Bresler

 

“Afgesny, die varke! Vier dae voor die einde van die maand.” Kelby slinger die knyperbord tussen die rye waterkanne in. “Het Ma gehoor? Dis blerrie twee duisend ses honderd rand se water.”

     “Ek het gehoor.” Brigit druk sy hand saggies. Die laaste middagson stort teen die trappe van die ondergrondse stoor af en vlam op in Kelby se hare. Haar eie hare is nog presies dieselfde diep koper kleur as syne, al is sy al aan die ander kant van veertig.

     Sy sug. “Hulle het seker weer die tariewe opgestoot – sonder waarskuwing. Die Sederville Munisipaliteit stel ook nooit teleur om óns teleur te stel nie, nes iemand anders wat ons ken.” Sy aarsel. “Wag bietjie, jy dink nie hy het dalk ...?”

      “Dis nie onmoontlik nie, hy is die laaste tyd glibberiger as ooit én hy het ’n sleutel. Ek sal by Kobus uitvis, sy meisie werk by die Munisipaliteit.”

     “Nooit gedink die woorde sal uit my mond kom nie, maar ek hoop regtig dis die tariewe. Maak seker al die krane is toe, en laat ons toesluit, dis amper tyd dat hy huis toe kom.”

     “Asof ek nie weet nie.” Kelby probeer nie eens die wrewel in sy stem keer nie. “Kan Ma dalk weer vir my ’n ekstra bord kos uitskep?”

      “Ek het nie nou die energie nie, maar wanneer ek jou die dag daarna uitvra, moet jy nie vir my lieg nie.” Sy kyk vas in die onskuldige ogies van haar rooikopseuntjie van vergete. “Ek los dit vir jou in die oond soos die ander aand.”

 

* * *

 

Brigit pak die groente in linies op die kapbord. “Hier was vandag ’n man, glo gehoor hier is iemand wat hom kan uithelp met ’n paar liter. Sal betaal, sê hy. Weet jy iets daarvan, Stein?” Dis al maande dat haar wederhelf dieselfde gevoel in haar wakker maak as Sederville se Munisipaliteit.

    “Ek praat met jou ...” ’n Hoop groente lê kop-af onder die kapmes in Brigit se hand.

     “Bliksem, vroumens! Kan ’n mens nie in vrede ’n drankie geniet in hierdie huis nie? Ons moet geld maak, vrou! Maar elke armlastige Piet en sy maat kry dit verniet by jou.”

     “Ek het gevra of jy iets daarmee te doen het, Stein?”

      “Moenie met my praat of ek ’n kind is nie, vrou. Ek is nie Kelby nie, ek sal jou bliksem!” Die glasstukke splinter agter Brigit. “Nog ’n glas in sy moer, is jy nou tevrede? Ons het ’n bliksemse fontein op ons erf, Brigit. Ons is ryk! Ons is veronderstel om soos Blackwell te leef, of soos Miesies Styx in haar paleis.”

     Stein se bles blink in die lamplig, sy maag stoot deur die knope soos die weersin in haar keel. Haar woorde is afgemete: “Jy het presies geweet waarvoor jy jou inlaat voor jy sak en pak hier ingetrek het, Stein Veldman. Toe was liefde kamstig genoeg vir jou. Jy moet my nou mooi verstaan, dis mý fontein, nie ons s’n nie. Dis mý familie se grond, mý reëls.”

     “Moenie weer daarmee begin nie, Brigit.” Stein se tjankstem pas perfek by sy figuur. “Jy is regtig onredelik. Jy wil nie eens vir ons ’n spoeltoilet laat insit nie. Is dit te veel gevra vir ’n man om sy besigheid in gemak te wil doen?”

     Brigit kastreer die groente met een beweging van haar pols. “Jy sal nog dink jy doen jou besigheid in gemak, dan is die Naaldekokers hier om uit te snuffel waar die geld vandaan gekom het. Die loodgieters is almal omgekoop.” Sy besef eers sy praat met die mure toe sy die enjin hoor.

     Kelby gril toe hy instap en die glasstukke onder sy skoene versplinter. “Ek sal eerder nie vra wat hier gebeur het nie, Ma. Maar ek sien daar is ’n nuwe rotstuin agter die aalwyne.”

     “Ja. Hier was vandag ’n man.”

 

* * *

 

Dis die negende jaar sonder reën op Sederville, tien tot elf jaar in ander streke, twintig jaar in ander lande. Brigit se oë soek tussen die gloeiende aalwyne en kom tot rus op die hopies pienk en geel vygies.

     Ses jaar terug is die eerste twee rotstuine tussen die aalwyne geskep. ’n Lewe geoffer en ’n ander gevat, reg langs die fontein se oog. Daardie dag het sy die liefde van haar lewe onder ’n stapel klippe gegroet. Elke keer wanneer sy gaan loer of daar nog water in die fontein is, hou sy haar asem op. Daar gaan ’n dag kom dat die fontein genoeg gegee het, maar tot dan sal sy die water met haar lewe beskerm, nes Kelby se pa daardie dag.

    “Ek hoop jy besef watter verskil jou maandelikse bydrae maak, Brigit.”

    Brigit se oë verlaat nie die helderkleurige hopie nie. “Dis twintig duisend liter, K.B. Watter verskil kan dit regtig maak?” Brigit voel skielik klein toe K.B. voor haar kom staan, elke bult en gleuf van sy goed gedefinieerde spiere sigbaar deur sy natgeswete hemp. Jare se saamwerk om vars water aan behoeftiges te voorsien het ’n hegte band tussen hulle laat vorm, tog weet hulle maar min van mekaar.

    “Jy’t nie daai kinders se magies gesien nie, jy wil ook nie. Opgeswel van die bilharzia. Dis mense soos jy wat hulle ’n kans op beter gesondheid gee.” K.B. se stem kontrasteer skerp met sy outokratiese statuur.

     “Ek het gehoor van die gekontamineerde water wat op die swartmark gekoop is. Dit was ’n gesin van Lelieslaagte, as ek reg onthou.”

     “Lelieslaagte, ja. Ten duurste aan die water betaal sodat Burgemeesteres Styx en haar Naaldekokers nie moet uitvind dat hulle geld geërf het nie.”

     Brigit sug. “Nog agt maande voor die verkiesing! Styx se sponsie het nou al te lank en te veel opgesuig. Almal sê generaal Blackwell en sy party gaan tot ons redding kom.” Sy ken nie Sederville se Polisie Generaal nie en sy het ’n vrees dat die Party Vir Almal geen verskil gaan maak nie en net die laaste bietjie bloed wat Styx agterlaat uit Sederville sal suig.

     K.B. vee die sweet van sy voorkop af. “Genoeg daarvan, hoe gaan dit met jou? Lyk of iets jou byt.”

     “Nie gedink jy ken my so goed nie. Ek het jou hulp nodig met iets, ek het inligting nodig. Help my gou om die skerm voor die ingang te beveilig, ek het nou die dag ’n hommeltuig gesien.”

     Brigit stap vooruit, haar hande natgesweet. Haar seun Kelby en sy oorlede pa was die enigstes vir wie sy ten volle vertrou het. Dis tyd dat sy ’n kans op nog iemand waag. “Jy ken mos mense wat – hoe sal ek dit stel – ander mense dophou.” Sy sukkel eers om die woorde uit te kry, maar K.B. se rustigheid gee haar vertroue. “Dis Stein, hy steek iets vir my weg.”

 

* * *

 

“Daar was baie meer mense by die diens as laas Sondag. Ek sien jy en Talia is danig met mekaar. Het sy of haar pa al werk gekry?” Brigit gaan sit op hul stoep met haar beker tee in die hand tussen Kelby en Stein. Interessant dat die aalwyne vanjaar soveel dowwer as gewoonlik is. Ook dors. Soos almal.

      “Nee, Ma, nog niks, dit gaan maar rof met hulle. Sy gaan sny nou en dan iemand se hare by hulle huise, maar dit lyk nie of die haarsalonne ooit weer gaan oopmaak nie. Haar pa gaan dalk saam ons by die plantasie kom werk.”

     Stein gee ’n onsimpatieke snork. “Hy moes nooit daai bevordering geweier het nie. Almal weet as jy soos hy werk, word jy bevorder. Dis hoekom ons ander net doen waarvoor ons betaal word, niks meer nie.”

      “Hoe moes hy geweet het hulle gaan hom afdank? Hulle het mos geweet die salarisverhoging gaan hom in ’n hoër vlak plaas. Hy sou oor die sewe rand ’n liter moes betaal en sy ma bly ook nog by hulle!”

     Die hitte kruip op in Brigit se nek, haar rug is natgesweet onder haar dik vlegsel. Sy sukkel die laaste tyd omtrent om haar irritasie weg te steek. “Nou ja, laat hy maar ’n voorbeeld vir ander wees, hoor jy, Kelby? Mense praat reeds oor jou oortydwerkery. Jy moet ook nie te gemaklik raak met Talia nie, kry eerder enetjie wat vir haarself kan sorg.”

     Brigit sit haar leë beker neer op die tafel voor haar. “Bly net weg van daardie Sahara,” sê sy smalend. “Vanoggend geruik of sy in Chanel gebad het. Wie aan dié kant van die plantasie kan deesdae nog parfuum bekostig?”

     Sy geniet dit toe Stein hom dadelik vererg. “Niks fout met ’n vrou wat wil lekker ruik nie. Dalk het sy dit geskenk gekry. Jy besef seker die tonge is net so lekker los oor jou hare. Wie aan hierdie kant van die plantasie kan dit deesdae bekostig om sulke lang hare te versorg?”

      Stein se woorde koggel nog op die stoep toe smyt Brigit die dik vlegsel voor hom op die tafel en steek dit vas met ’n mes.

     “Is jy van jou kop af, vroumens? Gaan drink ’n Valium. Ruk jou reg! Ek loop nou!”

     Kelby wag tot die geluid van die enjin dof raak in die verte voor hy uitbars van die lag. “Ma is ’n regte drama queen, was dit nou nodig?”

     Brigit grinnik. “Ek dreig al hoe lank om my hare af te sny. Het nog net nie die regte motivering gehad nie.” Sy wikkel die mes los uit die koperdrade en vryf geamuseerd oor die lem. Haar impulsiwiteit verbaas haar lank al nie meer nie.

     “Moet erken, die kyk op sy gesig was dit werd. Ek sal vir Talia vra om oor te kom en iets aan Ma se nuwe kapsel te doen.”

    

* * *

 

’n Bondel pers vygies verdwyn saam met Brigit se tuinhandskoene in ’n swart sak toe K.B. se voertuig om die draai kom.

     Hy klim uit en druk ’n koevert in haar hand. “Ek weet nie wat jy omtrent hierdie inligting gaan doen nie, Brigit, maar Stein is besig om jou lewe in gevaar te stel. Wat jy ook besluit, wees versigtig en onthou, jy ken my nie, K.B. bestaan nie.” Sy groot hand sluit om haar skouer. “Jy moet jou spore deeglik toevee, hoor, en ek praat nou nie net van Stein nie. Die Naaldekokers is besig om van huis tot huis te gaan. Hulle keer elke plek om terwyl hulle ouditeur die bankstate nagaan. Van daai gesinne is vermoor, Brigit, kinders en al. Oordosis natrium in hulle drinkwater.”

     Die koevert bewe skielik in haar hand. “Dis hipernatremie. Styx het hulle vergiftig. Hoe kan ons dit stop, K.B.? Hoe kan ons toelaat dat hulle ons een vir een afmaai? Die verkiesing kan nie gou genoeg paasvind nie. Binnekort gaan daar niemand oor wees om vir Blackwell te stem nie.”

     “Bly jy net veilig, Brigit.” Sy hand beweeg van haar skouer na haar nek. “Kort hare pas jou.”

    

* * * 

 

“Ek het ’n voertuig sien wegry, wie was dit?” Kelby se oë vernou agterdogtig.

     “Iemand wat my met iets gehelp het. Hoekom is jy so vroeg tuis?” Brigit laat glip die koevert onder haar skootrekenaar in, haar vingers krap onwillekeurig deur haar kort hare.

      “Iemand het op Kobus geklik. Hy het by ’n informant gehoor dat die trokke vanaand tussen die ou seders gaan waterhaal. Hulle het almal ontruim en die rottweilers ingejaag. Die Vader weet, hy was so naby daaraan om Styx en haar trawante se waterverduistering oop te vlek.”

      “Hulle steel nog al die jare ons water. Die plantasie maak dit makliker om daarmee weg te kom.”

      “Ek hoop hy oorleef dit, ek het nog niks van hom gehoor nie.” Kelby gooi sy foon op die kombuistafel neer – langs die sak vygies. “En dit, Ma?” Hy kyk onrustig na haar. “Moenie vir my sê daar is nog ’n rotstuin tussen die aalwyne nie, Ma kan nie so voortgaan nie.” Hy stap na die venster, sy oë soekend.

      “Die pers kleur sal ’n mooi kontras vorm.” Sy gaan staan langs hom voor die venster. Sê gedemp: “Dit was ’n Naaldekoker. My gistermiddag kom lastig val met lugfoto’s.” Sy kyk stip na hom. “Daardie hommeltuig wat ek gehoor het … My aalwyne staan glo uit, en hy wou kom kyk of hier dalk ’n ondergrondse waterbron is.” Sy vee oor haar stomp hare. “Hy kon nie my ystee weerstaan nie.”

     Kelby skud sy kop. “Ma besef dat almal nie van ystee hou nie. Bring daai flippen vygies, ek het nou tyd, die klippe kan nie so kaal daar lê nie.”

 

* * *

 

“Dis nou die soveelste maand dat ons water vroeg afgesny word. Die tariewe het nie verhoog nie, ek het seker gemaak by die munisipaliteit. Boonop raak daar elke maand van my houers weg. Jy weet wat ’n mens daarvoor op die swartmark kry! Waarmee hou jy jou besig, Stein? Of moet ek eerder vra met wíé is jy besig?” Brigit kan haarself nie langer beteuel nie, sy hét nou die bewyse.

     “Vra jou seuntjie, hy’s nie so onskuldig soos jy dalk dink nie. Ek het daai Talia al ’n paar keer hier sien rondsluip. Dit gaan rof daar by hulle.”

     “Gee my stel sleutels terug en voertsek uit my lewe uit.”

      Stein haal die bos sleutels stadig uit sy broeksak en swaai dit voor haar rond. “So maklik raak jy nie van my ontslae nie, vroumens. Net een oproep, dan sit julle twee op straat – of in die tronk. Ek gaan uit, moenie wakker bly nie.” Hy sit die sleutels net so stadig terug en stap uit.

 

* * *

 

“Middag, mevrou, Generaal Blackwell is hier om u te spreek.”

      Brigit knik kalm vir die jong konstabel wat voor haar deur staan. Sy het hierdie oomblik al herhaaldelik in haar gedagtes laat afspeel. Eintlik voel sy geëerd dat die Generaal self gekom het om haar in hegtenis te neem.

     “Generaal Blackwell, mevrou.”

     Die konstabel tree agteruit en Brigit sluk die woorde terug wat oor haar lippe wil spring toe die man met die perfekte uniform aan naderkom en vir haar met sy mond beduie om stil te bly.

     Hy steek sy hand uit. “Blackwell, Generaal Kano Blackwell, bly te kenne.”

     Brigit trek haar asem skerp in. So dít is dan die ware identiteit van haar jare lange vriend en vennoot.

     “Ons vra om verskoning dat ons u onder hierdie omstandighede lastig val. Ons is hier in verband met die ondersoek na die verdwyning van u man, Stein Veldman. U het hom twee dae gelede as vermis aangemeld, as my inligting korrek is.” K.B. se stem is buitengewoon hard en saaklik.

     “U inligting is korrek.” Sy voel hoe hy haar hand ’n drukkie gee en die kyk in sy oë verseker haar dat hierdie indrukwekkende man inderdaad haar vriend is.

      “Ons het genoegsame bewyse dat hy betrokke was by die onwettige koop en verkoop van water. Ons het beslag gelê op twee honderd vyf en sewentig duisend rand in kontant wat hy weggesteek het by ’n vriendin, Sahara Jansen.

     "Mevrou, daar is ook bewyse dat u man en Sahara in ’n romantiese verhouding betrokke was. Sy is tans in aanhouding. Ek is baie jammer om hierdie nuus met u te deel. Die harde waarheid is dat ons u man miskien nooit sal opspoor nie. Nie lewend of dood nie. Die swartmark waarby u man betrokke was, is inderdaad ’n duister wêreld. Ons hou u op hoogte van enige verwikkelinge en verwag dieselfde van u.”

      Brigit besef sy hou nog heeltyd haar asem op. “Ek ... ek weet nie wat om te sê nie. Ek dink … dankie. Dat julle laat weet het, bedoel ek.”

     “Ek verstaan u bedoeling, mevrou. Sterkte.” Haar vertroueling se oë versag toe hy sy besigheidskaartjie in haar hand druk.

      Terwyl hy wegstap, vloei die laaste bietjie onsekerheid uit Brigit se liggaam, saam met die vars geskinkte ystee wat sy in die wasbak uitkeer.

 

* * *

 

“Ma moenie Ma se vygies op hierdie een mors nie, kaktusse is reg.” Kelby rol nog ’n klip nader. “Ons moet seker die munisipaliteit in kennis stel dat ons nou net vir twee persone water benodig.”

      Brigit trek ’n doring uit haar tuinhandskoen. “Vir wat? Ons is mos steeds drie. Talia kan in die vervolg haar bord kos saans saam met ons aan tafel kom eet.”

      “Ek het geweet Ma weet van haar.”

      Emosie stoei in Brigit se gemoed. Sy is moeg, uitgebrand, maar die vrede van verligting is groter as dit alles en laat haar amper opgewonde voel. “Jy moet my net een ding belowe, my seun.”

      Kelby steek die tuinvurk diep tussen die kaktusse in. “Wat, Ma?”

      “Dat ons water altyd in die regte hande sal wees.”

      Brigit onderskep ’n wegholtraan. Met haar seun se arm om haar skouers aanskou sy die hopies tussen die aalwyne se vlamme. Sommiges is met helder vygies beplant, ander met kaktusse. Afhangend.

      Kelby knik. “Ek belowe, Ma. Tot die laaste druppel toe.”


Die onsigbares

Liz-Marie van der Westhuizen

 

Natuurlik sal selfs haar dood eerder oor Rudi gaan as oor haarself. Nes haar hele lewe eintlik oor haar man gegaan het. Inge kan nie help om bitter te voel nie, daar waar sy vasgeketting in ’n muwwe kelder sit – nie bang nie, nie eens kwaad nie, net met bitterheid wat in haar opwel.

           “Skuif op, sit met jou rug teen die muur.” Johnny skyn met ’n flits in haar gesig. “Gil, en ek skiet!”

           Hy het ’n fout gemaak. Inge besef dit dadelik. As hulle werklik so ver verwyderd van die beskawing vas, kon sy na hartelus gegil het. Die feit dat hy haar probeer stilhou, bied ’n klein bietjie hoop.

           Sy kyk op, beskou die skraal man stil. Praat eers wanneer hy begin kriewel onder haar direkte blik. “As jy my doodmaak, sal hy nie eens weet dit was jy nie. Nie die slimste plan as jy regtig wraak wil neem nie.”

          Dis duidelik dat haar woorde hom skok. Sy is nie verbaas nie. Johnny is gewoond daaraan dat mense hom vrees. Rudi het haar jare terug van hom vertel. Haar gesig vertrek. As hy net kon weet hoe min vrees oor is in haar. Eerlik, teen dié tyd is sy redelik gatvol vir bangwees.

          Johnny vloek gedemp en hy en die lig verdwyn by die deur uit. Sy intelligensie – of gebrek daaraan – is ’n teer puntjie en deur dit nie te onderskat nie het sy waardevolle minute gewen. Minute waartydens sy in die vals lig wat deur die luggat val, kan rondkyk op soek na iets – enigiets – wat haar kan bevry.

            Dit is nóú dat sy absoluut alles moet opmerk – die kleinste besonderheid kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Rudi het dit nog vir haar geleer, paraatheid was nog altyd boaan sy agenda. Sou hy al weet dat sy weg is? Hy sou seker – al is hy nie die man van die jaar nie, is hy ’n goeie speurder. Indien nie die beste nie.

           Inge veg teen die bitterheid wat al hoe sterker deur haar stu. Op haar sitvlak skuifel sy teen die muur langs, voel rond met haar handpalms. Iewers moet daar iets wees waarmee sy sal kan werk. Sy raak byna opgewonde wanneer sy ’n plank raakvat, en trek dit met inspanning uit onder iets swaars. Die teleurstelling oorweldig haar toe dit loskom en sy besef dat dit dik en swaar is, maar aansienlik korter as ’n liniaal.

            Uit frustrasie slinger sy dit weg van haar. Dit tref ’n vierkantige voorwerp aan die oorkant van die kelder. Dit val maklik genoeg om vir Inge om te besef dat dit leeg was. ’n Gedagte skiet haar te binne. Dalk moet sy die stuk hout gaan haal. Ten minste kan sy hom daarmee gooi.

            Sy staan op en stap nader. Daar is nog iets. Dit het onder die boks gelê. Die pessimis in haar fluister skerp dat dit nie 'n wapen kan wees nie – Johnny sou haar beslis vasgebind het as hy gereken het daar is enigiets waarmee sy haarself moontlik sou kon verdedig.

           En tog.

           Teenstrydig met alles wat Rudi haar ooit geleer het, kry sy die blou steel beet – sonder om vir een oomblik aan iets so irrelevant soos vingerafdrukke te dink. In die skemerdonkerte bestudeer sy dit. Vat aan die lem. Probeer haarself graag oortuig dat die rooi vlekke nat verf is. Besluit om dit te ignoreer en sluip met die byl in haar hande terug deur toe.

           Sy hoor hom voor sy hom sien: die skril lag, die plat stem. Die deur swaai stadig oop – hy staan met sy rug na haar, selfoon teen die oor. Sy wag net lank genoeg dat hy omkyk, en kry lekker toe sy die vrees in sy oë sien. Sy gooi onmiddellik. Hy koes net betyds en die lem tref die hout sodat die spaanders om hom spat. “Is jy van jou sinne beroof?” skree hy en duik oor die vloer.

           Inge struikel by hom verby. Sy vingerpunte skraap teen haar enkels, en sy skop blindelings – hoor eerder as sien hoe hy vloekend ineenkrimp. Dan beur sy met die trappe op, klap die deur agter haar toe, draai die sleutel amper outomaties en hardloop.

          Die vars lug brand haar longe toe sy nog ‘n deur ooppluk en die donkerte in nael. Hy is nie agter haar nie, en tog jaag sy drankasem haar in die pad af terwyl sy kil oë haar volg soos sy eers links, dan regs draai – sonder om vir ’n oomblik te dink aan 'n bestemming. Sy wil net wegkom. So ver moontlik.

          Die omgewing is onbekend – sy is beslis nie meer in Douglas nie – sy is dus steeds nie veilig nie. Sy is weg, maar sy voel steeds die tou wat om haar keel span, voel hoe sy in ’n trok met ’n harde vuil vloer gegooi word, voel die donkerte van die sak wat genadeloos om haar kop vou.

          Sy koes weg agter ’n bos toe 'n voertuig naderbrul. Sy bly gehurk sit, haar oë op die pad, kyk hoe die bakkie verbyjaag sonder enige idee dat daar ’n vrou in die bosse skuil. Verlig sak sy neer, agteroor, op haar rug. En net daar in die stof laat sy haarself uiteindelik toe om ’n bietjie te breek en te huil tot sy nie meer kan nie. 


Sessies

Cathy Ferreira

 

Die wind van die waaiertjie warrel Lani se gedagtes rond. Waar gaan sy die sleutel vir hierdie toe boek kry? Is daar ooit een?

            "Is daar nog iets, of kan ek maar gaan?"

            Haar pasiënt se stem laat Lani regop skrik. Sy torring haar windverwaaide gedagtes bymekaar. "Is daar dalk iets wat jy vir my wil sê, Marinda?"

            "Nee."

            Die selfversekerde pasiënt voor haar is net nog 'n weerlose vrou, so maak sy haarself wys. "Probeer net," moedig sy aan. "Toe die sessie begin het, het dit gelyk asof jy iets wil sê."

            "Hou tog net op! My kop is leeg!"

            Lani onderdruk 'n sug. Wat het Langenhoven nou weer gesê? Dat jy geduldig moet wees, want die windpomp gaan soek nie die wind nie. En tog, hoekom voel dit asof sy stagneer op hierdie plek? Spesifiek nou, hier in haar kantoor, met hierdie windlose vrou. Vreemd dat sy en Hanlie juis gister, asof in afwagting op hierdie windstil sessie, na ander geleenthede begin kyk het, Vredendal het Hanlie opgewonde gemaak.

            "Ek sal bel vir 'n afspraak."

             Lani kyk die vrou agterna. Dis maklik die uitputtendste pasiënt wat sy al gehad het. Sy trek die Psigiatriese Handleiding nader, lees deur die persoonlikhede, klap die dik boek toe. Boekekennis, soos Pa gesê het, gaan nie met hierdie mensie werk nie.

              Vir die eerste keer as sielkundige is sy moedeloos. Psigoterapie doen niks vir Marinda nie. Medikasie was ’n driftige kopskud. Hoe gaan sy die toe boek oopkry? Met hoop? Hoeveel ander sielkundiges hoop maar net hul terapie sal slaag? Iewers het sy gelees hoop is wanneer die voëltjies begin kwetter as die son nog nie op is nie.

               Sy moet fokus. Haar voormalige dosent het altyd gesê 'n goeie sielkundige moenie aan 'n vorige pasiënt dink as 'n volgende pasiënt wag nie. Sy tel die gehoorstuk op, luister na haar sekretaresse se vriendelike stem. "Is dokter reg vir die laaste pasiënt?" Hanlie noem haar dokter, al weet sy sy is 'n sielkundige.

             "Stuur maar in, Hanlie."

             Twee weke later staan sy by haar kantoorvenster en kyk hoe die blare in die wind dans voor hulle grond toe tuimel. Soos sy vandag haar sessie moet laat tuimel. Wat sal dit help om daardie pos op Vredendal te aanvaar? Wat sal Johan tog daar doen? Nee. Haar dosent was hieroor ook reg. 'n Goeie sielkundige weet wanneer sy haar pasiënt vir 'n ander sielkundige moet aangee.

            Die kraak van die deur laat haar vinnig omdraai.

            "Sit. Maak jou gemaklik," sê sy met 'n glimlag. Vandag het Marinda 'n reuk aan haar. Waarom is dit so bekend? Sy skud haar kop en stoot die gedagte weg. Dis nie belangrik nie. Vandag moet sy hierdie sessies afsluit.

            "Hoekom het jy na my gekom, Marinda? Jy praat nie met my nie. Jy sit net daar. Beteken die sessies ooit vir jou iets?"

            Sy warrel deur die vrae, sonder om daaroor te dink. Net die eentonige geluid van die waaiertjie. So min soos sy die wind – enige wind – met haar hand kan beheer, so min kan sy hierdie vrou help.

            Meteens sit Marinda vorentoe. Haar lippe beweeg. Lani skep moed. Hier kom dit nou. Sy wil skree toe die vrou se mond subiet toeklap. Die waaiertjie sirkuleer die lug flink, tog drup sweetdruppels teen haar rug af. Die vrou voor haar het iets broeiends binine-in haar, sy is onder druk.

            Verbete gaan Lani voort. "Ek weet nie of dit nog die moeite werd is dat jy na my kom nie, Marinda. Ek sal jou help om 'n afspraak by 'n ander sielkundige te maak."

            Onmiddellik vlieg Marinda op en smyt die waaiertjie met een haal van die lessenaar af. Haar tong word 'n byl wat woorde laat spaander. Lani wil die splinters terugdruk in die vrou se mond, maar die nodige asem ontbreek, sy voel gestroop, vernietig.

            "My Johan? Mý Johan?" Dis dan háár Johan se reuk wat aan Marinda kleef. "Is jy van jou sinne beroof?" Dis nie 'n vraag waarop sy 'n antwoord verwag nie.

            Marinda het teruggesak in haar stoel.

            "Jy het na my gekom vir sessies. Jy wou dit gedurende die sessies vir my sê omdat jy geweet het ek sal dit professioneel hanteer."

           "Johan het gesê hy's nie meer lief vir jou nie. Het jy dan niks agtergekom nie?"

           Lani praat haar dood. "Ek kan nie verstaan hoekom jy so lank gevat het om my te sê nie. Hoekom het jy my en jou tyd so gemors? Was jy te lafhartig? Of het Johan gesê jy moet eers wag, want ek het gisteraand nog vir hom gesê ek is so gelukkig dat hy my man is?"

           Lani lag humorloos. "Ek wou my sessies vandag afsluit omdat ek gedink het jy nie baat vind by die terapie nie. Nou moet ek dit vir ’n ander rede doen. Ek is seker jy sal voor my met Johan kontak maak. Jy kan vir hom sê dat jou sessies goed afgesluit is. Ek sal hom later skakel oor die egskeidingsbevel wat binnekort by hom afgelewer sal word."

           Agter die toe deur druk Lani haar trui teen haar gesig. Die woede in haar ruk die gille uit haar keel. Sy strompel rond, struikel oor die stukkende waaiertjie, tel dit op. So stil soos die waaiertjie, so stil word haar gedagtes. Met die geknakte waaiertjie nog in haar hand stap sy uit haar kantoor.

           "Agge nee! Dokter se waaiertjie."

           "Toe maar, Hanlie. Sal jy asseblief vir dr. Huisamen op die lyn kry?"

           "So dokter gaan daardie pos aanvaar! En ek gaan saam?" Hanlie gryp Lani se hand vas. "Ek sal later vra hoekom die hartseer so vlak in dokter se oë lê, maar ek is seker Vredendal sal 'n waaiertjie daarvoor hê."

            Lani dwing 'n glimlag na haar oë. Ten minste is Hanlie opgewonde oor die nuwe sessie wat op Vredendal wag. Maar sy? Wat van haar? Waar gaan sy die krag en die genade kry om al die ou sessies af te handel en die nuwes te hanteer?           


Meesterplan

Ammie Walters

 

Sy kyk na die muurhorlosie in die kombuis. Haar meesterplan begin oor 'n uur. Sodra die kinders weg is. Sy stap uit en loer by die TV-kamer in. Stefaans sit-lê op sy gewone stoel. Sy maag bult onder sy hemp. Swart wolle steek tussen die knope by sy naeltjie uit. Die weerkaatsende lig van die TV teken blougrys mufkolle op sy gesig.

            "Wil jy iets drink?" Sy dwing haar stem om neutraal te bly. Van jare se oefen klink dit selfs geduldig. Liefdevol.

            Hy antwoord nie. Praat net as hy iets wil hê. Meestal kos of bier.

            Dawid kom soos 'n tolbos by die TV-kamer ingehardloop. "Ma! Ek kry nie my rugbytokse nie!"

            "Kyk in die spens. Agter die deur. Ek het dit skoongemaak."

            Hy gee haar 'n klapsoen op die wang. "Wat sal ek tog sonder Mams doen?"       

            Sy hoor hom soek in die spens voor hy terugkom met die tokse in sy hand. "Het jy nou alles vir die naweek? Die bus tel julle oor 'n uur op."

            "Ek dink so." Hy verdwyn met sy gespierde lyf in die gang af. Dawid – haar oudste, haar trots.

            "Sara!"

            Sy stap weer TV-kamer toe. "Ja, Pappa?"

            "Bring vir my 'n bier. Ek's dors."

            "Dis reg, Pappa. Ek bring nou."

            Die biere staan in perfek netjiese rye op die boonste rak van die yskas. Sy hou nie van 'n slordige besigheid nie. Sy sit 'n glimmend koue bier op die tafeltjie langs hom neer. Vat die leë blikkie wat langs hom staan. Hy knor nie eens 'n "dankie" nie.

            Sy stap na Miemie se kamer. "Is als reg? Het jy al jou goed?"

            Miemie tel op haar vingers af. "Netbalklere, tandeborsel, handdoek, badgoed, twee panties, 'n ekstra bra, jeans, twee T-shirts en my Kway-baadjie vir as dit koud is. Dink Ma ek kort iets?"

Haar liefkind. So agtermekaar. Sy knik. "Klink reg. Dis darem net vir twee dae. Sondag is julle weer terug. 'n Naweek gaan gou verby. As jy regtig iets kort, kan jou vriende jou seker uithelp?"

