Nogmaals dankie vir jou deelname as skrywer/keurder. Ek stel dit hoog op die prys. Talle mense het my laat weet dat die keuring moeilik, maar ook lekker was en dat hulle baie daaruit geleer het. En dis die hele idee.
Die kompetisie was straf, daar was oor 'n 100 inskrywings. Dis opvallend dat 4 uit die 5 topstories deur ervare Skryfgeheime-studente geskryf is. Verder is 5 van die volgende 7 stories ook deur ervare Skryfgeheime-studente geskryf. Klink dit na 'n patroon?
Die drie keurings is uitsluitlik deur deelnemers uitgevoer en die stories is anoniem aan hulle gestuur. Daar kan dus geen sprake wees van partydigheid ten opsigte van die keuringsproses nie. Ek is oortuig niemand sal my verkwalik as ek die afleiding maak dat 'n Skryfgeheime-kursus aan hierdie mense 'n goeie voorsprong gegee het nie.
Diegene wat teleurgesteld voel, moet onthou dat "om te skryf" 'n komplekse taak is waarby talle vaardighede ter sprake kom, dinge wat jy nie sommer oornag onder die knie kry nie. Nee, dit vat tyd. En baie insette. Wees dus realisties, moenie moed opgee nie, en probeer weer.
Geniet die topvyf geredigeerde verhale wat vir 'n kort tyd op die web beskikbaar sal wees vir deelnemers om te geniet en uit te leer. Ek hoef natuurlik nie te noem nie dat elke verhaal slegs met die betrokke skrywer se uitdruklike verlof gekopieer of versprei mag word.
Die dood van Stefanus Roos
Riekie Greyling
“Geliefdes, ons is vandag hier bymekaar om die lewe van Stefanus Roos te gedenk: ’n steunpilaar vir die gemeenskap, ’n filantroop, ’n gesinsman. Sy skielike dood het die dorp geruk. Hy laat sy geliefde vrou, Melinda, agter.”
Melinda sit met ’n geboë hoof in die voorste ry. Haar donker hare, vars gekleur vir die okkasie, vorm ’n doeltreffende skans waaragter sy kan wegkruip, haar droë oë kan wegsteek. Sy weet dat almal in die stampvol kerk se blik op haar gerig is. Die stylvolle vrou van die gerekende advokaat – verdediger van die onskuldige, die weerlose. Die man met die oop hand vir enigiemand wat in nood is. ’n Oop hand vir haar wang, wanneer sy gestraf moet word.
Mel, jy het jou soos ’n slet gedra by die dinee vanaand. Klap! Met al wat broek dra, geflerrie. Klap! Jy weet jy mag nie saampraat nie – asof jy ooit enigiets sinvols te sê het. Klap!
Na die derde hou brand jou gesig nie meer nie. Die geheim is om in jou kop weg te kruip. Daar waar sy oop hand nie kan bykom nie. Dan, wanneer sy weier om te huil, sy snedige bevel: “Gaan maak vir my tee. Dis al waarvoor jy goed is.”
Nooit weer sal sy ’n koppie tee maak nie. Vir niemand nie.
Sy is bly hy is dood.
“… en sy pragtige dogter, Anja. Anja, jou pa was ontsettend lief vir en trots op jou. By elke kerksvergadering het hy gespog met jou prestasies …”
Trane stroom oor Anja se gesig. Sy het jare laas gehuil. Haar ouers se sonskynkind. Almal wat haar ken, bewonder haar optimisme. Haar sonnige glimlag is haar uitstaande kenmerk. Sy het ook nie gehuil toe haar pa die eerste keer haar donker kamer binnegesluip het nie. Die deur saggies, saggies agter hom toegemaak het nie. Sy het nie gehuil toe die pyn en die vernedering haar verlam het nie. Sy het nie gehuil toe hy fluister dat dit net hulle twee se geheim is nie. Sy wil tog nie hê dat Mamma moet weet nie, wil sy? Mamma is broos. Kyk net hoe baie keer maak sy haarself seer. Nee, niemand mag ooit weet nie.
Wie sal haar tog glo? Almal is dan lief vir Pappa. Glimlag, Anja. Jy is Pappa se spesiale prinses. Kom, gaan maak vir Pappa ’n koppie tee. Niemand maak sulke lekker tee soos jy nie.
Sy is bly hy is dood.
“Stefan, nie net is jy jou pa se naamgenoot nie, jy is ook sy ewebeeld …”
Nee, asseblief, net nie dit nie. Hy is niks soos sy pa nie. Hy wíl niks soos sy pa wees nie. Sodra hy wettiglik kan, gaan hy sy naam verander. Daar moet absoluut niks omtrent hom wees wat hom aan sy pa herinner nie. Hy haat hom. Vandag is die beste dag van sy lewe – hoe gouer sy pa in die grond is, hoe beter.
Hulle dink hy weet nie. Maar jy moet blind en doof wees om nie te weet wat agter die Roos’e se toe deure aangaan nie. As Mamma net nie so pateties was nie. Hoeveel keer moet die monster haar slaan voordat sy terugbaklei? Wanneer het hy ophou glo dat haar rooigehuilde oë en geswelde gesig hooikoors is? Vyf? Hy was tien toe hy die eerste keer gesien het dat sy pa na slapenstyd in sy sussie se kamer insluip. Net tien toe hy opgelet het hoe sonniger haar glimlag, hoe dowwer die lig in haar oë.
Hy is bly hy is dood.
“Stefanus Roos was ’n man van hoë morele waardes …”
Ha! Hoë morele waardes. As die respektabele gemeente maar net weet. Sara sluk haar lag weg en verskuif ongemaklik op die houtbank. Dis nie asof die dorp se mees eksklusiewe metgesel gereeld in die kerk kom nie.
Stefanus lag hom seker pap vir haar preutse uitrusting, vir die geleende broekpak wat haar lyf so knel. So het sý vir hom gelag wanneer hy soos ’n Engelse lord alewig ’n koppie tee wou drink. Uit die fyn porseleinkoppies wat hy spesiaal gekoop het. Daardie teestel is deur talle ander geskenke opgevolg. As al hierdie prim en proper mense om haar net kon weet hoe luuks haar nessie geveer is. Dit is net soos die dominee sê: Stefanus het ’n oop hand gehad.
Net jammer dat dinge skeef geloop het teen die einde. Het hy regtig gedink hy kan haar afpers? Sy skielike besitlikheid en eise dat sy net sý speeding is, was belaglik. Hy sou haar baie meer moes betaal om “eksklusief” te wees.
Hy het net gelag. En gesê hy weet hoe om van ongewensde elemente ontslae te raak. Min het hy geweet sy weet ook.
Sy is bly hy is dood.
“…’n man wat ’n reguit, eerlike pad geloop het.”
Chris Delport verwonder hom daaraan dat selfs ’n uitvaagsel skielik ’n heilige word sodra hy dood is. Skielik het niemand iets leliks om te sê nie. Hy sluk aan die bitterheid in sy keel. As kantoormure maar kon praat. Hoeveel keer moes hy nie, as Stefanus se vennoot, toekyk hoe Stefanus mense vernietig nie? Hy was ’n briljante advokaat, maar sy dienste het teen ’n stywe prys gekom. Reg en geregtigheid was net diegene beskore wie se sakke die diepste was. Onskuld, of skuld, het selde in die prentjie gekom. Oor ’n koppie tee uit fyn porselein is mense se lot beklink.
Hy is bly hy is dood.
Speursersant Hofmeyer staan voor in die kerk langs die konsistoriedeur. Roerloos, probeer hy so onopsigtelik moontlik wees. Die talle blommerangskikkings verskuil hom van die gemeente se oë. Dominee se preekrede vorm die raamwerk van sy observasies. Soos dominee die een na die ander eienskap uitlig, bekyk Hofmeyer die gesigsuitdrukking en gebare van die betrokke persoon. Gesigte verklap meer as wat mense dink.
Roos se moordenaar is een van die groep mense wat sedig in hierdie banke sit. Die detail van sy moord is nie algemeen bekend nie, maar die moordenaar kon net iemand gewees het wat ná aan hom was. Sy dood is koelbloedig beplan en uitgevoer.
Roos se weduwee is koponderstebo sedert sy op die voorste bank gaan sit het. Nie een keer tydens die diens het sy na die predikant of haar man se kis gekyk nie. Nie eens toe die predikant haar naam genoem het nie. Die enigste sigbare reaksie was die effense verstywing van haar skouers toe die predikant van Roos se oop hand gepraat het. Indien moontlik, het haar lyf nog stiller geword, daar waar sy soos ’n beeldskone standbeeld tussen haar kinders sit. Afgesluit. Onleesbaar.
Anja sit aan haar ma se linkerkant. Hofmeyer frons liggies. Interessant. Sy is die enigste familielid wat enige emosie wys. Maar hoewel die trane oor haar wange stroom, maak sy geen geluid nie, staar bloot na die kis, hande netjies gevou op haar skoot, . Eienaardig dat ma en dogter nie na mekaar uitreik vir ondersteuning nie. Die paar sentimeter wat hulle skei, kan net sowel ’n gapende kloof wees.
Die broer aan die ma se regterkant is ’n raaisel. Hofmeyer kan sweer daar was vir ’n breukdeel van ’n sekonde weersin op die jong man se gesig. Die predikant is reg, hy lyk soos ’n jonger weergawe van sy pa. Aantreklik, sterk gebou vir ’n sestienjarige. Goeie gene. Waarom sal die seun sy pa so haat? En tog, Hofmeyer kén daardie houding. Het hy dit nie aan sy eie lyf gevoel nie?
