Artikel deur Francois Verster, Litnet
Watter insigte bied die (historiese) romanskrywer aan die geskiedenisstudent? Ons weet dat historiese romans en films, benewens feitelike dokumentêre werke, die belangstelling in geskiedenis aanwakker, ook om self verdere studies daarin te onderneem. Een historikus wat ek persoonlik ken, is as kind na ’n vertoning van Tora, tora, tora (oor die Japannese aanval op Pearl Harbor) geneem en sy belangstelling in die epiese gebeurtenis is vandag, sowat 40 jaar later, steeds intens, omvangryk en insiggewend.
Dis inderdaad so dat die esoteriese aspekte van die verlede deur romanskrywers soos Schoeman ondersoek en vernuftig verwoord word; aangebied op ’n wyse dat die publiek ook aan die geskiedenis blootgestel word en selfs leer om daaroor te dink en hulle eie gevolgtrekkings te maak. Waar die historikus verhinder word om soos ’n roman- of rubriekskrywer openlik subjektief met die verlede om te gaan, kan lewenslesse uit historiese gebeure deur skrywers bespreek word, en op ’n manier wat akademici nie noodwendig gegun word nie. Dit sluit indringende karakterontledings en vergelykings tussen historiese figure in, asook alternatiewe voorstelle oor wat kón gewees het, wanneer die romanskrywer “Wat sou gebeur het as ...?” vra.
Die romanskrywer kan sy lesers meevoer deur sekere skryftegnieke te implementeer en met kleurvolle beskrywings van milieu en dies meer, en die leemtes in kennis met dialoog te vul en met fiktiewe karakters te bevolk. Hoewel die historikus ook van verbeelding gebruik moet maak – geen skryfwerk is sonder verbeelding en literêre vaardighede moontlik nie – het die romanskrywer ’n wyer keuse van onderwerpe en invalshoeke.
Ook hoef die romanskrywer nie so diep te delf in die beskikbare data nie, en kan hy/sy na willekeur van ramingstegnieke (wat word belig, wat word weggelaat) gebruik maak. Schoeman praat van die “wiegende gordyn” wat sy karakter in Verliesfontein (1998) kan sien – en wat hy as skrywer kan lig om na binne te kyk. So het hy as skrywer ook ’n vrypas om na binne te beweeg, ook in wyer en verder binnereise, waar die historikus dalk voor die geslote tuinhekkie bly staan.
Hierdie evaluering van Schoeman se oeuvre (deur Willie Burger) – en veral oor Schoeman se gemoeidheid met die verlede – herinner aan ’n ander skrywer wat soms van nostalgie-smousery beskuldig word, maar ook heelwat vrae laat opklink oor die Afrikaners se impak op die land, die nasie en uiteindelik homself as skrywer, naamlik Dana Snyman. Schoeman benadruk dit juis dat die verlede vir hom “in diens [staan] van persoonlike ontwikkeling en besinning oor identiteit”. Die vrae wat Snyman in sy oeuvre aan homself en sy lesers stel, dui op dieselfde behoefte.
Snyman, wat saam met Schoeman (en Bill Nasson en Albert Grundlingh) vir die nuwe kykNET-Rapport-boekprys benoem is, reis ook in tyd en ruimte om sin te maak van die doen en late van veral Afrikaners wat wyd en syd oor hierdie wye land verspreid is.
Soos Schoeman, is ook Snyman ’n waarnemer en in ’n sekere opsig ’n buitestander (is alles skrywers nie?), want dis makliker om terug te staan en so onbetrokke as moontlik te probeer wees. Uiteraard is volkome objektiwiteit menslik onmoontlik, want selfs dit wat die skrywer weglaat, kan dui op persoonlike voorkeure en ’n gebrek aan begrip, maar hierdie skrywers probeer immers om aan die lesers die geleentheid te bied om anders te kyk en nuwe gevolgtrekkings te maak.
Willie Burger se gevolgtrekking dat “[net] woorde bly” laat ’n mens ook dink aan ene Anton Schoombee wat oor ’n tydperk van 40 jaar handtekeninge versamel het. In Die Burger van 21 Oktober 2011 word Schoombee aangehaal: “Dís vir my geskiedenis ...” Hy sukkel om die regte woorde te vind. “Jy ... Jy probeer iets van die verlede vasvang. Dis wat ek met my handtekeninge probeer doen.” Hierdie skynbaar futiele poging om iets van die verlede (wat Schoeman ’n “ander land” noem) vas te vang, word uiteindelik gemeet aan die vraag: Doen mens dit om insig aangaande jouself en jou medemens te kry, of is dit bloot nostalgiese hunkerings?
Vir die geskiedenisstudent behoort daar ook vrae te wees soos: Waarom bestudeer ek die geskiedenis? Wat wil ek met my verworwe kennis maak? Hoe volledig en korrek is die data wat ek ingewin het?
As ‘n tolk of interpreteerder, hoewel ’n ander soort as wat romanskrywers en joernaliste is, moet die geskiedenisstudent sy vak gedurig bedink en sy/haar eie agendas eerlik in oënskou neem. ’n Mens kry die gevoel dat dit is wat Karel Schoeman sy lewe lank wel gedoen het, en dit is daardie mengsel van afstandelikheid en insiggewendheid wat sy woorde laat voortleef.
Die bydraes van die skrywer en die historikus behoort tesame in ’n perspektief geplaas te word wat ons as ’n “historiese raamwerk” kan beskou. Vir Suid-Afrikaners kan ’n Nasson of Grundlingh aan die een kant en ’n Schoeman of Snyman aan die ander kant saam veel meer werd wees as in aparte hokkies of rame.
Uittreksels uit 'n artikel deur Willie Burger oor Karel Schoeman, “Sy oeuvre 'n bolwerk teen vergetelheid” (Die Burger, bl 9, 27 Oktober 2014).