            Miemie lag. "Seker, maar ek hou nie van leen nie."

            Klokslag vyfuur hou die skoolbus voor die huis stil. Haar kinders soen haar en elkeen gee haar 'n stywe druk. "Baai, Ma! Dankie vir als! Liefe Ma!" Hulle drafstap oor die tuinpaadjie en sy kyk die bus agterna.

            Uiteindelik. Dis tyd.

            In die kombuis haal sy die filletsteak uit. Sy het ekstraduur vleis gekoop, versigtig uitgekies. Sy spoel die sampioene af. Meng dit met wat sy in die bos gepluk het. Haar pa het haar mooi geleer. So met sy bruingebrande hande vir haar gewys hoe jy nie 'n sampioen se velletjie tot by die middel kan aftrek as hy giftig is nie. Hy het haar gewaarsku teen Stefaans. Sy wou nie luister nie.

            Sy maak botter in die pan warm. Braai die steak soos Stefaans daarvan hou. Braai die bosgeplukte en winkelgekoopte sampioene saam in 'n aparte pan. Haar mond water. Maar sy proe nie. Nie eens onwillekeurig nie. Sy wil môre nog hier wees. Haar kinders sal haar nodig hê. Al is Stefaans 'n patetiese pa sal hulle hartseer wees. Maar hulle sal daaroor kom. Hulle lewens sal beter wees sonder hom.

            Toe die kos klaar is, skep sy vir Stefaans op. Skep versigtig die sous bo-oor. Skep slaai in 'n kleinbordjie. Met 'n glimlag sit sy die bord op die tafeltjie langs hom neer. Skuif die bierblik eenkant toe.

           "Hier's jou aandete. Jou gunstelinggereg."

            Hy brom iets.

            "Ek gaan 'n bietjie lê. Ek is moeg." Op pad kamer voel sy die kloppende aanmaning agter haar oë. Seker weer 'n migraine wat aan die kom is. Seker die stres. Dis te veel. Maar wat kan tog skeefloop? Niks. Sy het alles fyn uitgewerk. Haar storie is agtermekaar. Niemand sal weet nie.

            Sy gaan lê op haar bed. Raak amper onmiddellik aan die slaap.

            Meteens sit sy verskrik regop. Wat het haar wakker gemaak? Sy vang 'n glimp tussen die gordyne deur. Dis skemer buite. Sy kyk op haar horlosie. Sy het sowaar meer as twee ure lank geslaap.

            En Stefaans? Sy sluk, voel skielik swaar op die maag. Is haar meesterplan voltrek? Sal sy daarmee wegkom? Vir die eerste keer bekommer sy haar daaroor. So bekommerd dat haar maag daarvan pyn. Met 'n skud van die kop tel sy haar selfoon van die bedkassie af op en maak haar keel skoon terwyl sy met die gang langs na die TV-kamer stap. Haar stem moet reg klink, oortuigend – wanneer sy die ambulans bel.

            In die TV-kamer steek sy vas. Teleurstelling spoel oor haar. Stefaans se onaangeraakte bord kos staan langs hom, nou vetterig en koud. Wat ís dit met die man? Hoe kon hy daardie steak weerstaan?

            "Bring vir my nog 'n bier."

            Sy stap kombuis toe. Gereed om in trane uit te bars. En tog ook, vreemd genoeg, verlig. Vrek verlig, as sy eerlik moet wees. Want wat as sy nié daarmee weggekom het nie? Wat as hy wel dood was of kreunend oor die mat gerol het. Hoe sou sy dit hanteer het? In watter stadium sou sy die ambulans gebel het?

            En die polisie, besef sy eensklaps. Die polisie moet ontbied word as iemand doodgaan. Wat sou sy vir die speurder gesê het? 'n Rilling gaan deur haar. Nee. Dis beter so. Eintlik 'n genade, dankie, Heer.

            In die kombuisdeur stop sy meteens.

            Dawid en Miemie sit oorkant mekaar by die kombuistafel. Twee leeggeskraapte borde staan tussen hulle op die tafelblad.

            "Hallo, Ma!" Dawid lag vrolik, vryf sy maag. "Surprise!"

            Sy kan nie praat nie.

            "Ma lyk nie juis bly nie."

            Miemie staan op. Loop stoof toe. "Is hier nog van daardie jammie mushroomsous? Vrek lekker, Ma."

            Dawid kom orent en stamp sy suster speels uit die pad met sy elmboog. "Hei, jy's nie die enigste kind in die huis nie, los vir my 'n paar skeppe!"

            Sy wurg die woorde uit. "Die bus ... die naweek ..."

            Miemie kyk oor haar skouer, haar gesig grou in die skemerlig wat deur die venster val. "Die bus het gebreek. Kan Ma dit glo? Die nuwe bus tel ons môre vyfuur op. Coach sê ons sal betyds wees vir die eerste wedstryd." Haar linkerbeen swik effens toe sy terugstap na die tafel.

            "Nog 'n bier, vrou!"

            Die uitroep uit die TV-kamer koggel haar: Nog 'n bier! Nog 'n bier! Nog 'n bier!                            Gedwee stap sy na die yskas en maak die deur oop. Sy sit die yskoue bier langs hom op die tafeltjie neer.

            "Maak my kos warm. Ek wil nou eet."

            Sy tel die bord op. Loop kombuis toe. Bly staan met die bord kos in haar hand. Kyk na Dawid en Miemie wat by die kombuistafel sit. Hulle lag oor iets wat by die skool gebeur het.

            Sy wil skree. "Nee!  Dis nie hoe my meesterplan moes uitdraai nie!" Sy het dit maande lank beplan. Alles oor en oor in haar kop laat afspeel. Moet sy die ambulans bel? Hoe gaan sy aan hulle verduidelik dat Miemie en Dawid giftige sampioene geëet het? Wat as die polisie haar in die tronk stop? Hoe sal die kinders sonder haar regkom alleen by hulle gewelddadige pa?

            Sy stap na die mikrogolfoond. Druk Stefaans se bord kos in die oondjie. Kyk toe terwyl dit in die rondte draai. Om en om. Soos haar gedagtes.

             Die "pieng" van die mikrogolf bring haar terug na die werklikheid. Sy haal die kos uit die oondjie. Twyfel 'n oomblik. Begin dan om TV-kamer toe te loop. Gaan staan. Draai om. Gaan sit met bewende hande by die kinders. Alles is vreemd dof. Sy kan amper niks deur die trane sien nie.

             "Ma?" 

             Haar kinders kyk verbaas na haar. Sy het nog nooit voor hulle gehuil nie. Vies vee sy die trane weg. 

             "Is Ma okay?"

              Sy probeer glimlag. Trek die warm bord kos nader. Sny ’n stuk steak af en druk die vurk in die sampioensous. Haal diep asem en neem die eerste hap. Dit smaak lekker. Vrek lekker.

             Sy eet alles op en glimlag vir haar kinders. Steek haar hande uit na hulle. "Ek is okay. Alles gaan okay wees. Kom gee vir Ma 'n druk." 


Een Saterdag in Oktober

Anne-Marie Taylor

 

Dis nog donker toe ek saggies opstaan om badkamer toe te gaan. Ek sien nie nou al kans vir ’n deur-die-slaap, winddronk Rico nie. Gisteraand was die gala weer aan, soos tant Lissie altyd gesê het. Al die pad terug van die braai af het hy derms geryg oor my optrede.

          “Waar was jy so lank toe jy nog Coke gaan koop het? Wat het jy en Michael so alleen in die kombuis gepraat?” En aan en aan en aan, tot vervelens toe.

          Soms wonder ek wat sal gebeur as ek hom klap. Of terugklap. Maar nee, ek skakel eerder af, dit help tog nie ek probeer antwoord nie. Sy volgende sarsie vrae en verwyte hardloop net weer dwarsoor enige antwoord wat ek durf gee.

           Ek het weggekyk, die nag in, sy tirade oor my laat spoel, probeer om te ontsnap. Die volgende oomblik het my kop so hard teen die ruit geklap dat ek vir ’n oomblik gedink het ons is in ’n ongeluk. Toe nie. Dit was Rico se plathand.

           Ek het al soveel kere gewens vir ’n ongeluk. Waarin Rico doodgaan. Maar dronk mense het meer beskermengele as nugter mense. Skei is ook nie ’n opsie nie. Hy sal my nooit in vrede los nie en in die regstelsel het ek minder as geen vertroue.

Dis toe ek opkyk en die by sien wat soekend oor die badkamerspieël loop, dat ek weet wat om te doen. 

 

***

 

Die afgelope ses weke het dit amper so goed gegaan soos gedurende die eerste ses maande van ons huwelik. Ek het alles menslik moontlik gedoen om Rico nie kwaad te maak of teë te gaan nie. Toe ek hom vanoggend vertel ek is swanger, was hy buite homself van blydskap. Dis nou al meer as ’n jaar dat hy oor ’n kind kerm, maar ek het nog altyd vasgeskop. Daaroor ook al ordentlik slae gekry.

            Toe ek voorstel ons gaan braai môre alleen by die waterval op oom Hentie se plaas om dit te vier en dat hy daarna vir die hele wêreld kan vertel hy gaan pa word, was hy so bly dat my moed my amper begewe het.

 

***

 

Wyn het Rico nog altyd lomerig gemaak, en na die braaivleis, lekker slaaie, twee bottels wyn en warm liefde, lê hy uitgestrek op die kombers en slaap. Ek staan lank na hom en kyk voor ek omdraai en in die rigting van oom Hentie se byekorwe loop.

 

’n Week later:

Dit is ’n groot begrafnis. Min mense het die kant van Rico geken waarin ek my gereeld vasgeloop het. Sy sjarme het mense na hom aangetrek, ook vir my. Destyds.

            My trane kom eers toe ek oorleun en die roosblare op die kis strooi. Oom Hentie tree dadelik nader en sit sy arm om my skouers. Hy is nog heeltyd aan my sy. Maak nie saak hoeveel keer ek hom al verseker het dis nie sy skuld nie, hy voel indirek verantwoordelik.

            “Ai, kinta, as jy nie by die waterval gaan afkoel het nie, het die bye jou ook toegetakel. Ek sou myself nooit vergewe het nie. Ek kan nie verstaan wat in hulle gevaar het nie.”

            “Oom Hentie, as iemand moet skuldig voel, is dit ek. As ek nie by die waterval gesit en droom het nie, het ek Rico dalk betyds by hulp gekry en sy lewe gered. Ek wonder of hy ooit geweet het hy is allergies. Dis tog iets wat ’n mens vir jou vrou behoort te vertel.”

 

***

 

Ek is bly toe die laaste begrafnismense groet. Uiteindelik stilte. Eers later, toe ek in ’n skuimbad agteroor lê, laat ek my gedagtes toe om hul loop te neem. As my pa nog gelewe het, sou hý kon vertel dat bye nog nooit vir my ’n bedreiging was nie. Dat ek, soos hy, ’n slag het met hulle, dat ons hulle “charm”.

            Maar Rico? Hy het nog self vir my pa gesê: “Twee steke, en ek is bokveld toe.”

            Ek sak dieper af in die warm water en vryf oor my plat magie, wat nou nog lank plat gaan bly. Ek het net uit die bad geklim en my kamerjas aangetrek toe die voordeurklokkie lui. Vir nog mense is ek allermins lus. Ek sluip na die donker voorportaal en loer by die syvenster uit. Op die vloetmatjie lê ’n bos blomme. Seker iemand wat wou simpatiseer, maar nie wou pla nie.

            Ek sluit oop, tel dit vinnig op en maak die deur toe. Eers in die kombuis sien ek die kaartjie. Die handskrif is onbekend. Daar is net een sin: “Baie slim, Byevleier.”

            Dit voel asof duisende bye oor my liggaam loop. 

            Iemand weet wat ek gedoen het.


Nuwe nommers

Jeanette Hendriks

 

“Oe, jou ma se!” gil hy en vlieg orent toe ʼn hand liggies aan sy skouer raak. “Is jy versin? Vir wat bekruip jy my soos ʼn ninja?” Pyn skiet deur sy lyf en hy kan nie anders as om hard te kreun nie.

     ʼn Lig word aangeskakel en die skerpheid verblind hom, dit vat ʼn ruk voor hy weer kan sien.

     Jenny staan voor hom, laggend, haar hande in haar sye. “Jy gil ook maar lekker soos ʼn girl, ek raak net aan jou en jy tjank sommer.”

     “Ag jy oordryf,” antwoord hy dikbek. “Jy’t my laat skrik, dis al.” Hy het sowaar aan die slaap geraak. Dit kan hy nie bekostig nie, nie terwyl daar na hom gesoek word nie. Hy het sy wonde op sy manier versorg en verbind en toe op Jenny se bed gaan lê, net om sy oë ʼn bietjie toe te maak. Nooit gedink hy sou aan die slaap raak nie.

     Jenny snuif. “Hoekom ruik dit soos die Tygerberg Hospitaal in my kamer? En is dit my T-shirt wat jy aanhet?”

     Die rigting van haar blik laat hom afkyk. Hy was vroeër so onder die pyne dat hy nie die woorde opgelet het nie: Single Girls Rock.

     “Meisa, ek het nie geweet jy’s single nie,” spot sy.

     Hy lag teen sy sin. “Moenie vir jou laf hou nie, Jen.” Gryp dadelik sy ribbes vas.

     “Wat het jy nou weer aangevang?” wil sy weet.

     Hy vermy haar oë en lig homself op op een elmboog. Sê stroef: “Ek kan nie help as die moeilikheid my nie wil uitlos nie.”

     “Ja, dis mos nooit jou skuld nie. Die duiwel sorg vir sy eie. Alles gaan mos oor die wêreld jou bestaan nie wil erken nie.”

     Tony kom orent, swaai sy bene oor die kant van die bed. “Is jy nou Mother Teresa? Het jy jou hart vir die Here gegee om nou vir my te kom staan en preek? Ek is dankbaar dat ek hier mag oorslaap, maar moenie vergeet dat jy anderdag net so lekker saam my dinge 'aangevang' het nie.”

     “Ten minste het ek uit my foute geleer,” kap sy terug. “En by the way, dis die ‘Grootbaas’ wat agter jou aan is, hѐ?”

     “Het jy die ‘Grootbaas’ gekontak? Die Here hoor my as jy het.”

     “Relax, ek sal jou nie in die steek laat soos jy destyds aan my –”

     “Waarvan praat jy?”

     “Toe jy weg is by die kroeg het twee ouens daar aangekom en lekker gesuip geraak en toe van die ‘Grootbaas’ begin praat. Ek het natuurlik gemaak of ek nie luister nie.”

     Tony se hart klop vinniger. Blote toeval? Hy dink nie so nie. Dit klink na moeilikheid. Op ʼn hoë graad. Hy kom orent, tas rond na klere. “Hoe het die ouens gelyk?”

     Jenny haal haar skouers op. “Twee gattas. Die een baie nors. Maar hoekom worry jy, jy hang dan so lekker in my bed asof jy daar hoort.”

     “Dis nie tyd vir grappies nie, Jen. Daai twee gattas. Ek dink dis die cops wat my aangerand het. Hulle weet van ons twee se connection, en as hulle dít weet …”

     Jenny trek haar asem in. “So hulle weet waar ek bly. Jislaaik, boeta, hoekom het ek jou jammer gekry? Almal het gesê jy’s bad news en nou’t jy daai characters na my plek  genooi. Weet jy hoe moeilik is dit om blyplek te kry as jy ʼn criminal record het?”

     “Sjuut!” Tony hou sy vinger op sy lippe, sy ore gespits na die deur. “Daar is iemand by die voordeur.”

     “Moet ek die lig afsit?”

     “Wat gaan dit baat, hulle weet ons is hier.” Hy luister weer.

     “Wat het jy van hulle gesteel?” sis sy.

     Tony twyfel ʼn oomblik, kyk dan sy suster reg in die oë. “Net die een se lewe –”

     “Jissis, boeta! Daar’s niemand by die deur nie, jy hoor verkeerd. Maar hoe lewe jy met dit alles wat oor jou hang? En watter ander geheime het jy?”

 

 

Daardie Woensdagaand is Tony op sy nerves toe hy aan die regter se voordeur klop en sy lyf kerkbroer hou met sy Bybel onder sy arm. Daar word glo gebedsessies by die judge se huis gehou, hy sal die ins en outs van die Bybel moet ken, maar hy bunk Sondagskool al van kleintyd af, en nou moet hy die judge oortuig hy bedoel dit.

     Die geleende pak wat hy aanhet, laat hom ekstraongemaklik voel. Asof hy op pad is na iemand se begrafnis. Dalk nog sy eie.

     “Ek stel nie belang in begrafnispolisse nie,” sê die judge toe hy oopmaak en Tony weet hy moet gou praat anders word die deur in sy gesig toegestoot.

     “Ek groet u in die wonderlike naam van onse Heer. Daar is net een naam, een lelie van die dale. Want al gaan ek ook deur ʼn dal van doodskiste –”

     “Doodskaduwees,” korrigeer die regter hom.

     Tony worry nie oor die regstelling nie, 'n judge bly 'n judge, hy is net te bly dat die voordeur steeds oopstaan.

     “Ons praat juis nou van ʼn teken wat ons moet kry oor die kruise wat ons in die lewe moet dra,” sê judge Botha met sy swaar stem. “Kom in en sluit by ons aan.”

     Krom van oudwees loop die judge voor hom uit. Hy voel om die drommel teen ʼn muur te slinger, dan is dit game over vir hom en klaar. Hemel toe gaan hy wat Tony is anyway nie, maar die binnekant van die tronk wil hy ook nie weer sien nie.

     Daar sit vyf mense toe hy die vertrek binnestap. Hy herken vir Roger Botha. Die een vir wie se sondes hy gemang het.

     Die jong Botha vlieg op. “En nou, Pa? Weet jy wie dit is?”

     “Sit!” maan die judge. “Jy hoef my nie te vertel wie hierdie man is nie.”

     ʼn Koue gevoel spoel oor Tony. Clearly is daar niks verkeerd met die judge se geheue nie. Woede laat sy maag suur word toe die judge voortgaan: “Hierdie man, hierdie verlore siel, hierdie sondaar is ’n teken vir ons almal. Elke merk op sy gesig is ʼn les, ʼn boodskap.”

     Sondaar of sondebok?

     Die gedagte skiet deur Tony se kop. Voor die judge verder kan gorrel, slaan hy sy Bybel oop: “Moenie wraak neem nie, geliefdes, laat dit oor aan God. Ek is tronk toe sonder enige tjappies op my lyf en kyk nou na my gesig. ʼn Gesig wat net ʼn ma kan liefhê. Vir tien jaar het ek gaan mang vir ʼn ander ou se sondes. Hy het na sy derra toe gehardloop en my geframe. So, vir wat kom die wraak my nie toe nie?”

     Hy kyk na die kring gesigte. Sien hoe die bloed uit Roger se gesig dreineer terwyl die regter effens steier. “Is dít die teken waarvoor jy gebid het en waarvoor julle uurglas leeggeloop het?         Ek is hier vir die waarheid en wil in die teenwoordigheid van julle almal en van God vir julle vertel van die dag toe die judge en sy seun my lewe verwoes het.

     “Moenie dink ek trust julle kerkmense nie, moenie dink ek en my verhaal gaan soos Eskom in die donker wegraak nie.” Hy gee die judge ʼn skuins kyk.

     Die judge swaai sy arms rond. “Dis ʼn klomp bog dié. Dis –”

     Tony snork. “Ek het geweet jy sal my probeer swak maak. Ek weet ook van die versteekte kluis in jou slaapkamer waar jy die bewyse al tien jaar lank wegsteek.”

     Roger bal sy vuiste. “Jou nommergemors! Jy moes in die tronk gevrot het!”

     “Jy moet laaste praat van ‘gemors’,” snou Tony, “en besides, ek het net jou kooi warm gehou. Ek kan al sien hoe maak die nommers ʼn wifey van jou, sorg jy maar dat jy genoeg Vaseline saamvat.”

     Die regter tree nader. Sak dan steunend inmekaar op ’n stoel met sy kop op sy hand.

     Tony stap tot voor Roger. “Hou maar jou pangakyke vir die mang. Ek is ashes.” Hy druk sy wysvinger teen die man se borskas. “Jou nommer is op, jy sing een van die dae ʼn nuwe ‘nommertjie’ in die tronk.”

     “Ons het geld en konneksies,” sê Roger smalend, “en dit maak alles reg. Ja, ek het dwelms aan skoolkinders verkoop, maar vir wie gaan die wet glo?”

     "Dalk dit?" Tony lig die klein recording device uit wat aan ’n leertoutjie om sy nek hang. “O ja,” voeg hy by, asof iets hom skielik te binne skiet, en haak af met ʼn moewiese hou onder die man se ken wat hom tussen die stoele in laat steier.

     “En dit?” vra een van die ander mans terwyl hy orentkom en Roger ophelp. “Was dit nodig? Hy’t dan alles erken.”

     “Vir wat ek moes deurmaak, is dit die minste.”

     “En wat nou, Tiger?” vra die man, dreigend. “Gaan jy nou jou naam skoonmaak?”

     Terwyl hy uitstap, sê Tony oor sy skouer: “Dit sal niks baat met ʼn gesig vuil van die tjappies nie. Maar as daar een wens is in die tyd wat ek nog oorhet, dan is dit om my dogtertjie beter te leer ken.” 


Ruiltog

Zilla Schoeman

 

Die skoon bladsy terg, die muis se swart stertjie tart saam met die getik van die horlosie op die boekrak. Drie dae. Drie dae en ek het niks, nie eens ’n flou poging tot versagtende omstandighede nie. Vas. Soos ’n rot in ’n doolhof. Heen en weer sonder om êrens te kom.

     Ek kort lug, ’n ander uitsig as die helderwit skerm. Ek kort inspirasie, of iets dekadents of onwettigs — enige uitweg solank dit my kop aan die werk kry, daar moet woorde op die papier kom en dringend.

     Buite is dit nog donker. Sagte reën kleef aan my jas en sypel deur die dik lap soos ek aanstap. Op teen die bult, in die verte die buitelyne van die grys klipkasteel, altyd my bestemming as ek nie meer weet waarheen nou nie. Kil swiep die wind om die hoë mure toe ek die kasteel se terrein binnestap, en ek sak dieper in my woljas weg.

     “Kan ek help?” ’n Warm stem glip teen die mistige trappe af.

     Die drie doodgewone woorde is bedwelmend ... waar waaksaamheid moes wees, het 'n  onverskillige nuuskierigheid posgevat en stu my teen die trappe op.

      “Watse hulp sou ek nodig hê?” Voet op die tweede trap.

     “Met daardie drang.” Nog drie karamelwarm woorde.

     "Min kon al daarmee help ...” Halfpad.

     “Ek weet.” Die woorde wink.

     Van êrens anders as hier trek ’n lied my teen die laaste trappe op. Ek kan nie anders nie, ek moet saamsing. Ek gee die laaste paar treë voor ek oplos in die mistige arms wat om my krul, en in die grys oggend gee ek my mond oor sonder struweling, sonder stry.

     Ure later drentel ek teen die trappe af, ’n euforiese trans het beheer geneem van my ledemate, ek is vasgevang in ’n nes van idees, my kop druis: woorde, sinne, prente, plekke, karakters, alles bo-oor mekaar. Ek moet voor die rekenaar kom, ek moet pluis aan die stringe tot die drade lê waar hulle moet.

     Die iMac se skerm flikker begeesterend en ek begin werk, my vingers word vlinders oor ’n woordepoel, dip, dip, tik, tik oor die wit toetse. Vir amper ’n uur werk ek, bladsy na bladsy, en soos die woorde vorm kry so oorval ’n diep moegheid my. Ek staar na die reëls op die skerm tot dit rye swart spikkels word.  Stry is nie ’n opsie nie, ek gee oor aan die sluimerende skadu's en die donkerte sluk my idees in.

     ’n Laaste gedagte beur teen die slaap: Het passie ’n prys, het inspirasie?

     Weer en weer gaan ek die kasteel binne, op met die klam trappe, terug in die mis tot in die warm hande, my eie smeltkroes vol idees. Vier romans in net soveel jare, my sintaksis ’n sensasie, my dramatiese veroudering ’n onrustige murmeling onder diegene wat omgee. Party probeer die stukke dwing om te pas, maar niemand verstaan nie: dit is nie ’n legkaart nie, dis ’n ruiltransaksie.

     Geboei aan die muse in die mis verruil ek lewensduur vir kreatiwiteit, ’n borrelende fontein waar ek bly drink en met gulsige hande skep en sluk. ’n Fatale prys. Een wat ek nimmereindigend betaal en betaal en betaal. 


Afspraak met Dieter

Zuzette Dippenaar

 

Lillie is vroeg, die lykswa en stoet het nog nie opgedaag nie. Dit is ’n sonnige lenteoggend en sy lig haar gesig en asem die vars lug in, sy voel vry en ’n bietjie rooi en roekeloos, soos gereflekteer in haar keuse van rok en handsak, haar oorlogsklere in geval van konfrontasie. Met wie ook al.

            Vandag begrawe hulle haar eks, of amper-eks. Hendrik sou haar eks gewees het as hy nie tydens die rondetafelsamesprekings aan ’n salmbroodjie verstik het nie.

            “Hendrik,” het sy gesê “al wat ek uit die egskeiding wil hê, is Dieter. Al is ons binne gemeenskap van goedere getroud, is dit al waarvoor ek vra. Ek het hom by die teler uitgekies, hom na hondjieskool en latere afrigting geneem, hy is my skaduwee.

            “Nee,” het hy gesê. Pront. Net so.

            “Nee ... hoekom nee? Jy hou nie eens van diere nie,” het sy teruggekap.

            “Ek het Dieter gister by die Dierebeskermingsvereniging afgelaai.”

            In haar geestesoog sien Lillie hoe Hendrik, ná die gewraakte woorde, twee driehoekies optel en vermakerig in sy mond prop.

            Toe verstik hy.

            Lillie het net gestaar terwyl die twee prokureurs onhandig probeer het om die Heimlich-maneuver op hom toe te pas terwyl Hendrik blouer en blouer in die gesig word. Al waaraan sy kon dink, terwyl Hendrik se oë wou uitpeul, was dat sy haar hond kon gaan haal. Niemand en niks kan haar nou keer nie.

            Motordeure wat toeklap, bring haar terug na die hede. Begrafnisgangers neem hul plek in langs die graf, somber, soos te verwagte wanneer ’n jongmens buitentyds sterf. Die begrafnisrede is ’n uitgerekte proses, maar dit plaas nie ’n demper op Lillie se gemoedstoestand nie.

            Uiteindelik bereik die plegtigheid die punt waar elkeen ’n blom of ’n bietjie grond op die kis kan laat val. Asof in ’n droom knip sy haar handsak oop. ’n Silwer flessie kom te voorskyn. Sy draai die proppie af en tree vorentoe, gooi die inhoud uit oor die kis ... en niemand sê enigiets nie. Nie eens toe die reuk van brandstof die lug vul nie. Kalm bêre Lillie die flessie en haal ’n silwer Zippo uit haar sak en steek dit aan ... steeds praat of keer niemand nie.

            Ook nie toe sy die Zippo in die graf laat val nie, bo-op op die krans wat die kis soos ’n oordadige troukoek laat lyk. Soos hulle s’n. Destyds.

            Die kis gaan oombliklik in vlamme op.

            Die geknetter van brandende hout, rook en vlamme word vermeng met die uitroepe van begrafnisgangers wat teen mekaar stamp in hulle pogings om van die graf af weg te kom. Iewers hoor sy “wat de f ...” en “is sy mal” en toe is sy weer alleen by die oop graf.

 

            Lillie stryk oor haar rok, plaas haar handsak onder haar arm en stoot haar ken uit. Sy het ’n afspraak by die Dierebeskermingsbereniging. Met Dieter. Hy wag al vir haar. Nou is dit net sy en hy. Hopelik vir altyd. 


Pasmaats

Lieze Kuhn

 

Lana se  maag trek op ʼn knop. Sy verpes die reuk van hospitale en spreekkamers. En nou sit sy hier. Op ’n afgeryde stoel in ’n moeë spreekkamer. En sy kan niemand anders blameer nie. Net haarself. Dis deur haar eie toedoen dat sy in dié penarie beland het. Lana haat haarself. Die dokter het seker al ʼn hele paar bullshitters in sy spreekkamer gesien.

     Drie maande terug het sy met sterre in haar oë stad toe getrek. Die platteland se stof en eentonigheid van haar afgeskud. In die stad sou sy kon blom en pret hê. Nou sit sy hier op ʼn vreemde dokter en wag. Besig om ʼn rugpyn te lieg terwyl haar oë soek na die sieknotaboekie op die lessenaar.                                             

     Hoe kan sy vir hierdie man vertel van haar eensaamheid? Van die opwindende werk wat toe eintlik bloot vervelig en aanhoudend is. Van elke dag se “dieselfde” wees. Saans sit sy in haar bedompige losieskamer en wonder oor die glinsterliggies. Wáár is dit? Hoe moet sy maak om dit te beleef?

     Hoe kan sy vir hom vertel van die depressie wat haar smôrens vasdruk op die bed. Dae aanmekaar. Sodat sy skaars haar kop kan lig. Die vorige keer het haar baas haar ʼn finale waarskuwing gegee. Volgende keer soek hy ʼn geldige sieknota of anders.                                              Sy is al klaar weer twee dae van die werk af. Wat gaan sy vir haar ouers sê as sy afgedank word? Hulle dink dit gaan goed met haar.                           

     “Kom sit vir ons op die bed sodat ons ’n bietjie kan kyk wat met jou seer rug aangaan.”

     Lana skrik. Haar gedagtes was glad nie by die man voor haar nie. Waarmee was hy besig terwyl sy voor hom gesit en dink het? Met ’n effense hink stap sy nader. Gaan sit met ’n ligte kreun op die kant van die dun matras. Hopelik sal dit die dokter oortuig van haar ongemak.          

     “Hmm. Lê plat. Draai vir ons op jou sy. Lig jou linkerbeen effens op. Enige ongemak?” Die dokter kyk haar ondersoekend aan.                                                                  

     Lana sluk. “Ja, dis nogal seer as ek my been oplig.” Haar ma het altyd gesê as jy kan lieg, kan jy steel ook. Die twee is pasmaats.                                                    

     Terug by die lessenaar kyk die dokter eers weer op nadat hy iets op sy notaboek gekrabbel het. “Ek sien geen rede om jou af te boek nie. Dis maar net ʼn spier wat effens verrek is. Sal ek vir jou iets voorskryf vir die pyn?”

     Lana voel die paniek in haar opstoot. Sy kort ʼn sieknota. Moet sy hom vra?        

     ʼn Sagte klop aan die spreekkamer se deur onderbreek hulle kriptiese gesprek. Die ontvangsdame fluister iets en Lieze hoor “pasiënt by ontvangs” en “dringend”.         

     Die dokter kug verskonend. “Ek is nou-nou terug.”                                        

     Die oomblik toe hy uitstap, skeur Lana die boonste blaadjie met bewende hande uit die sieknotaboekie. Vinnig steek sy dit in haar handsak. Nou moet sy kalm bly. Haar hart klop klaar te vinnig.

      “Goed waar was ons?” Die dokter krabbel iets onleesbaars op die voorskrifblaadjie en gee dit aan. “Teen môre is jy weer piekfyn.”

     Lana glimlag floutjies. Hoekom voel sy nie eens skuldig nie? Het sy klaar so laag gedaal? Wat beteken “pasmaats” nou eintlik? Net lieg en steel? Of sou sy ook kon moor?

     Dalk moet sy  uitvind. Waar sal sy begin?


Diamante in die oë

Andriëtte Otto

 

Dawid Schmidt sit diep ingedagte en lees die hoofartikels in die daaglikse koerant, waarna hy na die ekonomiese vooruitsigte blaai. ’n Beweging, amper ’n soort skaduwee, trek sy aandag en hy kyk op.

     Die tafel in die hoek is effens weggesteek en skemerig. Daar sit ’n beeldskone vrou, so reg uit ’n tydskrif, wat openlik na hom staar. Haar skitterende oë neem syne gevange. Dit roer iets binne hom. Iets wat hy nog nooit voorheen ervaar het nie.

     Hy dwing homself om weg te kyk en eet sy middagete vinniger as gewoonlik. Sy hande bewe wanneer hy sy koffiebeker optel. Die verdomde vroumens het ’n soort magiese uitwerking op hom.

