Soms voel dit asof ons totaal beheer verloor het oor ons lewe – dis nou indien ons ooit in beheer van enigiets was. Dalk is alles net skyn? Dalk bevind ons ons werklik binne 'n soort matriks. Wêreldgebeure ontvou en verander so vinnig dat ons al hoe meer aan ons eie en ons gesinne se toekoms en oorlewing begin twyfel. Heers daar waansin om ons? Is dit iets nuuts, of was dit nog altyd so? Watter lewenspad moet ons kies? Watter roete sal na vreugde en sukses lei?
In watter gedaante ook al, mense sal altyd in stories in ontsnap. Of stories gebruik om sin en betekenis aan die gebeurtenisse om hulle te gee. Aan stories sal daar altyd 'n behoefte en 'n vraag wees. Dalk is dit tyd dat jý óók ontsnap deur jou pen op te tel en te begin skryf. Want hiervan is ek wel seker, en dit is dat, ongeag wat om ons gebeur, die vraag na goeie stories, oraal, digitaal of gedruk, sal net groei, want die vraag na ontvlugting neem net toe. Spring dus in en skryf 'n pad oop vir jouself, jou lesers en jou gehoor, sommer vandag nog, sommer nou.
Write a comment