Leer skryf 'n samehangende paragraaf deur iets ouds te herhaal en iets nuuts by te voeg sodat die paragraaf 'n sterk struktuur het met ingeboude logiese opvolging.
Metode: Voer stappe 1 en 2 uit
Stap 1: Lees die paragraaf hieronder.
1. Whisky is nodig om die bewerasie van die afgelope paar dae se alkohol stil te maak. 2. Paul skink ’n dop, drink dit vinnig en steek ’n sigaret aan. 3. Mario se Land Cruiser skop stof op voor dit tot stilstand kom. 4. Hy haal sy seilsak en skootrekenaar uit. 5. Paul wag op die houtdek voor sy huis.
Stap 2: Beantwoord hierdie vrae
VRAAG 1: Stem jy saam dat sin 1 en sin 2 mekaar logies opvolg en goed by mekaar aansluit? Wat doen die skrywer dat die twee sinne mekaar so goed opvolg? Dink mooi voor jy die antwoord lees.
Antwoord: Die skrywer benut hierdie beginsel: herhaal iets ouds en gee iets nuuts. In sin 2 skink Paul 'n dop, dit verwys na die whisky in sin 1. Met die verwysing na "dop" herhaal die skrywer dus iets ouds. Die skrywer voeg ook iets nuuts by in sin 2, nl. die sigaret.
VRAAG 2: Stem jy saam dat sin 3 oor Mario se Land Cruiser voel asof dit uit die lug val en nie heeltemal daar hoort nie en onlogies voel? Wat dink jy is die rede?
Antwoord: Sin 3 herhaal niks ouds uit sin 1 of sin 2 nie. Sin 3 is dus nie op 'n logiese wyse aan daardie twee sinne gekoppel nie.
VRAAG 3: Watter ander probleme met die paragraaf kan jy identifiseer?
Antwoord: Dis nie duidelik wie die "hy" is wat die seilsak en rekenaar uit die voertuig haal of hoe Paul op die houtdek voor sy huis kom nie. Aanvanklik het Paul 'n dop geskink, hy was dus binne, maar nou is hy skielik buite op die dek. Lesers sal wonder hoe hy daar gekom het, m.a.w. die nodige logiese aksie wat hom op die dek sal kry, ontbreek.
Pas nou bostaande inligting toe en verbeter die paragraaf hieronder skriftelik.
Whisky is nodig om die bewerasie van die afgelope paar dae se alkohol stil te maak. Paul skink ’n dop, drink dit vinnig en steek ’n sigaret aan. Mario se Land Cruiser skop stof op voor dit tot stilstand kom. Hy haal sy seilsak en skootrekenaar uit. Paul wag op die houtdek voor sy huis.
Vergelyk jou werk met hierdie voorstel.
1. Whisky is nodig om die bewerasie van die afgelope paar dae se alkohol stil te maak. 2. Paul skink ’n dop, drink dit vinnig en steek ’n sigaret aan. 3. Hy tik die as af en staar deur die venster. 4. Mario se Land Cruiser skop stof op oor die voortuin.
5. Die bestuurder se deur gaan oop en Mario klim uit, sy seilsak en skootrekenaar onder sy linkerarm. 6. Paul druk die sigaret dood en gaan wag op die houtdek voor die huis.
Beantwoord nou hierdie vrae skriftelik. Kyk dan na die antwoorde.
VRAAG 1: In die voorstel by punt 2, watter aksie koppel sin 3 aan sin 2? Hoekom werk dit so goed?
Antwoord: Die aksie is “tik die as af”. Dit werk, want dit verwys na die sigaret in sin 2 en herhaal dus iets ouds, m.a.w. dit sluit logies aan by sin 2. Die aksie werk so goed, want dit dui aan dat Paul klaar is met iets (hy tik die as af) en dat iets nuuts gaan volg.
VRAAG 2: Waarom was dit nodig om in te voeg dat Paul deur die venster kyk?
Antwoord: Dit maak dit vir Paul moontlik om vir Mario en sy Land Cruiser te sien. Dit koppel ook vir sin 3 op ’n logiese manier aan sin 4.
VRAAG 3: Soek die herhaling van iets ouds in sin 6. Benoem dit. Is daar ook iets nuuts? Benoem dit.
Antwoord: Iets ouds: Die sigaret wat Paul dooddruk.
Iets nuuts: Paul wat uitstap en Mario op die houtdek inwag.
Verdere vrae: Stem jy saam dat die verbeterde paragraaf 'n sterk struktuur het, goed georganiseer is en logies en samehangend voel? Het jy aangevoel dat Paul die gesigspuntkarakter is, m.a.w. die belangrikste karakter, die een wie se storie vertel word? Het jy opgelet hoe die skrywer die sigaret benut om Paul se aksies en intensies uit te lig en te beklemtoon? Stem jy saam dat jy hierdie tegnieke in jou eie skryfwerk moet aanwend?
Is die gevreesde skrywersblok 'n kwint of 'n kwaal, of bestaan dit net in die verbeelding? Hoe moet ek dit benader en behandel?
Hier is 'n plan, daar is natuurlik nog baie ander:
Skryf eers die einde, of die hoogtepunt, die draaipunt of die krisis. Of enige "lekker" deel uit jou storie: 'n wilde aksietoneel of 'n bekgeveg tussen twee karakters. Laat die skryfsappe vloei. Gaan mal!
1. Dit ruk jou uit jou gemaksone en stimuleer die skrywersenergie.
2. Dit dwing jou om verder te kyk, en opnuut na te dink oor hoe die karakter gedurende die krisis sal optree.
3. Dit lei tot nuwe perspektiewe, insigte en idees.
4. Die karakter se optrede teen die einde bepaal hoe jy die karakter, die gebeure en die probleem of doel aan die begin aan die leser moet voorstel.