     Hy betrap homself dat hy kort-kort opkyk en na haar staar.

     Hy sit regopper toe sy meteens opstaan en reguit na hom stap. Die volgende oomblik gly haar voet en sy struikel. Met een beweging kom hy orent en raap haar in sy arms op. Hulle oë ontmoet. Sy is nog mooier as wat hy gedink het. Die sagte reuk van parfuum wat in sy neus opwel help nie, en alles binne hom bewe.

     “Dankie, dit was amper.” Met ’n sagte stem en ’n deurdringende kyk in haar oë maak sy haarself los uit sy arms.

     Hy word soos ’n poedeltjie agter haar aangetrek tot haar lenige liggaam om die hoek verdwyn.

     Dawid, ruk jou reg, jy is ’n verloofde man, herinner hy homself.

     Terug by die kantoor sukkel hy om op sy werk te konsentreer. Hy probeer sy gedagtes wegskeur van daardie skitterblink oë en die lenige liggaam wat tog so sag was in sy arms.

     “Dawid, Aarde na Dawid, kom in, Dawid!”

     Hy ruk orent.

     “Sjoe, sy moes die moeite gewees het om jou so te laat drool.”

     “Ek dink net hoe ek ’n kliënt gaan help met sy belasting.”

     “Dit moet omtrent ’n dinamiese kliënt wees om jou so droomverlore bo die wolke te laat sweef.”

     Dawid maak ’n ergerlike handbeweging. Tog bly een woord hom by: dinamies. Dit groei en vervorm: dinamies dinamiet diamant.

    Vanaand is aandete by sy aanstaande skoonouers om die bruilof te bespreek. Skoonma neem altyd oor, so dit gaan maar ’n vervelige aandjie wees. Dit laat sy gedagtes ander draaie gooi. Hy laai Janette op en hulle ry in stilte na haar ouerhuis.

     “Alles reg, Dawid?”

     “Ja, hoekom vra jy?”

     “Jy is stil vanaand.”

     “Rowwe dag by die werk gewees.”

     “Ai tog.”

     Toe hy stilhou, hou hy die motordeur vir haar oop. “Gaan jy solank in, ek moet net gou ’n oproep maak.”

     Hy haal die papiertjie met die telefoonnommer wat die skoonheid met die oë in sy hand gedruk het uit sy broeksak. Sal hy bel?

 

Die ete verloop nes hy verwag het. Terwyl blomme, venues en alles wat daarmee gepaardgaan, bespreek word, dwaal sy gedagtes na die gebeure van die dag.

     Waar kom die vrou vandaan? Sy was nog nie voorheen in die restaurantjie nie. Hy wil haar weer sien. Moet haar weer sien.

     Na ete sê Janette beskuldigend: “Jy het glad nie deelgeneem aan die reëlings nie. Wat makeer jou? Dit is ons troue en ek wou hê jy moet deel wees van die beplanning.”

     “Jammer, maar ek het ‘n kliënt wat in die moeilkheid is en ek dink aan maniere om hom te help.”

     Dit is Vrydag en die naweek lê voor. Hy gaan vanoggend bietjie vroeër werk toe, sodat hy dalk vanmiddag nog ‘n potjie gholf kan inkry. Wat ‘n heerlike voortuitsig. Hy bly so om en by drie blokke van die werk af en soos gewoonlik stap hy werk toe.

     By die hoek waar die skoonheid verdwyn het, staan ’n swart limousine geparkeer. Sy hart begin wild bons. ’n Deur swaai oop en die soet stem van gister nooi hom binne.

     Haar sagte parfuum maak hom duiselig en hy word in ’n wêreld ingetrek wat hy nog nooit beleef het nie. Hy geniet hierdie erotiese ontdekking. Hier kan hy sy begeertes laat uitwoed. Hoe lank die passie aangehou het, weet hy nie, maar hy soek nog meer.

     Hy word by dieselfde plek afgelaai van waar hulle vertrek het.

     “Sien jou vanmiddag.”

     “Ja, nee, ek kan nie.”

     Voor daar ’n antwoord kan wees, vertrek die voertuig.

     Hy staar dit in ongeloof agterna.

     Met ’n ongekende verwagting sien hy uit na vanmiddag. Nee. Dawid. Jy kan nie, jy staan op trou.

     Halfonwillig, maar ook uitermate opgewonde klim hy daardie middag in die limousine. Hulle ry uit die stad en draai dan op ’n afgeleë paadjie ’n bos in. Oopmond staar hy na die kasarm van ’n huis wat voor hom opdoem.

     Sy verwelkom hom met net die skrapste deurskynende japon aan wat haar perfekte liggaam tergend ten toon stel. Dit word ’n naweek van passie en skuldgevoelens, maar altyd hunkerend na nog.

     Sondagmiddag word hy teruggeneem stad toe en ’n swart leersakkie en ’n koevert in die hand gestop. Gevolg deur hierdie opdrag: “As jy nog wil hê, moet jy die instruksie op die koevert volg. Moet die swart sakkie onder geen omstandighede oopmaak nie.”

     Na weke van aflewerings en nagte van passie, besluit hy om tog in die sakkie te loer, want die aflewerings is gewoonlik by mense wat status en aansien in die samelewing het en dit begin hom pla.

     Met ’n skok besef hy dat hy ingetrek is by ’n netwerk in ongeslypte diamante.Toe hy weier om verder die speletjie te speel word hy een nag langs die hoofweg uit die voertuig gegooi.

     Hy voel soos ’n mislukking. Hy het sy loopbaan en ’n wonderlike verloofde prysgegee vir geld en ’n aantal nagte van passie. Sal Janette hom ooit kan vergewe? Sal sy bereid wees om hierdie beskadigde goedere terug te neem?

     Sou hy?

     Hy staan op, stof sy klere af en begin ryloop huis toe.

     Die tyd sal wel leer.


Die agterdog, die stilte en die byl

JC Alderson

 

Hy koes net betyds en die byl tref die houtwerk sodat die spaanders om hom spat. “Is jy van jou sinne beroof?” skree hy en duik oor die vloer.

     “Jy’s die mal een!” gil sy en baklei ruk-ruk om die byl los te kry. “Jy moenie dink ek weet nie van julle twee nie!”

     “Natasha, asseblief, luister vir my, daar is niemand anders nie.”

     “Twak, man!” spoeg sy dit uit. “Jy kan tog nie heeltyd by die werk of by mammie wees nie.”

     “Ek werk hard, my skat, ek doen dit vir ons,” skerm hy. “Alles wat ek doen, is vir ons. Dis hoekom ek so dikwels laataande werk.”

     Fronsend laat sak sy die byl.

     “Jy sal sien, my skat. Al my harde werk, al die lang ure weg van die huis, dit gaan als die moeite werd wees. Ek gaan daai bevordering kry.” Behoedsaam steek hy sy hand uit. “Hoekom sal ek jou verneuk? Jy is die enigste een vir my. ”

     Sy sak neer op ‘n stoel en die byl gly uit haar hand.

     “Tasha?”

     Sy staar voor haar uit.

     Bewerig vee hy oor sy gesig. Dit was amper. Só kan dit nie aangaan nie. Hy sal iets moet doen. Haar uitbarstings raak erger, gevaarliker. Hy loop kombuis toe, draai halfpad om.

     “Wil jy iets eet? Kan ek vir jou tee maak?”

     Sy skud haar kop.

     Die huis is donker. So ver as wat hy stap, skakel hy ligte aan. Sy skerm flikker, dis ’n boodskap op sy foon.

     Hoe het dit gegaan? Kon jy dit doen?

     Ek het nie eens probeer nie. Sy het weer ’n uitbarsting gehad. Baie erg.

     Jy sal iets móét doen. Dit kan nie so aangaan nie.

     Hy bly ’n antwoord skuldig. Hy besef dit tog te goed. Hy hoef dit nie van ander mense te hoor nie.

 

 

Later die aand help hy haar bad. Soos altyd is sy tam en leweloos ná ’n uitbarsting. Soos ‘n lewensgrootte pop. Sy het gewig verloor en het merke op haar arms. Sou sy haarself sny? Hoekom het hy dit nog nooit opgemerk nie?

 

 

“Hallo, Ma,” groet hy toe sy die deur oopmaak.

     “Ai, Werner, ek is so jammer. Jy moet met haar dokter praat. Sy gaan jou nog ernstig seermaak. Jy kan nie sulke kanse waag nie.”

     “Ek weet, ek weet. Dis net so ‘n moeilike tyd, ek is vrek besig by die werk. Ek kan nie dit ook nog hanteer nie.”

     “Jy kan ook nie bly uitstel nie. Die nuwe medikasie help niks.”

     “Ma is reg. Ek sal môre die dokter bel.”

 

 

“Hi, my skat,” groet hy al soekend in die huis. Hy kry haar waar sy op die bed lê, haar rug na die deur. “Hoekom lê jy so in die donker?”

     “Jy was weer by haar.”

     “My skat, ek sweer, ek was by die werk tot half agt en toe’s ek gou na my ma. Bel haar as jy my nie glo nie. Ek was net vinnig daar aan.”

     “Jou ma sal lieg. Julle altwee lieg. Ek weet.”

     Hy probeer die onderwerp verander. “Is jy honger? Het jy al geeët?”

     Sy antwoord nie.

     “Kom, ek maak vir ons iets om te eet. Kom sit by my.”

 

 

Sy kom uit die donkerte na vore toe die kosreuke die huis vol sweef. Hy skrik toe hy haar sien. Wilde hare, slordig en haar arms het nuwe merke aan. Hy kry haar jammer. Wanneer het als so verkeerd begin gaan? Of was daar altyd fout?

     “Kom sit hier.” Hy trek die stoel uit, sy gaan sit in stilte.

     Later, toe hulle in die bed lê, kan Werner aan haar asemhaling hoor dat sy nog wakker is. Hulle praat nie. Daar is niks om oor te gesels nie. Als gebeur in stilte.

 

 

“Dis Andrew wat praat.”

     “Andrew? Waar’s Werner? Hoekom antwoord hy nie self nie?”

     “Hy’s al ‘n ruk terug hier uit, Natasha. Hy’t gesê hy gaan by sy ma ‘n draai maak.”

     “Hy’s by haar.” Haar stem is doods.

     “Ja, hy’t gesê hy’t nuus vir haar.”

      “Hallo? Hallo?” Sy het die foon doodgedruk. “Weird.” Hy plak die foon neer.

 

 

“O, dis sulke goeie nuus! Ek is so bly vir jou, Werner.” Die skielike gehamer teen die voordeur laat haar fronsend na hom kyk. “Gaan kry gou die deur, ek kan nie nou hier los nie.”

     “Ja, ja, ek kom!” roep hy geïrriteerd terwyl hy na die voordeur stap.

      Sy stamp hom hardhandig teen die muur vas, byl in die hand. “Waar is sy?”

     “Natasha, asseblief.” Hy fluister amper. Nog ’n byl. Waar kom sy daaraan? Sou sy dit koop?

     “Hou jou bek!” spoeg sy. “Ek is gatvol vir jou leuens!”

 

 

“Wat? O, my genugtig!” gil Ruda uit die gang. Sy gryp haar mond met haar hand vas. “Natasha, my skat, dis net ons. Wie anders verwag jy hier?”

     “Sy slet!” Natasha lig die vuis wat om die byl se steel geklem is.

     Vinnig draai Werner om en probeer sy ma terug in die kombuis stoot.

     “Julle altwee lieg vir my!” skreeu Natasha en swaai die byl met ’n ysingwekkende krag. Dit tref sy skedel met ’n dowwe klank.

 

 

Die voordeurklokkie dring skril deur die singende stilte in die huis. Kalm maak sy die deur oop. Haar oë beweeg outomaties van die bebloede gesig na die druppende lem. In doodse stilte neem sy die toneel waar, dan swaai sy om en haar gil bars oor die besige straat. 


Verduistering

Liesl Bekker

 

Sy het ’n blinde obsessie met oë. “Jy sien iemand se karakter in sy kyk, my blue-eyed boy.” Was seker verblind deur die liefde toe sy Pa se listige karakter in sy optiese verraaiers moes bespeur het.

     Elke oggend voor die venster doen sy ’n oogdruppeltango met daardie befaamde spuitbotteltjie wat blinkblou kykers belowe. Dit staan permanent op die kombuis se vensterbank, en ’n glashelder kiekie in die splinters van my onthou, is daai roetine voor die venster met haar oë wyd oopgesper soos ’n perd wat slangpis geruik het.

     Helder, skynende oë vir ’n uitsiglose lewe.

     En hier lê sy nou in die hospitaal met verbande om haar kop. Gister se “fratsongeluk”. Ek probeer die “smaail van my smoel vee”, soos Pa my altyd toegesnou het, maar die ironiese grinnik bly pluk aan my mondhoeke. Ek kan vir Safyr Bleu ’n nuwe slagspreuk stuur: Less bleu, more safyr.

     Oëverblindery in ’n botteltjie.

     Sy het my altyd blindelings opgehemel. In haar oë kon ek niks verkeerd doen nie. Selfs toe ek Milo se babakatjies versuip het, het sy vertel dit was per ongeluk. Haar blindheidhet vererger wanneer my ou toppie gesuip was en ons roekeloos rondgepluk het. Hy het altyd met haar begin, ’n voorspelbare patroon wat sy nie kon insien nie. Waarvan sy nie kon of wou ontsnap nie. Hoe blind was sy nie? Ek was vyf en kon sy boelie-en-moer-resep lees, sy was vyf-en-dertig en kon nie.

     Wou nie.

     ‘n Mens kon dadelik in sy oë sien of dit ’n Bacchus-en-Thordag sou wees. Hy het by die agterdeur ingekom met sy vals vrolike fluit, ’n jagter wat sy oorgretige honde naderroep. Hy sou die deur toedonder, Ma aangluur en op my skree om sy skoene uit te trek. Dit was moeilik om die veters los te kry terwyl hy ritmies na my skop en op my vingers probeer trap.

     Die skoorsoekery het begin sodra Ma sy dop bring. Eers die beskuldigings en verwyte. Hoe verslons sy is, hoe sy hoereer, hoeke slegte ma sy is. Waansinnige lagbuie tussen die geskel deur. Tussendeur raps hy na haar met die vadoek, met sy vurk, sy lighter. Die lomp rapse bou stadigaan op tot sekuur gemikte houe met sy belt. Die ketel se koord. Sy vuiste. ’n Bord kos wat ’n muur of die vloer bevlek saam met my pis en Ma se kots. Ma se kruiperige stroperigheid ’n frank smaak in my mond.

     Soms het hy haar kamer toe gesleep. Haar gesig ’n gapende, klanklose gat, oë smekend op my. Dan het ek nie gesien wat hy doen nie, net gehoor. Maar meesal het hy haar voor my op haar plek sit. As sy nie gehuil of gesmeek het nie, sou hy na my mik. Dadelik sou sy dan van rat verwissel, van smekende pateet na tierende viswyf. Net wat hy wou hê.

     Maar sy het hom nie gelos nie. Ons nie gered nie. Ek moes maar self ’n plan maak.

Dit was na my en Pa se skietongeluk verlede jaar dat ek begin vassit het. Vas. Soos ’n rot in ’n doolhof. Soos ’n beer in ’n traliehok. Elke donnerse cliché waaraan jy kan dink. Vasgevang in haar versmorende web.

     Sewentien, met geen privaatheid of vryheid nie. Daardie blou oë wat elke beweging volg, liefde van my afsmeek, my in gretige bewondering verdrink. Glo alles wat ek sê, wil alles weet, wil alles van my hê. Sluip agter my aan, hang voor my kamerdeur, krap in my laaie, my broeksakke. Betrap haar nou die dag wragtag met my foon in haar hande.

     Sy is op my, om my. Daar is nie plek vir my eie skaduwee nie. Kan steeds niks vir haarself doen nie. Elke dag is daar ’n nuwe probleem wat ek moet hanteer. “Klim vir Mamma op die dak en maak die geute skoon. Sny die gras vir Mamma. Gee Milo kos. Sit ’n nuwe gloeilamp in.”

     “Mamma-mamma-mamma” asof ek vyf jaar oud is.

     Gister moes ek die onkruid in die plaveisel wegtoor. Ek het op die internet gelees wat om te doen: Jik in ’n spuitbotteltjie sou werk. Die Safyr Bleu-botteltjie met sy skerp tuitbekkie was perfek.

     Dis toe net so.

     Die onkruid is weg. So ook my verblinde bewaker.


’n Brief aan my jonger self

Maderyn Roets

 

My liewe jonger self, daar is soveel dinge wat ek wens ek vroegtydig vir jou kon sê of teen waarsku. Jy was so naïef, het so in jou droomwêreldjie geleef. Die lag het altyd iewers in jou keel geborrel. Jy was vol hoop en verwagtings. As ek nou daaraan dink, dan besef ek dit was ’n goeie ding. Sonder hoop gaan staan die lewe stil en gaan alles in jou dood.

            Jy moes dalk ’n kind gebly het. Hulle glo altyd die beste van mense, sien altyd die goeie raak. Dalk moes jy nooit eens getrou het nie?

            Heidi in die berge. Jou ontnugtering was grooy, aangesien jou droomman in ’n UFO gekom het. Oupa en Peter het gesê hy moet ’n alien spesie wees, hulle verstaan nie sy taal nie, nie eens sy lyftaal nie.

            Onthou jy die sorgelose vryheid van die berge? Die bokke se geblêr? Die ure wat jy by die rivier op ’n klip sit en droom het? Waterstrome het jou siel gevoed. Voëltjies het in jou ore gefluister. Sagte sand was onder jou voete. Honger drome het vlak in jou oë gelê.

Waar verlaat jy die goeie, regte pad vir die slegte, verkeerde pad? Waar was die padbordjies, waarop moes staan: “geluk hierdie kant” of “pasop, gevaar daardie kant”? Waar het vreugde en verwagtings in verwyte verander? Waar het jy verdwaal en jouself verloor?

            Jy besef meteens dat kaas en melk alleen jou nie sou kon voed nie. Jy besef dat net goeie mense in jou lewe jou nie sou kon voorberei op die stad nie. Die berge het van jou ’n dromer gemaak. Die stad het jou by Jesus se voete gebring.

            Jy besef meteens dat Heidi nie weg is nie. Sy sal altyd daar wees. Altyd lus kry vir kaas en melk. Altyd geneig wees om die voëltjies se gesing bo die geraas van mensestemme te hoor. Die enigste verskil is: Heidi het ’n kompas gekry. Die pad is nou soveel duideliker. Sy gaan steeds verkeerde afdraaie vat, maar sy sal betyds omdraai en weer op die regte pad kom. Die geur van dennenaalde sal haar altyd herinner aan wie sy is. Sy en Peter sal weer lag terwyl die berge op hulle skitter.


Agt-en-tagtig en agter tralies

Kleinmonder

 

In my kop probeer ek die skade bereken van hierdie grendeltyd vir ons ma, ouma en oumagrootjie. En ek praat allermins oor geld. As geskenk kry sy vandag ’n geïsoleerde agt-en-tagtigste verjaarsdag agter tralies. Oor die selfoon hoor ek die emosie in haar antwoord toe ek vra hoe dit gaan. “Ag, ek sit net, die verpleegster het gevra of ek ’n entjie in die gang af wil stap, ek het gesê nee dankie, nie vandag nie.”

Sy is verswak en kan net met hulp ’n paar treetjies loop. Sy bring haar dae in haar rolstoel deur. Sy is nog helder van verstand, maar vasgevang in haar rolstoel. Vir afleiding brei sy pragtige truie wat die agterkleinkinders met trots dra. Haar breiwerk is modern en kleurvol volgens elkeen se eie voorkeur.

Ek weet vandag dink sy aan laasjaar dié tyd. Soos ons almal. Dis vir die hele familie swaar. Sy is al ma en ouma wat ons en ons kinders oorhet. 2019 het ons haar ’n paar dae voor haar verjaarsdag gaan haal en Kleinmond toe gebring vir ’n paar dae se saamkuier. Die Sondag voor haar verjaarsdag het ons ’n familie-ete gehou sodat al die werkendes ook kon by wees.

Haar regte verjaarsdag het sy herdenk saam met ons en ons vriende, wat nou ook haar vriende is. Die oorvol koektafel en die gelag en gesels het lewe laat opklink in die oorvol vertrek. Geen moeite was te veel nie. Haar gunstelingeetgoed is gemaak, want sy het dit voorheen self met liefde vir ons almal gedoen. Ek onthou hoe uitgeput en tevrede sy die aand voor slaaptyd was toe sy die dag se gebeure herbeleef het. Sy het ook dadelik die volgende maand se kuierdatum vasgemaak. Geen “uitnaweek”, soos sy dit noem, word oorgeslaan nie. Hierdie uitsien na die volgende kuier hou haar aan die gang. Sy tel letterlik die dae af tot die volgende keer. Nou het sy dit al drie keer gemis.

Ek het geen twyfel wat haar keuse vir vandag sou wees nie, indien sy nog vryheid van keuse gehad het. Sy sou die vryheid en liefde van haar familie verkies het bo die geïsoleerde omstandighede agter maskers, tralies en ontsettingsmiddels.

Dan kom die vraag by my op: Het enige mens se vooruitbeplanning al ooit die noodlot uitoorlê? Gaan hierdie geskarrel nie net tot groot sielkundige wanbalanse lei nie?

Met slegs die negatiewe televisievoorspellings oor korona waarna die bejaardes in hulle hokkies sit en kyk, gaan hopeloosheid nie hulle gees knak nie? My hart breek by die besef dat sommiges hul laaste asem in eensaamheid gaan uitblaas, sonder kinders, kleinkinders en agterkleinkinders wat ’n laaste keer hul bed omring om hulle te eer en te groet. Dit is tog wat hulle verdien nadat hulle als moontlik vir hulle families gedoen en opgeoffer het.

Hoe voel ’n mens as jy nie daardie een mens wat regtig saakmaak en waarvan jy net een per leeftyd kry, kan groet nie?

Ek klem my foon geskok vas en kyk na die foto wat ek pas ontvang het. My broer was by die bejaardesorgsentrum met geskenke van ons almal. Die foto is deur die omheining geneem met haar rolstoel tot by die toegelate rooi streep agter die tralies getrek. Haar oë lyk moeg, die swaarkry en eensaamheid praat met die kamera. Die lyfie sit krom met ’n hekelkombersie op haar skoot. Ingehok soos ’n gevangene. Die beeld word ingebrand in my hart en siel. Ek ken haar nie so nie. Sy kry swaar, bitter swaar. Sy is ’n mense-mens. Ek lees my broer se boodskap. Ek moet gaan sit om my emosies te verwerk. Ma kry swaar, dis hartverskeurend  om haar so te sien.

 

 Ek bid saggies. Mag die Vader haar bewaar. Mag ons asseblief mekaar weer sien. Hierdie verjaarsdag moet óór gedoen word. Mag die Vader gee dat kosbare ure nie uitloop soos die sand in ’n uurglas nie. Here, wees met my ma en ons kosbare, eensame bejaardes.           


Kratte, koeëls en Skoonmakers

Jaco van der Merwe

 

WENNER van Skryfgeheime se Covid-19-skryfkompetisie

 

1

 

Die helikopter vlieg laag. Om my klinkel alles wat van glas is. Paniek gryp my maag vas. Het ek verslaap? Ek swets. Die horlosie op die bedkassie sê dis amper 7-uur. Dankie tog vir Pa se ou opwenhorlosie. Die krag is reeds langer as twee maande af. Die helikopter is vroeg. 

 

2

 

Hardloopskoene. Sweetpak waarin ek geslaap het. Pet op my olierige hare – miskien is daar vandag sjampoe. Rugsak. Koevoet. Oranje geverfde steel. Dit het al my lewe gered.

Ek sluit die deur. Ek wil nie weer probleme hê met my terugkeer nie. Vinnig.

Oor die muur. Die teerpad is skoon (van mense). Die paar voertuie wat agtergelaat is, is lankal gestroop. Geen Skoonmakers nie.

Goed.

            Ek hardloop oor die pad. Die hospitaal is vyf blokke weg. So vêr.

Te vêr.

            Die helikopter draai terug. Ek weet ek gaan dit nie maak nie.

            Desperaatheid druk my. Ek kan nie bekostig om weer voorraad te mis nie.

 

3

 

Die omheining van die hospitaal is gesaghebbend. Ek stoot deur ’n gaping waar ’n ambulans (ironies) daarin vasgery het. Ek moet steeds om die gebou hardloop om by die helikopterstrook te kom. Die vlieënier gebruik gewoonlik eerder die H op die teerblad as die X op sy kaart.

By die hoek van die gebou steek ek vas. Verken die omgewing. Die krat het oopgebreek met die valslag. Niemand in die omgewing nie. Kan dit wees? Geen tyd om te dink nie. Met niemand in sig, moet ek BEWEEG!

Op my knieë langs die krat. Blikkies. Bottels. Mediese sakkies. Ek prop alles wat ek raakvat in die rugsak. Alle bietjies help.

Die slag teen my skouer gooi my van my voete af. Ek rol. Vinnig weer op my voete. Gelukkig het my aanvaller nie ’n goeie oog nie en die hou is nie verlammend nie. Of teen die kop nie. Die koevoet is steeds in my hand toe ek orent kom. As ek dit verloor, is dit verby. My rugsak bly in die slag. Ten spyte van die omstandighede is dit waarna my blik eerste soek. (So naby.)

Twee. ’n Meisie in haar tienerjare. Donker hare in ’n ponie. ’n Man, bietjie ouer. Boyfriend? Albei in jeans en T-hemde. Hy het ’n krieketkolf in die een hand. Windmakerig. Die meisie hou ’n slagtersmes met twee hande vas. Lomp. Onseker. Ten spyte van haar gedugte wapen is die man die gevaarlike een.

Ek lig my hande effens op, die koevoet steeds in ’n stewige greep. “Daar is genoeg vir almal,” sê ek stadig. Nie vriendelik nie, dis fataal om te laat blyk dat jy nie domineer nie. “Help julleself. Gee net my rugsak vir my.” Ek behoort genoeg te hê om my aan die gang te hou vir ’n ruk.

Die man kyk met ’n skewe glimlag na die meisie. “Ek dink nie so nie. Boet.”

My moed gaan kuier in my skoene. John Wick hier voor my wil die meisie beïndruk. En sy eie vrees verdoesel. Ek weet. Ek voel dieselfde.

 

4

 

Dis ses maande nadat die behandeling vir die COVID-19-virus ’n nuwe stam veroorsaak het. ’n Dodeliker een. Bekend aan die publiek en sosiale media (voel so lank terug) as COVID-Z. Z vir zombies, natuurlik. Ons maak mos grappies van alles.

Ek het seker vier maande laas met iemand gepraat. Die paar mense wat nog hier rond is, kruip weg. Sosiale afstandhouding het sy merk gelos. Net die bendes beweeg vryelik rond tussen die sones wat die regering afdwing.

 

Twee probleme tans:

Dít is nie my sone nie. Ek bly aan die grens van Alberton (sone 141). Dit beteken dat ek nie toegang het tot die voorraad kratte wat ongeveer elke twee weke gestort word nie.

Die meisie is regtig mooi.

En John Wick voor my weet dit. Hy gee my daardie kyk: hy wil sy alfastatus behou.

Ek kyk vinnig rond. “Ons het nie baie tyd nie.”

            “Bang?” vra John sarkasties. Ek sien hoe hy punte aanteken in sy kop.

“Die Rooi gaan nou hier wees.”

John is skielik onseker. “Jy is Rooi?”

“Nee.”

             Verligting gee hom moed. “Dan beter jy hardloop.” 

             Ek bly staan. Die rugsak is belangriker. Die oorlewingsdrang kom eerste. Natuurlik maak dit die situasie moeiliker. Vir hom. Duidelik is die oorlewingsdrang en die seksdrang in ’n stryd gewikkel. Hy sal moontlik argumenteer dit gaan eintlik oor die meisie wat hy moet beskerm.

Ek frons asof ek dit oorweeg. Dan: “Nee.”

 

5

 

Die krieketkolf is lomper as die koevoet. Twee hande om ’n slagtersmes vergoed nie vir ’n gebrek aan krag of ervaring nie. Ek het geen dergelike tekortkominge nie. Stap in en swaai. Die koevoet tref hom tussen die skouer en die nek. Sy bene vou onder hom in. ’n Hou skrams teen sy kop laat hom op die teerblad agter. Hy staar na my, lig een hand in oorgawe. My aandag is op die meisie. Haar oë dans tussen ons, die mes vergete.

“Help hom.”

Ek beweeg stadig na my rugsak. Die mes kletter op die grond. Sy hurk langs John. ’n Gevoel van tevredenheid vergesel my huis toe. Die rugsak sit swaar en stewig teen my rug. 

 

6

 

Die uitjouery van die bende galm oor die afstand. Ek is reeds veilig in my sone. Bykans tuis. Het kos. Selfs ekstra voorraad wat my lewe die volgende klompie weke gaan vergemaklik. Ek het alles wat ek wil hê.

  

7

 

Ek is geen held nie – inteendeel. Ek gee ook nie veel om vir John Wick nie. Of wat sy naam ook al is. Stupid kry wat stupid verdien. Maar die meisie. 

               As die Rooi haar sou beetkry.

               Ek los die rugsak teen ’n grensmuur met die hoop dat dit daar sal bly. Hardloop.

  

8

 

Vyf mans. Almal met rooi bandannas om die arm, been of kop. Ek het nie eens nodig om Metal Gear op hulle te gaan nie, hulle is net bewus van ’n bebloede John (nie nét my toedoen nie) en die meisie met die oopgeskeurde T-hemp. Rûe op my gekeer. 

               Hierdie keer mik ek sekuur.

               Twee lê op die grond voor hulle oor die aanvanklike skok kan kom. Ek kry nog twee rakelingse houe in, toe word my voete onder my uitgeskop. Die koevoet word weggeslinger. ’n Hou in die gesig stuur my grond toe. Die Rooi sirkel om my. Beurtelingse skoppe in die sy. Bobeen. Rug. Ek skerm net vir my kop.

               Miskien het ek gehoop John Wick sou my bystaan. Of die meisie.

               Ek word orent gesleep tussen twee van die Rooi. Die derde lig my kop aan die hare. Hy wil hê ek moet sien. My oë volg die doelgerigte ophef van sy panga. Die koue gevoel in my bors vertel my dit is die einde. Alles is verby. Geen flitse van my lewe nie. Net klaar.

Skaamteloos gee ek in toe die donkerte my omvou. Donderweer klap. Verskeie kere.

 

9

 

’n Warm hand teen my gesig. Realiteit dring deur tot my.

            Die meisie. Die mes. Ek skarrel weg en beland met my rug teen die krat. Sy is vaalverskrik. Ek volg haar blik. Drie mense. Moeilik om die geslag te bepaal onder die hazmat-pakke. Een rig ’n AK-47 op ons terwyl die res die omgewing dek.

Skoonmakers.

            Ons is nou moontlik in nog groter moeilikheid as netnou. Hulle is van die min mense wat nog gewapen is ná die Groot Oproer en Ontwapening. Hulle beweeg wettiglik in die sones rond. Het lyke weggeneem aan die begin van die tweede pandemie. Nou dien hulle as selfaangestelde opsigters.

Die oorlewende Rooi het klaarblyklik besluit om ander weivelde te soek. Ek probeer onsuksesvol om nie na die vier lyke te staar nie. Selfs die twee wat ek platgeslaan het, spog elk met ’n kopskoot. Die leier van die Skoonmakers bekyk die situasie ’n oomblik, krap in die krat en haal ’n ses-pak gebottelde water uit. Sonder ’n woord stap hulle terug na hulle vragmotor.

Niemand het gevra om ons Sone-boekies te sien nie. Waarom?

 

10

 

Stilte.

            Skok.

            Langsamerhand staan ek op, my blus uit vir die dag.

            “Kyk na julleself.” Ek gee John Wick ’n knik. “Moenie stupid wees nie.”

“Luister.” John staan op. Oorweeg sy woorde. “As ons siek was, sou ons mekaar al aangesteek het.”       

Ek wag. Hy en die meisie verwissel ’n blik en kom stilswyend tot ’n besluit. Nie so seker of ek daarvan gaan hou nie.

“Chris Morkellaan 48.” Haar eerste woorde vandag.

Ek reageer nie.

“Ons het ’n groot huis. Baie plek. Kragopwekker.” Sy beduie na die krat. “Ons kan nog iemand bekostig.”