Die aantreklike vrou wat ongemaklik rondskuif op haar sitplek trek sy aandag. Nou ja … wat maak Madam Sara in die kerk? Sy is skaars herkenbaar sonder haar “uniform”. Sou die mense, spesifiek die vrouens, weet wie sy is? Daar is vir seker ’n aantal mans wat op die oomblik ietwat ongemaklik voel. Nogal veelseggend dat sy by Roos se begrafnis is. Sy is beslis volgende op sy lysie vir ’n formele geselsie.
Skuins voor haar sit Roos se vennoot. Moet sê, die man lyk nie besonder bedroef dat sy boesemvriend oorlede is nie. Met Roos uit die prentjie, sal hy heelwat kliënte inwin. Hy is immers nou die enigste advokaat op die dorp. Roos en Vennote was besonder gewild op die dorp. Tensy Delport drasties droogmaak, sal niemand hulle regsake van hulle af wegvat nie.
Hy kug effens. As hy die stories kan glo, het Delport en Roos nie juis langs dieselfde vuur gesit nie. Selfs nadat Delport ’n vennoot geword het, is sy van nooit by die firma se naam gevoeg nie. Volgens Roos was dit onnodig, want hy was, is en sal altyd die gesig van die firma wees. Dit alleen moes vir Delport dwars in die krop gesteek het. Genoeg om moord te pleeg? Nou ja, Chris Delport bly vir eers op die verdagtelys.
“Op versoek van die familie, is die teraardebestelling ’n privaat geleentheid. U teenwoordigheid vandag word waardeer.”
***
Hy staan regop en fier terwyl die kis uit die kerk gedra word. Roos se gesin volg met geboë koppe. Nie te danke nie, liefste gesin, ek het julle gered van ’n onhoudbare lewe. Alles reg, dit was ’n groot plesier.
Aa, die lieflike Sara, beeldskoon, selfs in daardie vaal broekpak. Roos se dood moes jou diep geskok het – ek kan my net indink hoeveel hy moes opdok vir die voorreg van jou bed. Sy ontydige afsterwe moet ’n taamlike gat in jou begroting agterlaat. Maar liefste Sara, dit alles was nodig sodat ek jou kan optel uit die slyk van jou beroep. Jy sal sien dat daar ander maniere van leef is. Glo my, jy sal nog dankbaar wees vir my hulp.
Chris, jy is so ’n goedhartige mens. Jy het dit nie verdien dat jou naam gekoppel word aan ’n ellendeling soos Roos nie. Nou kan jy sake doen sonder om jou gewete in die proses te vermink. Miskien kan reg en geregtigheid nou op ’n eerbare manier geskied.
Dae soos vandag maak hom dankbaar vir sy beroep. Een vir een kan hy van die samelewing se drek ontslae raak. Gesiene mense wat soos parasiete die lewe uit almal tap wat ongelukkig genoeg was om hulle pad te kruis. Dit is doodmaklik. Al wat dit verg, is ’n koppie tee in die pastorie. En ’n vlugge, effens oop hand.
Moordvlug 728
Eugene Pienaar
’n Gil vanuit die agterkant van die vliegtuig laat Bertus Kruger vervaard omkyk. Agter in die gangetjie staan ’n jong lugwaardin, bebloede hande voor haar in die lug.
“Sy is dood!” is al wat sy uitkry, voordat sy inmekaarsak.
’n Chaos bars los, van die passasiers begin praat en beduie.
Bertus vlieg op, en hy en twee bemanningslede en ’n passasier snel die lugwaardin te hulp. Ander kajuitpersoneel is ook daar om hand by te sit. In die deur van die toilet, opgekrul op die vloer, lê die lyk van ’n jong vrou in ’n plas bloed. Dit blyk dat sy met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek is. Van die moordwapen is daar geen teken nie.
Op daardie oomblik kom kaptein Roelf du Toit uit die kajuit en neem beheer van die situasie. Hy herstel die orde deur die passasiers te maan om op hulle plekke te bly sit terwyl die kajuitpersoneel die moordtoneel opruim.
Die lyk word verwyder en die toilet word gesluit sodat die polisie dit later kan deursoek. Bertus het intussen gaan sit, maar sy oë mis niks. Hy merk op dat die kaptein sigbaar ontsteld was toe hy die lyk sien. Dis duidelik dat hy dit moeilik vind, maar hy kwyt hom nietemin goed van sy taak en lyk effens verlig wanneer hy later terugkeer na die kajuit.
Die slagoffer blyk ene Charmaine van As te wees, ’n jong vrou in haar laat twintigs wat saam met haar man, Karel van As, gevlieg het. Sy was blykbaar al in die toilet nog voor die vliegtuig opgestyg het. Volgens Karel was dit nie vreemd nie. Sy was glo bang vir vlieg en het haarself al vantevore in die toilet toegesluit tydens die opstyg en die landing.
Karel is aanvanklik ontroosbaar oor sy vrou se skielike dood. Maar wanneer die stof effens gaan lê het en alles weer normaal is, verander sy skok en hartseer gaandeweg in woede. Hy gaan staan voor in die vliegtuig en roep uit: “Ek soek die bliksem wat haar vermoor het, en ek gaan hom kry voor ons in Kaapstad land! Hoor jy dit, jou vark? Ek gaan jou kry. Jy gaan boet vir wat jy gedoen het!”
Die lugwaardin wat die lyk ontdek het, kry hom aan die arm beet en probeer om hom na sy sitplek lei. Maar hy ruk eenvoudig sy arm los.
“Los my! My vrou is dood. Ek wil weet wie laaste die toilet besoek het!”
Daar kom geen reaksie van die twintigtal passasiers nie en sy tirade duur voort. “Moenie net daar sit en my aanstaar nie. Iemand moes iets gesien het! Ek vra, wie was laaste by die toilet?”
“Die lugwaardin!” roep ’n stem.
“Ag, magtag, man, ek bedoel vóór die lugwaardin,” antwoord Karel ergerlik.
Bertus besluit om ’n klip in die bos te gooi. “Hoekom wil jy haar uitskakel? Sy was laaste daar. En haar hande was vol bloed …”
“Wat probeer jy sê, meneer?” roep die lugwaardin uit.
Bertus staan op en kyk haar vierkantig in die oë. “Ek probéér niks sê nie, ek sê net wat ek gesien het. Hoe het die bloed aan jou hande gekom?”
“Ek het gevoel of sy nog ’n pols het,” antwoord sy, dalk net daardie bietjie te vinnig.
“Hoor hier, pel, wie is jy ooit?” wil Karel bars by hom weet.
“Ek is Bertus Kruger en ek sê vir jou, ek vertrou haar nie.” Hy beduie na die lugwaardin.
Die meisie is duidelik uit die veld geslaan. “Wat bedoel jy? Hoekom sou ek ’n passasier in die toilet wou vermoor?”
Bertus se antwoord is rustig, op die man af. “Jy en sy het ’n helse argument in die kombuis gehad toe sy by die vliegtuig ingekom het. Só erg dat sy jou geklap het. Waaroor het julle gestry?”
Die lugwaardin is van stryk gebring. “Ek … e-e-e. Hoe weet jy daarvan?”
“Ek het julle gesien. Moenie die onderwerp verander nie,” sê Bertus beslis.
“Sy was ongeskik en ek het haar aangespreek. Dit beteken nie dat ek haar vermoor het nie.”
“Dit het na meer as ’n meningsverskil gelyk. As ék moes sê, kom die vete al ’n lang tyd aan.”
Karel kyk verbaas na die lugwaardin wat steeds langs hom staan. “Het jy haar geken?”
“Wat het dit met enigiets te doen?” wil sy verontwaardig weet.
“So, dan hét jy haar geken. Jý is die vrou van wie sy gepraat het,” is Karel se reaksie.
“Wat het sy gesê?”
“Sy wou nie uitwei nie, maar sy het gepraat van iemand wat saam met haar op skool was. Sy het gesê sy wens ons was eerder op ’n ander vlug. Wat het tussen julle gebeur?”
Van waar Bertus sit, sien hy hoe die kleur uit die lugwaardin se gesig verdwyn.
“Julle is laf, man!” stry sy. “Ons het nie van mekaar gehou nie, maar dit beteken nie ek sal haar vermoor nie!”
Karel lyk vasbeslote om meer uit te vind. “Waar presies pas jy in die prentjie in? Wie is jy?”
“Jy het mos gehoor, ons was saam op skool,” skerm sy. “My naam is Sarie Coleman, my nooiensvan was Duvenage.”
“Sarie Duvenage!” roep Karel uit. “Is jý Sarie Duvenage? Ek weet van jou. Charmaine het jou verloofde afgevry en jy’t gesweer dat jy nog eendag sal wraak neem. En vandag het jy jou kans gekry.”
“Nee!” Bertus kan sien dat Sarie se trane vlak lê. “Ek is nie ’n moordenaar nie, ek sweer!”
“Luister, meneer, jý was ook daar by die toilet voor die vliegtuig opgestyg het,” beskuldig ’n vrou aan die oorkant van die gangetjie vir Bertus. “Ek het jou gesien, jy het van daar af na jou sitplek gestap vir die vlug.”
Die beskuldiging vang Bertus effens onkant, maar hy is net vir
’n oomblik van stryk gebring. “Dis reg, dame,” antwoord hy kalm. “Maar die toilet was beset. Die deur was van binne gesluit. Jy kan die kaptein vra, ek het hom ook daar raakgeloop.”
Voordat iemand kan reageer, spring ’n vrou ’n entjie agter Bertus op. “Karel van As, jy moet jou nie so hoogheilig hou nie! Nou is jy skielik die liefdevolle eggenoot vanself. Maar jy het nie ’n duit omgegee vir Charmaine nie, en jy weet dit.”