5. Deur die krisis, klimaks en einde te skryf stel jy aan jouself 'n doel waarop jy kan afstuur.
6. Die meeste skrywers herskryf die begin honderde kere en rammel die einde af. Deur die einde aan die begin te skryf sal jy dit meermale besoek en verfyn.
Lees elke keer die teks of opdrag en voltooi die take.
Lees paragraaf 1:
Mia knyp haar oë styf toe en skakel die televisie af. Om grillers te kyk wanneer jy alleen by die huis is, is geen grap nie. Nou is sy te bang om te gaan slaap. Sê nou maar daai ding kom vang haar vannag?
Beantwoord die vrae:
* Stem jy saam dat paragraaf 1 Mia se gedagtes, gevoelens en aksies/handeling weergee?
* Watter aksies en lyftaal help jou om te verstaan hoe Mia voel?
* Wat dink jy is die funksie van die retoriese vraag (Sê nou maar daai ding kom vang haar vannag?)?
* Stem jy saam dat die paragraaf goed geskryf en lekker leesbaar is met ’n skerp fokus op nodige inligting?
Lees paragraaf 2:
Eintlik moet haar broer, Justin, na haar kyk. Ma en Pa Louw is by ’n werksfunksie in die stad. Ongelukkig dink liefste broeder Justin nou dis die ideale geleentheid om saam met een of ander meisie te gaan fliek. Bewerig gaan lê Mia in haar bed. Haar oë is styf toe. Sy is te bang vir wat sy dalk sal sien as sy hulle oopmaak … en sy is te bang vir wat sy dalk gaan sien as sy droom.
Beantwoord die vrae:
* Dink jy paragraaf 2 is net so goed geskryf soos paragraaf 1?
* Of is dit stotterend met te veel inligting oor dinge wat nie regtig ter sake is nie?
* Wat dink jy is alles onnodig of oordrewe?
* En wat is nodig, maar nie interessant genoeg geskryf nie?
Voer nou hierdie taak uit:
Skryf paragraaf 2 oor sodat dit net so lekker vloei, en net so natuurlik klink, en net so diep in Mia se kop is soos paragraaf 1. Lees eers die riglyne.
Riglyne:
* Gebruik een of twee retoriese vrae asook verwyte en dreigemente wat die spanning sal uitbou en Mia se gedagtes eg sal laat voel, soos ’n tipiese tiener s’n.
* Raak ontslae van oorbodige inligting en verduidelikings wat lesers self uit die gegewe kan aflei.
Skryf nou paragraaf 2 oor.
Klaar geskryf?
Vergelyk jou werk met hierdie voorstel:
As Justin net hier was. Wie gee hom die reg om saam met ’n simpel meisie te gaan fliek en haar alleen by die huis te los? Wag maar. Sy gaan alles lekker vir Ma en Pa vertel wanneer hulle van die werksfunksie af kom. Maar wat help dit alles haar nóú? Hier lê sy alleen en bibber in haar bed met monsters wat haar wil gryp.
Verbeter nou jou eie paragraaf 2.
Sarlene Horn se prenteboek Hoot Hoot Hurray het in 2016 die lig gesien. Sy het dit self gepubliseer en gee hieronder goeie raad vir voornemende
self-publiseerders. Sarlene het Skryfgeheime se Kursus in
Tydskrifjoernalistiek ’n jaar of drie gelede voltooi en van haar artikels het in bekende tydskrifte verskyn. Nadat sy die Prenteboekkursus voltooi het, het sy besluit om haar volgende manuskrip self te
publiseer.
Sarlene beveel aan:
* Weet wat jy wil sê. En geniet die skryfwerk.
* Besluit wat jy met die boek wil bereik: is dit vir familie en vriende of is dit iets kommersieels? Wil jy dit self versprei of wil jy agentskappe gebruik? Besluit of jy ’n gedrukte boek of ’n e-boek wil uitgee. Ek het ’n papierboek gekies.
* Werk ’n begroting uit. Bou die volgende in: koste van redigering, illustrasies, uitleg, verspreiding, bemarking, ISBN en Barcode, indien nodig, asook ’n ietsie vir skoolgeld – ek het heelwat geleer in die proses.
* Hou ’n tydraamwerk, dit hou almal op hulle tone, ook vir jou.
* Professionele redigering is NOODSAAKLIK ten einde ’n professionele produk te lewer. Moenie sommer enigiemand nader of ’n vriend vra nie. Janie het vir my rigting gegee, want sy het my skryfstyl en behoeftes verstaan.
* Illustrasies. Moenie haastig wees nie, kies die beste illustreerder wat jy kan bekostig. Gaan kyk na boeke in boekwinkels, woon boekbekendstellings by en soek ’n illustreerder wat tot jou spreek en wie se styl by jou materiaal pas. Ek het gegoogle en vir Marisa du Toit op Facebook raakgeloop. Met my begroting kon sy net die buiteblad doen, maar dit was die moeite werd, want dit trek dadelik die aandag. Sy het my heeltyd op hoogte gehou en ek kon insette gee.
* Kry ’n goeie grafiese illustreerder om die boekuitleg te doen. Die drukkery druk net die boek, hulle doen nie ook die uitleg nie. Ek het ’n kontak deur die drukkery gekry. Ek het eers op hul webtuiste rondgekyk en toe kwotasies aangevra. Na ’n ontmoeting het ek gemaklik gevoel met die proses. Die maatskappy (Nutshell Designs) het ook die binne-illustrasies gedoen. Hulle het duidelik uiteengesit wat die kwotasie behels, dus het geen onaangename verrassings opgeduik nie.