Ek oorweeg die aanbod. Steek my hand uit. “Klink na ’n plan.”  

            Vertrou ek hulle? Nie vir ’n oomblik nie. Kan hulle my vertrou? Nie so seker nie.


Covid-19-beoordeling:

Download
COVID 19-inskrywings.docx
Microsoft Word Document 21.7 KB

’n Edele saak

Carien Punt

 

Vas. Soos ’n rot in ’n doolhof. Soos ’n beer in ’n traliehok. Elke cliché waaraan hy kan dink. Vas. Die enigste wegkomplek uit die steeg agter die kunsgalery lê vyf meter anderkant die pistool voor hom.

            Bernard was so seker dat hy nie hierheen gevolg is nie én dat hy die alarm ordentlik gedeaktiveer het. Terwyl hy die afstand tussen hom en die pistool meet, wonder hy hoe Speurder Fourie geweet het om hom juis onder hierdie venster in te wag.   

Met een beweging skop hy na die pistool, koes vir ’n moontlike koeël en stamp die speurder uit die pad uit. Hy vorder net ’n paar treë, toe word hy aan sy jas se kraag van sy voete af geruk. Die plaveisel skok deur sy heup en elmboog.

            Die speurder los sy kraag, die pistool se loop teen sy wangbeen. “Staan op en stap aan sodat ons kan gaan kyk wat jy daar onder jou jas vasknyp.”

            “Wat bedoel jy?”

            “Meneer van Greunen, moenie my intelligensie onderskat nie. Ek vermoed al maande lank dis jy wat jou pa se kunswerke steel. Daardie donasies aan jou welsynsorganisasie is nie skenkings nie, dis betalings. Al doen jy ’n verkeerde ding vir ’n edele rede, bly dit verkeerd.”

            Bernard onderdruk ’n glimlag. So die speurder dink hy is Gert. Hy is dus steeds een tree voor. As hy net kan wegkom voor Fourie sy balaklawa afruk. ’n Fisiese kragmeting met hierdie blok van ’n man is ’n totaal ander storie, veral as die enigste pistool op die toneel in die verkeerde hande is.

            “Jy weet hoe suinig hy is. Dink jy nie dis sy verdiende loon nie?” vra hy in ’n poging om tyd te wen.

            ’n Voet in die rug stoot hom vorentoe. “Staan op.”

            Die los klip boor in sy ribbes in. Sy regterhand brand toe hy dit vasvat. Dis die ideale grootte. Hy maak asof hy probeer opstaan. Vorder tot op sy knieë.

            “Ek kan nie. My heup is te seer.”

            Die speurder pluk hom aan sy arm op. Hy is nie seker waar die pistool se loop nou is nie. Nie dat dit saak maak nie. Met die orentkomslag swaai hy sy regterarm opwaarts. Sy vuis tref Fourie se neus. Die pistool val kletterend by sy voete. Fourie knak swetsend met sy hande voor sy gesig gevou. Bernard se lyf volg sy arm. Met al sy krag plant hy nog ’n hou teen die kant van die speurder se kop. Toe hardloop hy.


Pannekoeksmous

Elna Klackers

 

“Praat van die duiwel – daar kom sy.” Charlotte maak of sy uit haar leë koffiebeker drink. Sis oor die rand: “O hel, kyk wat het sy aan haar arm, al weer ’n mandjie pannekoeke.” Sy het net nie die tyd of die geduld om vandag weer pannekoeke te smous nie. Dis eksamentyd, die papierwerk lê opgestapel en wag.

          Terwyl juffrou Tina vinnig uitstap, plaas mevrou Langley kordaat die mandjie met sy kosbare inhoud op Charlotte se lessenaar. “Wees ʼn engel en verkoop vir ons die ou paar pannekoekies. Dis ten bate van ons tehuis.”

          Charlotte is sprakeloos. Dis kwart voor twaalf. Die klok het reeds gelui vir kort pouse en hier moet sy nou veertig pannekoeke van die hand sit. Die personeel hou nie van ʼn gesmous in die personeelkamer nie. Hulle bring ook nooit geld vir verkope nie.

          Maar mevrou Langley is nie iemand vir wie jy sommer ignoreer nie en spoedig draf Charlotte na die personeelkamer met die mandjie oor haar arm. Sy soebat en gee die vergunning dat die geld die volgende dag kan kom.

          Juffrou Marie neem veertien, want sy kry kuiergaste, sy tel dit af en vou dit toe in drie skoon velle toebroodjiepapier. Juffrou Ria neem tien en sukkel om die stapel in tikpapier toe te draai.

          Charlotte maak ’n lysie van die uitstaande skuld. Pannekoekdag susksesvol afgehandel. Wonderlik!

          Terug in haar kantoor wag oom Herman haar in. “Hier is vir jou ʼn klompie pannekoeke om te verkoop,” sê hy selfvoldaan en sit twee stomende roomysbakke op haar lessenaar neer. “Daar is twintig in elke bak, dis veertig in totaal.”

          Charlotte verduidelik dat sy pas met ʼn gesukkel veertig pannekoeke verkoop het en dat pouse reeds verby is – maar oom Herman trek al by die deur uit om sy volgende bestelling af te lewer.

          Twee ouers kom binne. Sy oortuig hulle om van die pannekoeke te koop, en neem self twee. Hulle eet so staan-staan. Haar oë bly bekommerd op die orige pannekoeke. Instinktief neem sy nog een.

          Steeds met bollende kieste sien sy Mevrou Langley het wéér voor die skool stilgehou. Sy druk vinnig die halfgeëete pannekoek agter die telefoon en ’n klompie papiere in.

          Mevrou Langley is verleë. Sy verduidelik sy kom haal net gou daardie bak met die pannekoeke, dit was Rekare Mills se bestelling.

          Charlotte stotter dat sy nou ʼn groot probleem het, want “die personeel” het hulle so vergryp dat sy alreeds sewe van die laaste veertig verkoop het.

          Mevrou Langley is ontsteld. Hoe gaan sy dit verduidelik? Waar gaan sy nou nog sewe pannekoeke kry? Onthuts stap sy uit met haar onvolledige Rekara Mills-bestelling.

          Charlotte het skaars haar halwe pannekoek agter die telefoon uitgehaal, toe die foon lui. Dis Anna Jerling van die landdroskantoor. Sy het gehoor Charlotte het nog ʼn hele mandjie vol pannekoeke.

          Charlotte verduidelik: “Het gehad … dis op, gedaan, niks oor nie.” 

          Maar Anna hou vol. Op die een of ander manier het die landdros nie sy vyf pannekoeke gekry nie. Kan Charlotte ʼn plan maak?

          Kán sy ’n plan maak! Sy onthou: Juffrou Marie het veertien geneem. Sy kan sekerlik ʼn pakkie van vyf afstaan?

          Die tydsberekening is egter nie reg om jufrou Marie van haar proviand te ontneem nie. Sy het die graad sewes vir kuns en hulle is woelig. Juffrou Marie tel ʼn pakkie van vyf op en probeer kennelik flinkdink hoe sy die res tussen haar gaste gaan verdeel. Die kinders woel en die juffrou is van stryk. Die volgende oomblik gryp sy die hele stapel en skree op Charlotte: “Vat al die pannekoeke en neuk uit my klas uit, ek kan nie ʼn honderd dinge gelyk doen nie!”

          Charlotte steier terug kantoor toe. Bel vir Anna: “Ja, ek het ʼn plan gemaak. Ja, ek kon vir jou vyf pannekoeke kry. Ja, ek sal dit vir sy dogter gee om vir haar pa huis toe te neem. Dit was ʼn plesier, ek help graag.”

          Hier sit sy nou wrintie met nog nege. Maar sy kan mos ’n plan maak. Rustig eet sy nog vyf van juffrou Marie se pannekoeke en stuur ’n briefie vir juffrou Ria: “Ek moes nou vyf eet om vir jou die leë bakkie en sakkie te kan gee.”

          Nou net vier oor. Sy sal dit maar vir manlief huis toe neem. Die skoolklok lui sy laaste lui en ʼn leerder kom in met ʼn briefie van Juffrou Ria af: “Baie dankie! Jy is ʼn groot, vet, engel.”

          Terwyl Charlotte nog oor die boodskap glimlag, verskyn juffrou Marie blaas-blaas in die deur: “Waar is my orige nege pannekoeke?”


Druppende kerswas

Lettie du Preez

 

Die son brand genadeloos op die kaal landerye. Die leivoor nog net ’n modderstroompie.           As dit net wil reën.

     Dawid kom vandag huis toe. Die myne ’n uitkoms teen die droogte. Die plaas versorg sy alleen. Kort na Ma se dood is hulle getroud. Die aantreklike myner en sy, die oujongnooi. Vandag het sy groot nuus vir Dawid. En dit op vier en dertig.

     Hy is laat. Die koffieketel suis op die koolstoof, die aandete staan gereed in die oond. Die kerse op die witgewaste houttafel gooi spookbeelde teen die muur. Sy het al hoeveel keer oor die onderdeur padaf gekyk.

     Die blakers is reeds vol druppende kerswas toe die Fordjie stilhou. Skielik staan hy daar, ’n deurvol met ’n huilende bondel op die arm, die kind angstig klouend, die groot man verleë. “Vat hier, asseblief, ek kan nie meer nie.”

     Asof sy nou kan.

     Die kleintjie bedaar effens. “Wie s’n is dit?”

     “Kom ons maak hom eers aan die slaap, dan praat ons.”

     Vermoedens maak haar bors benoud, sy moet uitkom. Vars lug inasem. Beheer neem oor iets. Sy sal die Fordjie in die waenhuis trek, dan wen sy ook tyd. Met die baba in een arm op haar skoot, laat rus sy haar kop ’n oomblik teen die stuurwiel.

     Dawid was nog altyd ’n rokjagter.

     Sy wens, onprakties, dat sy met die Fordjie die pad kan vat, maar waarheen? Sy het wel standerd agt gemaak, maar waar eindig die meisies in die stad? ’n Kelnerin in ’n derderangse kafee of in ’n klerefabriek waar jy nie jou kop mag optel nie.

     Sy maak die waenhuis toe en deur haar trane sis sy: “Die bliksem. Hoe kon hy?” Spoeg dan bitter: “Hierdie oujongnooi het darem ’n plaas gehad.”

     Dawid sit by die kombuistafel met sy kop op sy hande. An ken hom, hy gaan die blaam op haar pak. Dis ook net so. “Weet jy, An, ek kom elke tweede week huis toe en dan is jy afsydig, hoe moet ek jou verstaan?”

    “Ja, Dawid.”

     “Na my skofte speel ek gewoonlik darts in die kroeg daar in Mayfair, eensaam, weet jy. Die kroegmeisie was mooi en vriendelik, gewillig. Nou wil sy die kind nie meer hê nie.”

     An se hart spat uiteen. 

     Die baba slaap in die spaarkamer, sy gaan sit op die rand van die bed. Staar na hom. Saam met die sonsopkoms kom daar klaarheid. Sy sal hier bly op háár plaas en die kind hou, anders sal hy in die weeshuis beland. Sy sal hulle sáám grootmaak.

     Dawid se beskuldiging dat sy afsydig is in die slaapkamer dra gewig. Toe sy dertien was, het ’n kakie haar verkrag. Net Ma en Ousus het geweet. Ousus is dood in die kamp. “Ons bly stil, anders behandel mense jou of jy melaats is, my kind.”

     Die stilte ten spyt was die Engelsman maar altyd daar. Ook in die slaapkamer tussen haar en Dawid. Sal dit help om hom van die Engelsman te vertel? Sal hy verstaan of sal hy haar ook sien as tweedehands, melaats?

     Hoe sal sy dit oordra?

     “Sien, Dawid, dit is hoekom ek huil. Hoekom ek vir almal vertel watter hel dit was om met die oop beestrok van Krugersdorp tot in Merebank te ry. Almal dink ek kan nie klaarmaak met die oorlog nie, maar ek huil oor die Engelsman se suur asem. Verstaan jy dit?”

     Sy vertel hom nie, want die flêrrie staan nou saam met die Engelsman tussen hulle. 


Oliver die held

Cornelia Claasen

 

Oliver die varkie bly by oom Alex en tannie René op ʼn hoewe. Hy het sy eie bed met ’n wit muskietnet. Saans lees tannie René vir hom stories.

     Elke dag ry Oliver saam met oom Alex voor in die bakkie rond. Elkeen het ʼn veiligheidsgordel aan. Op die vloer lê altyd ʼn klomp leë meelsakke. Oom Alex steek sy geldsakkie daaronder weg. Vandag ry hulle dorp toe en stop voor die Spar.

     Oom Alex haal ’n paar rand uit sy geldsakkie. “Ek gaan net gou ’n paar klein goedjies kry, Oliver,” sê hy. “Pas die bakkie mooi op.”

     Oliver gee ’n snork, krul hom op en raak aan die slaap.

     Kwarra!

     Die ruit aan oom Alex se kant spat aan stukke. ’n Baksteen beland op die sitplek. Van skrik val Oliver op die bakkie se vloer en kruip in ’n meelsak. Skielik roer iets tussen die meelsakke en ’n hand raak aan Oliver. Oliver skree en kom snork-snork orent.

     "Help, 'n spook!" skree die dief en hol gillend weg.

     Oom Alex kom aangehardloop bakkie toe. “Oliver, is alles reg?” roep hy. ʼn Snorkende wit gedaante staan op die bakkie se voorste sitplek. “Oliver, is dit jy?”

     Oliver klouter nies-nies uit die meelsak.

     Oom Alex vryf Oliver se kop en sê: “Jy is my held! Ek is so trots op jou! Jy het die dief verjaag en my geldsakkie is veilig!”

     Daardie aand word Oliver bederf met ʼn heerlike bord boontjiebredie afgerond met ’n bakkie sagopoeding. Daarna raak hy dadelik aan die slaap op sy bed met die wit muskietnet. 

     Die volgende dag verskyn Oliver se foto in die dorspkoerant met “Held” boaan geskryf.


Die draadkar

Wilmarie Myburgh

 

Met sy oorflaphoed en vellies aan loop hy met die stofpad langs. Sy lippe vibreer soos hy enjingeluide vir sy bewegende voertuig maak, ’n draadkar wat voor hom uit loop.

     “Emile!”

     Hy gaan staan en kyk op. ’n Glimlag kruip oor sy gesig.

     “Wys my bietjie wat jy daar het.”

     “Dis ’n stroper, meneer.”

     “’n Massey Ferguson?”

     “Nee, meneer. ’n Claas. Soos meneer s’n.”

     Hannes tree van die winkelstoepie af. “Mag ek?” Hy tel die Claas op en bekyk dit. “A, ek sien. Netjies.”

    Emile glimlag skaam-ingenome. Nog twee draadkarre verskyn van agter die hoenderhok oorkant die plaaswinkel en kom brullend nader.

     “Is dit ook joune?” Hannes beduie met sy ken en Emile knik. “En waarheen is julle op pad?" vra hy.

    “Na my vriend toe, meneer.”

    Hannes bekyk die wiegende draadvoertuie. “Twee lorries gelaai met ’n trekker, ’n stroper, ’n planter en nog ander plaasimplemente. Dis groot geld dié, manne.”     

     “My vriend se plaas is groot, meneer. En daar is ’n stoor dat ons die goete kan toesluit.”

     Hannes speel saam. Die kind se verbeelding ken geen perke nie, en dan is hy nog

talentvol daarby. “En waar is jou vriend se plaas?”

     “Ertjieskloof, meneer.”

     “Dis ver, jong. Stap julle al die pad tot daar?”

     “Nee, meneer,” Emile glimlag skeef, “ons ry. Tot siens, meneer.” Die stroper dreun

en kom in beweging, aangejaag deur die trilling van die drywer se lippe.

     Dis nie die eerste of die laaste keer dat Emile op plaaswinkeldag kom wys wat hy nou weer gemaak het nie. Saans, wanneer die son agter die Heuningberg inkruip, sien Hannes hom gereeld langs sy nuutste projek, waar hy elke boog en kurwe met draad vasvang.  


Niemandshoop se sonskynkind

Valencia Mackenzie

 

Op die stoep voor die tweevertrekhuis by Leliestraat 20, sit Kelly-Jane Beukes, Niemandshoop se sonskynkind, en Willemien Bitterbos, alombekend as Mientjie, boesemvriendinne sedert hulle kinderjare, elk met ʼn brousel moerkoffie in die hand.

     “Mientjie vandag sit ons weer hier onder onse boom, waar ons soveel drome

geskep en afgebreek het. Jy wou ʼn Kaapse kleremaakster word en ek ʼn wêreldbekroonde musikant. Maar hier is ons nou terug by punt 0.”

     “Tjomma, jy kan darem nog iets doen. Ek is ʼn halwe mens afhanklik van

ander se hulp. Slegs my hande is bruikbaar. Die dokter van die bene dink soos my zallie dat ek het ekspressie.” 

     “Mientjie, my mens, jou ma fabriseer nog altyd haar eie woorde. Depressie is

nou ‘ekspressie’. Op ’n ander noot, hoor jy nog van Niklaas?”

     Mientjie sê niks en Kelly-Jane kyk haar stip aan. Sy weet Niklaas bring ʼn wrang smaak in haar vriendin se mond. Vrees. Angs. En ʼn knop op haar maag. Mientjie se kinders se pa, maar

ook die buffel wat haar aangerand en vir dood agtergelaat het. Sal sy ooit regtig kan liefhê?

     “Ai, Mientjie,” probeer Kelly-Jane troos, “ek onthou so goed toe jy my meegedeel het ‘Kelly-Jane, ek het ʼn outjie.’ In my enigheid het ek gedink wat jy nogal waar kry? En meisa, jy was brekkerig, ‘Niklaas September’ het jy selfvoldaan geantwoord. ‘Allemapstieks, Mientjie! Daai groot ou wat altyd op die hoek van die straat staan met sy broekspype wat sleep asof hy die strate vee?’ het ek nog gevra.”

     Mientjie laat sak haar kop. “Kelly-Jane, ek was met ʼn versnellende hartklop verby my tone verlief op Niklaas September. Ek het vir die eerste keer gevoel iemand is lief vir my soos ek is, maar ons sogenaamde liefde was gebou op vernedering. Wat het ek geweet wat liefde is?

     “Een klap. Een vloekwoord. Het gou veelvoudige klappe en vloekwoorde

geword. Net goed vir een ding. Seks. Verder dom, arm en goed vir niks. Ek was ingekatrol. Magteloos. Vas. Die poppemeester van smarte was die baas van my plaas. Ek kon nie die kloutjie by die oor bring oor die liefde nie.”

     “Mientjie.”

     “As die zallie my winkel toe stuur, het hy altyd geroep: Pssst, meisie met die lekker bene. Jy’s gebou om te hou! Koop daar ʼn chappie? Hoe lyk dit tussen my en jou?”

     “Plaas jy het gesê, bepaal jou oë by jou sake! Die bene van my kry ek by my maker. Perfek geskape vir hom!”

     “Ek was ʼn vaak pastei op skool, Kelly-Jane. Flink dink was nie een van my

sterkpunte nie. Hy’t belowe hy sou by my staan, deur dik en dun. Ek het gedink dis liefde, maar kyk waar is ek nou, stoksielalleen, met min om aan vas te klou.”

     “Ai, Mientjie, ek weet weer wat dit is om liefde te ervaar. Ek het beskutte liefde ervaar by ouma Trina en oupa Piet. Ek, die resultaat van ʼn glipsie, waar my biologiese ouers nie kans gesien het vir ’n bondeltjie vreugde nie. Ek het bevraagteken wie ek is en waar ek vandaan kom. Dit het my gevolg soos ʼn skadu, ek was oormatig selfbewus. Onbepland. Ongewens. Onseker. Onregverdig. Maar daai grysaards het my aanvaar en aangespoor tot meer.”

     “Ek wens ek het dit gehad, Kelly-Jane, dis iets groots.”

     Kelly-Jane glimlag. Ouma Trina se woorde is steeds ʼn refrein in haar lewe: “Droom, my sonskynkind, droom, dis die sleutel tot liefde en geluk.” En tog kon sy “die liefde” nie vind nie. Maar sy het wel die liefde van haar vriendin. En die vasklou aan die herinneringe. Iets groots? Beslis.


Andrea staan op eie bene

Lettie du Preez

Andrea sit by die kombuistafel. Sy is nie besonder mooi nie, maar sy is goed versorg. Soos 'n pakkie kleurpotlode wat nog nooit gebruik is nie. Die weelderige huis is stil, alleen. Gister was die huis deurmekaar, besig.

John het vanoggend op ’n sakereis na Duitsland vertrek. Sy verlang klaar na hom. Hy bederf haar, sorg dat sy haar oor niks hoef te bekommer nie. Kort na sy vertrek het Anna ’n boodskap gekry dat haar dogter in kraam is. Haar eerste kleinkind. Sy is haastig hier uit. Opgewonde, bly oor die gebeure.

Die twee mense wat alles vir haar gerieflik maak, is nie vandag hier nie.

Nee, sy gaan nie heeldag in die stil huis deurbring nie. Sy gaan die skoonheidsalon besoek wat sy ’n paar weke gelede ontdek het. Dis op ’n gasteplaas net buite die stad geleë. Dis altyd besig daar, en sy het mense om haar nodig.

Kort daarna is sy netjies gekleed in wit, koel klere en slanke haksandale, gereed vir ’n lekker bederfdag. Langs die pad hou sy stil en koop ’n koeldrank by ’n motorhawe. Daar is net twee winkels. Dit sien sy op die geroeste advertensiebord waarop net die woorde Handelshuis en Bottle Store die aanslag  van wind en weer kon oorleef.

Andrea gaan sit in die motor, koeldrank in die hand. Meteens staan daar ’n man asof van nêrens af by haar oop venster. Van skrik is sy sommer ergerlik vir die vuil ouman wat so na binne loer. Hy buk en ’n suur drankreuk slaan haar asem weg. Hy stap weg met die laaste kleingeld wat in haar beursie was.

Die salon is ’n indrukwekkende wit gebou teen die berghang. Andrea sien uit na die bederfie en stap vrolik in. Haastig is sy nie, niemand wag tuis vir haar nie.

Terwyl die masseuse die alleenheid uit haar lyf knie, begin haar gedagtes hulle loop kry. Sy wil graag meer dinge vir haarself doen. Sy weet hoe werk die internet, Google en Facebook, maar John wil haar nie toelaat om haar banksake op die internet doen nie. Hy gee haar ’n groot toelaag en haar eie bankkaart en reken dis genoeg.

Andrea voel ontspanne, die behandeling is verby, sy moet nog net betaal, dan kan sy die pad aanpak huis toe. Sy krap in haar handsak rond en haal haar bankkaart uit haar beursie. Sy pons die pinkode in. “Transaction unsuccessful”. Sy probeer weer en dieselfde boodskap verskyn.

Die kassiere kyk haar agterdogtig aan, bekyk dan die kaart noukeurig en beterweterig. “Mevrou, jou kaart het verval.”

Andrea staar na die silwergroen kaartjie tussen haar vingers. Wat het gebeur? Hóé het dit gebeur? Sy het nie eens geweet kredietkaarte het vervaldatums nie. John kyk mos na dié sleurtake. Wat ’n verleentheid! Al mens aan wie sy kan dink wat sal kan help, is haar skoolvriendin, Bets, ’n alleenouer met drie kinders. Andrea weet dis baie gevra, dankie, dankie, Bets.

Verneder verlaat sy die salon en voel beter toe sy in haar gerieflike BMW klim. Nou reguit huis voor die donkerte haar vang. Môre vroeg moet sy bank toe sodat sy vir Bets kan terugbetaal.

Die motorhawe waar sy vanoggend koeldrank gekoop het, kom in sig. Dis al effens skemer en die stadsliggies flikker hier en daar in die verte. Skielik gee haar motor ’n hik en ’n sug en steek vas. Ag nee! Sy probeer weer en weer om die onwillige yster aan die gang te kry maar sonder enige sukses. Sy voel bang en na aan trane. Gelukkig is dit afdraande en sy laat die motor vry loop tot amper by die motorhawe.

Toe die voertuig tot stilstand stotter, soek sy haar selfoon. Gelukkig kan sy om hulp bel. Die oomblik toe sy die foon aanskakel, verskyn ’n vlugtige boodskap: “Battery low”. Sy baklei met die selfoon. “Wat se ‘battery low’ is dit? Jy’s pap, morspap!” Gewoonlik sorg Anna vir die herlaaideel, maar gister was ’n haastige dag.

Andrea kyk rond, die omgewing is donker en verlate.

Iemand klop aan die ruit en dieselfde oompie van vroeër loer na binne. Sy verduidelik en hy luister. Met ’n grootse poging kry hulle die motor nader aan die motorhawe. Hier is ten minste ’n petroljoggie aan diens. Sy leen sy foon en maak ’n oproep. Weer vir Bets vra, skaamkwaad.

“Bets, kan jy dalkies ’n Über reël?”

Bets bel na ’n rukkie terug, dit sal oor ’n halfuur daar wees.

Hoe lank is ’n halfuur, ’n halwe leeftyd?

Die oompie nooi haar om saam met hom op die stoeptrap te wag. Die winkels se geslote deure lyk onvriendelik in die donker, net die petroljoggie en die oompie vir geselskap. Gelate gaan sit sy op die trap. Van daar af sal sy ten minste sien wanneer die Über stilhou.

Die oompie het ’n plastieksak by hom met drie bottels bier daarin. Asof hy ’n geheim met haar deel, haal hy twee uit en bied haar een aan. Sy het nog nooit eintlik ’n bier gedrink nie. Huiwerig vat sy ’n sluk. Dan ’n paar slukke. Gou voel sy beter, ontspanne.

Die oom se naam is Piet. Waar bly oom, wat eet oom? Nee kind, klipsop en bier. Meer vrymoedig. Wat maak oom hier? Vrou is dood. Alleen aangesukkel om ons meisiekind groot te kry en toe die oordosis slaappille. Haar liggaam slap en leweloos. Daarna was die lewe sonder sin.

Sy verstaan.

Hulle deel die derde bier. Versigtig gooi hy die helfte in haar leë bottel. Hy lag tandloos en praat vertroulik. “Net nie mors nie, dis kosbaar.”

Andrea lag saam.

Die dag se gebeure vervaag en Andrea voel goed, beter as na die salonbederfie. Sy giggel en teug  aan die bier. Lekker. Bevredigend. Die wit langbroek is vuil van die stoepsit. Die slanke haksandale het sy aanmekaar geknoop en dit hang om haar nek. Oom Piet ruik nie meer so sleg nie.

Die Über hou stil. Die halfuur het verbygevlieg. Onvas stap sy met oom Piet se hulp na die wagtende motor. Sy skuif in op die agtersitplek en maak dadelik die ruit oop om tot siens te sê vir haar nuwe vriende.

Die motor trek weg, sy het nog die bierbottel in haar hand. Sy vat ’n groot sluk, dan hang sy halflyf by die venster uit: “Baai, oom Piet, ek bring more jou empty terug!”

Andrea voel sielsalig. Sy het sonder John en Anna reggekom. Sy het nuwe vriende gemaak. Van môre af kan sy op haar eie bene staan. Net vanaand kan sy nie.      

 

  


Die regte berading

Marlene Muller

 

Moenie my toggie vra waar kom ek aan die hond nie. Hy’t ook sy trots. En ’n pedigree. Of dalk liewerster ’n verlede. Ons het mos almal ons verledes. Sommiges net minder goed as andere s’n.

          Ek ken nie sy verlede nie.  Hy’s eintlik ’n misverstand. Nie wie ons gedink het nie. Sien, die antie wat ek daar in die verre Richtersveld vir my gevat het vir ’n ma-besigheid, sy’t siek geword. Bietjie skielik. Kaapse hospitaal toe. Toe loop kyk ons of dit nog okay is op die plaas. En of die rowers nog nie die hele plek weggedra het nie.

          Daar staan die sakkie bene toe vir ons en kyk. Sy oge vertel ’n storie.

          My hart gee so ’n draaisteek in my bors. Laat ek daai nag nie ’n oog kan toemaak nie. Next dag treiter ek my medemens oor die dingetjie. “Hoe sal ons antie voel as sy moet weet haar hondjie is so verwaarloos en uitgehonger?” So speel ek op sy gevoelens.

          Op lange laas, om my gekerm te stop, ry ons Sondagnamiddag uit plaas toe. Maar hond se kind is, in Namakwalandse taal, vloor. Medemens soek. Ek soek. Later gooi ons tou op en begin die terugtog. Maar stadig. Kyk-kyk.

          Gelukkig het my medemens mos ver-sien-oge. En doer in die randjies gewaar hy die gedingste.  Ek wis toe nog nie hy’t hom gesien nie. Toe hy uitklim en begin wegstap, dink ek: “Gonna, nou’t ek die man skoon uit sy eie bakkie uit geriteer.” Maar toe gewaar ek hy kom met die hondjie aangestap. Dié is ook nie links nie:. Grrrr … grrrrr … njarrrr … njarrrrrrr …

          “Genade, mens sal nie dink so ’n asempie kan so knorrig wees nie,” blaas Medemens, kammakwaai. Maar ek sien hy het tog ’n gevoeltetjie.

          “Kyk net hoe vlooibesmet en vaal van die stof is dié hondstront,” stoom hy voort terwyl hy die ellendige sakkie beentjies in ’n boksie agterop die bakkie laai. “Jy moet net nie dink ek gaan my met hom bemoei nie. Dis nie my tipe nie.”

          Ek is net bly hondstront is veilig op die bakkie, en steur my min aan Medemens se geknor. Die gediertetjie daar agter op die bakkie draai nie eens sy kop om ons te bekyk nie. Net sy oge. Laat die wit so wys. “Sommer ’n verwytende kyk,” mor Medemens. Ek kan sien hy beskou hondstront as kompetisie.

          Tuis word die gediertetjie versorg. Gepoeier en met dip gepaint. Kos gegee. En ’n pedigree naam. “Katinkels,” besluit Lastborn. En eien die brak vir hom toe. Ek sê hom dis die antie op Swartwater s’n, ons sien maar net na hom om terwyl sy in die hospitaal is.

          Na ’n paar weke lyk hy beter. Maar sy status bly onbekend. Ook sy verlede. Want toe ons die antie vertel hoe mooi ons haar hondjie versorg het, en lat ons hom aan haar wil terugbesorg, moet ons hoor dis toe nie hare nie. Ridder van die Grootpad dus. Wat ons onder ’n wanindruk versorg het. En hy laat hom dit onder protes welgeval: Grrrr … njarrrrr … njarrrr.

          En nou’t ons klaar geheg geraak aan die ding-tingeling. Hy word maar saam met die trek ingepak. En is nou ook ’n Dorpie-naar.

          So word ek gereeld gevra waar kry ek die brak. Asof hy nie gevoelentes het nie. Asof hy nie ’n sielkundige knoutjie kan opdoen nie. Maar ek glo daar’s hoop. Met die regte berading kan hy dalk nog ’n ware hond word. Gee kans.       


Swart spieël

Annatjie de Bruyn

 

Petra stamp die deur oop, laat val ’n lêer op Jason se lessenaar. “Maak dit oop. Maak dit oop!  Ek daag jou uit om dit oop te maak.” Sy giggel skril. “Weet net dat niks weer dieselfde sal wees nie.” 

     Jason se kop ruk op. “Wat gaan aan, vrou? Waarvan praat jy?”

     “Maak dit net oop.”

     Jason trek die lêer nader. Wat kan dit tog wees? Is Petra vandag weer net onnodig moeilik? Hy maak dit oop en begin daardeur blaai. Sy oë rek. Hy probeer sy asemhaling beheer. Waar kom Petra aan die goed? Hy kyk op.

     Die beskuldigings vlieg uit haar mond. “Moenie maak asof jy dit nog nooit gesien het nie, jy’t dit dan heel gemaklik in die motorhuis weggesteek!”

     Haar stem is so skril dat Jason terugdeins. “Petra, ek het geen idee waar dit vandaan kom nie!” Hy sluk swaar. “Waar kry jy dit?”

     “In die motorhuis agter die trommel wat jou pa laasweek hier aangebring het, waar anders?”

     “Maar Petra, ek was nog nie weer in die motorhuis nie! My kar het ek juis onder die boom parkeer ingeval ek vinnig iewers heen moet ry. Dis die eerste keer dat ek hierdie – dossier – sien!”

     Sy staar na hom. “Wie het dit dan daar gesit?”