Bertus kyk om. Hy moet sy nek rek om te sien wie aan die woord is. ’n Pragtige blonde vrou, geklee in swart.
“Jý!” roep Karel geskok uit. “Wat maak jy op hierdie vliegtuig, Melanie?”
Sy ignoreer sy vraag. “Jý het haar vermoor, Karel.”
“Hoe de hel kom jy daarby uit?”
“Moenie dink ek weet nie wat aangaan nie. Jy was agter haar geld aan, dis wat. Ek weet hoe jy haar verrinneweer het. Jy is ’n vroueslaner, Karel van As. En ek sal sorg dat die polisie dit weet.”
“Waarvan praat jy?”
“Charmaine het my self vertel, jou vark. En vir my die merke gewys. Ek weet ook dat sy jou wou skei.”
Karel is woedend. “Jy is mal, man. Jy weet niks! Wat het dit in elk geval met jou te doen, jou bemoeisieke koei?”
“Sy was bang vir jou,” kap Melanie terug. “Dis hoekom ek hier is, sy wou nie alleen saam met jou gaan nie. Sy was bang iets gebeur met haar. Ons het egter nie gedink jy sou só gou toeslaan nie.”
“Jy praat snert!” is Karel se reaksie.
Bertus het intussen gaan sit, maar hy staan weer op. “Hoor hier, dit wat sy sê, maak sin. As julle huweliksprobleme gehad het, dan …”
Karel praat hom dood. “Hoe het ék nou die vark in die verhaal geword? Ek is haar man, verdomp!” Hy kyk weer na die lugwaardin.
“Ek is nog nie klaar met jou nie, Sarie Duvenage. Ek wil weet wat presies vanmore tussen jou en my vrou gebeur het.”
Sarie is dadelik op haar perdjie. “Ek het jou gesê, dit was net ’n meningsverskil. Maar wat van jou? Dit klink my jý het genoeg rede gehad om haar te vermoor.”
“O nee, jy gaan nie só maklik die skuld op my pak nie, vroumens!”
Bertus besluit om tussenbeide te tree. “Luister, mense, ons verloor iets uit die oog. Waar pas die dame hier agter in die prentjie? Melanie, of hoe?” Hy kyk om na die blonde vrou, wat steeds in haar sitplek staan. “Ek lei af jy en die slagoffer was vriendinne. Waaroor het julle dan vroeër so hewig geargumenteer daar in die parkeerterrein?”
“Hoe weet jy daarvan?” Die vraag glip uit Melanie se mond voor sy dit kan keer, en sy krabbel onmiddellik terug. “Ek bedoel, wat laat jou dink ons het geargumenteer?”
Bertus kan sien dat sy ontsteld is. Watter pret is dit nie? Hy geniet die situasie terdeë. Wie het kon dink dat hierdie vlug so vermaaklik sal wees? “Moenie vir my vertel julle het nié geargumenteer nie. Ek het julle dopgehou.”
“Dit was sommer iets nietigs,” gooi sy wal.
Hy gee nie bes nie. “Iets nietigs? Probeer ’n ander verskoning, ek weet wanneer ’n argument ernstig is. Dit was so hittete of julle het mekaar te lyf gegaan.”
“Man, hou jou hier uit. Wie is jy in elk geval? Hoe raak dit alles jou?”
“Ek sou ook graag wou weet,” sê Karel. “Jy weet so alles van almal af, wie de hel is jy?”
Bertus glimlag meerderwarig. “Nou ja, dit het dalk tyd geword om myself voor te stel.Ek is ’n privaat speurder.” Hy bly ’n paar oomblikke stil sodat die onthulling kan insink. “Jammer vir jou, Karel,” hervat hy, “maar jou liewe Charmaine het jou verneuk.”
Karel snak na asem.
Bertus gaan voort: “En jy sal nooit kan raai met wie nie.” Bertus wag ’n paar oomblikke. “Met dieselfde ou wat verantwoordelik is om ons almal veilig in Kaapstad te besorg. Ja, niemand anders nie as kaptein Roelf du Toit. En dit verklaar ook hoekom ék hier is. Die kaptein se vrou het my gehuur. En jy sal op jou rug val as jy moet weet wat ek nog alles weet.”
Die skok is duidelik sigbaar op Karel se gesig. “Waarvan praat jy?”
“Melanie hier agter sal jou vraag beter kan beantwoord.” Bertus kyk na Melanie. “Wil jy nie maar vir ons vertel waaroor jy en oorlede Charmaine nou eintlik gestry het nie?”
“Dit het niks met julle te doen nie,” antwoord Melanie ergerlik.
Bertus glimlag. Hy is nou ten volle in beheer van die situasie en daardie rol pas hom soos ’n handskoen. “Dalk kan ék lig op die ou sakie werp?” sê hy geheimsinnig. “Julle het nie dalk oor ’n man gestry nie? En daardie man was nie dalk die einste kaptein Roelf du Toit nie?”
Melanie gaap hom aan. “Waar kom jy daaraan?”
Hy ignoreer haar vraag. “Ek het ’n sterk vermoede dat jy en Charmaine onwetend op dieselfde man verlief was. Is ek reg?”
Melanie antwoord nie, staar net geskok na Bertus.
Karel reageer eerste. “Jou klein koei. Jy staan daar en beskuldig mý van moord, terwyl jy self meer as genoeg rede gehad het!”
“Nee! Ek sal nooit so iets doen nie … dis … die ding met Roelf is gekompliseerd. Ek verwag sy kind!”
Bertus kyk verras na haar. “Dís ’n stukkie inligting waarvan ek nie bewus was nie. Maar dit maak jou motief om Charmaine uit die weg te ruim net soveel groter.”
“Dis nie waar nie!” roep Melanie desperaat uit. Sy wys na Karel. “Ek sê vir julle, hý het haar doodgemaak!”
Bertus kan nie ’n glimlag onderdruk nie. Dit raak net interessanter. Hy hou sy hand in die lug. “Hokaai. Kom ons bekyk die situasie. Elkeen van julle het ’n motief. Jy, Karel, seker die sterkste. Julle het duidelik nie veel van ’n huwelik gehad het nie. Verder was die liewe Charmaine skatryk. My raaiskoot is dat sy van jou wou skei en dat jy dit ten alle koste wou verhoed, want jy sou te veel verloor.”
Karel word wasbleek, maar hy beheer homself.
Sarie reageer egter met ’n “Ek het dit gewéét! Ek sê mos dit was nie ek nie!”
“Nie so haastig nie, Sarie! Jy het net soveel rede gehad. Jy het gesweer jy sou wraak neem oor wat sy aan jou gedoen het. Jy loop al jare lank met daardie wrok in jou. En vandag, toe jy haar weer sien, en sy jou boonop deur die gesig klap, was dit een te veel vir jou.”
“Dis nie waar nie! Ek is nie daardie tipe mens nie!”
Bertus glimlag. “Dit sal die polisie maar moet vasstel. Maar moenie alleen voel nie. Melanie vertoon ook goed. Twee vrouens in ’n resies vir dieselfde man is ’n ramp. En toe raak jy boonop swanger, Melanie. Hoe kortsigtig van jou. Ek sou sê sy het jou gekonfronteer en beveel om die verhouding te beëindig. Maar jy sou liewer moord pleeg.”
“Jy is van jou kop af!” snou Melanie hom toe.
“Toe maar, moenie alleen voel nie.” Bertus geniet die sarkasme in sy eie stem. “Moenie ons kaptein uit die oog verloor nie. Hy het net so baie gehad om te verloor as sy manewales aan die kaak gestel sou word. Dit kon hom sy huwelik kos. Ek het hom hoeka vroeër agter in die vliegtuig gesien.”
“Die bliksem,” sis Karel. “Gaan haal hom.”
“Laat hom aan die polisie oor, my vriend,” sê Bertus rustig. “Die man moet ons eers veilig in Kaapstad besorg, ons wil hom nie ontstel nie.”
“Wat gebeur nou?” wil Karel weet.
“Die polisie is waarskynlik reeds in kennis gestel van die moord. Ek vermoed hulle sal ons op die lughawe inwag. Hulle sal beslis met almal wil gesels.”
Die gedagte aan die ondervraging deur die polisie maak Bertus opnuut opgewonde. Dit sal vrek interessant wees. Hy sou glad nie omgee om ’n vlieg teen die muur te wees nie.
Wanneer Bertus later, nadat hy kortliks deur die polisie ondervra is, by die terminaal uitstap, verskyn ’n effense glimlag onwillekeurig op sy gesig. Wat ’n interessante oggend. Wie sou kon raai dat soveel onderlinge intriges na vore sou kom?
Aan die een kant is hy verlig dat die bebloede skêr onder die vals bodem in sy handbagasie nie ontdek is nie. Terselfdertyd kan hy nie anders as om homself geluk te wens nie. Sy derde perfekte moord.
Hy voel effens jammer vir die slagoffer. Hy het niks teen haar as persoon nie. Sy het bloot die deur oopgemaak toe sy voor die vlug in die openbaar met almal baklei het.
Hy voel goed oor hoe dit alles afgeloop het. Hy het elke oomblik geniet. Die ongeloof in haar oopgesperde oë, die adrenalien wat deur sy are pomp toe die skêr haar borskas binnedring en die lewe uit haar oë en liggaam verdwyn, die beskuldigings wat rondgegooi is en die geheime wat ontbloot is in die latere desperate soektog na die skuldige, die ondervraging deur die polisie …
Daar is geen manier dat hulle hom ooit met die moord sal verbind nie. Die geheim is om ’n slagoffer te kies wat jy van geen kant ken nie. En te sorg dat jy elke moord op ’n ander manier en op ’n ander plek pleeg. Moet nooit ’n patroon volg nie. Dis die fout wat die meeste reeksmoordenaars maak.