* Soek die regte drukpers. Ek het ’n fout gemaak met die eerste een, in die hoop om kostes te spaar. Weens my klein begroting was die maatskappy haastig, en wou die werk so gou moontlik afhandel. Ek moes die groot besluit neem om eerder my geld te verloor en my boek te ontttrek. Die tweede drukkery (Boland Drukpers) het ek by ’n boekbekendstelling ontmoet en hierdie keer het ek die regte vrae gevra, bv. watter tipe papier gebruik word, wat hulle met my begroting kan doen, meer oor die bindproses, kleur, grootte van die boek, ens.
* Kry ’n ISBN as jy jou boek by boekwinkels wil versprei. Kontak die National Library of South Africa (lees die webblad), kontakpersoon: Kholofelo S.Mojela. Dit neem ’n week en is gratis. As skrywer moet jy egter ’n gratis kopie aan 5 Legal Deposit stuur.
* SA Barcodes was baie professioneel. Kontak Max gerus. Koste was R250, en dit was binne twee dae beskikbaar. Hulle stuur die barcode aan jou in bv. jpeg-formaat, of wat jy ook al verkies, dan stuur jy dit na die grafiese illustreerder.
* Verspreiding. Ek bemark my boek self deur sosiale media en boekwinkels wat ek met voorstelle nader. Kontak my gerus om die boek te bestel of vir 'n bietjie raad. Daar lê nog ’n lang pad voor met die verspreiding, maar ek leer baie en geniet elke oomblik.
Die aanwysende voornaamwoorde hierdie en daardie word deesdae alte dikwels verkeerd gebruik onder die invloed van this en that; dit terwyl Afrikaans oor ’n oulike woordjie beskik, naamlik: dit.
Kyk na hierdie voorbeelde:
Hierdie is my boek. (X) (This is my book.)
Daardie is my hemp. (X) (That is my shirt.)
Teenoor:
Dit is my boek. Ook korrek: Dis my boek.
Dit is my boek hierdie. Of: Dis my boek hierdie. Of: Dis my boek dié.
Dit is my hemp. Of: Dis my hemp.
Dit is my hemp daardie. Of: Dis my hemp daardie.
Ook korrek:
Hierdie boek is myne.
Daardie huis behoort aan my.
Waarom?
In hierdie twee gevalle word die aanwysende voornaamwoorde hierdie en daardie elke keer deur ’n selfstandige naamwoord opgevolg (boek en huis). Hierdie en daardie wys dus die selfstandige naamwoord waarop hulle betrekking het aan.
Kyk net hoe handig en pragtig korrek is dit:
* Dit reën. (Dit as voorwerp.)
* Gee dit vir my. (Dit as aanwysende vnw.)
* Dit wou net afbreek en steel. (Dit as meervoud wanneer ’n groep as ’n
eenheid optree.)
* Waar is my hemp en broek? Gee dit hier. (Dit as meervoudsvorm.)
* Dit is my oom. (Dit as persoonlike v.nw.) [Nie: Hierdie is my oom.]
* Dit is die boek wat almal nou lees. [Nie: Hierdie is die boek wat almal nou
lees.]
Liewer nie: Ek skryf sommer met dit.
Veel eerder: Ek skryf sommer hiermee.
Bron: Norme vir Afrikaans deur W.A.M. Carstens.
* * *
Laastens: Ek hoop jy verfoei ook nou die verkeerde gebruik van … ug ... hierdie in gesprekke, boeke, koerante en op televisie.
’n Effektiewe aanvangsparagraaf moet die leser met die intrapslag prikkel, boei en by die storie betrek. Ons sê dit moet ’n sterk hook of prikkel hê. Daarvoor gebruik ons sekere tegnieke.
Jy kan begin met …
* ’n interessante karakter en/of ’n opwindende plek.
* ’n geheim en/of probleem – iets groots en belangriks, verrassend en selfs skokkend.
* die oomblik van verandering in die hoofkarakter se lewe, daardie oomblik wanneer alles anders word, wat nou?
* dialoog en aksie.
* ’n prikkelende aanvangsin vol belofte wat die leser onkant vang, skok of verras, bv. It is a relatively little known fact that, over the course of a single year, about twenty million letters are delivered to the dead. (Uit: The Girl with no Shadow deur Joanne Harris.) Of: Kate voel soos ’n luis. Dis geen grap om by iemand se huis in te breek nie, maar vandag het sy nie ’n keuse nie.
* Verder wil lesers binne die eerste drie paragrawe ’n idee kry van waaroor die storie handel. Hiervoor gebruik ons voorafskaduwing, of te wel, skimpe en leidrade wat op die storieprobleem dui.
Lees hierdie begin met ’n kritiese oog.
“Riaan, gooi asseblief dadelik jou vuil rugbyklere in die wasgoedmandjie? Dit staan in die kombuis. Ek gaan nou-nou die wasmasjien aansit,” sê Riaan se ma toe sy verby sy kamer stap.
“Dis reg,” antwoord Riaan en dop sy sportsak om op sy bed. Hy gryp die bondel klere op sy bed en drafstap kombuis toe. Hy kan nie laat wees
vir sy afspraak met Anke nie. Maar net toe hy die klere in die wasgoedmandjie gooi, vang iets sy oog.
Beantwoord hierdie vrae:
* Met wie begin die storie? Met die hoofkarakter? Of met wie?
* Met wie sal die LESERS verkies dat die storie moet begin?
* Met watter aktiwiteit begin die storie? Is dit prikkelend? Sal dit lesers motiveer om verder te lees?
* Stem jy saam dat die storie nie met die regte karakter of op die regte plek begin nie? Dat dit nader aan die oomblik van verandering moet begin?
* Lees weer die begin. Wat is die oomblik van verandering?