     Jason blaai verder, dit raak al hoe vreemder, dis inligting wat hulle nie eens onder oë mag kry nie, wat nog te sê in hulle besit hê. Hy skud sy kop. “My pa was die laaste een daarbinne. Hy’t gesê hy wil die trommel net bêre, hy’t nie hulp nodig nie.”

     “En jy’t jy nie eens gaan kyk wat daarin is nie?”

     Jason vee oor sy oë. “Nee. Vir wat?”

     Hy staan op en kies koers na die motorhuis. Druk die afstandbeheerder toe hy nog ’n entweg is sodat dit solank kan oopgaan. Hierdie hele trommelbesigheid is vreemd. Hy stap in en sit die lêer op die BMW se kap neer. Draai die geroeste sleutel. Lig die deksel op en wil lag toe hy die inhoud sien. Tel die boonste laag swart kledingstukke op. Staar na die inhoud tot die waarheid tot hom deurdring.

     Petra kom staan langs hom. “Jason, is dit wat ek dink dit is?”

     “Ja.” Dis al wat hy kan uitkry. Voor hom is die bewysstukke wat jare gelede uit die plaaslike polisiestasie verdwyn het, waar sy pa ’n speurder was. Dit het alles net weggeraak. Sy pá het dit laat wegraak. Want hy was die spieëlmoordenaar.


Sonbesie

Rachelle Best

 

“Oom, asseblief, kan Oom dit afhaal?” Sy vra mooi. “Ek en my boetie het gespeel, Oom, en hy’t dit per ongeluk toegedruk. Ons weet nie waar die sleutels is nie, Oom.”

      Sy praat so vinnig hy kan skaars hoor wat sy sê. Hy het nie eens gesien waar sy vandaan kom nie. Dis asof sy uit die stof verskyn het. “Kom laat ek sien, kind,” sê hy.

      Sy loer op na sy gesig, kyk dadelik weer weg. Sy een wenkbrou lig effens en hy skud sy kop. Wat sou die meisiekind in sy gesig gesien het? Waarvoor is sy so bang?

      Sy strek haar stokkie-arms na hom toe uit.

     “Dit lyk seer. Wanneer het dit gebeur?” vra hy. Die geskarrel in die werkswinkel agter hom vervaag in die agtergrond. Die hitte tril oorverdowend in die stilte.

     “Sommer net-nou-net, Oom, toe ons gespeel het. My ma gaan amper by die huis wees van die werk af. Ons gaan in vreeslike moeilikheid wees, Oom.”

     Sy kyk weer weg.

     “Sy’t gesê ons mag nie met die goed speel as sy nie by die huis is nie. Sy sê dit kan seermaak. En sy’s reg, Oom, dis seer.”

     Haar versigtigheid vir die waarheid steek hom. Sy hou weer haar hande uit na hom en hy hoef nie te vra om te weet dis nie ’n speel-speel ongeluk nie. Die metaal sny tot in haar vel en die bloed syfer plek-plek deur die pers kolle waar dit al ’n wyle teen die beentjies in haar gewrigte druk. Hy kyk vlugtig na haar, skat sy’s omtrent vyf, dieselfde as Lila. Net maerder. En vuiler. Ou vuil.

     “Waar bly jy?” probeer hy uitvis.

     “Net hier naby, Oom, nie ver nie.  Ek het sommer oorgestap. My boetie sê hier’s altyd mense.” Sy gee geen detail weg nie.

     Hy kyk rond sonder om te lyk of hy te veel belangstel en gaan haal dan sy gereedskapskas. Sy trap senuagtig rond, asof sy iemand of iets verwag.

     “Is jy alleen hier?” probeer hy weer.

     “Ja, Oom, maar my boetie is by die huis. My ma sal my mos nooit alleen los nie.” Sy kyk vir die eerste keer reguit in sy oë, asof sy hom wil dwing om haar te glo.

     Dis nie sommer speelgoed nie, dis van harde metaal. Hy krap rond tussen sy gereedskap en haal die boutsnyer uit. Hy sal versigtig moes wees. Daar is nie veel speling tussen die metaal en haar vel nie.

     “Nee, Oom!” skrik-sê sy en pluk haar armpies weg toe hy naderkom met die groot stuk gereedskap in die hand. “Oom kan nie dit afsny nie. My ma sal raas as die goed iets oorkom.”

     Wat gaan aan by daardie huis, wonder hy, maar hy wil haar nie laat skrik met nog vrae nie. “Kom nader, meisiekind, kom ons probeer dan eerder die slot oopmaak. Dit gaan net langer vat, reg?”

     Die trane lê vlak in haar oë. “Oukei, Oom. Dankie, Oom.”

     Hy het ’n bobby-pin hier iewers gehad. Hy krap weer in sy kis. Sy staan nie ’n oomblik stil nie. Dringendheid straal uit haar trippelende lyfie.

     “Aaa, hier’s dit! Ek moes mos al eenkeer self ontsnap, het geweet dit sal weer handig inkom!” Hy knipoog goedig vir haar. Onseker of daar ’n effense glimlag om haar mondhoeke is. Met deernis neem hy haar arms om die slot reg te posisioneer. Karring-karring met die slot. Skuif sy bril reg. “Vervlaks, die goed is beter gemaak as op my dag.”

     Karring-karring. Die slot kliek oop. “Daar’s hy!”

     Sy gryp-vat dit by hom, duidelik bang hy wil dit hou. Toe, sonder ’n woord draai sy om en verdwyn so vinnig soos sy haar verskyning gemaak het.

     Hy wou nog vra wat haar naam is. Sonbesie spring in sy kop, waarom weet hy nie.


Misverstand

Estelle Diederiks

 

“Praat van die duiwel – daar kom sy nou.” Charlotte waai uitbundig. Maak dan of sy uit haar leë wynglas drink. Sis oor die rand: “O, hel, kyk wat het sy aan.”

            Liza soek tussen die ander gaste deur. Sy kan Monica nie miskyk nie, want die gaste maak ’n pad vir haar oop. Sodra sy verby ’n groepie is, beweeg hulle hande na hulle monde, en dan agter die gebakte hande, volg duidelik die geskinder.

Liza kyk verlangend of daar ’n uitgang naby is, maar sy gewaar niks nie. Sprakeloos staar sy en Charlotte terwyl Monica op hulle afpyl.

“O, daar’s julle!” klink Monica se helder stem op. Voor hulle tafel steek sy vas en loer oor haar brilraam. “Wat kyk julle my aan asof die kat my ingedra het?”

Charlotte loer na Liza en beduie met haar wenkbroue dat sy met die waarheid na vore moet kom.

 “Nee, jong, jy lyk …” Liza stotter oor haar woorde, soekend na die regte een, “bietjie anders.”

“Hoe bedoel jy 'anders'?” Monica se wenkbroue skiet die lug in.

“Jy’t dan jou pajamas aan!” blaker Liza dit uit.

“Dis mos wat die uitnodiging gesê het!” kom die antwoord.

“Monica,” sê Liza saggies en met klem op elke woord, “daar staan ‘Pajama Drill Party’, dis ’n ooievaarstee vir Hester wat swanger is.”

Monica se gesig val. “Nou wat beteken ‘pajama drill’ dan?” vra sy terwyl sy vir alle praktiese doeleindes onder die tafel in seil.

“Maar net dat Hester een van die dae snags min gaan slaap en kort-kort gaan opstaan. Maar, Monica, het jy nie gesien wat almal aanhet toe jy instap nie?”

“Nee!” Monica loer rond. “Ek was so opgewonde oor my nuwe Victoria’s Secret- stukkie, ek het niks gesien nie. In elk geval, “ sy snuif liggies, “baie van dié cocktail-rokkies lyk ook maar nes lingerie.” ’n Blos verskyn op haar wange. “Ai toggie julle, wat maak ek nou? Hier sit ek, ’n ouvrou met intense haelskade, in ’n rooi nagrokkie tussen ’n klomp statige anties ...”

“Wel,” antwoord Charlotte, “ten minste is ons die onderwerp van bespreking.”

“Ja, oukei, maar dit los nie die gemors op nie.”

Die volgende oomblik staan hy daar. Michael Bezuidenhout, SA ontwerper in Parys onder ’n heel ander naam. Hy kyk strak na Monica, sy gemoed duidelik in ’n eie wêreld van verbeel en skep.

“Hou vas,” sê hy ferm en druk ’n bossie wit rose in Monica se hande. Toe, met geoefende hande, drapeer hy die ligpienk organza-tafelloper om haar skouers met gepaste “ooo”- en “aa”-geluide, en dan weer om die heupe tot waar dit in ’n groot strik op haar sitvlak eindig.

Hy bekyk haar met ’n skewe kop, stap na die tafel waar die geskenkies uitgestal is en kom terug met ’n pienk ‘koos’. Hy plaas dit op haar kop, tel ’n handvol langsteelblomme van die tafel af op en gebruik ’n pienk materiaalservet om dit om die pot vas te bind. ’n Tietbottel met ’n blom in word in haar hand gestop, en toe stoot hy haar  vorentoe.

”Dames, dames! Aandag asseblief!” Almal kyk op met verbasing op hulle gesigte. “Die meeste van julle weet wat op arme Hestertjie wag. Ja, pajama drill is die ding vir jou, poppie. Maar dis nie die einde van die wêreld nie. Maak nie saak hoe moeilik jou taak is nie, omskep dit in iets opwindends,” en hy wys na die opgetofde Monica met ‘koos’ en al op die kop. “Jy hoef nie vaal en uitgeput te lyk nie, koekie. Behou jou humorsin en lewenslus. En as jy voel jy het ’n bietjie woema nodig, skakel my, ek sal jou gou-gou omtower in iets spesiaals.” 

“Baie dankie,” fluister Monica oor en oor, “jy het my lewe gered.” 

             “Jy moet jou man bedank,” fluister hy sodat net ons drie kan hoor, “hy’t glo probeer verduidelik oor die pajamadril-storie, maar jy wou nie luister nie. Hy’t my nommer op die uitnodigingskaartjie gesien en my hulp ingeroep. I love it when a plan comes together, pop!”


Era

Ilse Strydom

 

Op pad terug koshuis toe lui my foon. Ek hoor die dringendheid in Era se stem. “Ilse, daar’s fout met die baba. Hy’s misvorm en het polisitiese niere.” Sy breek af. “Hy – hy gaan moontlik nie lank lewe nie en baie pyn verduur. Die dokter sê ons kan môre aborteer. Wat moet ek dóén?”

     Pretoria se fonteinesirkel verskyn voor my, karre ry verby my, mense staan by die verkeerslig, en ek het nie woorde nie. My gedagtes hardloop: ’n sterwende baba in ondraaglike pyn – of aborteer?

     “Ek weet nie,” hoor ek myself  sê. “Dis iets wat net jy en Jacques kan besluit.”

     “Ons gaan môre hospitaal toe. Ek sien nie kans vir dit nie. Dit moet net weggaan.” Daar is angs in my suster se stem. “Moenie vir Ma sê nie. Sy gaan net haar gebedsvriendinne bel om vir my te bid, én my probeer oortuig om dit nié te doen nie. Ek gaan net vir Pa sê, hy sal verstaan. Dan gaan ek my foon afsit tot alles verby is.”

     Die volgende dag kry ek weer ’n oproep. “Ilse, ek’s okay, die operasie het goed verloop. Ek moet nog ’n paar dae in die hospitaal bly. Ma weet nou, sy is woedend. Praat asseblief met haar, ek kan nie nou met haar deal nie.”

    Wat sê jy vir iemand wat ’n baba geaborteer het? Sy het dit tog nie gedoen omdat sy die baba nie wou hê nie, sy wou hom net die pyn spaar. Hoe troos ek haar?

 

Ek sien hoe my suster agteruitgaan, minder lag, minder gesels, minder uit die huis gaan. Vier maande later kry ons die wonderlike nuus. Era is weer swanger! Groot is die opwinding toe ons uitvind dis weer ’n seuntjie. Dis ’n gesonde swangerskap en ons wag op ’n gesonde Janco.

     Tot op ’n stormagtige wintersdag.

     Op 31 weke krul Era van die pyn, en Jacques jaag met haar hospitaal toe. Haar dokter is met verlof en die verpleegpersoneel neem haar op. Hulle vermoed dis “ligamente” en laat weet haar dokter se vennoot. Om 21:00 word ’n noodkeiser gedoen.

     Ek en Jacques sit in die wagkamer, nie seker wat op ons wag nie. Die dokter kom sit by ons, ek hoor sy koue stem: “Jammer, die baba is dood. Sy het ’n uterusruptuur gehad, die baba het verdrink. Era het baie bloed verloor en ons moes ’n bloedoortapping doen. Sy was ook amper dood. ”

    Hy staan op, en net voor hy wegstap sê hy: “Volgens wet moet julle die baba begrawe. Sterkte, ek sal julle laat roep wanneer Era uit die herstelkamer kom.”

    Daar kom nie ’n woord uit Jacques se mond nie, hy staan bloot op en loop uit. 

     “NEE!” skree ek in my binneste. Ons het dan laasweek haar ooievaar gehou! Die huis is vol babapresente! Wéét Era al? Is sy al wakker? Dan, effens kalmer: Twéé keer? Hoe gebeur dit twéé keer?

     Dis stil om my. Daar is geen antwoorde nie. Net Jacques se leë voetstappe in die lang, skemerdonker gang.


Dagboek van ʼn mal huisvrou

Gina van Staden

 

Andrea staar na die groen kaartjie tussen haar vingers. Wat het gebeur? Hóé het dit gebeur? Sy het nie eens geweet kredietkaarte het vervaldatums nie. Maar wat sal ʼn dom huisvrou in elk geval weet van hierdie tipe ding? Sý spandeer mos net haar man se geld.

     Met ʼn senuagtige laggie en ʼn flou verskoning los sy die hoog gelaaide trollie net daar en stap driftig kar toe. In haar gedagtes gil sy armswaaiend – die tipiese dom blondine – of dalk eerder ’n Energiser bunny met ’n paar kortsluitings?

     By die huis slaan sy die voordeur so hard toe dat die kat van die bank se rugleuning afval. “Jannie!” Haar stem galm in die gang af.

     Hy kom verskrik aangedraf. “En nou, my vroutjie?”

     “Moet my nie vandag ‘my vroutjie’ nie. Dis ek of sy. Óf jy gaan laai jou ma nóú by die SPCA, jou suster of ʼn motel af ... óf ek loop!”

     “Wat het sy nou weer gesondig?” Jannie sak op die bank neer en tel die remote op.

     “Ons bankkaarte omgeruil! Ek moes ʼn uur en ʼn half in ’n besige tou wag om vir jóú familie se Kersgeskenke te betaal! Was net van plan om my polse te sny met ’n Minora-lemmetjie op die rak langs my, toe die kassier sê: ‘Sorry, madam, your card was declined’. Declined! Nadat ek in totaal drie onvervangbare ure van my lewe vermors het!”

     Jannie draai skaars sy oë van die televisieskerm af weg. “Ek’s seker dit was  ʼn ongeluk. Moet jy in elk geval altyd so aangaan?”

     Andrea gluur hom aan. “Nè?”

     Voor hy kan vra “Nè, wat?” bewe die voordeur se skarniere toe die lang plank agter Andrea se rug toeslaan.

      Soekie lê die pad na Wimpie se sportkroeg op outo-loods af, terwyl Andrea die feit betreur dat sy lankal in ’n swart toga voor ’n regter kon gestaan het, maar in stede daarvan ʼn mishandelde slaaf is wat toestemming moet vra vir elke sent wat sy mag spandeer. Oukei, dalk nie “mishandel” of “elke sent” nie, maar ʼn slaaf nietemin.

     “Hallo girly,” groet die getattoeëerde man agter die toonbank.

     “ʼn Dubbel, asseblief.”

     “So erg?” Wimpie loer onderdeur sy kuif na haar terwyl die ys klinkend in die lang glas opstapel.

     Andrea kyk hom stip in die oë. “Swaertjie, jy sê mos altyd jy sal enigiets vir my doen. So ... kry vir my ʼn hitman.” Nie eens ʼn halwe glimlag kruip in haar stemtoon weg nie. Vandag is sy ernstig.

     Met ʼn geoefende handbeweging sit Willie die dop voor haar neer. “Sweetness, jy weet mos ek’s klaar met daai dinge. As jy van jou skoonma wil ontslae raak, moet jy self ’n plan maak. Wat ek wel vir jou kan doen, is om jou ’n stywe drukkie te gee.”

     Andrea se lag klink op soos ʼn pistoolskoot. Toe ... magteloos, kopskuddend, leun sy oor die toonbank en klink haar glas teen syne. Ook net in hierdie mal familie sal haar swaer skimp vir ’n drukkie terwyl sy planne beraam om sy ma van kant te maak.


Waar liefde draai         

Elzet Scott

 

Die gedrom van mense wat in groepies lag en praat, skeel Klara min, sy het haarself oorgegee aan die gedagte dat haar lewe nie vol dagdrome gaan wees soos dié van ander getroude paartjies nie, háár lewe is besluit vir haar. 

     “Aarde  Klara, hoor jy ooit wat ek sê?” vra Amanda  met irritasie in haar stem.

     Klara skud haar kop. “My gedagtes dwaal elke keer as ek my oë toemaak. Sal ek dit kan doen,  Amanda?”

     “Klara jy kán, julle is gekose van hoërskooldae af, jy kan nie kop uitrek nie. Ek moet gaan, moenie iets doms doen nie, ek bel jou môre.”

     Klara sit lank en staar tot die kelner die rekening bring wat sy meganies vereffen voor sy haar handsak oor haar skouer slinger. Sy het na die koffiewinkel gestap om Amanda daar te kry, Frogenco is binne loopafstand van die woonstel, as Andrew haar nodig het, sal sy vinnig daar kan wees, hy het haar nou nodig soos ’n kind sy ma.

     Klara se tuimeldroeërgedagtes laat loop haar vas in ’n drom op die sypaadjie, ’n ferm paar hande om haar middel hou haar op haar voete. 

     “Ek sal voorstel dat jy nie oorlog maak met die drom nie,” sê ’n kalm stem.

     Klara se emosies wil breek, maar sy beheer haarself.

     “Voel jy beter?” Steeds die stem. “Moet jou nie so bekommer nie, die drom sal jou vergewe.”

     Ag hel, hy is nog daar. “Ja, dankie,” is al wat sy kan bemeester.

     “Wil jy oor iets praat?”

     Die bloed stoot op in haar wange. “Hier? Op die sypaadjie? Dink jy ek is mal?”

     “Vat my kaartjie.” Hy haal ’n sjiek silwer kaartjiehouer uit sy baadjiesak. Gee een aan. Stap weg. 

     Klara bekyk dit. Anton de Bruyn, psigiater. Sy wil dit opskeur en in die drom gooi, maar sy bedink haarself. Miskien moet sy dit hou, nie vir haarself nie, vir Andrew.

     Haar foon lui, dis Andrew, die deuntjie is sy gesogte Beatles-liedjie. Sy antwoord, klap die foon toe en hardloop die res van die pad huis toe, die dag se flater met die drom iets van die verlede. Met die sweet klam teen haar rug stoei sy die sleutel uit haar handsak, met die tweede probeerslag is die deur oop.

     “Andrew! Waar is jy?”

     Haar hart klop vinnig, sy kalmeer haarself deur diep asem te haal en haarself te maan met “kalm bly Klara kalm, kalm”.

     Die gordyne is toegetrek, op die grond lê elke geraamde foto van haar en Andrew stukkend op die grond. Wat die duiwel gaan aan? Haar hand gaan na haar handsak om die pepersproei uit te haal wat sy onlangs by haar pa gekry het.

     “Andrew?”

     Sy roep saggies, haar stem breek effens, sy trap oor die glasstukke, verbeel haar die foto-oë kyk beskuldigend na haar. In die hoek van die sitkamer sit Andrew, roerloos. Vir een oomblik dink sy die ondenkbare: hy het sy eie lewe geneem. Wat voel sy? Sy is nie seker nie, wil dalk eerder nie daaroor dink nie.

     “Hoekom huil jy? Is dit nou al so erg dat jy tjank as jy na my kyk?”

     Klara antwoord nie, begin om die stukke op te tel en sny haar vinger. Vloek gedemp en gaan hou dit onder die kombuiskraan. Andrew kyk nie op nie, vra nie of sy oukei is nie, bly net daar sit, bly net daar sit, bly net daar sit, iets waaraan sy gewoond sal moet raak.

     Die dokters het haar gewaarsku sy sal geduld moet hê met hom, maar hoeveel geduld is daar in haar put? Hy sit net in die woonstel, hoeveel kere sy hom ook al gevra om uit te gaan, dinge sáám te doen, iets waarmee sy self worstel, maar sy probeer darem, hoekom kan hy nie? Nee, woede-uitbarstings het sy idee van vermaak geword.

     Sy skakel die ketel aan. “Ek maak vir ons tee, Andrew.” Sy sê dit met oordrewe kalmte, die laaste kalmte in haar put. Andrew bring homself stadig uit die hoek en sit en kyk na die fotorame wat op die vloer gestrooi lê.

     “My lewe is soos die foto’s, Klara, gebreek, hoe gaan ek weer lewe, hoe gaan ek weer man voel, hoe gaan ek vir jou sorg, vir ons sorg?”

     Vir die eerste keer sedert sy lewe uitmekaar geruk is, wys hy iets anders as woede, en dit vat aan haar, laat haar die man onthou op wie sy verlief geraak het. Sy stap nader en gaan sit langs hom op die vloer met haar kop op sy skoot.

     “Jy sal, Andrew, dit was nog nooit net jy nie, dit was nog altyd ons, saam sal ons wen en saam vir mekaar sorg.”    


Simbool

Alta Nel

 

Ilana steek haar hand uit na die blikkie op die winkelrak en haar oog vang haar kaal ringvinger. Haar ring, flits dit deur haar kop. Waar is haar ring?                        

      Voor sy van die huis af gery het, het sy haar trouring losweg in haar jeans se voorste sakkie gedruk om handeroom aan te smeer. Paniek styg in haar op toe sy haar vinger in die sakkie druk.

     Dis leeg.

     “Ek los eers my trollie hier. Ek moet gou iets in die motor gaan haal.” Sy probeer kalm met die rakpakker praat, maar sy moet haarself dwing om nie te hardloop nie. As daardie ring weg moet wees. Hoe kon sy so agtelosig gewees het? Sy moes Ben omtrent soebat om haar ou ringe te laat saamsmelt en een mooie te laat maak. Miskien, het sy gedink, as sy ’n nuwe het, sal hulle verhouding ook weer nuut word. Tot oormaat van ramp is dit nie verseker nie, sy het hom oortuig dat dit gedurig aan haar vinger sal wees.                                                         

     Die ring is nie in die motor nie.                                                                         

     Dit skiet haar te binne dat dit gevoel het of iets van haar skoot af val toe sy vroeër in die hoofstraat uit die motor geklim het. Sy het afgekyk, maar niks gesien nie en het haar inkopies gaan doen, waarna sy na hierdie sentrum gery het.                   

     Dit was toe al die tyd die ring! Dit moes onder die motor ingerol het. Dié seker wete laat haar hart moeisaam klop. Wat is die kans dat sy haar ring gaan terugkry? Dis al ’n uur gelede dat sy daar parkeer het. En wat is die kans dat iemand dit nie gesien en opgetel het nie? En optelgoed is hougoed.

     Sy móét gaan kyk! Hemelse Vader, sal U die engele opdrag gee om te help dat sy haar ring vind.

     Met bewende hande skakel sy haar motor aan. Stilgebede flits deur haar kop terwyl sy so vinnig moontlik terugry tot voor die apteek in die hoofstraat. Die robotte bly te lank rooi, die motors trek nie vinnig genoeg weg nie, ry te stadig.

     Dieselfde parkeerplek is waarlikwaar oop en dit op sigself is ’n wonderwerk. Sy spring uit en kyk smekend na die selfaangestelde parkeerwag. “Het jy dalk ’n ring hier iewers sien lê?”    

     Hy kyk onbegrypend na haar. “Nei mêrrie, hoe sal mêrrie nou by my ’n ring kom soek?” Hy skud sy kop, dink duidelik sy is nie lekker by nie.                                     

     Desperaat kyk sy rond op die teer langs die motor. Haar oë dwaal na die straat. Vang iets blinks op die ryvlak, en toe sy tussen die verbyflitsende motors deur kans kry om nader te gaan, lê dit daar. Skeef getrap deur motorbande, maar nog met al die diamantjies.

     Dankbaarheid laat haar oë vol trane skiet. Waarlikwaar, engele bestaan. Want een het haar ring opgepas. En gebede word verhoor. Selfs oor ’n simbool soos haar ring. Dalk veral.


Rondom rook

Claudia Beyers

 

“Ansie, ek ruik rook, ek dink dit kom van die bure se plaas!” Reinette druk die foon tussen oor en skouer vas terwyl haar hande rondfladder op soek na nog iets om in die tas te pak. “Soos ek hier staan, sien ek figure wat brand stig. Op Druk-my-niet gaan daar vlamme op!”

     Paniek laai op in Reinette. As die wind opkom en verkeerd draai, is dit klaarpraat met hulle. Sy hardloop na haar man wat op die stoep staan met ’n verkyker voor sy oë en ’n tweerigtingradio in die hand. Haar selfoon is nog in haar hand, maar sy kan skaars hoor wat haar vriendin van Hofmeyr sê.

     “Die vuur is naby. Ons het fynbos ... en ’n klompie skapies in die veld. Ansie, jy moet bid, asseblief! Sê vir almal daar. Huise het afgebrand ... ek is só bang. Ek weet nie wat ons gaan doen nie.”

     In die verte skiet ’n nuwe vuurvlam die hoogte in. Dit laat dink haar aan ’n vulkaan wat uitbars en lawa wat dorpe verswelg. Iemand gil, lank en uitgerek, en sy besef skielik dis sy self. Haar foon kletter op die vloer. Sy ruk to haar man langs haar kniel, sy oë kalm. Hoe kan hy so rustig wees met ’n vulkaan op sy drumpel?

     Die boer van Kleinplaas trek sy vrou op en hou haar vas terwyl hy kalmerend in haar oor praat. Liggies wieg hulle heen en weer en sy word daarvan bewus dat hy nie meer met háár praat nie, maar met sy God.

     “Here, stuur tog reën. Hou die wind vas in u Hand. Hou Reinette ook vas.”

     Sy greep verstewig en kalmte spoel oor haar. “My man, ek moet klaar pak. Kom haal die waterbottels wat ek vir die brandslaners gevries het.” Sy kyk hom sag aan. “En ... dankie, my lief.”

     Hy verstaan. Die koelbokse word op die bakkie gelaai. Vuurplakke. Nat sakke. Plaaswerkers klim agterop.

    ’n Eensame figuur vol innerlike krag staan op die stoep. “Hallo, Ansie. Ek het gedink die verbinding het verbreek.” Reinette drink diep teue yswater uit ’n glas. “Ek is nie altyd sterk nie, my vriendin. Maar belowe julle sal bid vir reën vir ons hier aan die onderpunt van die land.” 


Tweede kans

Claudia Beyers

 

Ek voel in ’n dwaal. Alles het so vinnig gebeur. “Waar vat jy my heen, meneer?” wil ek weet.

        Daar is kreukels om sy oë en grys hare langs sy slape. “Dr. Verster se spreekkamer is om die hoek. Ons laat hom gou kyk of alles wel is met jou.” Hy hou voor ’n wit gebou stil en klim uit. “Kom, juffrou, ek stap saam.”

        “Wat het gebeur, ounooi?” Die gryskopomie se stem is sag, sy hande flink.

        “Dokter, daar was ’n kind voor die kar … hmm … agter ’n bal aan, dink ek.” Ek lek oor my droë lippe en voel hoe die trane in my oë opdam. “En toe is die boom voor my – Eina!”

        “Jammer. Die veiligheidsgordel het jou lelik gekneus. Maar ook jou lewe gered. Trek  aan en kom sit dat ek iets voorskryf vir skok.”

        Die sonlig verblind my toe ek weer buite kom. Ek voel in my denim se sak, my foon is weg. Daar staan ’n telefoonhokkie op die hoek, maar my beursie lê nog in die BMW se mossienes. Teleurgesteld gaan ek weer die gebou binne. Die dokter staan en gesels by die ontvangsdame.

        Ek byt op my lip. “Hm. Kan dokter dalk vir my geld leen vir die publieke foon?”

        Hy glimlag. “Kom bel in my kantoor,” sê hy en loop vooruit.

        Toe ek by sy lessenaar gaan sit en my hand uitsteek om Dolf se nommer te skakel, sien ek haar. In ’n goue raam op die tafel lag sy terug na my. ’n Jonger weergawe, maar beslis sy. My hand bly hang in die lug.

        Die dokter kyk my bekommerd aan. “Gaan jy nie bel nie, ounooi? Of ken jy nie die nommer nie?”

        Met ’n bewende vinger wys ek. “Wie is sy?”

        “Ken jy haar?” Die dokter se skouers lyk skielik krom, sy stem klink veraf. “Dis my dogter. Ek soek al twintig jaar na haar.” Verbeel ek my of is daar ’n snik in die ou man se stem? “Ek het groot foute gemaak in my lewe, kind.” Hy vroetel in sy sak, vee ongeduldig oor sy oë. “Ken jy haar?” vra hy weer en kyk my dringend aan.

        “Dis my ma,” sê ek oorbluf.

        Hy staar na my. Woordloos. Geluidloos. Net sy asem wat al vinniger jaag.

        Ek voel koud. Rillings skud my liggaam. Kan dit wees? Gebeur sulke dinge in die regte lewe? En tog. Daar is hy. En daar is sy. En hier is ek, die derde generasie. My oë brand en ek moet hulle vinnig knipper om nie te begin tjank nie.

        Ek leun oor en vat sy hande. Sê met stygende vreugde: “Kom ons gaan kuier vir haar. Oupa!


Last Touch

Aniki Joseph

 

“Ek gaan nêrens,” sê Ma. Die sigaret trek kromvingertjie op pad asbak toe. “Hulle sal my hier uitdra. Voete eerste.” Die as mis die asbak net-net. “Oor my dooie liggaam,” sê sy en steek nog een aan. Die pienk geboortevlekkie op haar linkerwang ’n oomblik rooipers.

        “Maar Moeder …” probeer ek weer.

       Pa lyk verleë. Verstel sy gehoorappaat. Druk my hand saggies onder die tafel. Die lewe se padkaarte verfrommelde lyne op sy gesig. Met die groetslag druk ek Moeder twee keer teen my vas. ’n Rukkie lank klop ons harte in gelyke ritme.

        “Last touch,” sê Moeder skielik en stoot my weg.

        Ek klim in en ons vingerpunte raak vlugtig deur die oop venster. Soos altyd wanneer ons afskeid neem. Touch en waai. My hartklop is uit ritme toe ek wegry.

        Ek bel die ander kinders. Ons onderhandel, pleit, soebat, bekommer. Begin weer voor. Dit help nie. Moeder het besluit. Ons aanvaar en ondersteun, maar bly hoop.

        Dis ’n Saterdagoggend toe die foon voordag lui.

        “Ek is moeg, my kind,” sê Ma.

        “Is daar fout?” vra ek onrustig.

        “Nee, ek wil net huis toe gaan.”

        “Ek kom dadelik.”

        Ek vra om met Pa te praat. Hy vroetel hoorbaar met sy gehoorapparaat, kan nie uitmaak wat ek sê nie. Sal maar die ander bel en laat weet.

        Die stadsgewoel lê gou agter my, die veld bedek in klossies vaalbos. Slap grensdade. Hier en daar wapper ’n verbleikte plastieksak. Verstik in son en wind en tyd.

        Tannie Lettie in die woonstelblok oorkant Moeder s’n begin huil toe ek haar vertel ons neem Moeder hospitaal toe. “Moenie vir haar sê nie. Ek wil nie moelikheid maak nie. Jou ma is my ou mater,” soebat sy. “Maar sy het haarself toegesluit, die laaste paar dae. Wou nie oopmaak nie.”

        Ek troos en beloof om haar op die hoogte te hou.     

        Die middagson gooi skaduwees oor die binneplein. Ek hardloop die trappe twee-twee af. Verby ’n droë malvaplant en spikkels duiwemis. Toe ek die onderste trap bereik, skree ’n hadida bokant my kop. Ek kyk op. Uitasem.

        Hulle is besig om Moeder teen die trappe oorkant my af te dra.