Vrek soos ʼn kakkerlak
Stefaans Coetzee
Jou useless nikswerd.
Roux skrik wakker, boksskerm instinktief met sy vuiste voor sy gesig.
Nee, Pa, ek sal nie weer nie. Ek belowe. Nee, Pa. Nee!
Hy haal hard asem.
Pa.
Roux se kop is seer. So ook sy liggaam. Dit voel of elke been op tien plekke gebreek is. Is waarskynlik. Sy oë flikker. Oop. Toe. Oop.
Die graffiti teen die mure is uit fokus, babelasoë.
Vlieë, kakkerlakke en die ondraaglike stank wat om die oopgesnyde drom hang. Hy sug. Sy toilet solank hy in die strafselle is. Hoe lank gaan hulle hom hierdie keer in die bom aanhou?
Hoekom het die tronkhoof hom agter die kop geklap?
“Waar’s die mes?”
Praat Die Hoof met hom? Of is dit terugflitse wat met sy gedagtes skaak speel?
“Dit was nie ʼn mes nie.” Gebroke Engels met ʼn Afrikaanse aksent. Daar is net ʼn handvol blanke bewaarders in die seksies werksaam, maar dis nie een van hulle nie. Dalk iemand van buite bewaking? “Net ʼn vuurhoutjieboks.”
“Dagga? Skeerlemmetjie?” Is dit paniek wat Roux in Die Hoof se stem hoor?
Roux beweeg nader, lê sy oor teen die staaldeur.
“Nee, Hoof, ʼn foto van ʼn ...” Dit klink asof die spreker na die regte Engelse woord soek: “kind.”
“ʼn Kind?” Die Hoof se stem styg.
“ʼn Baba. Die foto is oud en op die bodem vasgeplak. Seker sy dogtertjie. Hel, Roux is al so lank in die tronk, ek’t vergeet hy was eens op ʼn tyd mens.” Realiteit skop in. “Nou gaan ons kak.”
Die gang is stil, Roux hoor die mans asemhaal. As hy ʼn mes gehad het en die staaldeur oop was, het hulle nou soos afkophoenders rondgehardloop en na hul ma’s geroep. Soos hy destyds as kind as sy Pa hom gemoer het. Voordat “Ma” ʼn vloekwoord geword het.
“Kry ʼn mes en dagga, en sny jouself op die arm,” beveel Kong,“diep sodat dit geloofwaardig lyk. Dan sê ons hy’t jou aangeval toe jy sy dagga probeer konfiskeer het.”
“Nee, Hoof, ek kan nie myself sny nie.”
“Kry net ʼn fokken mes, ék sal jou sny.”
Die stort drup-drup.
“Ek’s nie bang vir hofsake nie.” Die stotterende Engels slaan oor na Afrikaans, ʼn damwal wat breek. “Jirre, Roux gaan ons pap steek. Ek’t die stories in Sonnies gehoor.”
Die bom is ondergronds. Geen natuurlike lig wat inkom nie. Die ligte brand 24/7. Geen manier om dag en nag te onderskei nie. Om die dae te tel nie. As die bewaarders met jou etes rondspeel, kan hulle die dae rek of vermeerder.
Voetstappe.
Roux bal sy vuiste.
Sleutels klingel, sy slot knars.
Die silhoeët se stem is sag. “Roux, is jy okay?”
“Het jý my uitgetrek terwyl ek bewusteloos was?”
“Roux, seblief.” Die adamsappel spring. “Sorry, ons het gedink dit was ʼn mes.”
“Hoekom is ek dan in die bom?”
“Die Hoof ...”
Sy pa se woorde toe Roux die tou om sy nek geknoop het. Sy pa. Die plaas. En die varkhok waarin hy as kind grootgeword het. Hy’t nie ʼn lewe buite die hok geken nie. Gedink dit is normaal om naak in die koue tussen kak en kos te leef. Diers.
Jy’s net so useless soos jou ma.
Teef, as sy vir hom lief was, sou sy gebly het. Hom beskerm het. Toe hoer sy eerder agter ʼn ander man aan. Het sy nog kinders? ʼn Seun? Het sy hom ooit gemis toe sy dié seun nag gesoen het? Al wanneer sy pa vir hom geglimlag het, was voor hy die tuinslang geswaai het.
“Roux.” Die stem bewe.
Ook sy pa se laaste woorde. Voor die gil.
“Dis cool, chief.”
“Seker?” Verlig.
“Ja, jy’t nie geweet nie.”
“Die Hoof?”
Roux skud sy kop. “Jy ken my. Hy gaan vrek soos ’n kakkerlak.”
“Roux, hoe gaan dit?”
Die sielkundige se stem. Roux knyp homself aan die arm om seker te maak hy is wakker. Sy sweef gereeld in en uit sy drome. Hoe lank is hy al hier? Dit voel soos dae. Maar dit kan weke wees. Hy hark sy vingers deur sy baard. Ja, maande. Dalk, nee, sy’t hom beloof ...
Hy stap nader, maar staan buite ruikafstand. “Sorry, ek word nie toegelaat om te stort of tande te borsel nie.” Hoekom frons sy nou? Teen die tyd weet sy mos ʼn tandeborsel word ʼn mes in die tronk.
“En die stort? Gaan jy iemand daarin verdrink?”
“Laas toe ek hier was, het ek ʼn bewaarder met ʼn teël gesteek.”
“En dié keer? Die Hoof sê jy’t ’n bewaarder aangeval.”
“Leef hy nog?”
“Ja.”
“Dan was dit nie ek nie.” Sy glimlag golf net in een mondhoek. “My dogter se naam is Samantha. Ek wil haar graag leer ken en jy’t belowe ...”
“Een jaar sonder geweld. Maar ek’t gehoor wat werklik gebeur het, ek’s trots op jou.”
Die rot in die venster is groter as ʼn kat.
“Honger, buddy?” Roux breek ʼn stuk van sy brood af, skiet dit na die Rot. Laasgenoemde hardloop ʼn ent weg, gaan staan, snuf, draf terug, eet. Kyk hom grootoog aan, snuf.
Venster. Roux blaas deur sy neus. Agter die tralies is staalplate, dit is soos blindings vasgesweis. Eens op ʼn tyd kon aangehoudenes by die tralies uitkyk, maar dis lank voor sy tyd. Seker toe hulle die toilette verwyder het.
Hy skiet die res van die brood vir Rot. “Hoe’t jy ingekom, buddy?” Staan nader. Spring. Mis. Tree terug, hardloop en spring.
Sy hand gryp, slaan in glas wat sny.
Maar hy klou. Trek homself op. Skiet sy bene na bo, klou.
Gooi die stuk glas ondertoe.
Deur ʼn gleuf sien hy lig.
Roux het in die hangkas weggekruip terwyl hy vir sy pa gewag het. Toe hy nie meer die kamerlig onder die kasdeur sien skyn nie, het hy begin tel. Duisend en een, duisend en twee ... tot duisend en sestig. Hy het so diep asemgehaal, hy’t nie eens die tou sy hand voel sny nie.
Anders as in die ander seksies, is geen bewaarders vir bomdiens geallokeer nie. B-enkelselle se bewaarders loer af en toe in. Net om hom met die nodige kos aan die lewe te hou. Hy word nie eens oopgesluit om sy bene strek nie. Want dan kan Roux tyd uitwerk. Dae tel.
Hy sit daar tot sy arms begin brand, spring af en gaan lê. Wanneer hy wakker is, skryf hy aan die boek in sy kop. Hy sal dit later op papier neerskryf.
Af en toe doen hy push-ups en sit-ups. Draf op een plek. Star jumps. Enigiets om sy spiere aan die beweeg te hou. Te keer dat krampe hom oorweldig of dat hy soos baie gevangenes sy vonnis omslaap.
Met elke ete bêre hy vir Rot brood.
Twee keer gooi hy die arm wat sy kos onderdeur die tralies stoot, met die kakemmer. Hy’t die inhoud met water lekker slap gemeng.
Hier is niks om jouself mee te sny nie. Geen plek om jouself aan op te hang nie. Geen sigarette sodat jy jouself of die sel kan brand nie. Geen krag om jouself mee dood te skok nie.
Roux kyk vir die eerste keer in sy lewe na bo. Here, laat my vrek voor ek mal word.
Roux weet nie hoe lank hy al in die bom is nie, hy weet net hy jeuk, so vuil is hy. Hy gaan Die Hoof so vol gate steek, hy gaan soos ʼn gieter lek as hy water drink.
ʼn Bewaarder met ʼn moesie op sy neus gooi klere deur die tralies. “Trek aan, Die Hoof soek jou.”
“Nee. Ek wil eers stort en my tande borsel.”
ʼn Uur later stap Roux Die Hoof se kantoor binne. Hy het ʼn stuk laken om die glas gedraai, die greep getoets. Hy wil die Hoof goed steek voor hy die glas in sy borskas afbreek.
Die Hoof sit agter sy lessenaar, proe aan ʼn bottel water. “Ons het besluit om jou nie te vervolg nie.”
Met “sit” het Die Hoof min tyd om uit sy stoel te ontsnap. Nekhoue. “Staan” is uiteraard beter. Groter teiken om aan te val. Hart, longe, derms en as hy keer, onder die okselholtes. En natuurlik kan Roux die glas in Die Hoof se oog los.