Herskryf nou die aanvangsparagraaf. Trek weg met ’n sterk aanvangsin. Vergelyk dan jou werk met die
voorstel.
Voorstel:
Riaan dop sy sportsak om op sy bed, gryp die bondel rugbyklere en drafstap kombuis toe. Hy kan nie laat wees vir sy afspraak met Anke nie, nie weer nie, nie na laas
keer nie. Toe die klere in die wasgoedmandjie val, vang iets sy oog.
Opmerkings:
Die storie trek nou weg met Riaan (die hoofkarakter), lesers weet dadelik hy het ’n afspraak met iemand belangriks (Anke), en ook dat iets sy oog gevang het, iets
wat op ’n probleem dui (die oomblik van verandering). Dit alles binne die eerste drie sinne. Stem jy saam dat dit in wese dieselfde gegewe is, net kort en kragtig gestel? Plus, heelwat
herhalings is uitgesny, kyk of jy dit kan identifiseer.
Riglyne oor die fantasie-genre (vertaal en aangepas):
Fantasie-fiksie as genre word gedefineer deur die teenwoordigheid van bonatuurlike elemente en die towerkuns. Anders as in die geval van wetenskap-fiksie is hierdie verhale totaal onmoontlik, selfs in die verre toekoms. Die genre vereis dikwels die bou van komplekse wêrelde bewoon deur mitologiese
figure (elwe, trolle, drake, eenhorings, sentours, ens.) sowel as paranormale wesens (vampiere, weerwolwe, ens.).
Storielyne draai om die stryd tussen goed en kwaad en eindig gewoonlik met die ondergang van die antagonis. Die protagonis besit dikwels magiese vermoëns en wapentuig. Seker die twee gewildste fantasie-subgenres is die epiese fantasie en die stedelike fantasie.
Epiese fantasieë behels ’n sekondêre wêreld bevolk met talle karakters, asook komplekse storielyne wat om oorlog en die opkoms en val van koninkryke draai. Dit speel af in ’n omgewing wat aan Europa in die Middeleeue herinner. Bekende skrywers is J.R.R. Tolkien, George R.R. Martin, Robert Jordan en David Anthony Durham. Kyk ook na Prince of Thorns deur Mark Lawrence.
In stedelike fantasieë word kontemporêre fantasieë gekoppel aan elemente van misdaadfiksie of paranormale romanses. Voorbeelde van suksesvolle skrywers is Laurell K. Hamilton, Charlaine Harris en Jim Butcher.
Die tradisionele fantasie is ’n breë kategorie wat fantastiese werke in ’n sekondêre wêreld insluit. Dit behels towerkuns en ’n storielyn kleiner in omvang as die epiese fantasie. Die verhaal draai gewoonlik om ’n groepie mense met ’n duidelik omskrewe doel. Skrywers sluit in Anne Bishop en David Gemmell.
Historiese fantasieë speel af in herkenbare historiese eras, gewoonlik pre-twintigste eeu. Dit toon ooreenkomste met die epiese subgenre, maar in kontras daarmee is historiese fantasieë bevolk met egte historiese figure en die verhale speel binne spesifieke historiese tydperke af. Bekende skrywers is Marion Zimmer Bradley en Guy Gavriel Kay.
Komiese fantasieë het ’n humoristiese of satiriese trant. Dit parodieer dikwels gevestigde werke in die fantasie-genre. Skrywers sluit in Terry Pratchett en Christopher Moore.
Kontemporêre of moderne fantasieë speel af in die regte wêreld, in die huidige tydvak. Skrywers gebruik dikwels tradisioneel Europese sowel as multikulturele mitologie om die verhaal aan te dryf. Stedelike fantasieë ressorteer onder hierdie genre. ’n Bekende skrywer van kontemporêre fantasieë is Neil Gaiman.
Die tussenruimtelike fantasie (slipstream fantasies) is ’n nie-realistiese genre tussen die fantasie-genre en hoofstroomfiksie en is dikwels meer literêr in trant, met ’n besliste gevoel van vreemdheid. Skrywers sluit in Kelly Link, Jeffrey Ford en Susanna Clarke.
Vreemde fiksie (weird fiction) bevat elemente uit die griller-, fantasie- en wetenskapfiksie-genres, soos die skrywer H.P. Lovecraft. Moderne voorbeelde staan bekend as "nuwe vreemde fiksie", skrywers is Ann en Jeff VanderMeer en China Mieville.
Nie elke idee is 'n boek werd nie. Behalwe dat jy aan al die bome moet dink, moet jy jouself ook afvra of jou idee so sterk, oorspronklik, boeiend en treffend is dat 'n uitgewer die verhaal nie
net sal wil befonds en uitgee nie, maar dat duisende mense die boek sal wil koop. En wie wil tog tyd mors op 'n manuskrip wat nie die paal gaan haal nie? Beslis nie jy nie, of hoe?
So ... wat moet jy doen? Waar gaan jy 'n idee kry wat so goed is dat 'n uitgewer dit sal opraap en dat duisende lesers dit nie sal
wil neersit nie?
Die geheim is om nie net een idee uit te dink nie, maar tientalle, selfs honderde. Ja, regtig. Party sal jy gou genoeg elimineer.
Aan ander sal jy lank kou. Maar wanneer jy die regte een gevind het, sal jou gedagtes en jou pen begin gons.
Voel jy nou totaal ontmoedig? Want hoe gaan jy tog tientalle, nee, honderde idees vind? Maklik. Met net twee woordjies: Wat
as?
