ILZE BEUKES skryf: Elke gepubliseerde boek deur my is ’n stille dankie aan almal wat my oor die jare met my skryfwerk gehelp het.
Ek sal daardie oomblik in 2015 nooit vergeet toe ek my eerste boek op die winkelrakke gesien het nie. Ondersoek my hart is deur NB Uitgewers uitgegee en bly vir my 'n beloning vir my harde werk en ’n teenmiddel vir die vertwyfeling wat steeds soms opduik, veral wanneer ek skryf en herskryf tot die storie soos kougom voel wat te lank gekou is.
In 2017 volg Hart se tweede kans, ook by NB. In 2018 volg my eerste Romanza by Lapa Uitgewers, naamlik Liefde tussen die duine, en in 2019 Toe vind ek jou. Daarna kom korona en skielik is alles onderstebo. Ses maande lank is my kreatiwiteit gedemp. Maar die lewe keer terug, en so ook my skryflus. Op 13 April 2021 kry ek die goeie nuus dat Toe vind ek jou in grootdruk uitgegee gaan word. En op 19 Mei dat my volgende Romanza in November gaan verskyn.
Storieprikkels bespring my op enige plek. Selfs gedurende ’n buitelug- Pinksterdiens. Ek weet, skandelik! Maar voor my sit ’n blondekop en ek wonder waarom sy so maer is. Sou sy siek wees? Toe ons die laaste keer opstaan, word sy flou en aan die geskarrel besef ek sy is alleen. Die voorval ontstel my. Vrae maal in my kop. Wat gaan in haar lewe aan? Hoekom is sy alleen by so ’n byeenkoms juis in die tyd wanneer slegs families saamkuier?
En net daar neem my storiebrein oor en ek sien hoe 'n aantreklike vreemdeling haar te hulp snel. Waarop sy hom aangluur, sy het niemand se simpatie of hulp nodig nie, sy staan vas op haar eie voete … of te wel, meestal. Hy is die fietsryheld vir wie sy al menige kere op televisie gesien het. Maar dit laat haar koud. Sy het geen helpende hand nodig nie.
My werkswyse is soos volg: Heel eerste soek ek foto's op die internet wat by my karakters pas: kleredrag, blyplek, werksplek, ens. Soms vra ek my Facebook-lesers om ’n karakternaam voor te stel, waaruit ek een kies en die leser met ’n boek beloon. Dan skryf ek ’n raamwerk. En al maak die storie vorentoe sy eie draaie help die proses my ongelooflik baie om ’n prikkelende storie-idee en geloofwaardige karakters te skep.
Die moeilikste skryfoomblik tref my altyd iewers in die middel van die verhaal wanneer alles vir my onsinnig klink. Ek beveg dit met 'n koppie sterk koffie en skryf dan die einde verbete. Daarna gaan ek terug na die middel en dan begin als in plek val. En siedaar!
ANTOINETTE VENTER skryf: Dis baie vreemd, die stories spring regtig vanself in my kop, hetsy na aanleiding van iets wat ek iewers gelees het, of iets wat iemand gesê het, of ’n prentjie wat ek iewers gesien het. As ek weer sien, is dit in my kop en dan begin die navorsing. Dis gewoonlik wanneer ek agterkom dat dit nie so maklik is om die prentjies in jou kop tot ’n geloofwaardige storie te ontwikkel nie. My verbeeldingswêreld en die realiteit is gewoonlik pole uitmekaar.
Ek weet nie of ek net masochisties is nie, maar daar is vir my niks lekkerders as om ’n storie weg te stuur en dan elke vyf minute te kyk of daar al ’n antwoord is nie. Hoekom ek nie net aanvaar dat daar ’n wagtermyn is, weet ek nie – dis immers nie asof die arme keurder ’n manuskrip binne vyf minute kan klaar lees en beoordeel nie en dis ook nie net mý poging wat haar inkassie bekruip nie.
Ek glo nie enigiemand is ooit in hul skik met verwerping nie, dit voel maar baie persoonlik, selfs as daar net herskryf moet word. Maar ek is ongelooflik hardebas van natuur en verander my skryfwerk met ’n blymoedige hart. Die uitgewer ken immers die moets en moenies van die bedryf ’n honderd keer beter as ek. Vir my is hulle dan ook die engele wat sorg dat ek nie my naam met 'n plank slaan nie. Dis hulle wat vir my sê as my karakters ongeloofwaardig optree of as ek elders klei trap. Ek neem dit ernstig op en werk hard daaraan om telkens ’n beter produk te lewer.
Indien ’n uitgewer summier my storie afkeur en geen rede daarvoor verskaf nie, gaan ek weer deur my werk, skaaf waar nodig en stuur dit vir die volgende uitgewer. Ek het al vir baie van my skryfvriende gesê hulle moet onthou dit beteken nie noodwendig jou storie is vrot indien ’n uitgewer dit afkeur nie. Dit kan bloot wees dat dit nie geskik is vir daardie spesifieke uitgewer se teikenmark nie. Of dat hulle publikasielys reeds vol is. Dit kan eintlik soveel goed beteken. Daarom hou ek aan tot ek iewers geholpe raak.
Ek moet bieg, as my paadjie nie met Skryfgeheime s’n gekruis het nie, twyfel ek of ek enige storie op die rak of in ’n tydskrif sou hê, want alhoewel ek van kleins af mal is oor stories en skryf, het ek hulp en afronding gekort. Daar is net te veel inligting en fyn tegniek by dit alles betrokke om dit alleen te doen.
Ek het nie veel eksterne motivering nodig om te skryf nie, want dit is my ontvlugting en my groot liefde. Ongelukkig is daar ’n gogga genaamd “tyd”. Daardie gogga verteer my soms. Ek het egter besluit ek gaan voortaan daadwerklik tyd maak vir dit wat my gelukkig maak, naamlik: om te skryf.