Een jaar sonder geweld se gat.
Pa het ook nie tyd gehad om te keer nie. Nie dat hy op sy voete sou kon staan nie. Roux het sy glas vol gehou en die laaste paar doppe met slaappille gedokter.
Roux staan dreigend nader. “Jy kon dit ʼn maand terug vir my gesê het.”
“Ek kon.” Stilte. Die Hoof glimlag. “Twee maande, nie ʼn maand nie.”
Roux is in die bom aangehou totdat sy wonde genees het. Dis nie die eerste keer dat dit met hom gebeur nie. Ná die tronkmoord in Zonderwater is hy appelrond geslaan en van die een tronk na die ander een oorgeplaas sodat niemand weet waar hy is nie. Hy is eers terug Sonnies toe oorgeplaas nadat sy wonde volkome weg was.
Hy moet Die Hoof op sy voete kry. Maksimum skade.
“Waar’s my vuurhoutjieboksie?”
Die Hoof delf die vuurhoutjieboksie uit ʼn laai, loop om die lessenaar.
Roux druk dit in sy sak saam met die mes. Sy vingers wissel tussen albei. Boksie. Mes. Boksie. Mes.
Die Hoof steek sy hand uit. “Bygones?”
Boksie. Mes. Boksie. Mes.
As hy nou Die Hoof se hand neem ... Met sy ander hand kan hy die mes inkap.
Die tou was om sy pa se nek voor hy kon wakker skrik. Snaarstyf. En om die bed se poot gedraai. Al wat Roux moes doen, was om te trek. Maar sy pa móés weet. Nooit weer nie. Toe maak Roux hom wakker.
Dié fokker moet ook weet, jy bliksem nie vir Roux Steyn en loop weg nie.
Boksie. Hy neem Die Hoof se hand. Hul oë ontmoet. Mes.
Nou!
Roux storm nader, ruk die mes uit.
Die Hoof skrik so groot, hy struikel, val.
Roux troon bo hom, klap die mes op Die Hoof se tafel neer.
“Dis donners maklik om iemand dood te maak, maar vrek moeilik om met die moordenaar in jou saam te leef. Ek kies om jou te vergewe.”
Hy druk sy hand in sy sak, soos gisteraand. Hou die vuurhoutjieboks vas. Sam, vir jou sal ek almal se kak vir ʼn jaar opvreet.
Die swart hond
Julanda van der Merwe
Sy staan op die rooi sementstoep van die ou klipopstal wanneer die bedremmelde groepie ruiters uit die digte, klam mis te voorskyn kom. Sy herken oom Bart van die buurplaas met die velhoed wat laag oor sy gesig hang. Maar wat maak haar pa hier? Hy is dan lankal dood.
Dan sien Martie die perd aan die leiriem agter die ouer mans. ʼn Mansfiguur lê dwars oor die saal en bloed drup uit sy agterkop op die witgerypte gras. Sy weet dit is Lodewyk, haar man, al kan sy geen gesig sien nie.
Sy hardloop nader, maar steek verskrik vas toe die swart hond grommend op die perd afstorm, die dier aan sy leiriem laat ruk en met kappende hoewe laat steier. As die figuur van die runnikende perd afgly en omrol op die bloedbevlekte gras, sien sy tot haar skok dat die gesig nie Lodewyk s’n is nie, maar dié van Armand, sy neef.
ʼn Skril, hoë runnik laat Martie opskrik uit haar nagmerriewêreld. Met ʼn hart wat swaar klop en asemhaling nog vlak van die ontsetting van haar droom, luister sy fyn, maar alles is stil.
Daar is seker kommando’s in die omgewing. Klank trek ver in die mis wat elke nag natwit tentakels oor die Hoëveld oopsprei. Dit moet nog diepnag wees, want haar kamer is donker behalwe die vierkantige kamervenstertjie waar die volmaan sy bes doen om deur die digte mis te skyn.
Sy is bevrees om weer aan die slaap te raak en terug te keer na die droomwêreld waar sy nou net vandaan kom, en daarom lê sy roerloos met oop oë. Drome van Lodewyk maak haar altyd opnuut hartseer, maar die nagmerrie van netnou was anders. ʼn Rukkie later hoor sy haar skoonma se voetstappe in die gang en sy staan verlig op. Ten minste kan sy nou besig raak, eerder as om na Lodewyk te lê en verlang.
Die oorlog het almal se lewens omgekeer, dink sy bitter, en haar eie lewe en dié van haar ongebore kind verwoes. Toe die ou President in Oktober die vorige jaar die ultimatum aan Engeland gestel het, het amper almal gedink dat die vyand sommer gou uit die Transvaal en die Vrystaat verdryf sou word en elke weerbare man en seun wat oud genoeg was, is opgekommandeer om te gaan veg vir hul vryheid. Maar kyk nou, dis maande verder en die oorlog is steeds aan die gang, en haar Lodewyk gaan nie terugkom nie.
In die kombuis is Ella koulik besig om ʼn vuur op die es aan die die gang te kry. Haar hare, wat bedags in ʼn stywe bolla vasgemaak word, hang los en lyk nat. Haar mantel wat oor die rug van ʼn stoel hang, voel ook klam. Wat sou die ou mens buite gaan maak het, in die koue, mistige nag?
“Ai, Moeder sal verkluim ... was dit dan nodig om uit te gaan?” Jammerte vir die ouer vrou laat haar haar eie warm mantel oor haar skouers hang terwyl sy die bewende lyf sagkens op ʼn stoel help. Sedert Lodewyk se afsterwe het Ella voor haar oë verouder en weinig het oorgebly van die eertydse bekwame heerseres van die huis op Mimosa.
“Ag, kind, dit was nodig om uit te gaan. Sommer oumensdinge ...” sê sy vaag en omklem die beker koffie wat Martie in haar hande sit.
Martie is nog besig om die mieliepap te roer, toe daar hard en dringend aan die deur geklop word. Dis Mandla, hul hulp en steunpilaar, wat voor haar staan en by hom, tot Martie se groot verbasing, opgesaal en met die toom aan, Lodewyk se perd.
“Ingozi, die gevaarlike een, is dood!” Hy spuug die laaste woord uit.
Dan was haar nagmerrie eintlik ʼn voorbode, dink Martie vervaard. Die nuus skok haar nie. Sy voel afgestomp. “Hoe weet jy, Mandla? Wat het gebeur?”
“Kom kyk self.” Op sy strak gesig is daar geen teken van spyt of van die ontsag waarmee gewoonlik na die dood verwys word nie. Ingozi, of te wel Armand, is immers in die hele omgewing berug vir sy behandeling van sy plaaswerkers, wat familie van Mandla insluit. Sy dood sal nie betreur word nie.
Onverwags kom daar lewe in Ella wat ook nadergestaan het om te kom hoor. Sy oorreed Mandla om die handkar en rieme uit die waenhuis te gaan haal en sê Martie aan om aan te trek.
Martie skud haar kop. Ella bly vir haar ʼn enigma. Weg is die oumens van netnou en terug die vrou wat almal en alles kan organiseer. Op hul vrae beduie Mandla in die rigting van die drif waar ʼn sytak van die Vaalrivier deur Mimosa kronkel.
Die vroue volg hom met die handkar, stom in die vae daglig. Martie kan nie help om te wonder hoe Mandla dit alles so vroeg reeds weet nie, dit was natuurlik die dwalende, opgesaalde, ruiterlose perd wat hom ondersoek laat instel het.
Op die klipplaat, wat die drif en enigste deurgang deur die rivier vorm, lê ʼn liggaam. Dit is inderdaad Armand, sy nek teen ‘n onnatuurlike hoek gedraai en sy swart oë starend. Daar is ʼn plas bloed onder sy kop en die linkerpyp van sy kakiebroek is geskeur en ook met bloed bevlek.
“Iets moes die perd laat skrik het en met dié het hy hom natuurlik afgegooi.” Die terloopse opmerking is Ella se enigste kommentaar.
Met ’n groot gesukkel laai hulle Armand se lyk op die handkar en maak dit met rieme vas. Martie se hoogswanger lyf maak diinge nie makliker nie, maar daar is geen ander uitweg nie. Armand is ʼn groot man en om die vrag opdraend huis toe te karwei, is geen maklike taak nie.
By die huis kry Ella en Mandla hom om die skouers beet en met Martie by die voete, sleep hulle Armand oor die sementstoep en in by die deur tot in die voorhuis.
Op die klein ysterkatel wat hulle uit die spaarkamer skuif, word ʼn lêplek ingerig om die lyk op uit te lê, volgens die gebruik. Mandla vertrek om die vroue op die buurplase te gaan inlig terwyl Martie en Ella besig is met hul taak.
Ella werk stil. Sê net die allernodigste, wat meestal opdragte aan Martie is, terwyl sy bekwaam die leiding neem om Armand se lyk te was en reguit neer te lê met pennies op die ooglede en die hande op die bors gekruis. Vir Martie is dit duidelik dat sy nek gebreek is, maar dan is daar ook die bytmerk aan sy linkerbeen.
“Wat sou die bytmerk beteken, Moeder?” pols sy.
“Seker maar ʼn jakkals of ’n ander wilde dier,” meen haar skoonma. “Kan ʼn roofdier wees wat in die nag die lyk probeer wegsleep het.”
“Of dalk die swart hond ...”
Ongeduldig val Ella haar in die rede: “ Jy en jou ewige hond ... Die enigste swart hond op hierdie plaas was Lodewyk se ou speelmaat, Wagter, wat self lankal saliger is!” Sagter en met ’n glimlag, vervolg sy ... “Ja, die twee was onafskeidbaar. Hy het op ʼn dag Lodewyk se lewe gered toe hulle ’n geelslang in die veld teëgekom het. Lodewyk het baie oor hom getreur.”