Wat as 'n jong man een oggend wakker word en hy het in 'n tor verander? (Die metamorfose deur Kafka). Wat
as 'n lewensat joernalis op 'n afgesonderde groep mense afkom wat al eeue lank diep in 'n kloof woon? (Duiwelskloof deur Andre P. Brink)? Of ... wat as 'n jong skrywer 'n
treffer skryf, beroemd word en hom/haarself in die proses totaal vernietig? Dis dalk jy, wie weet? Want wie nie waag nie, kan ook nie wen (of verloor) nie. Afhangend van die definisie,
natuurlik.
Dus ... spring aan die werk ... en aan die kopkrap ... en vind daardie trefferidee.
Lees die uittreksel uit 'n Skryfgeheime-student se werk.
Let veral hierop:
* Die direkte manier waarmee die skrywer wegval, sonder aanloop of verduideliking. Ons noem die tegniek in medea res.
* Hoe die skrywer haar lesers onbehoorlik nuuskierig maak deur telkens net daardie bietjie weg te gee, beslis nie alle inligting op een slag nie, o nee, sy laat haar lesers wonder, sy laat hulle met onbeantwoorde vrae ... en dis daardie onbeantwoorde vrae wat maak dat hulle verder lees.
* Die ek-karakter-verteller se sterk eie stem.
* Hoe die skrywer die gebeure in plek en tyd anker met behulp van plekname, spesifieke aksies, asook met verwysing na afstande en tydsverloop.
Vuil geld
Mavis Nel
Dis al halfnege en hier poer-poer ek nog by Malibongwe. Party oggende is ek al teen halfnege by William Nicol wat twee kilometer verder is. Buite spitsverkeer neem dit my tien minute van my huis af tot hier. Die verkeer is hel, almal op pad werk toe, behalwe ek.
Ek is so halsoorkop by die huis weg, ek hoop die bediende onthou om vir Fifi toe te sluit. Wanneer ek 'n kilometer weg is van my destinasie tel ek gou my kleingeld. Altyd dertig rand, tien vir toegang, tien vir koffie en tien vir vyf los sigarette.
En dan loer die drie honderdrandnote vir my.
My begroting is R330 per dag, elke dag van die week, en daarmee speel ek tot twaalfuur. My middae is geboek vir óf 'n roompie, óf pille, of wat ook al in my gedagtes opkom wanneer ek die vorige aand daarvoor vra.
Hy het nooit vrae nie. Hy weet ek het al alles verloor: my naam, my geld, my guts, my trane. Maar hierdie roompie is nie gekoop met sy R300 nie.
Watter winkel moet of sal ek vandag target? Die maklikste is daar waar ek elke dag aandete koop en hoender vir die hond en daarmee saam 'n roompie wat ek in die handsak laat glip. Want dis wie ek is: 'n dobbelaar, 'n dief wie se dag afgesluit word deur haar Franse poedel uitsoekhoender te voer.
Beantwoord die vrae in hakies. Vergelyk elke keer jou werk met die ooreenstemmende voorstel.
Gwynneth verwens haar besluit om ekonomiese klas te reis. [Vraag 1. Wat is jou opinie oor die aanvangsin?] Die sitplekkies bied geen beweegruimte nie. Selfs 'n dwerg [Vraag 2. Wat is jou opinie oor die beeldspraak en hoe sal jy dit verbeter?] sal ongemak verduur met die beenspasie wat Qantas aan passasiers in die ekonomiese klas bied. Dit laat haar wonder wie verantwoordelik is vir die byhou en verwerking van minder gegoede reisigers se ergonomiese data. [Vraag 3. Herskryf die laaste sin vir verbeterde lesersbelangstelling.]
Voorstel 3. Plaas dit in Gwynneth se kop as ’n vraag. Afwisseling van sinsbou is belangrik ten einde lesersbelangstelling te behou. Hieronder verskyn twee moontlikhede.
1: Wie sou verantwoordelik wees vir die byhou en verwerking van minder gegoede passasiers se ergonomiese data?
2: Of benut die geleentheid om Gwynneth se persoonlikheid te demonstreer en haar lewe te gee met 'n aweregse gedagte byvoorbeeld: Moet omtrent 'n gevoellose sot wees wat
die ergonomiese data byhou.
Nuwe skrywers se werk voel dikwels onbeholpe, so asof elke sin en paragraaf sy eie ding wil doen. Die rede is dat nuwe skrywers selde van logiese opeenvolging en oorsaak & gevolg gebruik maak. Die gevolg is onsamehangende skryfwerk sonder 'n skerp fokus.
’n Sterk paragraaf verloop logies en georganiseer volgens oorsaak en gevolg, fokus op die essensie en raak nie uitgerek en vervelig nie, en volg hierdie struktuur:
temasin + opvolgsinne + slotsin.
Die temasin benoem die hoofidee waaroor die paragraaf handel.
Die opvolgsinne bou die tema logies uit.
Die slotsin vat alles saam en beklemtoon die hoofidee.
Ter wille van vloei moet die daaropvolgende paragrawe logies op die voriges volg en vlot daarby inskakel. Met ander woorde, ook paragrawe moet logies by mekaar aansluit.
Lees die paragraaf hieronder. Stem jy saam dat dit die wêreld vol is?
Skryf dit oor. Volg hierdie riglyne:
* Soek die temasin, dit waaroor die paragraaf nou eintlik gaan.
* Soek die opvolgsinne en rangskik hulle logies.
* Soek die slotsin.
* Skrap alles wat onnodig en herhalend is.
* N.B. Hou die fokus skerp op die ek-karakter-verteller.
* Probeer hard voor jy jou paragraaf met die voorstel vergelyk.