       Voete eerste.

 

Elke mens se vingerafdrukke is uniek. So is dit ook met rou. Ek plant Krismisrose in die stil deel van die tuin. Verwonder my net soveel aan die ligpers blomme as aan die feit dat ek iets kon laat groei. Bak Ma se resepteboek van voor tot agter. Ruik haar in anys, gemmer, kaneel.

        Pa kuier om die beurt by sy kinders.

        Tannie Lenie bel op ’n Saterdagoggend voordag. “My seun kom my vandag haal,” sê sy. “Ek het besluit om daar te gaan woon. Die kinders soebat al so lank.” Sy belowe om my op die hoogte te hou.

        Buite is dit weer lente. Mossies en vinkies raas in die tuin. Die malva voor my kombuisvenster blom baldadig rooi. Ek bak ’n sjokoladekoek en skryf ’n gedig:

        Last Touch.

        Vir Ma.  

 


Skoon rekord

Gideon Brückner

 

Nog net een nag. Na môre is dit net hy en Ampie met die een en ’n halwe arm. Miskien sal hulle dan kan gesels. Miskien sal Ampie dan nie meer sê hy het sy arm afgekap nie.

        Hy laat rus die lang steel van die hamertjie net-net op die spoor. Sonder om sy sit te verander. Hy sit soos hy al dertig jaar sit, en wag dat die wiele sy hamertjie se hartklop kom toets. Kruisbeen wag hy op die gruisklippers langs die spoor, sy knieë onder hom ingevou, die hamertjie uitgestrek voor hom.

        Hy dink nie meer oor wat hy moet doen nie – na dertig jaar kom dit vanself. Maar vanaand, sy laaste aand, moet hy vir oulaas mooi kyk en mooi luister. Hy het ’n skoon rekord. Het nog nooit ’n skewe klank gemis as die groot wiele verbyrol nie.

        Voor hom lê die blink getrapte spoorlyn soos die strepe in ’n oefenboek uit sy skooldae. Uit die hoek van sy oog sien hy die kollig van die stoomenjin waar dit om die draai kom.

        Die hamer se steel, soos die lang wyser van sy sakhorlosie, wys loodreg na die blink lyn voor hom. Nog net twee draaie verby twaalfuur dan is sy skof verby. Vir altyd. Miskien sal hy en Ampie dan oor alles kan gesels. Hy hoef nie op te kyk nie. Hy weet dit neem 65 sekondes nadat die wit kollig om die draai gekom het, totdat die eerste wiele teen die hamertjie begin tik-tak.

        Sy oë bly op die hamertjie, die lang steel glad gevat waar dit liggies op die eelte van sy palm rus. Die blink geslaande kopstuk lê plat op die spoor en wag vir die eerste wiel om hom vorentoe en weer terug na die volgende wiel te skop. Dis soos ’n derde arm, sy pols, sy hartklop, dit was sy alles – totdat Ampie gekom het.

        Alles een volmaakte werkende stuk. Nie een en ’n halwe stuk soos Ampie nie.

        Die trein is naby. Hy voel die trillings op die spoor. In die lug hang die suur reuk van steenkool en as wat voor die stomende enjin uit waai. Die drywer sit sy sirene aan. Hard en skel. Hy hoor weer Ampie se hees kreet by die hek vanmiddag, toe hy soos altyd, kosblik vasgeklem onder sy arm, sy voet oor sy fiets se raam gegooi het.

        “Jy kan nie met my praat nie! Jy het twee arms en ek net een en ’n halwe! Weet jy hoe dit is?”

        Die trein tik-tak stomend nader. Hy verslap sy greep op die hamersteel. Hou dit net liggies vas – die wiele moet dit self heen en weer skop sodat hy kan luister vir krake. Hy versit, rus gemaklik op sy hurke. Wag vir die lokomotief se eerste skop. Weet hy moet stip kyk en fyn luister en nie sy oog van die verbyrollende wiele afhaal nie. Soos hy ook nooit van Ampie se halwe arm kan wegkyk nie.

        “Ag, Here, maar Ampie se halwe arm was mos nie my skuld nie!”

        Die voorste wiel skop die hamer liggies heen en weer in sy hand. Hy trek dit terug en wag vir die volgende sarsie. Tik-tak spring die hamertjie heen en weer.

        “Hoekom wil Ampie nie met my praat nie – hy praat mos nie met sy arms nie, Here!” Vir ’n oomblik laat sak hy sy kop tussen sy opgetrekte bene. “Here, hoekom het Ampie nie maar twee heel arms soos ek nie? Hoekom wil hy nie met my praat nie? As daar dan skuld moet wees, Here, dan is dit mos my én Martie s’n!”

        Twee waens gaan verby en hy druk die steel dieper in. Die derde gryp die hamersteel, ruk dit uit sy hand. Hy probeer dit terugpluk, maar die wiel rol oor die steel en knak dit af. Hy gryp daarna, voel die vuur van warm staal, hoor splinters kraak.

        Tik-tak, tik-tak.

***

Hoekom staan die wit kollig bo hom stil? Hoekom die gordyne wat in blou voue om hom hang? Ampie se ooglede vou ook so toe oor sy blou oë as hy met hom wil praat. Maar hoekom hoor hy nie die tik-tak van die trein nie? Hoekom ruik hy nie die suur steenkool nie? Hoekom kom die trein nie nader nie?

        Die laken voel koel onder sy vingers. Hy verskuif sy hand na sy ander kant en soek sy hamertjie. Sy vingers vat stywe verbande raak. Om sy arm. Vasgedraai om sy lyf. Stadig sak sy hand terug  na die koelte van die bed. Na dertig jaar het sy hamerstok middeldeur gebreek.

        Meer as dit.

        Want hy weet – nou het hy ook net een en ’n halwe arm – nes Ampie. Miskien sal hulle nou kan praat. Al is hy nie so gebore nie – Ampie wel.


Inkommers

Denise Coetzee

 

“Ek het geweet jy sal nie omgee om te kom help nie, Vroutjie. Ons kan nie langer vir Dokter Kallie wag nie – my man se pyn is onhoudbaar. Stap deur … derde kamer links.”

     My stram glimlag waarsku my dat daar nog bewyse van ’n onvoltooide middagete aan my mondhoeke kleef. Met ’n “dankie, Mevrou” probeer ek dit ongemerk afvee.

     Haar woorde volg my gang-af. “Jy is gelukkig om kanse soos dit te kry. Onse mense aanvaar inkommers baie gouer as ons sien dat julle belangstel en bereid is om te help.” 

    “Inkommers, Mevrou? Ons bly darem al sewe maande op die dorp.”

    “Sustertjie, daar is mense wat al tien, twaalf jaar hier bly en steeds inkommers is. Dis nie maklik om wortel te skiet as jy nie hier gebore is nie.”

     O, inderdaad, mymer ek, veral nie as jou sakke vlak is, en die titel voor jou naam nie genoeg gewig dra nie. Die reuk van siekwees dwing my tong om stil te lê. Ek laat haar eerste by die kamer inloop – age before beauty – tot ’n inkommer weet dit.

     “Lemmer, die suster is hier om jou in te spuit.”

     “Maar my magtig, Drien, ek het gesê ek sal vir Kallie wag, ek ken die vrou van g’n kant nie.”

     Sonder aarseling steek ek my hand uit en vou sy koorsige vingers toe. “Desiré van Zyl. Ons het al ontmoet, meneer Carstens.” Ek is nie verbaas dat hy my nie onthou nie. Ons inkommers maak selde ’n blywende indruk. Sou hy my hond onthou? Of die geluid wat sy skoen teen haar ribbes gemaak het toe sy een oggend sy onomheide tuin sonder die nodige toestemming verken het?

     “Is jy familie van Paardeberg se Van Zyls?”

     “Nee, ons is van die Gautengers wat suidwaarts gevlug het.”

     “Hemel, dan is jy boonop ’n inkommer. Wat doen jou man?”

     “Ons het ons eie besigheid. Ons versorg pasiënte in verskillende stadiums van die siekteproses.”

     “Verpleging is nie ’n beroep vir ’n man nie.”

     Ek help hom nie reg nie. “Hierdie spuitjie gaan gou-gou klaarspeel met u pyn. Sommer in die maag, hoor? Net soos die inspuitings wat u reeds kry om die bloed dun te hou.”

     “Kallie het my nog nooit in die maag ingespuit nie.”

     “Dis ’n nuwe middel, meneer Carstens. Ek en my man gebruik dit algemeen in ons praktyk. Dis regtig effektief: die pyn is sommer gou iets van die verlede.” Ek wag geduldig tot glasigheid die woede uit sy oë dryf.

     Haar verligting is duidelik. “Dankie, Suster. Ek kan amper nie glo dat hy so vinnig rustig geraak het nie. Ek weet sy ou tydjie is kort, maar dis nie aldag maklik om geduldig te bly as die pyn sy humeur so laat lol nie.” Sy stryk die lakens by sy voetenent gelyk met die sykant van haar hand. “Ek sal definitief laat weet as ons jou weer nodig het. Die deur is nie gesluit nie, sien jouself sommer uit.”

     Ek is verbaas om te sien dat my hande bewe toe ek minute later my selfoon uit my skouersak haal. Siekte en naderende dood ontstel my lank reeds nie meer nie; duidelik doen neerhalende verwysings na ons inkommerstatus dit steeds.

    Hy antwoord net na die derde lui. “Sielerus Begrafnisondernemers, middag.”

    “Liefde, as ons middel soos gewoonlik werk, behoort ons volgende kliënt binne ’n dag of twee by jou te wees. Meneer Lemmer Carstens.”

     “Dankie, my vrou. Ek kyk uit vir hom.”            

 

 

Die vyf wenverhale van Skryfgeheime se pas afgehandelde 2022-liefdesverhaalkompetisie kan vir 'n kort tydperk hier gelees word. Die wenverhaal "Kissie van onthou" is geskryf deur Elsabe Fouche. Van die verhale is nogal stomend, wees dus gewaarsku.

 

Kissie van onthou

Elsabe Fouche

 

Dis terwyl sy in die benoude stortjie staan dat haar gebed spontaan uit haar hart kom: “Liewe Heer, sal u asseblief vanaand die peleton wagte voor my mond wegneem. Here, vanaand wil ek my hart skoon spoel. Ek is vandag in die ouetehuis ingeboender, in ’n ruimte wat hulle ’n ‘woonstelletjie’ noem. Hier waar my kinders vandag opgewonde verduidelik het dat ek alles wat ek in hierdie stadium van my lewe nodig het, kan inpas.

“Liewe Heer, wat weet hulle wat ek nodig het? My kinders vir wie ek my lewe gegee het, voel dis beter so, want hul pa raak al hoe swakker en hy vergeet al hoe meer. Ons kan kwansuis nie meer op die plaas aangaan nie. Te gevaarlik met die plaasaanvalle en alles.

“O Heer, ek bid mos voortdurend dat U ons sal beskerm en nou moet ek soos ’n kleingelowige in ’n duiwehokkie kom bly. Buitendien, wat as Karel swak word en vergeet, ek kan mos nog aangaan met die boerdery!”

Teen die tyd dat sy “amen” sê, is die water al yskoud. Met woeste hale droog sy haar af en berei haar voor op die gesprek van alle gesprekke met haar man.

Hoekom moet haar hele lewe om hom draai? As hy te swak en vergeetagtig is, kan hý mos ouetehuis toe kom. Sý sal boer. Buitendien, hoe kan jy sommer iemand anders se hoenders, beeste, skape en bokke net eenvoudig staan en verkoop? Wanneer het dit toelaatbaar geword vir kinders om te besluit wat hul ouers mag of nie mag doen nie?

Môre, as die son uitkom, is sy terug waar sy hoort. Karel kan maar hier bly. Hy sal haar nie mis nie, hy vergeet in elk geval alles. Solank sy nog sterk is en nog dinge kan onthou, het sy nie nodig om hier soos ’n bandiet te bly nie.

Sy storm behoorlik die vertrekkie in wat nou haar sitkamer is. Karel sit daar op sy stoel, winterspajamas en pantoffels al aan, reg vir die kooi. Nie meer nodig om te gaan kyk of die ooie rustig is en om die waterpomp te gaan afsit nie. Nee, sonder enige missie, reg vir doodgaan.

Sy begin subiet. “Karel. Ek het baie op die hart. Vanaand moet jy my kans gee dat ek my hart skoon praat.” Sy bly skielik stil. Gaan dan ergerlik voort: “Vir wat sit jy daar met daardie blerrie ou houtkissie op jou skoot? Hoekom het jy dit nie ook vir die kinders gelos om op die vendusie te verkoop nie? Ek het al my goed daar gelos! Is mos nou te oud en swak om te kook, te bak, naaldwerk te doen of klavier te speel. Maar nee, jy kry dit wragtag reg om daardie gemors in te smokkel!”

“My lief ...”

“Vanaand is die verkeerde aand om te my wil ‘lief’, vanaand is ek op vir jou en die kinders.”

Soos altyd antwoord Karel nie. Lig bloot die deksel van die kissie op. Sy wonder al lank wat so danig aan die kissie is. Karel is bekend vir sy opgaardery, seker net die een of ander stukkie sentimentele snert.

Sonder om sy oë na haar te wend haal hy ’n haarknippie uit. “Hierdie knippie het ek nog uit jou hare gewoel nadat jy my bruid geword het, jy het daardie dag so mooi gelyk en my so gelukkig gemaak.”

Die wind is behoorlik uit haar seile. Hier kom sy om ’n vreeslike bakleiery aan te knoop en nou dit. “Jy onthou dit? Maar jy vergeet dan deesdae so maklik?”

Hy knik. “Vanaand is anders. Die kissie help my onthou. Kyk, hier is my bronsknopie. Onthou jy nog ons studentedae op die Puk? Onthou jy hoe verlief ons was en die drome wat ons gedroom het?”

Sy sak neer op haar stoel. Karel se oë is vanaand weer die kleur van die see by Cape Vidal, en hy kyk met soveel sagtheid en liefde na haar. Die vraag is uit voor sy dit kan keer. “Ai Karel, wat het jy nog daar in jou Pandora-kissie?”

“Ons klippie.”

“Nee!”           

“Ja. Onthou jy nog? Op die wal van die Limpopo? Ek sal seker op die ou end alles vergeet, maar nie daardie nag nie. Jy was so myne gewees. So sonder skaamte en sonder om terug te hou, so spontaan en smeulend.

“Gelukkig het ek die klippie gebêre. Die klippie wat die ganse nag lank probeer belemmer het. Eers onder my rug, toe weer onder jou knie, later onder my skouer.”

“So nou maar, Karel, netnou hoor iemand jou.” Sy reik na die kissie en haal ’n koperspeldjie uit. “Karel, is dit tog nie dáárdie haakspeldjie nie?”

Hoe ver gaan haar gedagtes nie nou terug nie? Hulle oudste se doop … met die vinnig saamgeflansde rok wat toe daardie Sondagoggend kort voor kerk oopflerts dat jy tot by haar naeltjie kon sien. Hulle gegiggel toe Karel die skade met die haakspeldjie probeer beredder sodat hulle darem soos betaamlike doopouers moes lyk. Hoe dít op ’n vreeslike gevryery uitgeloop het sodat sy sekerlik een van baie min ma’s was wat met skaamrooi wange en deurmekaar gewoelde hare voor die kansel gestaan het.

Haakspeldjie sommer so aan die bra vasgesteek, daar was nie tyd vir iets beters nie, hulle moes jaag vir die kerk. Op die foto’s kon sy darem telkens die baba so hou dat die speldjie nie sigbaar was nie, maar o wee, sy en Karel het op al die foto’s gelyk asof hulle room gevreet het.

Karel hou ’n veertjie uit, ’n troupantveertjie, en meteens voel dit of sy op ’n mes val. Hulle het hul oudste seuntjie begrawe. Die allerverskriklikste seer, die ergste wat sy nog in haar lewe gehad het. Laatmiddag, toe almal weg is, is sy, Karel en die twee dogtertjies terug graffie toe. Vir haar het dit gevoel sy gaan weer en weer dood toe sy daar na die kaal hoop grond staan en kyk het.

Tussen al die blomme vind Karel toe die mooiste pers veertjie. Trou aan sy aard eers vir die twee dogtertjies alles van die troupant vertel en toe die veertjie na haar uitgehou. Maar sy kon net nie haar hand uitsteek om dit by hom te neem nie, in daardie stadium was niks vir haar mooi of goed of reg nie.

Karel het die veertjie in sy hempsak gedruk en eers in die nanag, toe sy troosteloos opgekrul in haar stoel gesit het, by haar kom kniel en saam het hulle vir hulle seer gebid, die troupantveertjie toegevou in hulle hande.Tot vandag toe glo sy steeds dat dit net Karel se liefde en God se genade was wat haar deur daardie pyn gedra het.

Met ’n “wag ek gaan maak eers vir ons tee” staan sy op. Sy brou die rooibos lekker lank soos Karel daarvan hou. Gelukkig het die kinders onthou om kondensmelk te bring. Al die jare gesê hy rook en drink nie, maar hy hou van kondensmelk in sy drinkdingetjie.

Hulle drink hulle tee in stilte. Skielik sit Karel sy koppie neer. “Vannag moet Bontlies vinnig kalf, ek is gedaan van al die kuiermense.” Hy tel die flits van die koffietafeltjie af op en mik na die deur.

“Karel.”

Eers wil sy weer tekere gaan oor die ouetehuis, en die kinders, en die onreg wat hulle aangedoen is, maar sy bedink haar, vat sy hand en stap stadig saam met hom tot in hul kamer. Hy klim gelate in die bed en hou haar styf vas. Dis nie lank nie of hy haal rustig en diep asem.

Sy skuifel stadig uit die vertrekkie terwyl die trane stil oor haar wange stroom. Nie net oor die plek waar sy haar nou bevind nie, maar ook oor die vergeetsiekte wat deesdae met toenemende gereeldheid sy verskyning maak en wat haar fris Karel-boerman stuk-stuk in ’n verwese Alzheimer-pasiënt omskep.

Sy tel die kissie op om die res van die onthougoedjies te bekyk. ’n Vishoek, vermoedelik die een waarmee hy die 13-ponder in die Vaalrivier gevang het. Twee haarrekkies, pienk en pers, hulle meisiekinders s’n. ’n Ou Lion-vuurhoutjiedosie vol “ox heart”-tamatiesaadjies. Karel het nog nooit erg gehad aan die hedendaagse geneties veranderde tamaties met hul lang raklewe nie.

Sy trek haar asem skerp in toe sy die kaurieskulp in haar hande toevou. Sy kan nie eens onthou waar hulle die skulpie opgetel het nie, maar sy kan woord vir woord onthou hoe Karel vir die soveelste keer sy liefde verklaar het:

Die klein getande opening was die gleufie in sy hart wat hy vir haar oopgemaak het. Hy laat nie sommer enigiemand daar diep toe nie, maar sý is daar in sy hart, vir altyd. Die blink, gladde vorm is hulle lewe saam. Wanneer hulle bymekaar is, is die glans van hul liefde teen enige storm bestand. Die spikkels op die skulpie is die moeilikhede en probleme wat oor hul pad kom en wat hulle met hul liefde vir mekaar oorkom.

Sy onthou hoe die droogtestorms, die bek-en-kloustorm, die finansiële storms en duisende ander storms, spikkels op hul lewe gelaat het. Hoe Karel haar altyd herinner het dat hulle twee saam ’n skans vorm en dat hul liefde alle moeilikhede sal oorwin.

Sy wil gaan slaap, maar daar is ’n notatjie wat sy eers gou wil bekyk, ’n skryfseltjie in sy eie handskrif. Sy vou dit oop en lees: “Wie liefhet, is onoorwinlik – Becker.”

 

Later, styf agter Karel se blad, daal daar ’n vrede oor haar neer. Hy is ’n goeie man, die beste. Hulle sal hierdie ouetehuisspikkel ook oorwin, so ook die Alzheimer-ene. Sy sal môreoggend die kinders bedank vir hul omgee. Vir hulle geduld met haar teenstand, haar misnoegdheid, laat sy dit nou maar op die naam noem.

Hoe amper het sy nie die fout van haar lewe gemaak en die liefde van haar lewe in die steek gelaat nie? Sowaar, as dit nie vir haar kinders en Karel se kissie was nie, het sy dalk.

 

Die naaswenner "Skoene met strikke" is geskryf deur Helene Pretorius

 

 

Skoene met strikke

Helene Pretorius

 

Stadig maak sy haar oë oop. Die son se eerste strale loer skaam-skaam by die venster in en verlig die voetenent. Van wat? ’n Dubbelbed? Waar ís sy? Sy word bewus van haar naaktheid en trek die laken op tot onder haar ken. Eers as sy haar geborduurde nagrok op die vloer gewaar, dring die werklikheid tot haar deur.

Dit was gister haar troudag.

Skielik bewe sy, ten spyte van die lakens én die kombers. Haar oë soek rond. Sy het dringend ’n potjie nodig. Uiters bewus van haar naaktheid, sak sy af oor die kant van die bed tot op haar hurke. Wanneer die piepie begin vloei, brand dit soos vuur. Geleidelik dring die wete tot haar deur … sy het laasnag haar maagdelikheid afgestaan.

Sy kyk rond vir iets om mee af te vee. Die effense bloederigheid is onlosmaaklik die  bewys dat die vorige aand geen droom was nie.

Sy hoor ’n gewerskaf in die kombuis. ’n Ligte kloppie aan die deur. “Ek hoor jy is wakker …” Blosend kruip sy terug onder die lakens in. “Sodra die water kook, bring ek vir jou koffie.”

Toe hy wegstap, glip sy haar wit broiderie anglaise-nagrok oor haar kop. Die bekendheid troos haar lyf. Sy het immers, soos die gebruik, toe sy dertien geword het, begin om hierdie kunswerk te maak vir haar trousseau. Elke stekie, kantskulpie en gaatjie is deur haar vlytige vingers gevorm en geskep vir haar huweliksnag. Môre sal sy dit wit uitwas en stryk en dan as doodskleed wegbêre. Die laken met die bloedvlekkies sal sy net so opvou en wegsit, ter herinnering aan haar maagdelikheid.

Wanneer sy teruglê teen die kussings en haar oë sluit, herleef sy die gebeure van die afgelope maand.

 

“Lenie, my kind, staan asseblief stil én regop!” Haar ma sit op die voetstoeltjie om die soom van die romp reguit ingesteek te kry. In die agtergrond klink ’n gegiggel op.

            Lenie verstyf en fokus op die tikkende oupaklok toe Anna met ’n soetsappige glimlaggie by die voorhuis inkom. “O, hier is julle! Hoe vorder julle met die ... h’m ... trou-uitrusting?” 

Ma antwoord nie.

Lenie besef haar ma weet goed dat die jonges haar siel versondig omdat sy op trou staan met ’n wewenaar met ’n string kinders. Dit het ook nie by Lenie verbygegaan dat haar ma se hart vir haar bloei nie, maar dat sy magteloos is. Sy hét die eerste aand haar man se aandag probeer trek, wou oënskynlik vir hom fluister om eers die saak met Lenie uit te klaar, maar haar pa het duidelik meer in die vryer se boerdery belanggestel. Lenie, wat gevoel het dat daar oor haar gepraat word asof sy stoetvee is, was verlig toe sy kon opstaan om te gaan koffie maak.

            “Sal ek vir julle ook ’n ou koffietjie maak?” herhaal Anna. “Dalk help om die soom in te steek, want Lenie staan en trippel soos ’n bronstige merrie.”

“Anna, gaan maak die koffie en los vir Lenie in vrede,” sis Ma, sonder om die spelde uit haar mond te haal.

Anna draai singend om. “Disse ou bokke, disse jong blaar … hoe ouer die bok hoe harder die horing!” In die kombuis bars opnuut ’n gelag los.

“Lenie, staan stil!” maan Ma. Effens sagter hervat sy: “Jy kan nou maar die baadjie aantrek en die hoed opsit sodat ek kan sien hoe die volle uitrusting lyk. Wag, staan stil, dat ek die strikkies kan vasmaak. So ja, nou die regtervoet. Daar’s hy, dit lyk tog te fraai.”

Lenie kyk af na haar voete ... voete wat so sukkel om groot genoeg skoene te vind. Haar pa het hierdie netjiese manskoene al op die gaatjieslyn uitgesny en ’n effense hakkie aangesit terwyl Ma dun swart lint voorsien het om dit meer vroulik te laat vertoon.

Wanneer Anna en die ander meisies inkom met die koffie, trek sy die breërandhoed af sodat dit haar oë verskuil. “Stap ’n bietjie vir ons tot by die deur en terug,” kom dit van haar ma en Lenie stap so grasieus moontlik weg van die toeskouers se oë. Met die omdraaislag, merk sy – vir ’n vlietende oomblik – bewondering op die smalende gesigte.

Met selfvertroue stap sy terug. Sy weet nou sy lyk goed. Skielik sien sy kans om haar middeljarige bruidegom tegemoet te stap. ’n Sagte glimlag verskyn op haar gesig, dit is haar besluit om die beste van hierdie groot stap in haar lewe te maak.

 

 “Lenie my kind,” het haar ma daardie aand sag in die kombuis gesê, “ek besef jy sal eerder graag met daardie jongetjie wou trou wat nou al ’n paar keer hier gekuier het, maar my kind, hy is nog baie jonk en het niks op sy naam nie, maar daardie Albertus wat vanaand vir die eerste keer hier kuier, is ’n gevestigde, welgestelde man met ’n plaas.

“Ek kan sien hy geval jou vader, want hy sal goed vir jou kan sorg, en per slot van sake is hý die gelukkige een … beter as jy sal hy nie kry nie, my kind. Ons moet jou pa se oordeel aanvaar. Moet hom nie teëgaan nie. ’n Vrou moet haar man eerbiedig, en ’n dogter moet haar pa se wens eerbiedig.”

Haar ma het vooruit gestap voorhuis toe, en aangekondig: “Lenie is amper op pad met die koffie.”

Lenie se gedagtes was in ’n warboel. Die man daar in die voorhuis is soveel ouer as sy. En wat van Gideon? Hy ry nou wel net transport, maar as sy kon hom net nog één keer kan sien, sal dit haar help met die besluit.

“Lenie! Kom nou met die koffie!” roep haar pa uit die voorhuis.

Bewend skink sy die koffie en loop deur toe.

Die kuiergas stap haar met ’n gerustellende glimlag tegemoet en vat die

koperskinkbord by haar. “Dankie Lenie,” sê hy sag en sy besef hy is nie onaardig nie en sy fors figuur boesem vertroue in.

Wanneer elkeen met sy koppie koffie om die tafel sit, hervat haar pa die gesprek. “Neef, jy sê jy en jou gesin het 1918 se groot griep ongedeerd oorleef?”

Rustig vertel Albertus hoe sy bure in die omgewing tydens die griep gely het. Hoe sy oorlede vrou elke dag sop gekook het, dit in emmertjies geskep en saans op die kombuistafel uitgepak het. Hy het dit dan soggens, saam met die doodskiste wat hy snags by lamplig gebou het, op die trêppie gepak en van plaas tot plaas gery om siekes te versorg en dooies te begrawe.

Dit tref Lenie dat die groot man met soveel deernis praat en sy eie optrede nie as

heldhaftig beskou nie, maar beklemtoon hoe geseënd hy en sy gesin was om nie aan te steek nie. Sy vrou is egter twee jaar later dood aan kraamkoors en die baba het dit ook nie oorleef nie.

Lenie luister ingedagte.

Skielik praat haar pa direk met haar: “Lenie, neef Albertus het my so pas toestemming gevra om met jou te trou en ek het geen beswaar nie. Jy sal goed vir hom en sy ses kinders kan sorg.”

Lenie se kop draai skielik. Sy sal nou doelgerig daaroor moet begin dink. Haar pa se volgende woorde tref haar egter soos koue water:

“Die routyd is nou verby en hy en sy gesin het dringend sorg nodig. As jy vanaand nog jou antwoord kan gee, kan hy môre die gebooie opgee, sodat die eerste gebooie volgende Sondag kan begin loop.”

Lenie verstar. Tevergeefs probeer sy Gideon se gesig in haar gedagtes oproep. Almal se oë is op haar gerig. Verslae laat sak sy haar kop. Vader in die hemele, wat nou? Hoe kan haar pa haar eenvoudig aan hierdie vreemde man toevertrou?

“Lenie, ek herhaal: ek het géén beswaar nie, ons wag net op jou antwoord,” kom haar pa se dringende stem.

Sy lig haar versluierde oë, en sien dat die groot, aantreklike man se oë afwagtend op haar rus. Sy sien sy groot hande wat die skinkbord by haar gevat het … sy stewige lyf wat ’n sak mielies met gemak op elke skouer sal kan dra, en sy onthou die deernis waarmee hy van die siekes gepraat het.

Skielik kom daar ’n kalm vertroue oor haar, en met haar sagte bruin oë kyk sy op in sy vraende gesig. Sy hoor haar eie stem antwoord: “Dis goed so.” Sigbare verligting is op haar pa se gesig leesbaar en haar ma gee haar ’n goedkeurende blik.

Albertus kom staan voor haar en vat haar hande in syne. “Baie dankie. Ek sal vir jou sorg na die beste van my vermoë. Dankie ook vir wat jy vir my kinders gaan beteken.”

“Maar ek het hulle nog nie eens ontmoet nie.”

“Ek sal hulle môre inlig, en dan Sondag ná kerk aan jou en jou ouers voorstel,” so dreun sy stem rustig voort terwyl Lenie se hart al hoe angstiger klop. Sy is verlig toe hy vertrek en die galop van perdehoewe buite opklink.

 

As gevolg van masels ontmoet sy die kinders eers die Sondag voor die troue, maar sy kon skaars met hulle praat, want haar ma en die tantes het hulle kort-kort onderbreek met die reëlings vir die onthaal.

 

Met die woorde “gee mekaar die regterhand”, kom sy tot haar sinne en sien hoe die groot, sterk hand ’n breë troupant asook ’n goue verloofring met drie versonke diamantjies aan haar vinger steek. Gefassineerd staar sy daarna terwyl sy wonder of dit sy vrou s’n as, en dis eers toe hy haar hand liggies druk, dat sy besef die dominee wag op haar antwoord.

Die onthaal in die kerksaal is vaag in haar herinneringe … die hele boksemdaais, ooms, tantes, niggies, neefs, en dies meer was daar. Almal om te kom kyk waarin Lenie haar begewe.

Die bruidspaar word oorval met langdradige welmenende huwelikswense en gesprekke met die nuwe bruidegom met die doel om agter te kom van watter stoffasie hy gemaak is. Net asof dit nog enigsins saak maak ... die koeël is immers deur die kerk.

Iemand kom aangestap om hulle te roep. Die spider staan ingespan en wag. Nou moet hulle vinnig vertrek, want Molteno se enigste fotograaf wag vir hulle in sy ateljee met die geskilderde landskap op ’n groot doek.

 “Hier, vat en trek aan … jy steek te veel af teen die bruid, en kyk vir die kamera,” kom dit kortaf van die fotograaf se vrou.

Lenie raak bewus van ’n gesukkel aan haar sy. “Dit is sekerlik nie manshandskoene nie,” brom hy en slinger dit eenkant toe.

Die fotograaf duik weg onder sý doek, hou die karbietfakkel omhoog, en kom weer te voorskyn nadat dit klaar geflits het. “Staan ’n bietjie soheentoe, ons neem altyd drie foto’s vir die wis en die onwis.”

 

In die skemer doem die leiklipplaashuis van Stompstertfontein voor haar op. Met “Finias, span asseblief vir ons uit, lei die perde koud, en dan kan jy maar gaan” lei Albertus haar tot by die voordeur en sluit oop. “Staan net ’n oomblik stil, ek is nou weer by jou … ek wil net gou die lampe vir ons opsteek.”

Roerloos gespanne wag sy. Dan voordat sy ’n tree kan versit, tel hy haar sonder enige seremonie of ongemak op, dra haar oor die drumpel en maak haar staan langs die tafel. Vir die eerste keer in haar lewe voel Lenie fyn en breekbaar, soos ’n porseleinpop.

“Welkom in jou huis, mevrou Venter,” kom dit saggies, speels van hom af, terwyl die paraffienlamp die welkomsgroet flikkerend beaam.

“Dankie ... Albertus.” Hoe vreemd voel dit om sy naam vir die tweede keer vandag te sê. Om nie van die “mevrou” te praat nie.

