Terwyl jy as skrywer daardie eerste weergawe van jou manuskrip skryf, is jy in werklikheid nog op ’n ontdekkingsreis: ontvanklik en oop vir moontlikhede, dinge wat uit enige oord op jou kan afkom, drome, nagmerries, koerantopskrifte, iets op TV, of iets wat iemand sê wat jou op daardie oomblik inspireer, en waarsonder jy reken jou storie net daardie belangrike bietjie flouer sal wees. Natuurlik het jy jou storielyn weke, maande lank beplan, en interessante 3D-karakters geskep, elk met ’n eie ambisie, droom, agenda en donker geheim, maar tog bly dinge oop, jy bly ontvanklik, idees kom steeds van alle kante na jou toe, en jy wonder wat om te inkorporeer, en hoe, en of jy nie net op jou beplanning moet staatmaak nie?
Benut hierdie plastiese tydperk, vra opnuut vrae aan jouself, selfs terwyl jy freneties skryf, bly oopkop, want wanneer die eerste weergawe eers op papier is, sal jy nóg minder gretig wees om enige veranderings aan te bring. Want wanneer daardie eerste weergawe eers neergeskryf is en ’n tasbare gedaante aangeneem het, is dit bitter moeilik raak om daaraan te verander, want nie net voel dit vir jou afgehandel nie, jy het ook al teen hierdie tyd geleer dat elke verandering, selfs die kleinste, ’n rimpeleffek tot gevolg het wat jou hele manuskrip affekteer, en dat jy daarna nogeens deur die hele manuskrip sal moet werk om die reperkussies van daardie veranderinkie, wat so onskuldig gelyk het, naatloos in te bou.
Maar dis maar die skrywerslot – dit het jy waarskynlik ook al besef – en gelate maak jy daardie veranderinkie en hanteer die rimpelings, want jy streef na iets uitsonderliks, iets wat lesers sal stomslaan en sal bybly. En so stap jou manuskrip aan einde se kant toe, en tot jou ontsteltenis besef jy hoe verder jy skryf, dat die verhaal net te voorspelbaar voel, net te veilig, te gewoon sodat ’n stille radeloosheid en wanhoop oor jou begin uitsak.
Jy het weggespring met ’n merkwaardige, interessante karakter, iemand wat anders is, iemand besonders, maar ook iemand wat sterk tot jou lesers sal spreek, iemand met wie jou lesers sal kan identifiseer. Jy het ’n universele konflik ingebou en die protagonis se worsteling met die probleem, doelstelling en antagoniste is intens en oortuigend, die spanningslyn sal lesers hulle naels laat kou. Maar nou begin jy voel dat die einde, hoewel goed gemotiveer en oortuigend, net daardie tikkie te bekend is, dat dit jou lesers nie sal beïndruk nie, dat hulle nie sal voel dit werk, maar dat hulle nie self daaraan sou gedink het nie, dat dit net te voorspelbaar en maklik is.
En jy begin besef jy sal dinge op hulle koppe moet laat staan, jy sal dinge moet omswaai, ou bekende konsepte en die gewone maniere waarop mense na gebeure, situasies en intriges kyk ’n dramatiese kinkel moet gee, want as skrywer wil jy tog hê jou lesers moet jou boek toemaak en weer oopslaan, en weer toemaak en weer oopslaan, en dat hulle dan lank met die boek in die hand deur die venster sal staar terwyl al die reperkussies van die einde, die impak daarvan op die karakters, die verborge motiewe wat deur jou einde belig word, nie net in hulle koppe draai nie, maar hulle ruk. Ja, daardie nag, en verskeie nagte daarna, moet al hierdie dinge en nog méér met toenemende intensiteit by jou lesers spook.
Hoe gemaak om dit te bereik?
’n Deel van die geheim is om nie tevrede te wees met die eerste, beste oplossing of afloop wat jou te binne geskiet het nie. Ook nie met die tweede, derde, vierde of vyfde nie. Selfs nommer twintig moet jy met agterdog bejeën. Want dis nóú dat jy krities na al jou karakters moet kyk, en moet besluit hoe jy dinge dieper, intenser en broeiender kan maak sodat die einde van jou verhaal jou lesers jare lank sal bybly. Want wanneer jou lesers al die meeste van die detail van die verhaal vergeet het, moet hierdie einde nog skerp in hulle gedagtes gegraveer wees, dalk vir altyd.
Hoe gaan jy dit doen?
Die antwoord is tweeledig.
Eerstens, moet jy wegkom van stereotipes, jy moet stereotipes op hulle koppe laat staan. Weg met speurder Leon van Jaarsveld. Welkom speurder Leoni van Jaarsveld. Weg met die manlike held. Welkom, vroulike heldin, want ’n triomfantlike vrou sal ander dimensies in ’n verhaal indra, ander moontlikhede, ander komplikasies.
Verander die pa wat wegloop in die ma wat wegloop. Verander die dronk boemelaaroupa in die dronk boemelaarouma. Kyk watter uitwerking elk van hierdie veranderings op die verhoudings tussen die karakters en op die intrige self sal hê. Hoe voel ’n man wat deur ’n vrouespeurder vasgetrek word, hoe reageer hy daarop, wat sê sy vriende? En sy vrou? Hoe hanteer ’n gesin ’n boemelaarouma? Wat as die ma wat volgens die pa met die jongste kind se geboorte dood is, in werklikheid uit die hospitaal uit weggeloop het en nou ’n tweede gesin het? Hoe voel die kinders uit die eerste gesin oor hierdie onthulling? Hoe voel die kind wat altyd gereken het hy/sy is vir sy ma se dood verantwoordelik?
Tweedens, maak die verhoudings tussen die karakters meer intens, m.a.w. skep familie- of sterk, intense vriendskapsbande waar daar voorheen niks was nie, want om deur ’n pa, ma, broer of selfs ’n niggie verraai te word is net soveel meer intens as wanneer dit ’n vreemdeling is. Stel jou die situasie voor waar ’n man/vrou vrykom en triomfantlik wegstap nadat hy ’n ander, heelwat jonger man vermoor het. Moord is erg, ja, maar hoeveel meer intens is dit nie as die man kinderloos is terwyl die jonger man in werklikheid sy eie seun is wat hy jare terug buite-egtelik verwek het – maar die man vind dit eers uit nadat hy vrygespreek is. Hoe voel hy nou oor die feit dat hy vry is? Hoe voel hy nou oor sy leuens en verdigsels? Hoe leef hy nou met homself saam?
Stories bied aan skrywers die geleentheid om nuwe werklikhede te skep, om ou visies met nuwes te vervang, om lesers anders te laat dink, en anders na dinge te laat kyk. Sien dit as jou taak om stories te skryf wat werklik nuut, vars en anders is, stories met ’n einde wat lesers sal bybly.
Write a comment