Paragraaf:
Op ander dae moet ek na die films kyk waarvan my ma-hulle ook hou. Dis baie vervelig, want hulle hou nie van dieselfde goed as ek nie. Die films waarvan ek veral baie hou, is vampierfilms. Ek hou daarvan, want op Vrydae gaan my ma-hulle uit en dan is daar niemand by die huis nie en kan ek tot middernag TV-films kyk. Vrydag is my gunstelingdag van die week. Ek kan nie wag dat my ma-hulle by die voordeur uitstap sodat ek vir my kan popcorn maak en begin kyk nie. Soms raak ek so bang ek kruip amper onder die bank in. Maar dit bly die lekkerste dag van die week.
Voorstel:
Vrydag is my gunstelingdag van die week, want dan gaan my ma-hulle uit en kan ek tot middernag TV-films kyk (temasin). Ek hou veral van vampierfilms en kan nie wag dat my ma-hulle by die voordeur uitstap sodat ek popcorn kan maak en begin kyk nie. Soms raak ek so bang ek kruip amper onder die bank in (opvolgsinne). Maar dit bly die lekkerste dag van die week (slotsin).
Volg stappe 1 - 4.
1. Lees die paragraaf geskryf deur ’n Skryfgeheime-student.
“Linelle, hier’s ’n oproep vir jou,” roep Neil Cilliers se ma na die twee matriekvaal jongmense wat voor die strandhuis op hul handdoeke lê. Toe Linelle naderkom, druk René die foon teen haar bors. “Dis nie jou ma van Engeland nie, maar dis ’n vrou wat baie ontsteld klink. Sy bel van ’n hospitaal af. Sy sê sy is Suster Martie of Marsha of so iets. Die lyn is nie duidelik nie, praat maar hard.”
2. Lees die kommentaar.
Stem jy saam dat daar sommer baie in hierdie paragraaf gebeur? Dat daar inderwaarheid soveel is om op te fokus dat dit moeilik is om te besluit wat nou eintlik belangrik is en waaroor die paragraaf nou eintlik gaan?
Skryfles: Sorg dat elke paragraaf van jou storie of skryfstuk ’n skerp fokus het. Dit beteken jy moet besluit wat die DOEL met die paragraaf is en dan die fokus daarop plaas.
Vraag: Wat is die FOKUS van die student se paragraaf? Dink mooi ...
Antwoord: Tog die oproep, dan nie?
Fokus dan daarop, m.a.w. cut to the chase. Moenie jou lesers oorweldig met addisionele inligting soos dat Neil se ma se van Cilliers is, én dat die matriek-
kinders voor die strandhuis op hulle handdoeke lê, én dat Linelle se ma in Engeland is nie, ens. Te veel detail wat nie op daardie moment ter sake is nie, sal jou lesers van die spoor af gooi en vertroue in jou as skrywer laat verloor.
Die geheim is om op die essensie te fokus, m.a.w. op daardie dinge wat jou lesers nóú nodig het om die insident te kan verstaan.
Skryfles: Dis belangrik om inligting geleidelik uit te pak, soos en wanneer benodig.
3. Herskryf nou die paragraaf met ’n skerp fokus op die essensie. Probeer hard.
4. Vergelyk nou jou werk met die voorstel.
“Linelle, hier’s ’n oproep vir jou!” roep mevrou Cilliers. Linelle spring op en stap nader. René Cilliers hou die foon toe met haar hand. “Dis nie jou ma nie," fluister sy "dis iemand van ’n hospitaal af, suster Martie of Marsha – so iets. Die lyn is nie duidelik nie, praat maar hard.”
Stem jy saam dat die voorstel ’n skerp fokus het en gevolglik maklik verstaanbaar is? Dat lesers weet waarop om te fokus, aangesien daar nie oorbodige detail is wat hulle aandag aftrek nie?
Skryfgeheim: Pas hierdie beginsels en riglyne op jou eie skryfwerk toe.
’n Bondige skryfstyl is iets wat jy moet inoefen, aangesien herhalings sowel as onnodige woorde en inligting lesers frustreer. Die teks hieronder is nie sonder meriete nie, maar kyk of jy dit kan verkort tot minder as 40 woorde. Probeer hard voor jy na die voorstel loer.
Teks:
Die vorige keer toe ou Griewel iemand se briefie onderskep het, was dit ‘n liefdesbriefie tussen twee gekysdes wat hardop voorgelees is. Die twee
verliefdes was bloedrooi in die gesig terwyl die hele klas dit uitgeskater het. Sommer die volgende dag al was die liefde iets van die verlede. (49 woorde)
Voorstel:
Die vorige briefie wat ou Griewel onderskep het, was twee gekysdes s'n (of: van twee gekysdes). Sy het dit hardop voorgelees. Die
verliefdes was bloedrooi terwyl die klas geskater het. Die volgende dag was die liefde oor (of: iets van die verlede).
Nuwe skrywers maak hulle dikwels daaraan skuldig dat hulle karakters lang gesprekke voer waartydens hulle min of geen kontak met mekaar of met hulle omgewing het. Dit veroorsaak by lesers die gevoel dat die karakters iewers ongeanker in die lug hang.
Nes in die regte lewe is die meeste karakters gewoonlik besig om iets te doen, soos om ’n hemp te stryk, langs die sportveld te staan en skree, of iemand te
vermoor. Op hulle beurt wil lesers kan "sien" wáár die gesprek tussen die karakters plaasvind en wát die karakters doen terwyl hulle praat.
Dit beteken karakters moet met mekaar én met hulle omgewing omgaan. Hulle moet sinvolle aksies, lyftaal en handelings uitvoer wat verband hou met dit waarmee hulle
besig is en hulle in hulle omgewing anker. Voorbeelde is om met die strykyster te beduie, iemand op die rug te klap, of ’n mes in iemand se borskas te steek.
Om 'n toneel te skep wat lesers oortuig, móét die karakters geanker wees met sinvolle interaksie tussen die karakters
self én tussen die karakters en hulle omgewing.
