Hoe gemaak met gesigspunt?

Neandra Bresler skryf: Hierdie kursus is regtig soveel meer as wat ek my ooit sou kon voorstel. Vandat ek met die beplanning en opsomming begin het, verander my storie nog heeltyd. Ek weet dit gaan nog baie verander en van die idees gaan nie die lig sien nie.

Ek het twee vrae:
* Kan ek tonele skryf sonder die hoofkarakter?
* As die hoofkarakter eers aan die einde van 'n toneel verskyn, mag ek iemand anders se gesigpunt gebruik in die toneel?
 
Janie Oosthuysen skryf: Dis gevorderde, tegniese vrae wat mense met geen of min kennis van die skryfkuns groot kan laat skrik. Dis egter ook aspekte waaraan ons baie aandag gee gedurende elke kursus – ontspan dus en laat die antwoorde eers net oor jou vloei.

Vraag 1: Kan ek tonele skryf sonder die hoofkarakter?
Antwoord: Ja, jy kan. Jy sou byvoorbeeld die objektiewe gesigspunt kon gebruik, asof ’n kamera die toneel opneem, m.a.w. al daardie dinge wat uiterlik sigbaar en hoorbaar is, soos die karakters se aksies en handeling, asook hulle gesigsuitdrukkings, lyftaal en dialoog. Natuurlik kan die kamera geen innerlike belewenisse, gewaarwordinge en gedagtes opneem en weergee nie.
     Indien jy ’n tweede gesigspuntkarakter in jou storie gaan gebruik, bv. die antagonis, dan kan jy daardie karakter se gesigspunt gebruik vir tonele waarin hy of sy die hoofrol vertolk, m.a.w. tonele waaraan jou eintlike hoofkarakter nie deelneem nie óf nie die botoon voer nie. Maar onthou dat elke toneel slegs één gesigspuntkarakter mag bevat. M.a.w. wanneer jou twee gesigspuntkarakters saam in ’n toneel verskyn, moet jy mooi besluit wie se gesigspunt die beste gaan werk en dan slegs daardie karakter se gesigspunt gebruik.

Vraag 2: As die hoofkarakter eers aan die einde van 'n toneel verskyn, mag ek iemand anders se gesigspunt gebruik in die toneel?
Antwoord: Ja en/of nee, afhangend.
Gesigspunt is iets wat bemeester en beplan moet word. 'n Skrywer se gebruik van gesigspunt wys vir ’n keurder die skrywer weet wat sy doen – of weet nié wat sy doen nie.Skrywers wat gesigspunt nie onder die knie het nie en rondspring tussen gesigspuntkarakters, sukkel baie om hulle werk gepubliseer te kry, vir die eenvoudige rede dat die korrigering van gesigspuntfoute baie herskryfwerk kan beteken.
     Terug na die vraag. As jy vir die duur van jou boek slegs één gesigspuntkarakter (enkelvoudige gesigspunt) gaan hê en daardie karakter gaan eers aan die einde van die toneel verskyn, dan het jy as skrywer ’n probleem. Want tegnies moet alles wat gebeur m.b.v. die enkelvoudige gesigspuntkarakter se ore, oë, gedagtes, gevoelens, ensomeer, waargeneem kan word, en dit alles beteken daardie karakter móét op die toneel wees. Hoe nou gemaak?
     Dis nou dat jy kreatief moet wees en moet dink hoe jy jou gesigspuntkarakter ongemerk by die toneel kan betrek, dalk deur hom of haar iets te laat afluister of per ongeluk te laat hoor of sien. En wees innoverend. Moenie dat jou karakter in 'n boom sit en 'n gesprek per ongeluk hoor nie - dis darem net te saai en vervelig. Kom met iets prikkelends vorendag, soos dat jou karakter ontvoer en 'n motor se kattebak toegemaak is, behoorlik vasgebind en gemuilband. En dan hoor sy/hy 'n gesprek. Die lekkerte is dat jou karakter sake verkeerd kan verstaan wat tot gevaarlike misverstande en addisionele storiekomplikasies kan lei. Jou karakter kan sake natuurlik ook reg verstaan en besef dat sy/haar lewe  finaal aan 'n draadjie hang, iets wat die spanning heerlik sal opjaag.
     Skryfles: Moenie sommer 'n ander karakter se gesigspunt gebruik net omdat jy nie aan ’n innoverende manier kon dink om jou regte gesigspuntkarakter (ongemerk) by die toneel te betrek nie.
     As jy wel ’n effektiewe tweede gesigspuntkarakter gebruik, kan jy die hele toneel vanuit daardie karakter se gesigspunt skryf, m.a.w. jy spring nie oor na die hoofkarakter se gesigspunt wanneer sy/hy op die toneel verskyn nie. Maar jy moet baie mooi besluit of jou storie twee of meer gesigspunte regverdig. Die tweede kan maklik arbitrêr voel, m.a.w. ’n keurder kan voel die skrywer gebruik ’n tweede gesigspunt omdat sy radeloos is en nie omdat die storie dit regtig nodig het nie