 Hy trek vir haar ’n stoel uit. ’n Baie lang tafel vir die baie kinders. Die wete tref haar soos ’n voorhamerhou dat hulle die huis met ses kinders gaan deel, van wie verskeie nie veel jonger as sy is nie.

Saggies vat hy die bruidsruiker, wat sy nog steeds vasklem, by haar en sit dit versigtig op die tafel neer. “Jy mag maar jou hoed afhaal.”

Sy kyk verdwaas op, maar sy glimlag verdryf van die vreemdheid tussen hulle. Sy trek die hoedespeld uit en hy sit die hoed amper eerbiedig langs die ruiker op die tafel neer.

Wat volgende? dink sy verward en beangs, maar sy ontspan wanneer hy skuins langs haar by die kop van die tafel plaasneem en rustig terugleun in sy stoel, duidelik is dit sy plek as hoof van hierdie huis.

“Kom ons kyk wat is in hierdie blik en bottel. Die buurvrou het beloof sy sit vir ons van die bruilofkossies reg.” 

Die spanning is verbreek. Soos twee koshuiskinders eet en drink hulle sommer uit die blik en die bottel.Sy is nou meer op haar gemak en hulle begin die herinneringe van die dag met mekaar deel. Hulle lag saam oor die seunsgesigte wat om die kerksaal se hoeke geloer het en die bliksleepsels wat die perde verskrik het.

Later raak hulle pratery minder en sy skrik toe hy albei haar hande skielik saggies in syne saamvat en haar in die oë kyk. “My pragtige bruid, ek is ’n bevoorregte man om vandag met jou te kon trou.” Hy soen haar hande deernisvol en staan op. Gaan staan dan agter haar, sy hande op haar skouers. “Mag ek?”

Sy verstyf onder sy aanraking, maar hy sê in haar oor: “Jou haarnaalde uittrek? Ek het jou nog nooit sonder ’n bolla gesien nie.”

Verlig knik sy haar kop.

Wanneer hy die laaste haarnaald uittrek, vorm haar hare ’n waterval oor haar skouers. Sy oë bly op haar gevestig terwyl hy weer oorkant haar gaan sit. “Jy het vandag só mooi gelyk, maar nou lyk jy soos ’n engel. Maar ... wag ’n bietjie, ons het vergeet om ’n heildronk op onsself in te stel!”

Hy kom skoorvoetend terug van die sideboard af. “Daar is nie eens meer nagmaalwyn nie … net ’n bietjie ‘medisyne’.”

Hy skink en gee vir haar aan, hulle lig hulle glasie en klink en drink. Die drank slaan haar asem weg, brand tot in haar maag en laat haar wankel.

“Jy is moeg … sal ons bed toe gaan?”

Sy knik, min denkend.

“Wag net hier. Ek gaan gou vir jou ’n kers opsteek.” Dan bring hy haar portmento en hoededoos van die stoep af in, waar Fineas dit neergesit het. Met sy hand onder haar elmboog begelei hy haar kamer toe. “Jy kan solank inklim, ek gaan eers buite kyk dat alles reg is.”

Haar kop draai … alles voel onwerklik, maar sy besef sy moet so gou moontlik in die bed kom. Sy haal haar nagrok uit, ontklee vinnig en begin haar hare uitborsel. Sy skrik toe sy hoor hoe hy die agterdeur sluit. Wat moet sy doen? Sy sal nie vinnig genoeg in die bed kan kom voordat hy in die kamer verskyn nie.

Paniekbevange staar sy na die deur.

Hy leun rustig teen die kosyn en betrag haar. Dan kom hy in, trek sy baadjie uit en hang dit oor die stoel se rug. Hy trek sy hemp uit, gooi van die lampetbeker se water in die waskom en spoel sy gesig af. Daarna gaan sit hy ongestoord op die riempiestoel en maak sy skoenrieme los.

Kaalvoet beweeg hy nader. Maak in die spieël seker sy sien hom sodat sy nie dalk skrik nie. Vat die haarborsel uit haar hand en buk stadig oor haar. Lig dan die wit engel versigtig van die bankie af op, dra haar tot by die geelkoperledekant, sit haar sag neer, trek die deken en witgestyfde lakens opsy en vou haar liggies toe.

Daarna begin hy sy leergordel losmaak. Sy knyp haar oë toe, hoor hoe die gespe met broek en al op die houtvloer val, en wens sy kan in die vergetelheid wegraak.

Hy klim aan die oorkant van die bed in. Lê rustig op sy rug in die flikkerende kerslig met sy arms saamgevou onder sy kop. Lank lê hulle so. Lenie is baie bewus van sy teenwoordigheid, maar sy waag dit nie om te roer nie.

“Jy kan maar in my arm kom lê … ek sal jou nie seermaak nie,” kom sy sagte basstem.

Na ’n paar minute, wat vir haar soos ’n ewigheid voel, het sy die moed om op haar sy te draai en haar kop in sy uitgestrekte arm te plaas. Sy voel hom … die harige oksel teen haar wang, die skadu’s van sy bossige borshare in die kerslig, die lang, groot lyf wat haar klein laat voel naas hom.

Lank lê hulle so, vredig, en sy begin ontspan.

“Mag ek jou maar nagsoen?” vra hy sag.

Sy knik en hy voel haar instemming aan, want hy draai na haar toe, lig homself op sy elmboog en buig liggies oor haar. Die teerheid in die groot, sterk man se gesig oorweldig haar.

Sag, talmend soen hy haar. Sy ruik hom, die pyptabak in sy snor. Weer soen hy haar, gevoelvol, geensins dwingend nie. Sy voel hoe sy skielik warm word en die bloed in haar wange opstoot. Weer en weer. Sag en versigtig. Dan in die nek, en sy harde baard krap haar liggies en stuur rillings teen haar ruggraat af, sy lippe sag, soekend. Sy word bewus daarvan dat sy smag na meer soene … na nog meer … en sy begin hom liggies terugsoen met die besef dat sy haarself tot nou toe nie regtig geken het nie.

Haar hart klop al hoe vinniger terwyl haar asemhaling syne begin eggo. Albei soen mekaar nou met drif en hartstog. Hulle asems jaag koorsig, haar hart galop en haar liggaam reageer. Nog nooit het sy soveel vuur beleef nie, haar hele lyf is aan die brand. 

Sy soene bedek haar gesig, haar nek, en sy groot hande dwaal versigtig rond. Deur die wit nagrok verken hy haar lyf, saggies, baie saggies totdat die drif en die vuur beide oorneem en in haar slape klop.

Die komberse bedek hulle lankal nie meer nie. Hy begin haar nagrok met die een hand rondwoel om dit onder haar lyf uit te kry en sy wens hy wil dit uittrek en klaarkry!

Haar hart klop in haar keel, sy borshare kielie haar wit borste en wanneer hy met sy lippe teen haar tepels speel, voel dit vir haar of hy haar terg … en dat sy wil skree van … van wat? Sy het nie woorde of begrip vir haar eie liggaam se gedrag nie, maar dis asof niks nou meer saak maak nie.

Sy druk haar brandende lyf teen hom vas en sak ’n oomblik verskrik terug wanneer sy die hardheid van sy manlikheid teen haar buik voel. Sy asem ruik nou vreemd en wild, maar dít blaas bloot die vuur in haar verder aan. 

Met spanning en afwagting volg haar liggaam die beweging van sy hande, groot growwe hande wat haar jong, gewillige lyf ligweg verken, terwyl dit beweeg ... af … nog laer af … af tot op haar skaambeen, waar sy vingers met die donker krulhare rondspeel.

Sy kreun, hy beweeg nog stywer teen haar aan. Bokant haar. Sy bene tussen hare ... terwyl sy hardheid haar terg tot haar liggaam daarvan kwyl.

“Mag ek maar?” fluister hy in haar oor.

“Ja … ja, asseblief ...” kom dit hygend.

Sy lig haar onderlyf sodat sy hom kan lei, en dan is hy in haar, hard, dringend, polsend. Sy soene brand op haar neer, wild en dwingend … sy baard krap haar stukkend … haar liggaam snak en spasmas ruk in haar lendene. Polsend beweeg hulle tot albei uiteindelik willoos neersak, uitgewoed, na die storm.

Die laaste waarvan sy bewus was, was toe hy in haar oor fluister: “My vrou!”

 

Die reuk van vars koffie verdring haar gedagtes. ’n Sagte klop aan die deur word gevolg deur sy diep stem: “Sit regop … hier’s jou koffie!”

Die groot man, geklee in netjiese werksklere, verskyn in die kosyn met ’n skinkbord met ’n koppie en ’n blikbeker vol stomende koffie daarop. Skaam, verleë sit sy regop teen die kussings en trek die kombers op tot onder haar ken.  Hy gee voor dat hy nie haar ongemak sien nie, en sit die skinkbord op die bedtafeltjie neer.

Haar vraende oë volg hom tot waar hy by die stoel met hul klere op tot stilstand kom. Hy steek sy hand in sy baadjiesak en haal iets uit. Sy linkerhand beduie sy moet ’n bietjie opskuif en hy gaan sit op die kant van die matras. Dan, met stille eerbied, plaas hy ’n swart gesangeboekie in haar hande en vou dit met syne toe.

“Dankie dat jy my vrou geword het,” kom sy eenvoudige woorde. 

Nét dit.

’n Lang stilte volg waarin hy die koppie vir haar aangee, en hulle in stilte hul heilige nagmaal drink. Hierdie keer met koffie. Daarna staan hy doelgerig op en maak onbeholpe verskoning dat hy na die skaap moet gaan omsien.

“Slaap maar nog ’n rukkie,” sê hy sag oor sy skouer. “Van môre af is dit jou beurt om vir jou man koffie te maak. Later vanmiddag sal ek die kinders by die bure gaan haal, dan kan hulle saam met ons koffie drink.”

Toe haar hart stil is, maak sy die gesangeboekie oop. Voorin is ’n inskripsie: Aan Helena Susanna Aletta Venter, ’n huweliksgeskenk van Albertus Venter. 1 Oktober 1920.

Stil staan sy van die bed af op. Kaalvoet kniel sy voor die stoel. Lang, los hare stroom langs haar gesig verby wanneer sy haar kop biddend laat sak. Die manskoene met die swart strikkies onder die stoel was die stille getuies van haar vrouword en nou is die gesangeboek in haar hande die stille getuie van haar vrouwees.

Die sonstrale vorm ’n stralekrans om die geboë hoof van die wit engel met die blinkbruin hare wat stil op haar knieë staan. Buite koer die tortelduiwe en kwetter die vinke gesellig, tevrede. Dis ’n nuwe lewe, dink Lenie. Háár nuwe lewe, dankie, Heer.

 

 

Gemmerkoekie

Louis Lategan

 

Chanté-Mari se BMW is nie in die motorhuis nie. Seker by haar Pilates-klas of dalk 'n laat sessie met van haar studente, of inkopies, dink Ferdie. Deesdae is sy behep met haar werk, lyf, dieet, grimering, hare en handelsmerke.

“So ... dink jy nog nie daaraan om ’n ander werk te kry nie?” het sy gevra, die aand toe hulle haar aanstelling as senior lektor gevier het.

            “Wat?”

            “’n Ander werk, Ferdie. Met my nuwe posisie kan ons 'n power couple wees. Ek meen, daar moet sekerlik iets beters wees as dit? Jy donner ons hele image op.”

            “Image? Waarvan praat jy? Ek het 'n reputasie as een van die beste veiligheids- en proseskonsultante in die land, met 'n salaris wat daarby pas. Ek het nie 'n ‘image’ nodig nie; ek is ek.”

            Hierdie meningsverskil is al 'n paar maande oud. Hy doen nog steeds dieselfde werk. Sy bou nog steeds aan haar image. Die verhouding en die slaapkamer word al hoe kouer.

 

“Sjoe, maar jy laat waai, nè? Hoe vinnig hol jy?”

            Ferdie weet nie wat irriteer hom vanoggend die meeste in die gimnasium nie: die elektroniese musiek of die rooikop op die trapmeul langs hom. Hy druk die spoedkontrole van 10 op na 12.

            “Lekker ernstig so vroeg, hè?” Sy vee sweet af en vat 'n sluk uit haar waterbottel.

            Hy en Chanté-Mari ... hulle sal moet praat. Hy kan nie so aangaan nie. Noem hy trou en kinders, selfs net 'n hond, dan vra sy, hoekom? Hoekom!

           Klik, klik, klik...’ Die geluid kom van die rooikop se trapmeul af. Hy moes liewer op die pad gaan draf het.

            ‘Klik, klik, klik…’

            “Jou veter is los.”

            “Wat?” hyg sy.

            Hy wys na haar voete. “Ek sê: Jou veter. Is. Los!”

            “O, ja, ek weet, maar ek wil nie nou my spoed breek nie. Dankie.”

            Ferdie ignoreer haar. Laat sy haar dan maar vrek val. Hy het genoeg gehad vir vandag.

            “En nou, sommer brieke aan en klaar?”

            “Ja. Tot siens.” Hy kry koers kleedkamers toe.

            “Oukei, baai-baai dan en dankie vir die gesels,” roep sy agterna en voeg effens gedemp by: “Goeie genade, maar die man het darem 'n gawe gat aan hom so met die wegstap.”

            Verbeel Ferdie hom of het sy iets van “gat” gesê toe hy wegstap? Nou ja, hy verdien seker 'n skewe opmerking nadat hy so kortaf was.

 

Dinsdae en Donderdae is dit beenoefeninge.

            “Môre, môre! Jy squat lekker swaar, nè?” groet die rooikop. “Wat weeg dié spul?”

            Hy verloor byna sy balans en sit die gewig hardhandig terug op die rak. “Wat is jou storie? Wil jy hê ek moet seerkry?”

            “Jammer, sal nie weer nie.” Sy steek haar hand uit. “Ek is Mercia.”

            'n Sagte hand met 'n ferm greep wat gemaklik om syne vou. Onwillekeurig hou hy dit 'n sekonde of twee te lank vas. Sy is 'n groot vrou, 'n “gesonde stuk vleis” soos sy ouma altyd van vrouens met vol figure gesê het. Daar is iets sensueels aan die spatsel ligte sproete, die fyn lagplooitjies en die vol lippe. Die bos, op die oog af, natuurlike rooi krulle is in 'n dik poniestert vasgemaak.

Sy hartklop mis ʼn slag en versnel dan weer. Alles so anders as met Chanté-Mari, flits dit deur sy brein. 'n Aangename, dog subtiele reuk omring die rooikop. Is dit parfuum of poeier of seep?

            Hy stel homself bekend. “Ferdie. Ferdie Fourie. Dis 110.” Daardie blou oë! Sy mond voel skielik droog.

            “Honderd-en-tien wat?”

            “Kilogram, die gewig waarmee ek squat, jy het dan gevra.”

            “O, ja, nogal indrukwekkend. Dis meer as twee sakke sement. Sal jy my ook leer? Ek wil ook graag sulke goed doen.”

            “Nee, jammer. Ek leer nie mense nie. Ek oefen vir die lekker, en nou moet jy my verskoon.”

            “Oukei. Dit was lekker om jou te ontmoet, Ferdie Fourie.”

            “Lekker dag,” sê hy en sak onder die gewig in vir nog 'n stel. Sy is … anders … 'n pragtige soort anders, dink hy, effens verward, toe hy die gewig terugplaas. Hy het sowaar vergeet om soos gewoonlik te tel hoeveel repetisies hy doen – en dit is nie iets wat sommer met hom gebeur nie.

 

Dinge tussen hom en Chanté-Mari bly krapperig; hulle stry oor alles. Organiese kosse, sy “outydse” klere. Hoekom hy by Planet Fitness oefen en nie by Virgin Active nie, hoekom hy nie saam met haar wil bant nie? Sy wil minder as 60kg weeg, want “daai meisie wat Comrades gewen het weeg glo net 55kg en kyk hoe goed lyk sy”.

Toe hy vir haar sê sy eet te min, sy’s brandmaer en dat haar boude en borste besig is om te verdwyn, kon hy dit vir dae nie waag om aan haar te raak nie. In dié tyd het die beeld van Mercia se vol lyf en gul lippe in meer as een slaaplose nag by hom opgekom.

 

Ferdie en Mercia “hallo” mekaar in die verbygaan by die gim en een Maandag wag sy hom voor die kleedkamers in met 'n pakkie in die hand.

            “Hier is vir jou iets om jammer te sê oor die misverstand met jou squats die ander dag.”

Later by die werk sien hy dis 'n versameling koekies, soos hy onthou sy ouma altyd gebak het. Soet-, spesery-, hawermout- en gemmerkoekies. Saam met sy sekretaresse en 'n kollega verorber hulle die hele pak.

Hy vertel nie vir Chanté-Mari daarvan nie en Donderdagoggend gaan sê hy vir Mercia hallo waar sy op die trapmeul swoeg. “Ek wil net dankie sê vir die koekies; dit was baie lekker. Ongelukkig het die spul by die werk die meeste opgeëet.”

            Sy stop die trapmeul en vee die sweet af. “Kom onderbreek jy nou hierdie belangrike oefensessie om met my te kom koekie-talk?” vra sy met 'n glimlag.

            “Nee, ek kan sien jy oefen hard. Ek wou eintlik net hoor waar jy dit koop; ek sou graag nog wou kry.”

            “Dis nie te koop nie, en as jy nog wil hê, sal jy dit self moet kom haal. En dan kan jy soveel koekie ... e … sorry, ek bedoel … koekies kry as wat jy wil hê.” Sy bloos tot af in haar nek.

            “En waarheen moet ek gaan om ek soveel koekie, ek bedoel … koekies ... te kry as wat ek wil hê?” vra hy met 'n skewe glimlaggie.

            “By my huis, in die middag. Ek werk halfdag.”

            “O, wat doen jy?”

            “'n Baie belangrike werk, en as jy die koekies kom haal, vertel ek jou.”

            “Ek kan môremiddag kom, ek werk Vrydae net tot twee-uur.”

            Hy stoor haar nommer en adres op sy selfoon en stap uit.

 

Mercia en 'n vriendelike Labrador verwelkom hom by die hek. Oor koffie – en natuurlik koekies – hoor hy dat sy die huis 'n paar jaar gelede geërf het toe haar ouers in 'n motorongeluk oorlede is. Sy het toe reeds in die tuinwoonstel gebly en besluit om liewer die huis te verhuur vir 'n ekstra inkomste. Haar baie belangrike werk is by die laerskool waar sy soggens as Juffrou Mercia haar graad 4-klassie se lewens help vorm.

            “My ma en ouma het altyd gebak en ek het tussen meel en deeg grootgeword. Nou bak ek sommer agter die lekkerte aan vir my en ou Bella, en af en toe vir die tuinsnywerheid.”

            Na 'n tweede koppie koffie staan Ferdie op. “Ek moet gaan. Die koekies … wat vra jy vir hulle?”

            “Natuurlik vra ek hulle niks nie; hulle lê maar net doodstil en wag dat iemand hulle eet!” Hulle lag saam vir die simpel grappie.

            Sy haal 'n groot inkopiesak uit die kas. “Hier. Gratis en verniet, op voorwaarde dat jy my laat weet watter is die lekkerste.”

 

Chanté-Mari kom byna iets oor toe sy die sak koekies sien.

            “Wat besiel jou om kos by 'n wildvreemde gym flooze te vat? Dis flippen siek, man. Is dit ooit skoon, en wat van al die verfynde koolhidrate? Dis gif! Wat van ons dieet, en wat van ons …”

            “Nee! ‘Wat van’ se gat. Nie óns dieet nie, jóú ewige dieet en obsessie om soos ander mense te lyk en te leef. Kyk hoe lýk jy, hoor hoe práát jy. Ek is moeg daarvan.”

            “Moeg, sê jy, móég? Vir my? Dan het jy geen idee hoe moeg ék is nie. So, kom ék vertel jóú van moeg.” Sy stamp hom met 'n voorvinger teen die bors. “Sit jy maar hier in jou ou meenthuisie en droom van 'n hond en ’n kat en krepeer in jou vaal werkie vir die res van jou lewe. Ek gaan nié my woonstel opgee nie, en ás ek dit die dag doen, sal dit vir 'n ordentlike plek op ’n gholflandgoed wees. Ek gaan beslis nié trou en kleintjies kry soos 'n hondeteef net om jou te plesier nie.”

            Vir 'n stadige drie tellings staan hy doodstil voordat hy omdraai, sy oefenklere aantrek en uitstap. Sterkskemer kom hy natgesweet terug na 'n stil, leë huis. Die slaapkamer en badkamer is ’n chaos. Kasdeure staan oop en al haar klere en toiletware is weg. So ook die Egiptiese katoenlakens, kussingslope en duvet.

            Hy kry 'n bier, gaan sit op die stoep en vat sy foon. Blaai tot by Mercia se nommer.

            Dankie weer vir die koekies en koffie. Dit gaan sommer aandete ook wees. Ek dink die gemmerkoekie is 'n wenner. Net soos jy, voeg hy amper by.

            Sy antwoord: My gunsteling ook. Lekker eet, lekker slaap. M.

 

Na haar soveelste versoek begin Ferdie vir Mercia touwys maak met 'n paar kragoefeninge.       “Onthou, ek is 'n juffrou, ek moet slimmer as Google en sterker as Wonder Woman wees,” is haar verskoning. Vrydagmiddae word gereelde koffie-en-koekiekuiers.

            Op 'n Donderdagoggend in die laatherfs stap hulle ná gim saam na hul motors.

            “Môremiddag, ’selfde tyd?” vra hy.

            “Dalk …”

            “Dalk wat, het jy iets anders aan?”

            “Nee, het maar net gewonder, maar ek moet seker ophou wonder en vra: Is Ferdie net Ferdie of is daar ook 'n mevrou, of aspirantmevrou Ferdie êrens terwyl jy lekker koffie en kuier by my?”

            “Hoe kan jy dit vra, wat dink jy van my?”

            “Hoekom kan ek dit nié vra nie, want as daar iemand anders is, wat moet jy van mý dink? Ek is nie 'n bietjie tydverdryf of 'n los gelukkie nie.”

            Ferdie is oorbluf, hy weet nie of hy moet kwaad word of net teleurgesteld moet wees nie. “Nee, Mercia, die antwoord is nee, daar is niemand nie, maar jy hoef my nie te glo nie. Dit lyk vir my jy het sommer self klaar besluit. So, wat anders kan ek sê?”

            Sy sluit die kattebak oop, gooi die gimsak in en slaan die deksel toe. “Ek dink nie ons moet môre koffie drink nie. En ek moet nou gaan, ek gaan laat wees. Tot siens.”

 

Die naweek gaan vir albei stil en alleen verby en die volgende week sien hulle mekaar net een keer in die gim. Hulle groet nie en oefen ver weg van mekaar. Albei kyk verskeie kere deur die week vir 'n WhatsApp, maar kom ook nie so ver om self een te stuur nie.

            Saterdagaand sit Ferdie en klik lusteloos deur die TV-kanale. Chanté-Mari is weg, Mercia is ... nou ja, ook seker nou weg. Hy kyk weer op sy foon. Niks. Nee, te hel daarmee. Hy begin tik:

            Die antwoord is steeds nee, daar is niemand nie, maar daar is iemand. Jammer oor die misverstand.

            Goed tien minute later kom die antwoord: Niemand, maar iemand? Is jy dronk?

            Nee.

            Wie is die iemand, hoekom praat jy nie liewer met haar nie?

            Dis wat ek nou besig is om te doen. Dis jy, deksels! Ek mis jou.

            Whatever.

            Whatever?

            Nee, sorry, nie whatever nie. Dêmmit man, ek mis jou ook. Bel my sodat ons soos regte mense kan praat.

 

Hy vertel haar alles van hom en Chanté-Mari, hoe hulle ontmoet en verlief geraak het, sy toekomsdrome, hul verskille en hoe dinge stadig maar seker net nie uitgewerk het nie.

            “Wanneer laas het jy ordentlik geëet?” vra sy later.

            “Ek eet, ek kan na myself kyk.”

            “Moet nou nie vir jou hardegat hou nie; ek praat nie van koekies en take-aways nie, ek praat van kos. Ek maak môre Sondagkos: kerrieskaapskenkels met rys, groenbone, pampoen en gebakte aartappels. Dis die beste manier waarop ek ook kan sê ek is jammer. En moenie laat wees nie, ek het jou meer as net 'n bietjie gemis.”

            “Dankie, ek sal wyn bring.”

 

“Ek het sommer vroeg begin kook; wat klaar is, is klaar. Dankie vir die wyn, die glase is daar in die kas.”

            Hy skink vir hulle. “Waar sit ons?”

            “Buite,” sê sy. “Dis so 'n mooi dag en die winter is op pad.”

            Sy gooi kussinkies op die stoeptrappie en hulle sit styf teen mekaar en drink die wyn in stilte. Later hervul sy die glase. Nog later plaas hy sy arm om haar skouers en sy leun met haar kop teen hom aan.

            “Ferdie?”

            “Mmm?”

            “Jy weet ek is maar 'n groterige meisie – definitief nié 'n gimpoppie nie, nè?”

            “So?”

            “Maar ek het 'n brein en 'n sagte hart, ek is lief vir diere en nog liewer vir die kindertjies by die skool. En natuurlik wil ek baie graag eendag ook my eie hê. Ek het verlief geraak op jou; ek dink ek kan baie maklik ook lief raak vir jou. Ek kan my nie my lewe indink sonder jou vriendskap nie.”

            Hy trek haar stywer teen hom vas. “En jy kan koekies bak, kook, gewigte rondgooi, én jy het 'n hond. En, Juffrou Mercia, ek is nie meer 'n graadviertjie nie, maar jy het my lewe ook verander. Jy is die beste, mooiste, sexyste vrou ooit. Net mooi alles wat my hart begeer: my eie Wonder Woman.”

            “Dankie,” sê sy saggies. “Niemand het dít nog vir my gesê nie.”

Hulle praat nie verder nie.

            “Dit begin koelerig raak,” sê hy later en vat haar glas. “Kom, ons gaan in.” Hy maak die voordeur agter hulle toe, sluit dit, en kry beswaarlik die glase neergesit voor hulle mekaar met oorgawe omhels.

            Haar lippe is sag en haar mond is verwelkomend oop. Hul liggame reageer onmiddellik en by aanvoeling van sy reaksie onderbreek sy die soen, gooi haar kop met 'n ligte kreun agteroor en druk haar heupe teen hom vas. Hy begin haar nek met sagte tong- en lipbewegings soen.

            “Wag eers,” sê sy half uitasem en sit 'n bewende hand op sy bors. “Nie hier nie, nie so nie. Kom.” Sy lei hom kamer toe, gaan staan voor die bed, neem sy hande in hare en stoot hom 'n armlengte weg. Daarop soen sy sy hande en trek hom nader. Die dringendheid van vroeër is weg toe hulle stadig hul klere begin uittrek.

            “Jy gee nie om as ek staar nie?” vra sy.

            Hy trek sy skouers op. “Anders as julle vroumense is ons reaksie mos baie duidelik sigbaar; maar kyk gerus, dit gee my ook die geleentheid. Ek het nog nooit …” Hy wys met sy kop en oë afwaarts oor haar lyf.

            “… 'n regte, egte gemmerkoekie gesien nie?” voltooi sy sy sin en lag. “Kyk hoe bloos jy!”

“Ja,” sê hy. “Dis so … róói … en so báie.”

“Ag nee man, nou laat jy my weer bloos.” Sy trek haar skouers op en glimlag. “Maar, dis nou maar ek. Wat jy sien, is wat jy kry.”

 

Dis reeds laatmiddag toe hulle saam wakker word. Mercia woel stywer teen hom vas en trek die kombers hoër op.

            “Jy oukei?” vra hy.

            Sy sê niks nie, maar haar oë raak klam en 'n paar trane kom los.

            “Hei, wat gaan aan?”

            “Niks, stupid, niks gaan aan nie en natuurlik is ek oukei; ek glo nie ek was al ooit in my léwe so oukei nie. Jy weet nou ek is nie die gil en skree tipe nie, maar 'n paar trane van geluk en lekkerkry is darem nie benede my nie. Kom, soen my, en gaan maak jouself betaamlik sodat ons kan gaan eet; ek vrek van die honger.”

            Ferdie laat hom nie twee maal nooi nie. Hy kan steeds nie sy oë en sy geluk glo nie. Ook nie dat hy eens op ’n tyd so ’n belaglike snob was om hom met ’n Chanté-Mari op te hou nie. Mercia is net so lekker aards, die vrou van sy drome, gemmerkoekies en al.

 

 

 

Die hart se snare

Tosca de Villiers

 

Helena maak die woonstel se voordeur agter haar toe. Nooit het sy kon dink dat haar lewe so omgewoel sou word deur 'n viool van alle dinge nie. Die man wat dit bespeel? Ja! Maar 'n viool? 'n Klassieke viool, 'n Léon Fischesser-viool? Nee, beslis nie.

En tog is dit presies wat gebeur het. Toe sy vanoggend hier uitgestap het, was sy die solis van die Kaapstadse simfonieorkes, maar toe sy later weer instap, bespeel sy weer die tweede viool.

Helena skakel die ketel aan. Daar verdamp haar droom om saans minder ure te werk en oorweeg te word vir die pos as dosent by die universiteit. Solis van die Kaapstadse simfonieorkes sou soveel vir haar CV beteken het. ʼn Nuwe omgewing waar sy ander mense kan ontmoet, dalk iemand spesiaals.

Adriaan, die meneer die direkteur se presiese woorde was: “Ja, ek erken dat jy ʼn goeie violis is en ʼn waardige solis sou wees, maar Ferdinand bespeel ʼn baie spesiale viool. Ek is daardie belewenis aan Kaapstad se gehore verskuldig.”

Teen daardie argument het sy geen verweer gehad nie. Sy het ʼn goeie viool, maar dit is ʼn gewone instrument. Nie een wat meer as honderd jaar gelede gemaak is en kompetisies wen nie.

As sy ʼn keuse gehad het, sou sy nie ʼn dag langer in hierdie orkes gespeel het nie. Sy is lankal moeg vir die agterbakse manier waarop die orkes bestuur word.

 

Die woede kook nog in Helena toe sy die volgende middag haar viool en strykstok uithaal. Nou moet sy as konsertmeester boonop hoflik en verwelkomend teenoor Ferdinand optree. Alle oë is immers op haar. Hy is ʼn goeie violis, daaroor kan sy nie stry nie, maar dit bly ʼn vernedering om net so opsy geskuif te word.

Ferdinand in lewende lywe is aantrekliker as op die koerantfoto’s, besef Helena toe hy instap en ewe sjarmant vir haar knik. Teësinnig steek sy haar hand uit. “Welkom by die Kaapstadse simfonieorkes.”

Hy vat haar hand, lig dit tot borshoogte en laat sy lippe net ʼn oomblik daar huiwer. Toe hy regop kom, is sy glimlag warm en opreg, en lawa vloei deur haar lyf.

Op die dirigent se instruksie speel die keteltromme die eerste note van Beethoven se vioolkonsert. Die klarinette en fagotte volg. Helena kan amper nie die klank glo wat Ferdinand uit sy viool optower nie. Met die sologedeelte hou sy hom fyn dop, en merk die subtiele verandering van die hoek waarteen sy strykstok die snare streel. Sien hoe vaardig sy sterk hande en soepel vingers die klanke optower. Merk veral daardie breukdeel van ’n verposing, daardie effense stilte voordat hy ʼn noot speel. Dit alles, tesame met sy blote teenwoordigheid so naby haar, laat die fyn haartjies op haar arms regop staan. Sy sal daarteen moet veg.

Aan die einde van die oefening sê Ferdinand hoflik: “Die orkes speel meesterlik, dit is ʼn voorreg om saam met julle te kan optree.”

Helena is nie lus vir vroom praatjies maak nie en antwoord effens bot: “Ek is bly ons is op standaard.” Sy begin haar bladmusiek opvou. Langs haar streel Ferdinand liefderik oor sy viool en vee dit met ʼn sagte lap af voordat hy dit in die vioolkas bêre.

Hoe sal daardie hande op haar lyf voel? Watter gewaarwordinge sal sy aanraking optower? Die gedagte kom onverwags by Helena op en probeer wegkyk en aan iets anders dink.

Meteens kyk Ferdinand op, vas in haar oë, maar totaal uitdrukkingloos, en sy besef meteens dat geen vrou tussen hom en sy viool sal kan kom nie. Nee, die viool is sy eerste liefde. Dit het hy net gister in ʼn radioonderhoud gesê en dis duidelik aan elke aksie waarmee hy die viool hanteer.