Lees die aanvangsparagraaf:
“Worsbroodjies! Worsbroodjies, Mamma!” skreeu Pieter terwyl hy die trappies twee-twee afhardloop.
“Jy kan nie net worsbroodjies eet nie, jy moet ook ander kos eet,” sê Mamma.
Lees die kommentaar: Dat die skrywer met aksie en dialoog wegtrek, toon uitstekende aanvoeling, dis seker die beste manier om stories vir jong kinders te begin. Verder stel die skrywer die karakter se probleem met die intrapslag: Pieter is gek na worsbroodjies – té gek. Dit alles toon puik aanvoeling.
Daar is ook probleme. Soos waarom Pieter juis teen trappe afhardloop. Dit kompliseer sake, want lesers sal wonder waar dié trappe inpas. Waar ís die trappe? Waar is Piéter? Waar bevind hy hom? Buitekant die huis op pad binnetoe? Binnekant op pad uit of dalk ondertoe? Woon hy dalkies in ’n dubbelverdiepinghuis – iets wat nie algemeen in SA is nie. Stem jy saam dat die aanvang verwarrend is en dat lesers sal voel die karakter is nie stewig en spesifiek geplaas ten opsigte van tyd en plek nie?
Skryfwenk: Dink mooi na oor die plasing van jou karakter binne die tyd-ruimtelike opset. Sorg dat die prentjie wat jy vir jou lesers teken so akkuraat en spesifiek moontlik is.
Jou opdrag: Verbeter en herskryf die aanvangsparagraaf. Maak dinge so kort, kragtig, duidelik en eenvoudig as wat jy kan. Probeer hard voor jy na die voorstel loer.
Wenk: Wat as Pieter eerder uit die bed spring en kombuis toe nael? Dit gaan mos oor sy ongewone ontbytgewoontes, dan nie? Deur hom uit die bed te laat spring, wys hy vir lesers dis tyd vir oggendete. Dat hy kombuis toe hardloop, bekragtig dit. En dan kom die verrassing of probleem: hy wil worsbroodjies hê vir ontbyt! Hoe weird is dít? Skryf nou 'n nuwe aanvangsparagraaf.
Voorstel: Nuwe aanvangsparagraaf
Pieter spring uit die bed en nael kombuis toe. “Worsbroodjies, Mamma! Worsbroodjies!”
“Jy kan nie net worsbroodjies eet nie,” sê Mamma, “jy moet ook ander kos eet.”
Kommentaar: Stem jy saam dat lesers nou met spesifieke, fyn gekose leidrade bestuur word om die regte afleidings te maak? Lesers weet ook sommer binne twee sinne helder en duidelik presies waar Pieter hom bevind, waarheen hy op pad is, wat hy daar wil gaan doen en selfs watter tyd van die dag dit is. Met enkele spesifieke besonderhede is Pieter nou doeltreffend geplaas ten opsigte van die tyd en die ruimte waarin hy hom bevind.
Mans en vroue kommunikeer nie eenders nie en karakters se dialoog moet hierdie patrone reflekteer, want te dikwels klink storieboekmans en -vroue nie soos “regte” mans of “regte” vroue nie en oortuig gevolglik nie die leser nie.
Hoe kan skrywers hierdie vorm van geslagsverwarring voorkom?
Eenvoudig. Deur op sekere patrone te let.
Breedweg kan ons sê dat mans minder praat en korter woorde en sinne gebruik as vroue. Hulle bespreek nie graag hulle gevoelens nie en oor die algemeen is hul
dialoog saaklik en op die man af, hulle praat oor die aangeleentheid en beskou dit dan as afgehandel. Hulle sal verkieslik dinge saam doen (veral iets tegnies, byvoorbeeld gholf) óf hulle
gevoelens op ’n bal uithaal eerder as om dit oor en oor te bespreek. Hulle is geneig om ondemokraties te wees en self oplossings (reg of verkeerd) vir hulle probleme te soek. Kortom, die kanse is
skraal dat ’n man ’n vriend sal nooi vir tee en ’n good old heart to heart, deels omdat mans nie maklik erken dat hulle foute maak of probleme het nie.
Daarteenoor is vroue meer demokraties, hulle praat meer geredelik oor hulle gevoelens en probleme, sal langer sinne gebruik en ook meer praat, dikwels blomryk en
bloot omdat dit lekker is om te praat. Wanneer ’n vrou haar probleme en gevoelens met ’n man deel, gee hy graag raad en bied oplossings aan, in die meeste gevalle tot die ergernis van die vrou
wat bloot iets uit haar sisteem wou kry, en nié noodwendig raad of oplossings soek nie. Wel, beslis nie by haar man of vriend nie, wat weet hy in elk geval? Gewoonlik weet die vrou presies wat sy
wil doen en soek sy net ’n gewillige oor om teenoor te ontlaai.
Hoewel bogenoemde patrone as stereotiep beskou kan word, bevat dit heelwat waarheid. Luister dus na jou karakters. Klink hy soos ’n man en sy soos ’n vrou? Waarom?
Of waarom nie? Is dit funksioneel? Is dit oortuigend? Indien nie, fieks dit.
NUUSBRIEF:
Kompetisies
Skryfkanse
Promosies
Maandeliks
Dankie vir die terugvoering en hoe jy dit gee. Ek vind die kursus interessant, motiverend en uitdagend, en wens net ek het al hierdie inligting al jare terug gehad. Om in te skryf vir jou kursus was een van my beste besluite ooit.
Yvette Bester
Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp.