Martie laat dit liewer daar. Ella sal haar tog nie glo nie.
Die bloekoms begin laatmiddag lang winterskadu’s oor die opstal gooi en Ella steek die olielamp aan. ʼn Gevoel van beklemming laat Martie na haar mantel reik wat agter die kombuisdeur hang. Sy kan dit nie een oomblik langer in die huis verduur met die lyk van Armand in die voorhuis nie. Sy moet uit.
“Jy moenie so alleen rondloop nie, Mart. Dis gevaarlik. En die buurmense sal binnekort hier wees. Mandla is al heeldag weg met die tyding.”
Ella se waarskuwende stem klink skor en die lig van die olielamp laat haar donker oë onnatuurlik blink. Is die oumens nie moeg nie? Sy is al heeldag aan die gang.
“Ek loop nie alleen nie, Moeder. Die hond …”
“Ai tog! Van watse hond praat jy, kind? Lyk my die verdriet oor Lodewyk maak jou verbeelding gaande. Gaan tog maar, solank jy net voor donker terugkom.”
Martie wikkel die mantel om haar skouers en stap uit. Die son skyn nog flou oor die geel wintergras en die rooi sementstoep. Soos haar gewoonte deesdae is, staan sy en wag vir die groot swart gestalte wat soos altyd uit die rigting van die ommuurde plaasbegraafplaas aangedraf kom. Hy het die afgelope tyd haar metgesel geword as sy smiddae die veld opsoek wanneer die vroegdonker huis vir haar te veel word. Dit pla haar dat haar skoonma weier om haar te glo en volhou dat sy Martie smiddae stoksielalleen in die veld sien loop.
Die dier is skielik langs haar en druk sy snoet in haar hand. Die
vertroosting van dié gebaar is iets waarna sy daagliks uitsien, maar vandag kan sy net nie die gedagte aan die lyk in die voorhuis afskud nie.
Sy ril. Die tweede lyk binne een maand. Hoe gaan sy dit uithou tot
en met die begrafnis? Met mening onderdruk sy dié onaangename gedagte, maar sy kan nie die hartseer trane keer wat in haar oë opdam wanneer sy en haar metgesel by Lodewyk se klipskuur verbystap nie. Met sy eie hande gebou.
Die herinnerings is oorweldigend.
Dit was ʼn lentetroue. Sy en haar Lodewyk. Die oorlog was toe nog net praatjies en bure en vriende het vrolik aan hulle huweliksfees deelgeneem. Meel is op die vloer gestrooi, en onder begeleiding van kitaar, konsertina en trekklavier het gaste gedraai en geswaai en hulle oorgegee aan die ritme van walse, polkas en settees.
Van die manne wat nie net gemmerbier gedrink het nie, het van tyd tot tyd stuitig in die lug gespring met uitroepe van “Balke toe!” Tantes het gesmul aan melktert en koeksisters terwyl die jongmeisies agter hul hande giggel, en waarskynlik wonder wie van hulle volgende gaan trou. Maar daar was ook donker skadu’s: die insident met Armand en die oorlogspraatjies.
Hulle het Lodewyk se neef Armand nie só laat in die aand daar verwag nie. Hy was immers nie genooi nie, maar skielik was hy dáár tussen die gaste, sy hemp beswete en sy donker kuif slordig oor sy voorkop, toe hy met ʼn oordrewe gebaar voor haar buig.
“Hoe lyk dit? Ek kan seker ook met die bruid dans, of hoe? Ons is mos nou familie, of wat sê jy, Lodewyk?”
Dié het stug sy skouers opgehaal en teësinnig het Marthie tog maar in Armand se arms gestap. Sy gril by die herinnering aan sy beswete lyf wat hy brutaal vasgedruk het teen haar liggaam in die fyn kantrok.
Bo die musiek kon sy die afgemete woorde duidelik uitmaak. “Onthou wat ek vanaand vir jou sê: Mimosa is myne. Ek is die oudste kleinseun en my oupa het ʼn groot fout gemaak om alles aan Lodewyk na te laat. Eendag is eendag dan kom ek haal wat myne is en dit sluit jou in.”
Hy het haar wild gedraai, skielik gelos en weggestap na waar ʼn paar manne eenkant staan met glase vol brandewyn. Gelukkig was haar bruidegom betyds daar om haar te ondersteun toe sy terugstruikel na die bruidstafel.
“Wat ʼn onsmaaklike mens, hierdie neef van jou. Nou verstaan ek hoekom hy en sy mense nie genooi is nie,” het sy ontsteld verklaar.
“Ja, daar was nog nooit veel geneentheid tussen ons nie. Hy was altyd ʼn bullebak, maar die laaste strooi was toe hy Wagter in die veld doodgeskiet het, met die verweer dat hy hom vir ʼn wilde dier aangesien het.”
Martie sien hoe die are in sy nek bult en probeer hom paai. “Kom ons vergeet van Armand, my skat. Dit is ons huweliksfees en hý gaan dit nie bederf nie. Dit lyk my hier is darem ʼn paar manne wat hom sal kortvat as hy te ver sou gaan.”
Maar net so ongemerk as wat Armand verskyn het, het hy weer verdwyn. Sy boodskap was afgelewer.
Weke later het Lodewyk saam met die ander mans van die buurplase op kommando vertrek en, bewus van die kind wat in haar groei, het sy angstig op nuus gewag. Die manne het gereken dat hulle betyds tuis sou wees om te oes, te ploeg en te plant, want dit was hulle bestaan, hulle lewe. Sy het elke dag gewag, maar die oorlog het net aangehou en aangehou en die nuus oor veldslae en skermutselings wat hulle van tyd tot tyd bereik het, was allermins goed. En skaars.
Tot die oggend dat ʼn klompie Boere op Mimosa aangekom het met die liggaam van Lodewyk dwarsoor ’n saal vasgebind. Martie sukkel om verby die droefheid te dink wat haar oorweldig het, en steeds oorweldig, en sy sak neer op die gras met haar voorskoot teen haar gesig. Die hond druk styf teen haar aan en lek haar hande en gesig tot sy eenvoudig móét ophou huil.
Lodewyk het ʼn koeëlwond in sy agterkop gehad, asof hy geskiet is terwyl hy wou wegkom, maar haar Lodewyk sou nie vlug nie. Nee, hy sou sy man staan tot die bitter einde toe. Sou iemand hom dalk van agter genader het terwyl hy waggestaan het? Niemand kon sê nie. ʼn
Jong penkop, skaars dertien, het nadergestaan en ʼn briefie in haar hand gestop. Die woorde was ontstellend en spook sedertdien by haar: “Dag, ou Nig. Ek vat Lodewyk se perd vir my. Binnekort is ek daar om die res te vat wat na regte myne is. Sien jou met volmaan. Hou jou reg. Armand.”
Haar skoonma het ook die brief gelees. Sy het fier orent gekom, haar lippe dun saamgetrek. “Ons sal sien,” was haar enigste kommentaar.
En hier is sy al weer by die drif. Die huilbui het verligting gebring vir haar swaar gemoed en sy vee haar oë af aan haar voorskoot. Haar bedoeling was nie om so ver te loop nie, sy sal moet begin terugstap as sy voor donker tuis wil wees.
Met ʼn gelate sug draai sy om en sien die blink voorwerpie net voor sy dit met haar stewel in die sagte grond sou intrap. Sy buk en vind dis die borsspeld waarmee Ella gewoonlik haar mantel vassteek. Martie vou dit toe in haar hand. Het Ella dit verloor met die gesukkel om die lyk vanoggend op die handkar te laai? Nee, tog nie, haar mantel was vanoggend aan die punte vasgeknoop.
“Waar is jou hond dan, kind?” vra Ella goedigspottend toe Martie haar eie mantel oudergewoonte agter die kombuisdeur ophang.
“Hy is weer weg, Moeder. Hy loop net saam tot by die huis.”
Sy sit die borsspeld op die tafel voor haar skoonmoeder neer. “Ek het dit by die drif opgetel, Moeder. Wanneer was u dan daar?”
Ella bly lank stil voordat sy antwoord. “Ek was daar, kind, want ek het my eie planne gehad ... maar skielik, asof uit die niet, was die swart hond daar en het op die perd afgestorm. Armand was onkant gevang toe die perd in die lug steier en die hond hom boonop aan sy broekspyp beetkry.”
Martie se oë bly vasgenael op Ella se gesig. Sien Ella nou ook die hond en glo sy haar uiteindelik? Dat die hond dáár is en oor hulle waak?
Wanneer die ouer vrou uiteindelik opkyk en hulle oë ontmoet, kyk hulle mekaar lank aan, en die donker wete wat hulle deel, kom lê tussen hulle om nooit weer opgehaal te word nie. Mimosa en haar en Lodewyk se kind is veilig en dit is al wat saakmaak.
Mag van Bo
Adri van der Westhuizen
“Die uitspraak sal oormôre om elfuur gelewer word.”
Ek kyk na die gesig van die ryk, vername man aan ons regterkant, sien die grynslag, die spoeggebaar in ons rigting. Presies wat ek verwag het van ʼn arrogante verkragter soos hy, ʼn man wat nie kan aanvaar dat ʼn dame vir hom mag “nee” sê nie.
Ek sien die regter se gesig, sien die oomblik se minagting daarop, en dit is genoeg vir my. Ek is gereed.
