Begin deur ’n subjek te vind wat as fokuspunt kan dien. Iemand op die televisie of op jou rekenaar. ’n Foto of ’n persoon op ’n skildery kan ook deug. Wat van die vrou oorkant jou in die koffiewinkel, alleen by ’n tafel en oënskynlik verdiep in haar foon? Wie is sy? Wat maak sy daar? Hoe kan jy haar lewe gee?
Reël 1 is om verkieslik nie openlik na jou subjek staar nie, dinge kan dalk te veel lewe kry.
Dink na oor wat jou subjek se houding en voorkoms oor hulle leefstyl en agtergrond sê. Is die subjek welgesteld? Pretensieus? Sukkelend? Lyk die persoon tevrede, alleen, ongemaklik met die situasie, dalk selfs ontsteld? Wat doen die persoon met sy hande of voete? Hoe hanteer sy of hy hulle liggame? Wat gaan in die persoon se kop aan? Wat probeer sy wegsteek? Watse mannerismes is daar? Waar sou die karakter vandaan kom? Wat het daar gebeur? Waarheen is die karakter op pad? Wat wag daar op hom?
Hoe reageer die persoon as sy/hy dalk jou oë op haar betrap? Staar die subjek na jou? Of kyk sy weg? Wat sê dit van die persoon se ware temperament?
Reël 3 is om nie vas te steek by die alledaagse nie, maar ’n merkwaardige karakter te skep met ’n lewe wat baie groter, beter of slegter is as jou eie of jou potensiële lesers s’n, want lesers lees eerstens om uit hulle eie werklikheid in ’n ander een in te ontsnap.
Vang nou jou gedagtes vas deur ’n kort woordskets te skep. Daardie vrou met die uitgegroeide hare, haastige grimering en skoene wat nie heeltemal by haar uitrusting pas nie, sit nie net doelloos en speel op haar foon nie. Sy is besig om aanlyn te dobbel. Haar kinders is op skool en eis baie, haar man se loopbaan is nie besonder suksesvol nie, en ’n paar weke terug het sy haar jare lange werk by dieselfde maatskappy verloor en nog vir niemand vertel nie. Desperaat, bang vir haar man en kinders se reaksie, en sonder die nodige selfvertroue, sosiale vaardighede of konneksies om haarself suksesvol te herbemark fokus sy nou op die aanlyn dobbelsaal, wat tot dusver ’n soort stokperdjie was, maar nou in ’n obsessie ontaard. Diep binne weet sy dis selfvernietigend en dat sy haar man en kinders saam oor die afgrond sleep, maar die energie om van rigting te verander ontbreek. Totdat ...
En jammer vir haar, maar nou gaan haar situasie uiteraard aansienlik vererger, want dis hoe stories werk. Reël 4 is dan ook dat jy as skrywer nie vir jou karakters mag jammer wees nie, maar hulle terdeë moet toets.
As hierdie aktiwiteit jou nie soos ’n sukses laat voel nie, dan weet ek nie, want jy het immers iets uit niks geskep en dis geen geringe taak nie. Doen dit so dikwels as wat jy kan en borduur ook verder aan bestaande idees. Hoe meer gereeld jy dit doen, hoe makliker sal dit raak. As bonus sal jy vind dat karakters, stories en insidente amper vanself in jou kop begin spring wanneer jy dit nodig het.
Write a comment