Judy de Bruin
Ek geniet die kreatiewe skryfkursus baie en sien dat dit totaal anders is as om feitelike beriggewing vir die koerant te skryf. Baie dankie vir die goeie kommentaar op die vorige werkstuk. Gert Kruger
Baie dankie vir jou kommentaar, dis in die kol ... ek is oopkop in die ding in, en doen dit absoluut vir die pret en om myself te ontwikkel, en neem nie kritiek persoonlik op nie.
Sanél Hopkins
Dis amper soos om 'n nuwe taal aan te leer. Elke konsep wat jy snap, maak skielik tien deure oop! As ek nou die opdrag moes oordoen, sou ek reeds baie dinge verander het. Ek sal 'n paar dae lank rustig deur alles gaan en aan die storie skaaf. Daarna sal ek wegspring met module 2. Sien reeds uit daarna. Molly Lubbinge
Die kinderboekkursus is regtig opwindend en dis my plan om teen die einde ’n volledige manuskrip te hê. Albert Short
Baie dankie vir jou terugvoer, ek het al baie soorte kursusse gevolg en joune staan kop en skouers bo die res uit. Plus, jou terugvoer beantwoord elke keer alles waaroor ek gesit en wonder het terwyl ek skryf. Die enigste probleem is ek wil nie hê die kursus moet ooit ophou nie, ek geniet dit te veel. Melanie Pienaar
Jou terugvoer het my van vooraf geïnspireer. Dankie vir die moeite wat jy doen en die tyd wat jy spandeer aan my probeerslae. Jou wenke is die vuurhoutjies wat die kers aan die brand hou. Celia du Plessis
Ek waardeer jou kursus en al die moeite wat jy doen. Dit bring die realiteit na vore sonder om my op moedverloor se vlakte te laat sit, dit laat my vars en anders dink. Beslis die koste deur en deur werd. Elizma Coetzee
My woorde lyk nie meer soos 'n vervelige rytjie wasgoed aan 'n lang draad nie. Elsabé Bester
Lees vir ontspanning ontaard nou in 'n kritiese ontrafeling van teks, karakters en skryfstyl. Ek geniet dit terdeë. Johan Nel
Ek het deur jou terugvoer op my werkstuk gegaan. Dis absoluut wonderlik! Ek is al moedeloos met vriende en familie wat nie objektiewe terugvoer kan gee nie. Ek leer geweldig baie by jou. Erica Pretorius
As stokperdjieskrywer wil ek dankie sê vir al die hulp. Vandag, jare na ek vir die kursus ingeskryf het, blaai ek steeds deur die modules en terugvoer en kry sonder uitsondering nog iets wat my skryfwerk verryk. Dit sluit wenke sowel as motivering in. Jan Bonthuys
Jou kursus, en die storie wat jy vir my geredigeer het, was van onskatbare waarde, dis ongelooflik hoe baie 'n mens leer wanneer jy deur 'n geredigeerde weergawe van jou eie storie werk. Antoinette Venter
Die kursusse het vir my oneindig baie beteken. Ek gebruik elke dag in my werk van die dinge wat ek geleer het. Dit het ook vir my die moed gegee om te waag en te skep. Ek het so baie oor myself geleer. Henriëtte Louw
Almal wat wonder of hulle kan skryf, moet hierdie kursusse volg. Ek het ongelooflik baie selfvertroue gekry en ek kon met elke module sien hoe my skryfwerk verbeter. Suretha Brits
Ek merk dat die meeste van jou studente melding maak van jou positiewe houding en aanmoediging - dis waar. Marinda van Niekerk
Ek voel dat ek met 'n doel werk en dat elke werkopdrag op 'n gehalteproduk afstuur. Melodie Veldhuizen
Jy verdien 'n pronkveer vir jou skryfkursus. Daar is 'n logiese opbou van module tot module sodat selfs 'n leek soos ek in staat is om die legkaartstukke bymekaar te sit.
Rita Hofmeyr
Skryfgeheime voel vir my soos die deurgang na 'n nuwe lewenswyse. Dankie vir jou kommentaar op my werkstukke en vir jou aanmoediging. Willem Fourie
Ek het nog nooit 'n skrywer ontmoet wat my so effektief help nie.
Elna Nieuwoudt
Alles wat jy uitgelig het, was presies dit waarmee ek gesukkel het. Dit het heeltyd vir my gevoel daar kort iets, 'n "twist". Ek het ook gevoel my storie benodig ’n opwindende verandering, dit was net te "veilig". Ek is so opgewonde en sien uit daarna om verder daaraan te werk. Yolandi Odendaal
'n Mens is huiwerig om te sien wat iemand anders van jou werk dink, maar nou kan ek nie wag om al die wenke toe te pas nie. Alta van Niekerk
Jy groei baie as mens. In jouself en
ook in jou interaksie met mense. Jy leer besef die impak van woorde.
Elmarie Schultz
Ek was so verras toe ek die terugvoer
kry en sien jy kraak nie 'n ou se werk af nie. Marieta Thünemann
Ek gaan dit geniet om ou breinpatrone uit te vee en nuwes te maak. Ek voel glad nie meer afgetree nie.
Troula Goosen
Ek het verskriklik baie geleer oor myself, ander mense én die skryfambag. Jou verbeeldingryke prikkelvrae en praktiese skryftegnieke is die perfekte kombinasie. Riëtte Botma
Die kursus was so insiggewend en verrykend, ek het ongelooflik baie geleer. Myself dikwels bevraagteken en gewonder of ek ooit die ding onder die knie gaan kry. Maar ek is nie iemand wat maklik moed opgee nie en ook nie bang om te waag nie. Dankie vir al die handvashou. Adelle von Ronge Kotze
Die kursus het ander wêrelde en deure oopgemaak. Hoop om binnekort met die kinderboekkursus of joernalistiek te begin. Monja Beyers