“Staan,” galm die hofordonnans se stem, en ek vat die hand van my kliënt en help haar op. Druk haar hand sag, die teken tussen my en my kliënt dat sy moet sterk wees. Ek sien die krag in die terugtrek van haar skouers, die uitsluit van die mens langs ons, dit wat jy verwag van ʼn volwasse vrou wat “nee” gesê het vir ’n ryk, vername verkragter.
Met die gaansitslag verkrummel die bravade en stroom die trane. “Hy gaan wegkom, Craig, sy gaan hom onskuldig bevind. Ek wens hy was dood.”
Alles onder my vel beaam haar woorde, maar my gesig en houding weerspieël die uitdrukking van ʼn advokaat wat vir reg en geregtigheid veg: oë gefokus, kakebeenspiere effens bultend, houding regop, woorde konserwatief en professioneel, perfeksie gebore uit vyf jaar se oefening voor die spieël.
“Nee, die dood sal te maklik wees, Delia. Verkragters soos hy moet in die openbaar deur die wet skuldig bevind word en moet boet vir hulle dade. Nee, hy moet leef.”
Ons wag tot die hof leeg is, en wanneer ons opstaan en omdraai, is haar familie daar: ʼn ma ’n pa, ʼn broer en ’n suster, gespanne, strak.
Die stem is dié van ʼn vader wat reeds moed verloor het. “Wat dink jy, Craig?”
Ek weet wat ek dink, maar ek sê dit wat reg klink. “Charl, ek glo die Regter sal die gepaste uitspraak en vonnis uitspreek, ongeag wie die man is.”
Die twyfel is in die effense swaai van sy kop. “Ek weet nie, Craig, ek glo nie geregtigheid gaan plaasvind nie. Hy is so ʼn magtige en arrogante mens, ek dink hy gaan wegkom met sy wandade.”
Weer my geoefende regsperfekte antwoord: “Ek glo wat reg is, sal geskied.” Ek weet dit sal, en dit maak die maande se werk die moeite werd. “Ek sien julle oormoreoggend om halfelf hier. Probeer tot rus kom.”
Die wanhoop loop oor hulle wange, en die minagting vir die mens wat dit veroorsaak het, loop hoog in my.
Ek stap die pad deur die hofgebou, uiterlik kalm, sien speursersant Phelo se hoofknik in die verbygaan, erken dit met die gesigsuitdrukking van ʼn advokaat wat ʼn sterk saak gebou het en feite neergelê het wat ʼn regter onder die nodige druk plaas om die korrekte uitspraak te lewer.
Ek ry die dertig minute na Houtbaai, dink aan speursersant Phelo se hulp en raad die afgelope jaar vandat ek Delia se verkragtingsaak aanvaar het. Onthou sy meelewing met haar gedurende die aanmeld van die saak, sy hantering van die ander dames wat in die privaatheid van my kantore soortgelyke omstandighede van hulle verkragting deur daardie mens gedeel het.
Onthou sy woede by die aanhoor van die vals besigheidsbesprekings wat hy voorhou om sy slagoffers na sy woning te lok, die verdowing van sy slagoffers, die veragtelike dade, en die openlike uittarting en minagting van sy slagoffers na afloop van die daad.
Ek onthou speursersant Phelo se aanvaarding van die vrees van die ander dames om in die openbaar die dade te erken, of om enige saak te maak, maar bo alles onthou ek sy woorde van agt maande gelede: “Ongeag die uitkoms van die saak, sal daar ʼn einde aan hierdie skrikbewind gemaak moet word.”
Soos telkens die afgelope maande beaam my hele wese weer eens sy woorde. Ek weet daardie dag kom. Binnekort. Ek hoop die verkragter sal intussen die sonskyn vanaf sy R26 miljoen-huis in daardie ryk woongebied geniet.
Ek maak my ham, kaas en tamatie-snackwich, drink my koffie en herdink sekere feite wat die verdediging aangevoer het.
· Die skuifdeure in die beskuldigde se kamer op die eerste vlak word nooit toegemaak of gesluit nie. Delia was dus nie ingesluit nie, en kon slegs skree en iemand sou haar hoor. Korrek, maar verdoof was sy nie daartoe in staat nie.
· Die beskuldigde se smartwatch het bewys dat hy elke aand, ook daardie betrokke aand, van tienuur af baie diep slaap en gevolglik nie in staat was om die daad te pleeg nie. Weer korrek. Eerstens is die diep slaap die uitwerking van verdowingsmiddels en tweedens kon Delia nie die presiese tyd van die daad onthou nie, want sy was ook verdoof.
· Die verwysing na die gebruik van verdowingsmiddels, of dat daar verdowingsmiddels in die beskuldigde se besit was, is foutief, niks kon in sy huis gevind word nie. Weer korrek, want Delia het die pak poeier saamgeneem as bewysstuk toe sy ontsnap het, en ek herroep speursersant Phelo se woorde etlike maande gelede nadat ek hom gevra het om die substansie te laat toets.
“Die man speel met vuur Craig. Dit is Carfentanyl, ʼn swartmarkproduk wat deur dwelmskeppers vervaardig word deur Fentanyl met ander straatdwelms te meng om die dwelm goedkoper en meer verslawend te maak. Fentanyl is tans die gevaarlikste dwelm in die Verenigde State. Dit is sowat 50 keer sterker as heroïen en 100 keer sterker as morfien. Slegs twee of drie milliliter kan ʼn Afrika-olifant uitsit. Fentanyl is een van die grootste oorsake van dwelmoordosering in die VSA. Ek het geen idee waar hy dit kry nie, maar hy soek moeilikheid.”
Die son begin sak en ek skink nog ʼn koppie koffie, eet ʼn Ouma-beskuit, en herroep baasspeurder Struwig se lesings oor die aksies en foute van moordenaars in ons finale jaar, agt jaar gelede op universiteit.
Hoe elke aksie, elke woord, elke fout, geïdentifiseer kan word en in die aanvoer van ʼn prokureur se saak gebruik kan word. Ek onthou hoe beïndruk ek was met die man se vermoë om elke woord wat geuiter word te analiseer, te stoor, en te gebruik.
Ek oordink elk woord van Struwig se opsomming van die foute wat moordenaars maak:
1. Moordenaars handel oorhaastig en onbepland.
2. Moordenaars laat wetend of onwetend altyd ʼn leidraad agter wat na hulle lei.
3. Moordenaars besoek die plek van hulle misdaad meesal voor én na die daad.
4. Moordenaars deel hulle frustrasie en voornemens wetend of onwetend.
5. Moordenaars floreer op erkenning vir hulle daad.
Ek trek die chirurgiese handskoene aan, haal die radiobeheerde 20G suiwer tegnologie Bee-Body-hommeltuigie uit die verpakking, monteer die vlerkies wat die fladder- en sweefaksies binne en buite ʼn gebou moontlik maak en herroep die spesifikasies van hierdie klein Bee-Body.
“Die Bee-Body bereik 'n spoed van tot 50 kph, het ʼn reikafstand van ongeveer 40 km, en ʼn batteryleeftyd van 90 minute. Die insekgrootte hommeltuigie is ontwerp om plante kunsmatig te bestuif en/of te bespuit met behulp van hervulbare spuitbottels met ʼn inhoudskapasitieit van 3 tot 14 ml.
“Die spuitbottelmeganisme beskik oor die vermoë om ’n fyn mis of ʼn straal te spuit vir die toediening van poeier- of vogformulerings. Die unieke binnemeganisme van die spuitbottels help om die produk in die sentraalgeleë buis te versamel en sodoende akkurate verspreiding of straalplasing op een sentrale punt van so klein as 2 mm te plaas. Die Bee-Body is tans die stilste hommeltuig op die mark met 'n geraasvlak van slegs 50 dB, wat gelykstaande is aan 'n sagte gesprek.”
Ek haal die met poeier gevulde 5ml-spuitbotteljie uit, glip dit in die Bee-Body se pasgemaakte meganisme in, en bevestig op die handbeheerder dat dit korrek in posisie is. Ek sit die plastieksakkie met die poeier in die meganisme en voer ʼn toetsvlug in die woonstel uit om te verseker dat alle meganismes werk en die mikrokamera korrek funksioneer.
Daarna gaan sit ek rustig op die balkon op die derde verdieping van die woonstelblok, stuur my Bee-Body die nagruimte in, en stuur hom uit op sy sending van sestien kilometer.
Die Bee-Body vlieg oor die hoë geëlektrifiseerde heining. Ek hou hom op dakhoogte om enige kameras te ontduik, laat gooi hom ʼn draai oor die indrukwekkende grasperk, maak seker alles is stil, en laat sak hom dan vanuit die swart nag af na die balkon.
Die groot skuifdeur staan oop. Die verdediging se eerste feit is dus korrek en die Bee-Body sweef die ruim kamer ongehinderd binne.
Harde snorkgeluide dui op ʼn diepe slaap. Die Bee-Body fladder oor die gesig van die teiken. Daar is geen beweging nie, die verdediging se tweede feit is dus ook korrek.
Die akkurate spuit van die poeier in twee 10 mm-neusopeninge volg. Die vervaardiger se spesifikasies is korrek, en my vaardigheid as vlieënier is bevestig.
Die Bee-Body fladder oor die bedkassie en met die druk van ’n knoppie ontsluit ek die plastieksakkie vol poeier en kontroleer dat dit effens oop op die kassie land. Die verdediging se derde feit is inkorrek: daar is wel dwelms in die huis.
Ek laat die Bee-Body weer oor die gesig fladder en aktiveer die stophorlosie op die selfoon: een minuut, twee minute – en dan die groeiende stilte – die waarskuwings op Google is korrek, Fentanyl is 'n uiters kragtige medikasie. Afhangend van die hoeveelheid en sterkte van die inname, kan die dood binne 'n kwessie van minute intree.