 

Die verregaande vermetelheid! Helena gooi haar selfoon op die tafel neer. Die orkes word uitgenooi om Vrydagaand ʼn geselligheid by te woon om Ferdinand welkom te heet. Dit gee elke keer ʼn gespartel af om haar eis vir petrolgeld goedgekeur te kry en nou is daar geld vir wyn en versnaperings.

Gedurende die funksie is almal half ongemaklik in haar geselskap – asof hulle nie weet hoe om teenoor haar op te tree nie en gespanne stilbly as sy by ʼn groepie aansluit.

Die orkeslede kan egter nie uitgepraat raak oor hoe fantasties Ferdinand is nie. Ja, dit is wat internasionale blootstelling vir jou doen. En ʼn Léon Fischesser-viool. Nadat sy ʼn glas rooiwyn gedrink het en hier en daar ʼn geselsie aangeknoop het, begin Helena groet, uitgekuier vir die gedoente.

“Agge nee, ek wou nog met jou gesels het.” Ferdinand sit sy hand op haar arm. Die warmte pols deur haar lyf en poel laag in haar bekken saam.

“Ek het ʼn effense hoofpyn,” jok sy en skud sy arm liggies af.

Adriaan is nêrens te vinde toe sy hom wil groet nie. Dalk gou badkamer toe?

 

Saterdagoggend is daar ʼn gehamer aan Helena se voordeur. “Polisie! Maak oop.” Sy vou ʼn kamerjas om haar lyf en maak die deur met knipperende oë oop. Langs die polisieman staan Adriaan en agter hulle talm Ferdinand. Hy is grysbleek en sy hare is deurmekaar. Het hy sowaar nog dieselfde klere aan as by gisteraand se funksie?

“Juffrou Laubscher, ek is sersant Bottoman. Soos u seker weet, is meneer Du Toit se Léon Fischesser-viool gisteraand uit sy motor gesteel.”

“Nee!” Sy kyk na Ferdinand wat met sy hande in sy sakke teen die kosyn leun. “Ek weet niks daarvan nie. Ek is nie eintlik ʼn oggendmens nie en het nog nie die koerant gelees of my sosiale media oopgemaak nie.”

“Dit was nie ʼn gewone inbraak nie. Die I-pad of bladmusiek wat saam met die viool in sy motor se kattebak was, is nie gesteel nie.”

Sy frons. Besef skielik wat aangaan. “Verdink julle my?”

Adriaan vind skielik sy naels baie interessant en weier om met haar oogkontak te maak. Tweegatjakkals. Hy behoort tog te weet sy sal nie so iets doen nie.

 

Dis nie ʼn nare droom nie, besef Helena toe sy heelwat later haar woonstel se deur agter haar toemaak. Eers die ondervraging hier en toe die proses by die polisiekantoor. Ja, teoreties het sy ʼn motief, maar die teorie maak nie van haar 'n dief nie. Sy maak ʼn koppie tee, drink twee pynpille en gaan lê op haar bed.

Laatmiddag staan sy op, stort en trek ʼn sweetpakbroek en ’n T-hemp aan. Daar is net een ding wat haar nou sal vertroos en dis haar viool. Sy wil Ferdinand se tegniek probeer bemeester.

Oor en oor speel sy die allegro. Probeer die noot waarmee die solo begin presies soos Ferdinand speel, maar sy laat die note verstrengel. Die effense aarseling tussen die note klink verkeerd. Dan te kort en dan te lank.

Sy sit die viool vies neer toe daar ʼn klop aan haar voordeur opklink. Vanaand stuur sy die ou suurknol van ’n buurman in sy peetjie. Sy pluk die deur oop. Dis Ferdinand du Toit. Hoe durf hy? Sy begin om die deur toe te stoot, maar hy tree vinnig vorentoe.

“Wag, kan ek net vir ʼn paar minute inkom?” Hy hou ʼn bottel wyn na haar uit. “Ek het gisteraand gesien jy drink rooiwyn.”

“Ja, maar jy moes ook agtergekom het dit gee my hoofpyn. Daarom is ek vroeg weg. Nie om jou viool uit jou kattebak te steel nie.”

“Ek het kom verduidelik dat ek niks met daardie beskuldiging te doen het nie. Die sersant was vas oortuig dat dit een van die orkeslede is, omdat die ander goed wat in die kattebak was, nie ook gesteel is nie. Adriaan het gedink jy het die sterkste motief.”

“Ek is nie reg aangetrek om gaste te ontvang nie,” probeer sy keer.

Stadig laat hy sy oë oor haar lyf speel. “Jy is pragtig net soos jy daar is.”

Verdomde man wat nou die heuningkwas uithaal. “Kom in,” antwoord sy stroef. Hoe gouer sy hierdie besoek agter die rug kry, hoe beter.

Sy haal glase uit en Ferdinand skink vir hulle. Die geselsie stotter verby die weer en die Kaapse besienswaardighede totdat hulle later gemeenskaplike grond vind en oor dirigente en oorsese geleenthede begin gesels.

“Ek het gister gesien hoe jy my dophou toe ek die solo speel en toe ek netnou voor jou deur staan het ek gehoor hoe jy die stuk oefen.”

“Jy het ʼn uitsonderlike tegniek en ek het …”

Hy staan op. “Kry jou viool, dan wys ek jou.”

Sy lyf is warm agter haar rug en die hand wat om hare vou, stuur fyn trillings deur haar lyf.

Toe Helena heelwat later tussen die koel lakens inskuif, kan sy nie slaap nie. Die man maak vreemde gevoelens in haar wakker. Wie sou sy viool gesteel het? Iemand wat die waarde daarvan besef? Nee, Suid-Afrika se musiekgemeenskap is te klein – sodra daardie viool op die mark kom, sal almal dit weet. Dit kon ʼn gewone inbraak gewees het. Die parkeerterrein was nogal donker en dalk het die dief nie die ander goed raakgesien nie. Wat sou ʼn straatdief met ʼn viool doen? Iewers probeer verkoop?

Sondagoggend maak sy ʼn lys van al die musiekwinkels, pandjieswinkels en tweedehandse winkels in Kaapstad en omgewing. Sy soek ʼn foto van Ferdinand en sy viool en plaas dit op al haar sosialemediaplatforms met die versoek dat haar vriende dit sal deel.

Vroeg Maandagoggend is daar ʼn boodskap op die orkes se Whatsapp-groep dat die dag se oefening afgestel is. Helena gebruik die geleentheid om van pandjieswinkel na pandjieswinkel te ry. Sy gee ʼn fotostaat van die viool vir die eienaar en vra dat hulle haar bel sodra iemand so ʼn viool probeer verkoop.

Dinsdag daag Ferdinand met ʼn gehuurde viool by die orkesoefening op. Hy sukkel om die instrument in te stem. Oor en oor laat die dirigent hulle gedeeltes van die allegro, larghetto en rondo herhaal. Toe die orkes verdaag, bly Ferdinand sit toe die ander oppak en uitstap.

“Ek het my hart verloor,” sug hy toe Helena langs sy stoel huiwer. “Daardie viool het soveel sentimentele waarde, my ma het dit kort voor haar dood vir my gekoop.”

“Dis ʼn pragtige instrument en jy kan die mooiste klanke daaruit toor.” Sy sit haar hand op sy skouer. “Ek is seker jy sal dit terugkry.”

“As jy dit teruggee, sal ek afstand doen van die posisie as solis.”

“Wat! Dink jy werklik dat ek jou viool sou steel net om as solis te kan optree?” Helena gryp haar viooltas en storm by die ouditorium uit. Hoe durf hy haar nog steeds van die diefstal verdink? Die enigste manier om hulle verkeerd te bewys is om daardie viool op te spoor. Al moet sy haar laaste sent vir petrol gebruik.

Met hernude ywer ry Helena ná die orkesoefening na van die pandjieswinkels waarby sy nog nie uitgekom het nie. Oor en oor beskryf sy die viool en oorhandig ʼn foto met haar telefoonnommer.

Doodmoeg kom sy by die huis aan en maak ʼn koppie tee voordat sy haar rekenaar nadertrek. Soek op elke moontlike webwerf. Sluit by soveel moontlik Facebook- en Whatsapp-groepe aan en plaas ʼn advertensie dat sy ʼn viool wil koop.

Die dae sleep verby. Elke oomblik wat sy nie privaatklas gee of orkes oefen nie, spandeer Helena om na die verlore viool te soek. Algaande begin Ferdinand beter op die gehuurde viool speel, maar daardie unieke klank wat hy met sy eie instrument kon optower, bly hom ontwyk. Die groot hoogtes waartoe hy die orkes gedurende daardie eerste paar oefeninge gelei het, kan hulle net nie weer bereik nie. Helena voer haar pligte as konsertmeester foutloos uit, maar teenoor Ferdinand tree sy koel op.

Een aand staan Ferdinand weer voor haar deur met ʼn bottel wyn en hierdie keer ook ʼn bos sneeuwit tulpe. “Ek is jammer. Ek weet nie wat my besiel het om te impliseer dat jy betrokke is by die viool se verdwyning nie.”

“Ek aanvaar jou verskoning, maar ek gaan nie jou geskenke aanvaar nie.” Saggies druk sy die deur toe. Leun daarteen en luister hoe sy voetstappe na ʼn ruk in die gang af verdwyn. As die dekselse man net nie so aantreklik was nie. Nie so ʼn lyflike reaksie by haar ontlok het nie.

Tog is dit asof die gespanne atmosfeer tussen hulle effens skietgee. Een middag na ’n oefening gaan drink hulle twee koffie saam met ʼn groepie van die orkeslede. Helena draal voor die kas waarin die macarons uitgestal word. Besluit dan daarteen. Sy het nie nou geld vir luukses nie.

 

Saterdagoggend is Helena besig om die woonstel skoon te maak toe haar selfoon lui. Dis ʼn onbekende nommer. Daar was ʼn man by ʼn pandjieswinkel wat ʼn viool wou verkoop. Die eienaar sal ʼn afspraak met haar en die verkoper reël.

Sy bel dadelik vir sersant Bottoman, maar sy kry net ʼn stemboodskap. Wat nou? Alleen kan sy dit nie in Soutrivier waag nie.

Ferdinand antwoord dadelik. “Helena, wat ʼn lekker verrassing om van jou te hoor!”

“Daar is ʼn moontlikheid dat jou viool by ʼn pandjieswinkel in Soutrivier kan wees. Ek kom jou oplaai dat jy dit kan identifiseer.”

Wat! Hoekom sal jy weet as my viool moontlik by ʼn pandjieswinkel is?”

“Omdat ek orals daarna soek. Die enigste manier waarop ek my onskuld kan bewys, is om jou viool terug te kry en die skarminkel aan die kaak te stel.”

Verslae ry hulle later terug. Dit was toe nie Ferdinand se viool nie.

Later die middag staan Ferdinand weer voor Helena se deur. In sy hande ʼn boks en ʼn bruin koevert. “Sal jy hierdie keer my geskenk aanvaar?” Hy hou die boks na haar uit. “Dis van Charly’s se macarons. Ek het nou die dag gesien jy kyk daarna.”

Sy maak ʼn pot koffie en hulle gaan sit op die balkon.

Ferdinand wag totdat hulle oë ontmoet. “Ek is regtig jammer oor my onvanpaste opmerking van nou die dag. Maar dis so traumaties, ek verdink elke mens wat ek op straat sien. Eintlik het ek daardie eerste dag al besef dit was nie jy nie. Jou verbasing was net te eg.”

“Het jy nooit daaraan gedink om self ook by tweedehandse en pandjieswinkels te soek nie.”

“Nee. Ek was oortuig dat dit iemand was wat die waarde van die viool besef. Daarom is net die viool en niks anders gesteel nie.”

“En die moontlikheid dat die diewe onderbreek is? Of in die donker nie die ander goed gesien het nie?”

“Nee.” Hy staan op en gaan haal die bruin koevert op die kombuistoonbank. “Hier is klomp fotostate van ʼn foto wat ek van my viool laat neem het. Die versekering het dit vereis.”

“Dankie. Dit sal baie help.” Miskien moes sy hom al vroeër by haar soektog betrek het.

“Ek kon nie glo hoeveel tyd en energie jy spandeer het om na my viool te soek nie. Sal jy my toelaat om jou van die tegnieke te wys wat ek by die meesterklasse in Stuttgart geleer het?”

 

“Ek sien nie kans om sonder my eie viool as solis op te tree nie,” lig Ferdinand Adriaan en die orkes in ʼn week voor die openingsaand. Hy kyk na Helena. “Julle konsertmeester se tegniek is van die beste wat ek al gehoor het, boonop is sy vertroud met haar viool. Sy is ’n beter keuse.”

ʼn Salige warmte trek deur Helena se lyf. Om darem so ʼn kompliment te kry! Ja, haar tegniek het ongelooflik verbeter, danksy Ferdinand se privaat lesse in haar woonstel. Hy is nie net ʼn kenner van die viool nie, maar sy aanrakings wat al hoe minder toevallig word, toon dat hy ook ʼn vrou se lyf verstaan.

 

Helena sit op haar stoep met ʼn koppie tee. Vanaand maak sy uiteindelik haar buiging as solis. Haar tegniese vaardigheid het verstommend verbeter, en na al die aandag wat sy van Ferdinand gekry het, interpreteer sy elke nuanse net soveel beter.

Maar hoekom voel dit so bittersoet? Dalk omdat sy weet Ferdinand is werklik beter as sy?

Die selfoon se gelui onderbreek haar gedagtes.

“Mevrou, ek dink die viool waarna u soek, is hier by my. ʼn Man het sowat ʼn maand gelede ʼn viool, wat baie soos die een op u foto lyk, hier verpand. Ek het probleme met my rekenaar gehad en het eers gisteraand u e-pos oopgemaak.”

Hierdie keer antwoord sersant Bottoman amper dadelik. Hy kom laai Helena op en hulle jaag Malmesbury toe. Dis net ʼn paar uur voordat die orkes bymekaarkom vir die groot openingsaand.

“So ʼn bliksem!” sê sersant Bottoman toe hulle met die viool veilig op die agterste sitplek terugry Kaapstad toe. “Adriaan frame jou vir die diefstal en toe is dit al die tyd hy. Seker onrustig geraak toe ek aanhou krap. Dom donder het gedink hy sal wegkom met ʼn pruik en ’n vals ID, maar hy het nie rekening gehou met die sekuriteitskameras wat die eienaar so goed versteek het nie. Ook nie met die mikrofoon op die toonbank wat sy stem opgeneem het nie.”

Helena knik. “Ek reken dit was sy plan om die viool later iewers in die buiteland te verkoop. Hy ken die musiekbedryf goed genoeg om te weet hy sal daar ʼn beter prys kry as in Suid-Afrika.”

 

Ferdinand stap op die verhoog en skud Helena se hand. Daar is ʼn effense blinkheid in sy oë toe hy haar hand na sy mond lig en fluister: “Baie dankie. Jy sal nooit weet hoeveel dit vir my beteken om vanaand een van my geliefdes teen my bors vas te hou nie.”

Een van sy geliefdes, wonder Helena terwyl sy na die jubelende hobo’s en fagotte sit en luister. In amper elke onderhoud het hy gepraat van sy gebroke hart en dat dié viool sy groot liefde is. Maar nou is dit net één van sy geliefdes.

Dis haar oomblik en sy tel haar strykstok op en lei die viole met foutlose spel. Dis een van daardie aande wanneer die instrumente mekaar vind en vly en aanvul. En so ook die orkeslede, dink Helena toe sy  ’n slag of wat opkyk en Ferdinand se oë op haar gewaar.

Sy koesterende blik maak dit duidelik dat daar plek vir ʼn vrou én ʼn viool in sy lewe is en haar hartklop versnel met die wete dat sy voortaan nie meer tweede viool sal speel nie. Nie in sý lewe nie.

Allermins.

 

 

 

Skynduiwel

Christine Stoman

 

Sy eerste teksboodskap laat die asem in my keel stol. Eintlik is dit nie sy eerste boodskap nie, maar die voriges was saaklik. Besigheid. Hierdie een is anders. Belowe my, eendag wanneer jy weduwee en ek wewenaar is, sal ek eerste opsie by jou hê. Egbert.

My nek, ore, alles tintel. Ek onthou sy diep stem. Dit vloei by my ore in, maal in my kop en kry sitplek in my hart. Dit mag mos nie. En tog. Ek wil hom ignoreer. Nee, ek wil hom antwoord. Sal mos slegte maniere wees om nié te antwoord nie? Sy toekomsplan klink buitendien nie sleg nie. Glad nie sleg nie.

Bedoel jy nou daar op die ouetehuis se stoep? ;-) Seker maar beter om ’n bietjie te spot ...

Waar ook al.

Kort en kragtig, maar jô! Die belofte laat my hart steier.

Dis nou seker al drie jaar dat ons saam in die munisipaliteit se beplanningskomitee dien. Hy as stad- en streeksbeplanner, ek as eiendomsagent. Die komitee vergader nie dikwels nie, ons het mekaar seker al so tien maal gesien. Hy was nog altyd net beleefd en korrek. Koelkop, aantreklik, professioneel. Maar hierdie boodskap so uit die bloute?

Ek hoop hy het nie eergister my gedagtes gelees nie! Bloos. Daardie stem – ek het my verluister. Was skoon jammer toe hy klaar gepraat het. Het ek iets laat blyk? Het ek dan nie heeltyd afgekyk na die dokumente voor my nie? My ore gloei by die gedagte dat hy iets geraai het.

Nee wat, onmoontlik! Of nie?

 

Weke later. My siel is tot rus. Egbert is, dankie tog, op die backburner en Nicolaas is weer voor op my spreekwoordelike koolstoof. Ek is juis besig voor die stoof toe my selfoon die komitee se kenwysie dieng-dong:

Sal jou nie volgende maand sien nie. Gaan op reis.

Bon voyage, skryf ek maar terug, want ... wat anders?

Die lewe en sy roetine gaan onverpoosd aan. Ek, Nicolaas en die kinders bly op die draaiwiel hardloop. Sy ingenieursfirma stoom voort, die tieners bly bedrywig met skoolsport en -take en ek verkoop gelukkig ’n eiendom.

My foon dieng-dong weer. ’n Boodskap van Egbert? My hart is in hoogste versnelling en ek loer rond wie my sien voor ek dit oopmaak. Nee. Dis die sekretaresse wat laat weet die April-vergadering is uitgestel tot Mei. Nou goed dan. Sou maar saai gewees het sonder hom.

Dis eintlik gaaf so, want dit gee my kans om die skryfkursus by te woon. Wou mos lankal tyd maak daarvoor. Miskien tog maar my skryfsels onder uit die laai krap en registreer op Potchefstroom. Sal dit met Nicolaas bespreek.

“Dit sal jou goed doen om ’n bietjie weg te breek. Ja, doen iets vir jou siel,” reken hy. Liewe Nic, hy verstaan my so goed.

 

Opgewonde en met my skootrekenaar wat aan my skouer rem, staan ek in die aanmeldingstou. Tot dusver ken ek niemand nie en ek wil dit so hou.

“My wêreld,” klink dit skielik agter my op.

Dis net sý stem wat my hart só kan omkrap. Ongedurig kyk ek agtertoe. Jislaaik, hy lyk goed.

“So ... jy skryf ook?” sê-vra hy. “En jy is net so verbaas om mý hier te sien?”

“Ja.” Hoe intelligent. “Môre, Egbert.”

Die naam Egbert laat my altyd aan ’n Noorse god of iets dergeliks dink. ’n Interessante naam, moet dit nog eendag google, herinner ek myself. Maar dat juis hý ook hierdie skryfskool bywoon, is amper te goed om waar te wees. Hoe het dit gebeur?

Terwyl ek nog dink aan iets intelligents om kwyt te raak trek die registrasiedame my aandag met ’n wuif van haar hand. Ek tree nader, bevestig my besonderhede, ook dat ek reeds verblyf in die Villa Rosa Gastehuis het, dankie. Ek teken die register en glip dankbaar weg na die koffietafel waar ek my doenig hou met ’n beker koffie.

Ek het regtig gehoop dat ek niemand by die skryfskool sal ken nie. Om jou eie liefdesverhaal so openlik met almal te moet deel is al erg genoeg tussen vreemdelinge. Kan ek nie maar weghardloop nie? Ek kan nie my hart voor Egbert oopmaak nie. Veral nie ná daardie boodskappe nie.

“Voel jy ook benoud?” bely ’n vrou hier langs my. Ek kyk om in die blouste blou oë wat ek nog ooit gesien het. Deurdringende blou oë soos ’n Siamese kat, sjoe.

“Definitief.” Ek glimlag. “Ek is Celeste, hallo.”

“Dina. Dina Dell, pieng pong.” En met ’n soet gesiggie sing sy die advertensiedeuntjie van baie jare terug en lag te lekker vir haar eie grap. Ek lag saam, dis aansteeklik.

“Ek het destyds daardie jingle vir DairyBelle geskryf,” bieg sy. “En toe word dit mý kenwysie.”

Ek sing verder: “… vars van die melkery …” Saam proes ons van die lag.

“En waaroor lag julle so lekker?” vra Egbert, sy oë vlugtig op Dina se rondings. Sy vraag laat ons twee opnuut giggel en ons bly hom ’n antwoord skuldig.

Die skryfskool begin met ’n gesamentlike sessie oor kreatiwiteit en die sogenaamde “muse”. Daarna verdeel ons in groepe en ek is verlig dat Egbert nie saam met my in die prosagroep is nie, maar wel in die rubriekskryfgroep. Dina weer, sluit by die digters in die poësiegroep aan, waar anders?

Die dag verloop intens en net ná drankies en aandete is ons almal weer bymekaar om ’n bekende skrywer aan te hoor. Egbert sit tussen Dina en my, sy kop vooroor gebuig, sy elmboë op sy knieë en sy hande amper biddend teen mekaar. Sy fassinerende vingers bou lang torings voor hom in die lug.

Sy volgende beweging is een lang, gemaklike verskuiwing wat sy linkerarm agter my op die rugleuning laat beland. Ek verstyf effe, hou my gesig reguit en konsentreer met mening op die spreker, terwyl Egbert se stem my regteroor en los nekhaartjies streel.

Die skrywer kies hierdie ongemaklike oomblik om ’n ewe ongemaklike opdrag te gee: “Kyk na die persoon regs van jou. Die kanse is goed dat hy of sy nie die skrywerspaal gaan haal nie.”

Ek kyk op na Egbert en meteens tref ’n blitssoen my vol op my effe oop lippe. Konsternasie. Dit skroei. My ore suis. Die lekker en die kwaad stoot gelyk en warm op in my nek.

Dina lag al te lekker vir my reaksie. Daarna hoor ek geen verdere woord nie, net in my kop hoe die engel en die duiwel met mekaar stoei. Intussen rek en krimp my persoonlike borrel. Sy lyf is heerlik naby, ontstellend naby en binne gemaklike bereik – ek moet net ’n hand uitsteek.

Hier moet ek weg.

 

By die gastehuis kom ek tot bedaring, stort en trek my nagklere aan. So ja, nou kan ek my kop skoonmaak en begin skryf.

Maar waar is die woorde? Ek stoot die papier rond, tokkel op die skootrekenaar. Ek sal nooit my opdragte kan doen as ek nie eers my kop skoon kry nie. Daardie simpel soen! Daardie voorbarige man! Sy skroeiende lippe op myne. Jislaaiktog. Wag, laat ek hierdie hitte aan my karakter skenk. Sy kan doen met ’n bietjie vuur.

Maar eers bene rek en asem skep. Ek skuif die slaapkamergordyne en die luik oop en loer uit op soek na sterre. Niks. Te veel lig hier op Potch.

Ek draai weg en soek op my speellys na kalmerende musiek. Ja – Massenet se Meditation is net wat ek nodig het. Met die eerste note strek ek my arms, raak my tone ... en op ... en uit. Hoe lekker, die vertroude bewegings van my oggendroetine tuis. Gou verander dit in my dansroetine en ek haal my beste balletpassies uit en verbeel my ek het nog my balletlyf van dertig jaar terug.

Terwyl ek lustig pirouette, klink ’n klopgeluid skielik iewers op. En dan weer. Teen my venster. Goeiste? Het ek die gordyne oopgelos?

My bewegings stol en ek swaai om en staar na die glimlaggende, wuiwende Egbert aan die anderkant van die venster, wat met groot gebare beduie dat hy iets wil gaan drink. My hart skop in ’n heel ander ritme in, ek voel lig, soepel, ontvanklik. Hy het my gesien dans? In my nagklere. Genadetjie. Maar wat soek die man ook by my venster.

Die gestoei begin weer in my kop. As ek hom innooi, sal daar nog sulke soene wees? Maar die vermetelheid! Maar die genoeglikheid?

Hy klop weer. Dan begin hy sing. Diep basstem. Wat? I can’t help falling in love with you. Hy moet ophou, die bure sal hoor. Nee, bog met die bure, ek wil nog hoor!

Maar die enkele note dryf weg en hy wink weer.

Kom, beduie hy. Ons moet iets gaan drink.

Ek aarsel. Dit hoort nie. Maar ek is juis lus vir iets met ’n bietjie skop en daar is net koffie en tee in die kamer.

Vasbeslote praat ek die gestoei in my kop dood en haal ’n rok, serp en stewels uit die kas. My gordyne is nog oop en ek trek dit toe. Hy sal hom wat verbeel. Reeds te veel gesien. In die badkamer besef ek my hande bewe. Stadig nou, Celeste. Get a grip.

Op die Bult is verskeie restaurante nog oop. Ek bestel wit wyn en ’n klein porsie calamari sodat my hande iets het om te doen. Egbert sit ongemaklik naby aan my, sy oë lyk tergerig, maar voordat hy iets tergends kan sê, bondel die vraag by my mond uit.

“Wat beteken die naam Egbert? Dit klink ... Noors –.” Ek keer die woorde “soos ’n Noorse god” net betyds.

“Ek dink iets soos blink swaard. Hoekom vra jy? Het jy oor my gewonder soos ek oor jou?”

Touché. My onskuldige vraag is omvorm in iets intiems. Dit sien ek in sy oë.

“En jou naam ... Celeste ... beteken dit dalk hemels?” Hy herhaal die laaste woord en my oë volg elke nuanse van sy lippe. Hy leun nader en ek sien môre se baard waar dit wil-wil deurstoot. Dis onhebbelik, onbetaamlik aantreklik. Veral saam met daardie deurmekaar wenkbroue. En orals net daardie titsel grys.

Sou my grys ook deurslaan? Sien hy dit en skrik dit hom af? Klaarblyklik nie, want hier kom dit. Sy lippe skuur teen myne, aspris en stadig. Bingo!

Ek hap na lug en sit effe terug. Duidelik werk al my senuweepunte nog, want die sensasie prik my in die mik en blits dan tone toe. My hele liggaam sekondeer dat daar dele is wat nog wil hê.

            Maar laataand gaan ek stemmig terug gastehuis toe, soos dit Celeste, 43 en gelukkig getroud, betaam. Die nag is nie maklik nie, dis ’n glibberige nag om die minste daarvan te sê.

 

Die feit dat Egbert my aandag elke beskikbare oomblik probeer opeis, is nogal vleiend. Op sy voorstel gaan die drie van ons die volgende aand na ’n ander restaurant. Hy is op sy stukke en vermaak ons met “As julle julle oë uitvee, is ek die volgende Nataniël wat oor eyeshadow sing. Of anders skryf ek rubrieke vir Sarie soos daardie Le Roux-vent. Hý ken ’n vrou mos binnestebuite.”

            Die laaste sin laat my binneste tuit.

Sarie?” eggo Dina. “Lyk my jy ken jou vrouetydskrifte.”

“Navorsing was nog altyd my ding. As jy rubrieke wil skryf, moet jy ook rubrieke lees. In ieder geval, daardie tydskrifte publiseer mos graag velfoto’s.” Hy knipoog na my kant toe. “Daar’s dus baie om te bekyk.”

Sy woorde raak soos skuurpapier en ek hou op luister, terwyl Dina koer van die lag en die een glas witwyn na die ander wegslaan. Haar glimlag eis sy aandag op en ek voel viesverlig.

 

Die volgende dag gedurende middagete gesels Dina oor haar kopseer en gebrekkige konsentrasie terwyl ek so terloops moontlik rondloer. Egbert staan oorkant die vertrek en maak grappies met ’n slanke student. Vroulik, natuurlik. Die dametjie flankeer met haar vingers in haar lang lokke.

“Ek is darem bly hier is ook mense van my portuur,” bieg ek teenoor Dina. “Vandag se jongmense is so selfversekerd hulle gee my ’n pyn.”

“Ek hoor jou. Hier is maar min van ons oud en getroudes. Vertel van jou man en gesin?”

Ek vertel haar in hooftrekke, ook dat Nicolaas nog altyd my behoefte aan skryf ondersteun het. “Ek en hy beplan ’n aftrede wat uit boeke, musiek en ’n wonderlike uitsig oor die see bestaan, of dalk die Bosveld, of waar ook al, solank dit rustig is.” Heimlik sien ek alreeds daarna uit. Saam met my beste pel.

 

Die volgende klompie dae soek Egbert my telkens op vir geselsies en wil als weet wat ek in die prosagroep beleef. Sy oë kuier intiem in myne, dwing my om nie koel teenoor hom te wees nie.

“Ek is maar benoud. Dis een ding om skrywerig te voel en ’n ander om op jou stêre te gaan sit en te produseer,” verduidelik ek. “Maar jy? Hoe beleef jy die skryfskool?”

“Ek wens dit kan vir ewig aanhou,” sê hy met daardie ongelooflike stem. “Ek is omring deur mooi vrouens, die laaste een begaafd. Wat kan beter wees as dit?”

Ek staar hom aan, my gedagtes by sy naam. ’n Skitterende swaard wat met sy glans verblind. Ai, dat so ’n mooi kop so leeg moet wees. Sonder om hom te antwoord, beweeg ek saam met die ander terug lesingsaal toe vir die volgende uitdaging.

Dankie tog vir Dina wat kort-kort iets prettigs en borrelends kwytraak, want meer en meer sien ek dat Egbert net té na aan té veel dames staan. Hoe het jy dan gedink, bakvissie? Sekerlik nie dat sy aandag eksklusief by jou sal wees nie?

Ek kan nie besluit of my lyf hom mis of nie.

 

Daardie aand stuur Nicolaas vir my ’n e-pos: ’n gedig wat hy destyds vir my geskryf het toe ons jonk, mooi en verlief was.

Namib-huwelik

 

As ek ligene is

en jy my vog

dan kan ek net gedy

maar eerder:

wees jy ook ligene

en deel my vog met my.

 

Nic.

 

Ek glimlag vir die amateuragtige poging – tog ook so eg – en sien voor my geestesoog my vasvatman wat my binneste so goed kan peil: Grys om die slape, grys in die netjiese baard. Spiere wat my lyf laat antwoord gee.

Ek skryf terug: Lief, lief, lief. Mag hy nooit weet dat my iets-vir-die-siel ’n gestoei met die duiwel was nie. Die duiwel en ou gladdebek met sy glans. Hulle kan maar verby hou.

 

Die volgende môre is ons laaste dag saam. Ons skryfwerk is van bo tot onder beskou, bekrap en beoordeel. Ek moes hoor dat ek “innoverend” is. Nou ja.

So word ons moed ingepraat deur dieselfde skrywer wat vier dae vantevore gereken het nie een van ons sal ooit enige sukses smaak nie. Ek glimlag met binnepret, dankbaar vir die week se dieper kyk en dieper dink. Hoe lekker gaan dit nie wees om als vir Nicolaas te vertel nie.

Amper als.

Dina kom wys grootoog vir my ’n boodskap op haar selfoon.

Blouoog Siamese katjie, belowe my eendag wanneer jy weduwee is en ek wewenaar, sal ek eerste opsie by jou hê. Egbert.

            Ongelowig staar ek daarna. Bars dan uit van die lag. Die man het nie eens die kreatiwiteit om ’n oorspronklike boodskap uit te dink nie. Het natuurlik die skryfskool bygewoon net omdat daar baie vrouens sal wees. Nou ja, dit sal my leer. Dalk vertel ek tog vir Nicolaas van my skynduiwel. Op ’n kreatiewe manier, natuurlik. Ek het mos gehoor ek is ’n “innoverende” skrywer.