Ek bring die Bee-Body huis toe, ontsmet hom, plaas hom terug in die verskaffer se verpakking, verseël die verpakking, en bêre hom by sy makkers.
Ek kontroleer baasspeurder Struwig se lysie –
1. Die regstellende aksies is deeglik beplan.
2. Daar is geen leidraad agtergelaat nie.
3. Ek was nooit fisies in daardie woonbuurt nie.
4. Ek is konserwatief en professioneel en deel geen feite met enigiemand nie.
5. Ek vra en vereis nooit enige erkenning nie.
Die taak is afgehandel en ek gaan slaap. Die volgende oggend gaan ek vroeg kantoor toe, stap betyds oor die straat, en is op my pos by die hof om my kliënt en haar familie te ondersteun.
Soos die minute aantik op die groot muurhorlosie word die gepraat in die oorvol hof luider. Twintig minute oor elf, en die afwesigheid van die vername man, en die ongemak en aanhoudende omkykery van die advokaat by die bank langs ons, raak opvallend.
Die deur wat oopgaan en die hofordonnans se doelgerigte stap in ons rigting: “Die regter wil julle in haar kamers spreek.”
Ek laat die vername man se advokaat voor stap, daardie ordentlikheid wat my pa my geleer het.
Met die instap is dit duidelik, iets is fout. Speursersant Phelo, die regter en ’n onbekende individu is ooglopend ontsteld.
“Menere, ek is so pas in kennis gestel dat,” en die vername man se naam word met respek deur die regter genoem, “gister dood gevind is in sy woning. Dit is nog nie amptelik bekendgemaak nie, maar hy is oorlede weens ʼn massiewe oordosis van ʼn dwelm wat in sy woonstel gevind is. Soos deur die polisie en die Geneesheer Generaal bevestig, word geen vuilspel vermoed nie.”
Sy kyk na die onbekende man, en hy knik sy kop. “U mag u kliënt inlig van die afstwerwe van die beskuldigde, maar ek verwag dat die inligting rondom die dwelms vir eers nie oorgedra sal word nie.”
My geoefende uitdrukking van skok kom spontaan: oë wat vernou en toeknip, lippe wat effens oopgaan, ’n hand wat ’n oomblik op my hart rus.
Uit die hoek van my oog sien ek dat die man langs my afsak grond toe. Ek vat hom vas, hou hom staande – voel hy verdien om die regter se volle verklaring aan te hoor en terselfdertyd die krag te voel van ’n wenner se hand.
Die regter gaan gelykmatig voort. “Met die afsterf van die beskuldigde sal die saak teen hom nie voortgesit word nie en word die saak dus hiermee amptelik gesluit. Die hofordonnans sal die hof verdaag, en u is vry om te gaan.”
Ek gaan deur die trane en onverbloemde dankbaarheid van hulle wat glo dit was die geregtigheid van ʼn Mag van Bo. Ek behou die geoefende uitdrukking van iemand wat oortuig is sy saak was op feite gebaseer, feite wat ʼn skuldigbevinding sou verseker – feite wat ʼn beskuldigde tot selfmoord sou kon dryf.
Ek stap my kantoor binne, sien die P.S.-sjokolade op my lessenaar, lees die woorde op die papiertjie, maak dit oop en eet dit kalm terwyl ek aan die stuk of twintig verkragters dink wat nog op my lys is, want daar is immers geen einde aan die taak van die “Mag van Bo” nie.
NUUSBRIEF:
Kompetisies
Skryfkanse
Promosies
Maandeliks
Dankie vir die terugvoering en hoe jy dit gee. Ek vind die kursus interessant, motiverend en uitdagend, en wens net ek het al hierdie inligting al jare terug gehad. Om in te skryf vir jou kursus was een van my beste besluite ooit.
Yvette Bester
Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp.
Judy de Bruin
Ek geniet die kreatiewe skryfkursus baie en sien dat dit totaal anders is as om feitelike beriggewing vir die koerant te skryf. Baie dankie vir die goeie kommentaar op die vorige werkstuk. Gert Kruger
Baie dankie vir jou kommentaar, dis in die kol ... ek is oopkop in die ding in, en doen dit absoluut vir die pret en om myself te ontwikkel, en neem nie kritiek persoonlik op nie.
Sanél Hopkins
Dis amper soos om 'n nuwe taal aan te leer. Elke konsep wat jy snap, maak skielik tien deure oop! As ek nou die opdrag moes oordoen, sou ek reeds baie dinge verander het. Ek sal 'n paar dae lank rustig deur alles gaan en aan die storie skaaf. Daarna sal ek wegspring met module 2. Sien reeds uit daarna. Molly Lubbinge
Die kinderboekkursus is regtig opwindend en dis my plan om teen die einde ’n volledige manuskrip te hê. Albert Short
Baie dankie vir jou terugvoer, ek het al baie soorte kursusse gevolg en joune staan kop en skouers bo die res uit. Plus, jou terugvoer beantwoord elke keer alles waaroor ek gesit en wonder het terwyl ek skryf. Die enigste probleem is ek wil nie hê die kursus moet ooit ophou nie, ek geniet dit te veel. Melanie Pienaar
Jou terugvoer het my van vooraf geïnspireer. Dankie vir die moeite wat jy doen en die tyd wat jy spandeer aan my probeerslae. Jou wenke is die vuurhoutjies wat die kers aan die brand hou. Celia du Plessis
Ek waardeer jou kursus en al die moeite wat jy doen. Dit bring die realiteit na vore sonder om my op moedverloor se vlakte te laat sit, dit laat my vars en anders dink. Beslis die koste deur en deur werd. Elizma Coetzee
My woorde lyk nie meer soos 'n vervelige rytjie wasgoed aan 'n lang draad nie. Elsabé Bester
Lees vir ontspanning ontaard nou in 'n kritiese ontrafeling van teks, karakters en skryfstyl. Ek geniet dit terdeë. Johan Nel
Ek het deur jou terugvoer op my werkstuk gegaan. Dis absoluut wonderlik! Ek is al moedeloos met vriende en familie wat nie objektiewe terugvoer kan gee nie. Ek leer geweldig baie by jou. Erica Pretorius
As stokperdjieskrywer wil ek dankie sê vir al die hulp. Vandag, jare na ek vir die kursus ingeskryf het, blaai ek steeds deur die modules en terugvoer en kry sonder uitsondering nog iets wat my skryfwerk verryk. Dit sluit wenke sowel as motivering in. Jan Bonthuys
Jou kursus, en die storie wat jy vir my geredigeer het, was van onskatbare waarde, dis ongelooflik hoe baie 'n mens leer wanneer jy deur 'n geredigeerde weergawe van jou eie storie werk. Antoinette Venter
Die kursusse het vir my oneindig baie beteken. Ek gebruik elke dag in my werk van die dinge wat ek geleer het. Dit het ook vir my die moed gegee om te waag en te skep. Ek het so baie oor myself geleer. Henriëtte Louw
Almal wat wonder of hulle kan skryf, moet hierdie kursusse volg. Ek het ongelooflik baie selfvertroue gekry en ek kon met elke module sien hoe my skryfwerk verbeter. Suretha Brits
Ek merk dat die meeste van jou studente melding maak van jou positiewe houding en aanmoediging - dis waar. Marinda van Niekerk
Ek voel dat ek met 'n doel werk en dat elke werkopdrag op 'n gehalteproduk afstuur. Melodie Veldhuizen
Jy verdien 'n pronkveer vir jou skryfkursus. Daar is 'n logiese opbou van module tot module sodat selfs 'n leek soos ek in staat is om die legkaartstukke bymekaar te sit.
Rita Hofmeyr
Skryfgeheime voel vir my soos die deurgang na 'n nuwe lewenswyse. Dankie vir jou kommentaar op my werkstukke en vir jou aanmoediging. Willem Fourie
Ek het nog nooit 'n skrywer ontmoet wat my so effektief help nie.
Elna Nieuwoudt
Alles wat jy uitgelig het, was presies dit waarmee ek gesukkel het. Dit het heeltyd vir my gevoel daar kort iets, 'n "twist". Ek het ook gevoel my storie benodig ’n opwindende verandering, dit was net te "veilig". Ek is so opgewonde en sien uit daarna om verder daaraan te werk. Yolandi Odendaal
'n Mens is huiwerig om te sien wat iemand anders van jou werk dink, maar nou kan ek nie wag om al die wenke toe te pas nie. Alta van Niekerk
Jy groei baie as mens. In jouself en
ook in jou interaksie met mense. Jy leer besef die impak van woorde.
Elmarie Schultz
Ek was so verras toe ek die terugvoer
kry en sien jy kraak nie 'n ou se werk af nie. Marieta Thünemann
Ek gaan dit geniet om ou breinpatrone uit te vee en nuwes te maak. Ek voel glad nie meer afgetree nie.
Troula Goosen
Ek het verskriklik baie geleer oor myself, ander mense én die skryfambag. Jou verbeeldingryke prikkelvrae en praktiese skryftegnieke is die perfekte kombinasie. Riëtte Botma
Die kursus was so insiggewend en verrykend, ek het ongelooflik baie geleer. Myself dikwels bevraagteken en gewonder of ek ooit die ding onder die knie gaan kry. Maar ek is nie iemand wat maklik moed opgee nie en ook nie bang om te waag nie. Dankie vir al die handvashou. Adelle von Ronge Kotze
Die kursus het ander wêrelde en deure oopgemaak. Hoop om binnekort met die kinderboekkursus of joernalistiek te begin. Monja Beyers